1 Korintiërs 12:12-26; 13:4-8

Verstaan ons werklik wat dit beteken dat ons die liggaam van Christus is?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Het u al ooit iemand met twee neuse of vier oë gesien? Seker nie. Paulus, daarenteen, sê dat hy al so iets gesien het. En dit nogal in die kerk van alle plekke. Hy vertel naamlik in 1 Korintiërs 12 dat sommige lidmate in die gemeente van Korinte so misvormd geraak het.

Vir Paulus is die kerk niks minder as die liggaam van Christus nie. Hierdie liggaam het baie ledemate, elkeen met sy eie funksie en plek. Elke oog in hierdie liggaam moet goed kan sien en elke hand moet goed en raak kan vat. Die voete moet almal goed kan beweeg en die bene moet flink kan kom waar dit nodig is.

Anders gesê: elke lidmaat van elke gemeente het een of ander spesiale plekkie en ‘n bepaalde funksie wat hy of sy moet volstaan. Party lidmate, byvoorbeeld, moet die evangelie verkondig, ander moet die siekes versorg, ander moet lief wees vir die klein mensies van die gemeente, ander weer moet goed kan luister en ander weer moet gereed wees om met hulle lewenswysheid gesonde raad aan ons almal te gee.

Wat meer is: al hierdie ledemate het mekaar nodig. En nie net mekaar nie, die gemeente het hulle ook nodig. Iemand moet organiseer, iemand moet leiding gee, iemand moet skeppend planne kan uitdink, en ander moet kan volg en werk. Die een, sê Paulus, kan nie sonder die ander een klaarkom nie, en die een is ook nie belangriker as die ander nie.

Maar nou, sê Paulus, het ‘n ernstige probleem in Korinte se gemeente ontstaan. Sommige lidmate het gedink dat hulle tog so ‘n bietjie belangriker as van die ander is. En toe het al die neuse op een hoop gaan sit, die ore op ‘n ander hoop, en die bene en arms iewers elders. En kort voor lank was die liggaam van Christus in Korinte ernstig misvormd en siek.

Wat maak mens met ‘n liggaam wat siek is? Jy gee hom medisyne in. En dit is presies wat Paulus hier doen. Hy wys die gemeente daarop dat hulle nie maar net kan aanhou met die verminking van Christus se liggaam nie. Hulle gesondheid sal begin intree wanneer hulle begin besef dat elkeen van hulle se uniekheid en bydrae noodsaaklik is vir die gesonde funksionering en opbou van die gemeente.

Christene, sê Paulus, het mekaar broodnodig. Hulle kan nie sonder mekaar klaarkom nie. En die eerste opdrag wat hulle gehoor aan moet gee om die liggaam gesond te maak en te hou is om regtig vir mekaar om te gee.

Wat beteken hierdie omgee vir mekaar, prakties, volgens Paulus? Dat mense mekaar met liefde en begrip sal hanteer, sê hy in 1 Korintiërs 13. En die liefde waarvan Paulus hier praat, broers en susters, is nie die liefde waarvan ons so baie in die wêreld op TV en in alle soort liedjies hoor nie. Want die liefde wat die wêreld ken is ‘n selfsugtige soort liefde, opeisende liefde. Dit wil net heeltyd ontvang. Dit wil net heeltyd die eie sin hê.

Die liefde wat God egter in ons hart uitstort (wat ook die liefde is wat ons vanoggend en vanaand aan God se tafel gesmaak het), sê Paulus, is opofferend en dienend van aard. Dit is altyd op ander gerig. Dit is ‘n liefde wat dus geduld het met ander se tekorte, geduld het met verskille, respek het vir ander se oordele, en altyd vriendelik is met ander.

Hierdie Goddelike liefde, wat in elkeen van ons harte is, broers en susters, reeds is (want ons het mos die geloof ontvang, en daarmee saam die Gees en God se liefde), verskuif die soeklig weg van myself na ander. Veral in die kerk. Want sien, in die kerk is daar nie plek vir belangrikes, sterre en helde nie. In die kerk is ons almal dieselfde. Met net een opdrag: die ander, hulle rondom jou, hulle moet objekte van liefde word.

Daarom ook, broers en susters, kan ‘n mens nie anders sê dat liefde die beste medisyne is nie. Die beste medisyne vir ‘n siek, kerklike liggaam, vir gebroke verhoudings, vir haat en nyd wat woeker in die hart, vir vergifnis wat lê en wag om uitgedeel te word.

God se liefde in ‘n mens se hart laat die mens altyd maar weer vra: wat kan ek doen om die beeld van God sigbaar te maak in my optrede, maar ook om die beeld van God in ander se lewens sigbaar te maak? En daar is so baie, broers en susters, wat ons in hierdie dae vir mekaar kan doen. Daar is soveel eensames, soveel wat met leed die lewenspad stap, soveel wat maar net wil ervaar: ander gee tog vir my om.

Ons het vanoggend en vanaand, broers en susters, hier kom sit, letterlik elkeen op ‘n stoel, God se genade en liefde ontvang, en toe ons stoele verlaat. Om hierdie beeld verder te neem, is die duidelike opdrag vanaand dat ons miskien ook maar vir ‘n keer uit ons gemakstoele van veroordeling, liefdeloosheid, onbetrokkenheid, haat en nyd moet opstaan en vir ‘n slag ‘n poging moet aanwend om werklik in liefde na ander uit te reik. Om ons gemeente te maak werk, het ons nie in die eerste plek nuwe strukture, ander vorme van die erediens of hernude nuwe planne en vernuwing nodig nie. Strukture en planne maak nie gesond as die boumateriaal vir die strukture misvormd is nie. Nee, wat alles gesond en nuut maak, is mense wat, omdat dit God se wil is, sy opdrag, sy wens, sy voorbeeld, mekaar in liefde toevou soos Jesus Christus vir ons aan die kruis, en vandag weer aan sy tafel gedoen het.

‘n Ou boodskap hierdie, sal u sê. En u is reg. Om iets te hoor, weer en weer te hoor, maak ons egter nie gehoorsaam daaraan nie. Het u, my broer en suster, dit al gaan doen? Werklik gaan doen? Het u al werklik gegaan, en gedryf deur God se liefde, en sy liefde alleen, ander gaan soek om lief te hê?

Kom ons gaan doen dit. Kom ons bid dat God ons weer bewus sal maak van hoe groot sy liefde is. Kom ons vra Hom om sy liefde, en sy Gees, weer in ons harte uit te stort. Dan sal ons nie anders kan as om deel van ‘n gesonde liggaam te wees nie.

Die vraag wat egter al hoe meer by my spook, en bly spook, is of die mens van vandag werklik nog deel van ‘n gesonde liggaam wil wees. En of die gemeente waaraan hulle behoort, vir hulle so belangrik is, dat hulle wil hê dat die liefde sal seëvier.
Amen