Lukas 17:7-10

Vrywillig, vrolik en verniet



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Stel u die volgende prentjie voor: Genadeloos brand die son op sy kop neer. Hy vee die sweet van sy voorkop af. Die ploeg breek die aarde in groot vore oop. Driehonderd meter na die grenspaal en dan weer drie honderd meter terug. Heen en weer, heen en weer in die brandende son, al agter die swaaiende stert van die ploegdier aan. Wanneer die son uiteindelik sak, stoot hy moeg en voetseer die voordeur oop. Hy sak in die eerste veldstoel neer, met 'n groot beker koue water in sy hand. Maar dan kom die stem: `Quartus! Kom maak vir my dadelik iets om te eet en te drink. Sit jou voorskoot aan en bedien my’.

Dit klink darem 'n bietjie hard, ongevoelig en genadeloos, sou ons sê. Maar weet, en dit maak dit dalk vir die oomblik nog erger, dit staan in die Bybel. Meer nog, hier is die Meester God self. Geen wonder ons voel soms aanvanklik ongemaklik met dié en soortgelyke tekste in die Bybel nie. Want ons verkies tog maar altyd eerder woorde wat sus en troos en sê: Saggies en teer is die roepstem van Jesus.

Ek meen egter, broers en susters, dat ons ongemak met tekste van die aard saamhang met 'n aantal misverstande. En sommer die heel eerste in hierdie verband is wat ons kan noem die wese/aard van die genade. Al is dit hoe ongelooflik, dink baie van ons maar nog altyd dat ons iets by God kan verdien. Of, dat daar ten minste 'n verband moet wees tussen ons produksie en beloning, tussen ons prestasie en ons aanprysing. Ons lewe immers in 'n tyd waar koning Prestasie heers. Luiaards en onbekwames, glo ons maklik, byt in die stof. Wenners moet ons wees, sê die bekende liedjie. Dus: die Meester kon ten minste net dankie gesê het. Enige slaaf verdien dit darem!

Of kom ek sê dit anders: Teoreties sal ons instem dat die Here slegs uit en op grond van die genade met ons werk, maar miskien êrens in ons agterkoppe leef nog soms die geloof dat ons voortreflike en puik materiaal is waarmee die Here kan werk. Dat ons almal gesondig het en sommer baie vêr van God af is. bly daarmee soms maar net woorde op papier. Ons verstaan dus nie altyd dat ons slawe is wat niks verdien nie. Met ander woorde, ons begryp nie dat genade in wese niks anders as genade is nie.

Die tweede misverstand is die in verband met die aard/wese van ons diensbaarheid, ons diens aan God. En hier is dit ironies dat juis mense wat die onvoorwaardelikheid van God se genade verstaan — met ander woorde, dat dit nie verdien kan word nie, dat dit nie gekoop of op enige manier verkry kan word nie, dat dit absoluut verniet is — juis soms diegene is wat dink dat, juis omdat genade onvoorwaardelik is, dat diensbaarheid daarom opsioneel is. 'n Ekstra. Iets wat jy kan doen of nalaat, so na die gelang van jou bui.

Maar dit is nie, broers en susters. Genade en gehoorsaamheid gaan hand aan hand. Dit is die twee kante van dieselfde muntstuk. Soos Jakobus dit stel: Geloof wat nie tot dade oorgaan nie, is so dood soos 'n liggaam wat nie asemhaal nie. Of soos Calvyn dit uitgedruk het: Ons word nie deur ons werke gered nie, maar ook nie daarsonder nie.

Hoekom? Want die genade bevry ons van die sonde en die dood, maar bevry ons ook vir diens aan God en ons naaste. Daarom: om God te dien is die hoogste vorm van vryheid.

Die derde misverstand is die grootste van almal. Ons verstaan nie die wese van ons Meester nie. Ons reken Hy is hard, want ons verstaan nie altyd sy hart nie. Hy vra niks wat Hy nie eers gegee het nie, Hy eis slegs in die mate waarin Hy skenk. Hy vra diensbaarheid omdat Hy self nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

Hy vra alles, want Hy gee alles. Hy het sy lewe gegee, daarom vra Hy u en my lewe. Omdat hy ten volle gehoorsaam was aan die Vader, tot die dood toe, vra Hy van ons gehoorsaamheid.

Hoor hoe beskryf Luther gehoorsaamheid, en hiermee sluit ek af:

Hoewel die Christen nou heeltemal vry is, moet hy hom weer gewillig tot dienaar maak om sodoende sy naaste te help. Dit alles verniet, sonder om iets anders as Goddelike genade daarin te sien. Ek wil voor die Vader wat sy oorvloedige genade oor my uitgegiet het, alles wat Hom behaag vrolik en verniet doen. So vloei daar vanuit die geloof in en liefde tot God 'n vrywillige en vrolike lewe, om die naaste verniet te dien.

Vrywillig, vrolik en verniet. Wanneer gehoorsaamheid nie so lyk nie, is dit geen ware diens aan God nie, maar slegs 'n neerdrukkende en uitmergelende wet. Dan is ons soos die oudste broer wat in die huis van sy vader woon, maar die vader nie self ken nie.

Wie egter die wese van genade verstaan (veral na vanoggend en vanaand se aansit aan die tafel), die wese van diens aan God verstaan (dat dit nie maar net opsioneel is nie), en bo alles, die wese van ons Meester (naamlik dat Hy nie iets vra wat Hy eers gegee het nie), sal nie anders as Augustinus kan bid nie: Here, gee vir my wat U van my vra, en vra dan net wat U wil. Mag dit ook u gebed daagliks wees!
Amen