Psalm 51:1-15; Romeine 12:1-2; Johannes 3:1-3

Soek binne, nie buite nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek is in my hart oortuig daarvan dat almal van ons wat vanaand aan die tafel van die Here aangesit het, asook dié wat vanoggend Nagmaal gebruik het, dit nie sommer ligtelik gedoen het nie.

Anders gesê: ek glo in my hart, broers en susters, dat ons wat vanoggend en vanaand die Here se goedheid, teenwoordigheid en verlossing aan sy tafel gesmaak en ervaar het, werklik die voorneme het om na die tafel — môre, oormôre, volgende week, volgende maand — werklik nuut en anders te gaan leef. Te gaan leef, gehoorsaam aan God, uit dankbaarheid vir sy liefde, verlossing en genade.

Ek is egter net so seker, broers en susters, dat die meeste van ons sal erken dat ons dit nie so maklik sal regkry nie. Al is ons voornemens so opreg en so goed. Al probeer ons hoe hard. Ons faal meer as wat ons slaag. Ons doen dikwels meer sleg as goed. Hoekom is dit so?

Een van die redes, broers en susters (en daar kan natuurlik baie ander ook wees), is dat ons op die verkeerde plek begin. Ons wil verander, regmaak, goed doen, maar ons begin op die verkeerde plek. Ons begin buite, in plaas van binne. En kom ek verduidelik.

Het u nie ook al die volgende gehoor nie?
Ek wil nie aanmekaar my humeur verloor nie, maar almal rondom my vryf my verkeerd op. En dan kan ek my nie meer inhou nie.
Ek wil so graag meer kerk toe kom, maar kan dit nie hanteer as ek in die kerk saam met al daardie skynheiliges moet sit nie.
Ek wil so graag meer tyd aan stilwees met my Here afstaan, maar my program is eenvoudig te besig.
Ek sou graag baie meer positief oor die lewe wou wees, minder negatief, meer vol hoop, maar my moeilike omstandighede maak dit eenvoudig net nie moontlik nie.
Ek sou veral meer wou liefhê en vergewe, maar as ander dit nie vir my en aan my doen nie, hoe kan hulle verwag ek dit vir hulle en aan hulle moet doen?

En so kan ons aangaan. Wat, broers en susters, lê ten grondslag van al die opmerkings wat ek hierbo genoem het? Mense se omstandighede. Dit is my omstandighede wat veroorsaak dat ek sus of so optree. Dit is my omstandighede wat maak dat ek is wat ek is, en voor God leef soos ek leef. Daarom: as my omstandighede net kan verander, as die mense rondom my net kan verander, as my besige program net kan verander, dan sal ek die opregte voorneme wat ek aan die tafel van die Here uitgespreek het — om werklik toegewyd, dankbaar en gehoorsaam te gaan lewe — kan gaan uitlewe.

Terwyl ons so dink, broers en susters, sal ons verhouding met God nooit verdiep nie. Sal Christus nooit meer in my lewe word en ek minder nie. Hoekom nie? Want ons begin op die verkeerde plek. Ons begin buite, in plaas van binne.
Waar sal u vra, begin ‘n mens as jy binne wil begin? Ons het vanaand drie verse gelees wat vir ons pragtig beskryf hoe ‘n mens binne begin, waar binne is, waar ‘n mens moet begin as jy werklik opreg voor God en saam met God jou lewenspad wil stap. Kom ek lees hierdie verse vir u weer:

Psalm 51:12:Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Romeine 12:2:...[L]aat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Johannes 3:3:Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

Ware verandering, broers en susters, vind altyd in ‘n mens se binneste, in jou hart en denke, plaas. Ons kan dalk vir ‘n dag of twee daarin slaag om met toewyding en geduld, of met geld en planne alles rondom ons reg te maak, maar dit sal nie slaag nie. Of kom ons sê dit anders: ons weet mos: spuitverf help nie vir roes nie, ‘n pleister op die kop sal nie help vir ‘n breingewas nie, en nuwe politoer op jou motor se bakwerk sal nie ‘n gaar enjin herstel nie. Want as die probleem binne is, moet jy binnetoe gaan.

Uit ‘n slegte hart kom slegte vrugte voort. En uit ‘n rein hart goeie vrugte. Dit het Jesus self gesê. En slegte vrugte, broers en susters, is nie die gevolg van omstandighede, my besige program en ander mense se houdings of optrede nie. Dit is doodgewoon sonde. En dit kom uit ‘n onrein hart. ‘n Hart wat afgesny is van God, die Bron van ware lewe. Ons is in wese in opstand teen ons Skepper. Daar is ‘n kloof tussen ons en die Vader. En geen verandering van omstandighede, geen predikant of liturgie sal dit verander of die probleem oplos nie. Net God kan dit doen.

