Matteus 20:20-28

Om groot en eerste te wees



Gebed voor Nagmaalstafel
Here, hier waar ons nou as gemeente saam met u Woord besig is, en saam by U tafel gaan aansit vra ons U dat U uit genade ons die volgende sal skenk:
Lig waar ons net donker sien,
moed waar ons vrees,
hoop waar ons wanhoop
vrede waar ons gemoedere vol onvrede is,
vreugde waar ons hartseer is,
krag waar ons swak is,
wysheid waar ons verward is,
sagtheid waar ons bitter is, en
liefde waar ons haat.
Ja Here, uit genade vra ons:
vergifnis vir ons sonde,
Gee Uself weer in die plek van onsself.
Want dan alleen kan ons lewe!
Amen

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die evangelies lees ons hoe Jesus by verskeie geleenthede op verskillende maniere aangespreek is. Hy word seun van God genoem, leermeester, rabbi, Messias of Here, Christus, profeet en seun van Dawid.

Interessant is dat Jesus self, wanneer Hy na homself verwys of oor homself praat, nie een van hierdie titels of benaminge gebruik nie. Wanneer Jesus na homself verwys, gebruik Hy net een titel of benaming: Hy is die seun van die mens. Van die 82 keer wat hierdie titel in die evangelies voorkom, gebruik Jesus dit 80 keer om na homself te verwys. Duidelik het Jesus homself as die seun van die mens gesien. Daar kan geen twyfel oor bestaan nie. Dit is daarom baie belangrik, as ons wil verstaan wat Jesus hiermee wou sê, om te gaan kyk wat hierdie benaming ‘seun van die mens’ beteken.

Hierdie benaming is in die tyd van Jesus veral aan Daniël 7 gekoppel. In hierdie baie moeilike gedeelte sien Daniël in ‘n droom/visioen die magte wat in die toekoms oor die aarde sal heers, en hulle word elkeen beskryf met ‘n beeld van ‘n honger en wilde dier.

Die leeu met arendsvlerke is Babel, en die beer met drie ribbebene in sy bek is Persië. Alexander die Grote (die Grieke) word uitgebeeld met ‘n luiperd met vier vlerke en vier koppe. Die vierde mag, Rome, word voorgestel as ‘n dier met ystertande.

Een na die ander van hierdie ryke kom tot ‘n val, vertel Daniël. En aan die einde van alles, nadat God al hierdie magte of ryke oorwin het, laat God die seun van die mens op die troon sit. Met skitterwit klere, op ‘n pragtige perd met ‘n swaard in die hand. Hy wat heers, hy wat alles en almal oorwin, is die seun van die mens.

Dus: vir die Jode in die tyd van Jesus was die titel seun van die mens ‘n aanduiding van iemand met ‘n magsposisie. Dit was die naam van die een wat die oorwinnaar was, hy was die regterhand van God, God se mense se beskermer, die een wat ingryp wanneer God se volk verontreg word. Daarom, wanneer Jesus homself in byvoorbeeld Matteus 19:28 die seun van die mens noem wat eendag op die troon gesit, het hulle dit verstaan. Hier was die oorwinnaar, hierdie was die een wat hulle uit hulle tasbare ellende sou verlos.

Maar wat sê Jesus in Matteus 20:28? Ja, Hy is die seun van die mens, maar die seun van die mens wat gaan ly, gemartel gaan word en doodgemaak gaan word. Hy is die seun van die mens wat gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien.

En dit het Jesus se dissipels geruk. Van kleins af is hulle deur die Romeine verdruk, reeds in die Ou Testament staan dit al dat die seun van die mens sal kom om hulle te verlos, en nou is Hy hier, en die bewyse dat dit Hy is, is oorweldigend. Niemand kan daaraan twyfel nie. Maar hoor wat sê Hy nou! Hy het nie gekom om te dien nie, maar om gedien te word.

Soos Hy vanaand met ons hier aan die tafel gedoen het. Hierdie is sy tafel. Hy het dit vir ons voorberei. Hy het ons na hierdie tafel genooi. En hier het Hy ons gevoed. Met sy eie liggaam en sy eie bloed. Ja, Hy is koning, maar Hy is ook ‘n Vader, ons vader, ‘n Vader met ‘n hart vol liefde, ‘n hart wat dien.

En ons moet dieselfde gaan doen. In hierdie verband, broers en susters, sou ons baie oor vers 25 kon sê. Ek weerhou my egter om die volle implikasies van dit wat Jesus hier sê uit te stippel. Hierdie is nie die plek om dit te doen nie. Maar kom ek sê maar net baie algemeen: dit wat Jesus hier sê spreek die eerste en laaste woord oor die wêreld waarin ons leef, oor hulle wat in regeerposisies en leiersposisies staan, oor hulle aan wie gesag toegeken is, oor hulle wat moet sorg dat die maatskaplike, sosiale, ekonomiese en politieke lewe van enige groep mense regverdig en deursigtig verloop.

Maar dit sê ook iets van ons gesinslewe, van verhoudings onderling, van verhoudings in die werkplek, in die gesin, in die gemeenskap, en natuurlik ook in die gemeente. Hy of sy wat groot wil wees, behoort te dien, hulle wat eerste wil wees, moet soos slawe wees.

Klink nie lekker nie. Maar dit is die evangelie. En daar is nie ‘n ander evangelie nie. Daar is net een evangelie: dat Hy wat God is mens geword het om as seun van die mens ons te dien. Tot die dood toe. Soos ons vanaand en vanoggend weer aan sy tafel beleef het.

Hy het die voorskoot aangetrek, Hy het die tafel met sy eie liggaam voorberei, Hy het genooi, Hy het bedien. En ons het ontvang. Ons het die lewe ontvang. En soveel ander gawes.

Oor wat ons met dit alles behoort te doen, en behoort te gaan doen, hoef nie eers in woorde uitgedruk te word nie. Ons weet dit. Die vraag is egter of ons dit doen. En ek sluit myself beslis by hierdie opmerking in.

God is Koning, die Oorwinnaar, die Almagtige. Hy is ook Vader. ‘n Vader met hart vir sy mense. Ook ons staan dikwels in hierdie posisie. Al is dit net in ons verhouding met ons kinders. Hoe lyk ons harte? Is ons bereid om werklik te dien. Ten aanskoue van die wêreld? Is ons bereid om slaaf te wees? Wanneer ons dit doen, is ons kinders van die seun van die mens. Wanneer ons dit doen, word dit sigbaar dat ons in Christus werklik nuut geword het, en dat die oue verbygegaan het.
Amen