Hebreërs 10: 11-25

Wat nou na die Nagmaal?



Offers is van die vroegste tye af en dwarsdeur die geskiedenis van Israel tot in die Nuwe Testamentiese tyd gebring. Noukeurige voorskrifte oor die aard van die offers en die offerhandelinge het beklemtoon dat offer ‘n heilige handeling was wat by die tabernakel en die tempel net deur bevoegde Priesters gebring kon word en dat hulle allerlei vereistes vir kultiese reinheid moes nakom.

Offers wat deur die volk van God gebring moes word, is beskou as ‘n gawe aan God vir wat Hy die offeraar geskenk het en kon dien as uitdrukking van lof, dank, berou of as bede om versoening met God. Die bloed van die offerdier het ‘n besondere rol gespeel. Die bloed is gebruik vir reiniging en wyding van mense, voorwerpe en die heiligdom self en het ‘n belangrike plek in alle versoeningshandelinge gespeel. Daar is sprake van 19 verskillende offers wat gebring moes word.

Die mees algemene offer, was die sondeoffer. Dit is ‘n versoeningsoffer wat deur die offeraar aangebied word as versoening vir sy sonde. Kenmerkend by die sondeoffer is dat die offeraar sy hande op die offerdier lê en dat besprenkeling en uitgooi van die bloed ‘n prominente rol inneem. Hierdie handeling was die sigbare teken dat daar nou weer versoening tussen die offeraar en God is. Nadat die bloed besprenkel is, is die vet op die altaar verbrand, en die vleis aan die priesters gegee vir persoonlike gebruik. Die Sondeoffer was by alle feeste asook by verskeie ander geleenthede gebring.

Hierdie offerhandelinge het nooit opgehou nie en die Priesters was letterlik dag in en dag uit besig om offers te bring. In vers 11 wil dit voorkom asof die skrywer met ‘n versugting oor die verlede skryf: “...elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie”. So byna ‘n stemtoon van moedeloosheid, wat baat dit my om al hierdie offers te bring? Indien hierdie offers hulle werklik van sonde kon vrymaak, sou hulle immers opgehou het om weer offers te bring? Maar nou moet hulle jaar in en jaar uit offers bring. Hulle was oënskynlik vasgevang in ‘n situasie waarin hulle sonder ophou moes offers bring om God se guns te wen.

Maar genadiglik het hierdie situasie verander. Offers soos wat die Jode dit geken het is vir eens en altyd verby. Die volmaakte Priester het die volmaakte offer gebring. Nadat hierdie offer gebring is sou dit nooit weer nodig wees om enige bloed op ‘n altaar te sprinkel of om enige vet in die vuur te gooi, of om enige dier weer te slag om God se guns te wen nie, want hierdie offer is vir God aanneemlik en voldoende. Ons lees in vers 14: “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak”.

Uit die volgende verse blyk dit baie duidelik dat ons, as deel van God se verbondsvolk, die afgesonderdes is. En vers 17: “...Aan hulle sondes en aan hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie”. Uit hierdie 2 verse moet dit dus baie duidelik wees dat ons vanoggend hier sit as mense wat vrygemaak is van sonde. Jesus Christus wat die volmaakte Priester is, het in Homself die volmaakte offer gebring. Die bloed van die slagdier is vervang met God se eie bloed, met die bloed van Jesus Christus. Indien God se bloed nie goed genoeg is vir Homself nie, sal geen dier se bloed wat ons kan offer goed genoeg wees nie.

Dit is nie net die bloed van die offer wat volmaak is nie, maar dit is die Priester wat die offer gebring het, wat self volmaak is. Deur Jesus Christus se liggaam is die weg na die Allerheiligste gebaan. Waar dit vroeër net die Hoëpriester was wat in die Allerheiligste kon gaan, het ons nou deur Jesus Christus vrye toegang ontvang. Solank as wat ons deel is van die liggaam van Christus, het ons nie net vrye toegang tot die Allerheiligste nie, maar verkeer ons permanent in die Allerheiligste. Is ons daardeur as’t ware permanent in die Allerheiligste se teenwoordigheid, naamlik by God self.

Maar dit plaas ‘n geweldige verantwoordelikheid, eintlik ‘n las, op ons skouers, want ons het nou die verantwoordelikheid om soos mense te leef wat in die teenwoordigheid van die Allerheiligste is. Ons moet nou leef soos mense wat geen sonde het nie, want in God se teenwoordigheid kan daar nie sonde wees nie. Indien ons wil aanspraak maak om in die teenwoordigheid van die Heilige God te leef, dan sal ons self ook moet heilig wees. God beveel ons immers: “Wees heilig, want Ek is heilig”. Maar hoe kry ons dit reg? Is dit moontlik om heilig te lewe?

Om te verstaan hoe ons dit kan regkry, is baie moeilik. Ons bely immers dat ons sondig is en voortdurend weer terugval in sonde, en daarom het ons elke dag God se vergifnis nodig. Maar ons mag nooit daarby berus nie, ons moet altyd poog om minder en minder sonde te doen. Ek wil dit verduidelik aan die hand van ‘n treinspoor.

Ons lewe is die spore wat na God loop. Voor in die toekoms is God. Die dwarsstawe is die sonde wat ons verhoed om een te word met God. As ons vorentoe kyk dan kan ons sien hoe ons nader en nader aan God beweeg, maar hoe nader ons aan God kom, sien ons dat die sonde ons steeds verwyderd hou van God. Of dit 1 sonde is en of dit 10 is, ons bly verwyderd van God. Hoe nader ons aan God leef, hoe meer bewus is ons van die sonde wat ons van Hom verwyderd hou. Dit is egter net ‘n tydelike toestand, voor in die toekoms sal daar ‘n tyd aanbreek waar hierdie spore elkeen in die stasie bymekaar kom.

Gemeente, ons het in die voorbereidingsdiens tot die Nagmaal gehoor dat ons as sondige mense aan die tafel aansit. Ons was nie een instaat gewees om ‘n klip na iemand anders te gooi nie, want geen een van ons is volmaak en self sonder foute nie. Maar ten spyte van ons sondigheid en onvolmaaktheid, het God ons steeds uitgenooi om deel te hê aan die Nagmaal. Het ons deur die gebruik van die Nagmaal deel gekry aan Jesus Christus se dood, maar ook aan sy opstanding en oorwinning oor die dood. Ons het die brood geëet en die wyn gedrink en deur die proe daarvan intens bewus gewees van God se teenwoordigheid by ons.

Ons kon onbevange in God se teenwoordigheid kom, want die offer, is reeds gebring. Die voorhangsel van die Allerheiligste is geskeur en ons kan met ons sondige lewe na die heilige God gaan, want in sy teenwoordigheid, word alles heilig gemaak. Broers, susters en kinders, ons moet leef as mense wat weet dat die laaste offer gebring is. Ons kan nie aangaan met ons sondige lewe nie, want daardeur gooi ons God se offer terug in sy gesig. En as ons nie God se offer aanvaar nie, wat gaan ons dan as offer wil gebruik? Die volmaakte offer is reeds gebring, ons moet leef met die wete dat daar na Jesus Christus, geen ander offer vir God aanneemlik is nie.
Amen