Dit is ook waarom die Bybel sulke harde uitdrukkings soos berou, bekering, verlore en gevind gebruik. Die samelewing mag dalk restoureer, of iets anders probeer, maar net God herskep, net God maak werklik nuut. Net God gee, deur die leiding van sy Gees, ‘n rein hart (soos Psalm 51:12 sê), nuwe denke (soos Romeine 12:2 sê), of nuwe geboorte (soos Johannes 3:3 dit stel). God doen dit deur sy Gees, deur sy Gees wat met ons werk.

En kom ons maak dit vanaand ten slotte baie prakties. Hoe bewerk God in my ‘n rein hart, nuwe denke, hoe maak God my nuut? Anders gesê: wat moet ek maak wanneer ek — met die vaste voorneme in my om werklik gehoorsaam te leef — dit wil doen, maar eenvoudig net nie regkry nie?
Wanneer dit gebeur, broers en susters, vra jouself altyd die volgende drie vrae ernstig af:

Is daar nie miskien enige onbelyde sonde in my lewe nie? Hoor wat sê Psalm 32:3-5: Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het...my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie.

Belydenis, broers en susters, is om vir God te sê dat jy die ding gedoen het wat Hy jou sien doen het. God het nie nodig om dit te hoor nie, Hy weet dit reeds. Nee, Hy het nodig om te hoor dat jy dit sê, dat jy dit erken. Dit is nie vir ons om te besluit of dit te klein is om genoem te word of dalk te groot is om vergewe te word nie. Nee, dit is ons werk om eerlik voor God te wees. En dan sal Hy vergewe. dan sal Hy ons weer nuut maak.

Die tweede vraag is: is daar nie dalk enige onopgeloste konflik in my lewe nie? Hoor wat sê Matteus 5:23-24: As jy na die tempel toe gaan om ‘n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ‘n vriend of ‘n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is, dan moet jy jou offer net daar laat staan. God is bereid om daarvoor te wag. Dit is vir Hom belangriker dat jy en die ander persoon die strydbyle moet begrawe. Gaan daarom dadelik terug huis toe en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer bring.

So ver ek weet, broers en susters, is dit die enigste keer wat God vir ons gesê het dat ons maar uit die kerk mag wegglip. Baie duidelik sê Jesus egter hier dat ‘n vredesoffer, die wegneem van vyandskap, die werklike leef van die liefde teenoor die naaste, baie belangriker is as dit wat jy by die deur in die sakkie gaan gooi of volgende maand in die offergaweboek gaan skryf. Daarom, as jy in die erediens sit (en ja, so letterlik bedoel God dit hier), en dit val jou by dat jy en ‘n vriend onvrede het, miskien omdat dit jou skuld is, gaan maak dit reg. Daar is geen belofte dat jy vergewe sal word nie, maar dan kan jy ten minste voor God in die erediens met ‘n skoon gewete sit.

Die laaste vraag: Is daar enige kommer wat ek nog nie aan die Here oorgegee het nie? Hoor wat sê 1 Petrus 5:7: Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Die Duitse woord vir bekommer beteken ‘om te wurg’. En die Griekse woord vir bekommer hier in 1 Petrus 5:7 beteken letterlik ‘om jou gedagtes te verdeel’. Albei, broers en susters, is so akkuraat. Want is dit nie eintlik maar wat bekommernis is nie? Dit is soos ‘n tou om die nek wat ons wurg, dit verwar ons denke, en nie een van die twee lei tot blydskap nie.

Hierdie drie vrae, broers en susters, is eintlik maar net ‘n gedagte. Maar tog meen ek dit is drie vrae wat twee belangrike dinge doen: dit is vrae wat soek na ‘n opregte en rein hart voor God, en dit is vrae wat binne begin. In myself. In my hart, my hart vol sonde, my hart vol konflikte en my hart vol kommer.

So, oorweeg daarom, my broer en my suster, wanneer u vanaand hier uitstap, met die vaste voorneme om ‘n lewe te gaan leef wat spreek van dankbaarheid, om maar nie net te gaan restoureer nie. Spuitverf help nie vir roes nie, ‘n pleister op die kop sal nie help vir ‘n breingewas nie, en nuwe politoer op jou motor se bakwerk sal nie ‘n gaar enjin herstel nie. As die probleem binne is, moet jy binnetoe gaan.

Binne toe gaan met drie vrae: is daar nie onbelyde sonde in my lewe nie, is daar nie onopgeloste konflik nie, is daar nie onnodige kommer in my hart nie. Wie dit doen, vir hom sal God ‘n rein hart gee. ‘n Gesonde hart. En soos Jesus gesê het: ‘n gesonde boom bring gesonde vrugte voort!
Amen