1 Tessalonisense 5:12-22

Wees altyd bly




Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Verlede week, voor en tydens die belydenisaflegging van die finalejaarkatkisante, het ek onwillekeurig teruggedink aan my eie belydenis-aflegging 'n aantal jare gelede. En dit is nogal verrassend broers en susters, dat wanneer 'n mens vir 'n slag mooi aan so 'n gebeure in jou lewe terugdink, jy amper nie kan glo hoeveel jy daarvan onthou nie.

Ek onthou goed dat my belydenisaflegging nie onbevange en sonder bepaalde onsekerhede was nie. Nie omdat ek nie volledig geglo het in die verlossing van Jesus Christus nie, maar omdat ek my Christenskap verstaan het as 'n totale versaking van enige lewensvreugde of die lekker dinge in die lewe.

Die heerlikheid waarvan die Bybel praat, die blydskap waarvan ons in so baie van Jesus se gelykenisse lees, dat God by ons teenwoordig kan wees, was alles dinge wat vir my in die hiernamaals gelê het. Waar ek was, was net 'n baie warm kerk, streng ouderlinge in swart pakke, stadige trekkerige sang en Bybels in swart omslae.

Drank was uit, dans was uit, bioskoop was uit, ook popmusiek. Met ander woorde: alles wat vir 'n tiener na die lewe klink, het vir my gevoel na verbode vrugte. Die smal pad wat ek gekies het, was vir my moeilik en swaar, dit het groot toewyding gevra en, om die waarheid te sê, dit was nie vir my lekker nie. Christenwees was 'n lot, maar dit was maar so: as jy in die hemel wil kom, het ek gereken, was dit nou maar eenmaal die pad wat jy moes stap.

Daar was egter vir my 'n ander, en groter, probleem. Veral twee tekste in die Bybel het my geweldig gepla. Die eerste was Filippense 4:4 wat lees `Wees bly in die Here, ek herhaal, wees bly!', en die tweede ons teksvers van vanaand, 1 Tessalonisense 5:16 wat lees `Wees altyd bly'.

Twee tekste wat net nie vir my sin gemaak het nie. Want hoe kan die Bybel ons oproep, eintlik beveel, om bly te wees, vrolik te wees, as die uitleef van die Christelike geloof so 'n swaar en somber saak was?

Ek het egter besluit dat ek wou begryp wat die Here hier met sy woord bedoel, en wyd in die Bybel begin lees om te probeer agterkom wat presies hier van ons as gelowiges gevra word. En watter wonderlike ontdekkings het ek nie gemaak nie. Ek het ontdek dat

  • die evangelie van Jesus Christus die blye boodskap genoem word,
  • dat die engele van blydskap gesing het toe Jesus vir sondaarmense gebore is;
  • dat veral die eerste Christene die verhaal van Jesus Christus blye nuus en goeie tyding noem;
  • dat Jesus self gesê het dat Hy gekom het sodat ons blydskap volkome kan wees;
  • dat Filippense 4 juis sê dat ons bly kan en moet wees omdat God naby, en by ons is, en so kan ons aangaan.

Daarby het ek begin beleef dat een van die dinge in die lewe wat 'n mens die meeste blydskap verskaf die voor¬reg is om juis ander in hulle leed by te staan, en dat die deel van ander se ervaringe van hoe God hulle in sekere tye bygestaan het 'n geweldige gevoel van dankbaarheid en blydskap in 'n mens na vore laat kom. Bo alles het ek begin ervaar dat om God en sy Woord lief te hê, en dit uit te leef (nie dat ek altyd daarin geslaag het nie) eintlik die enigste saak is wat ewige en werklike vreugde deel van 'n mens se lewe maak.

Maar ook, broers en susters, moes ek vir my die saak uitmaak hoekom dit dan so is dat dit nie altyd in 'n mens se lewe so is nie? En bo alles, hoekom veral in die kerk, daar soms so 'n gebrek aan vreugde onder ons as kinders van God is.

Miskien is ons soms so vreugdeloos juis omdat ons altyd maar weer dink dat 'n mens alleen jou saligheid kan ver¬dien as jy deugsaam is, as jy baie insit, as jy sekere dinge versaak, as jy nie so 'n bietjie swaarkry omdat jy glo nie. En miskien is daar redes hiervoor, broers en susters: ons is soms geweldig besig, veral in die kerk, oor dinge wat oor die tafel na ons kom. Ons moet vergaderings hou, ons moet dikwels dringende sake hanteer, funksies moet gereël word, 'n oog moet oor die finansies gehou word, en so duik elke dag net meer en meer verpligtinge op. En na¬tuurlik geld dit ook vir ons elkeen se beroep en huislike lewe. Daar gaan dit soms presies dieselfde. Met die ge¬volg? Ons is so besig dat ons nie meer tyd oor het om die vreugde en rus wat die evangelie bring, te geniet nie.

'n Ander rede hoekom ons as Christene soms so vreugdeloos is, is ook miskien omdat ons geneig is om toe te laat dat die ellende rondom ons ons oorval en toeval. Al die moorde, al die nood rondom ons, al die voorspellings (wat dalk korrek is), wat nog in die toekoms met ons in hierdie land gaan gebeur, die ekonomiese druk wat ons elkeen beleef, en nog so baie ander sake neem ons gedag¬tes soms so in beslag dat ons nie meer tyd het om rustig te raak en te verstaan watter geskenk ons in Jesus ontvang het nie, en watter vreugde dit by ons behoort op te wek nie.

Maar nou het ons vandag, broers en susters, vanoggend en vanaand, die geleentheid gehad om weer vir 'n slag weer rustig by die tafel van die Here te kom aansit en te ervaar en te smaak dat die Here vir ons goed is en wil wees. By die tafel van die Here wat ook beteken: Sy hele menswording, Sy kruisdood, Sy opstanding, dit alles was ter wille van geweldige blydskap.

'n Blydskap wat in ons behoort op te borrel as ons weer hoor: jy hoef jou nie meer te bekommer oor jou redding nie, in Jesus Christus is daar redding. Jy hoef jou nie meer te bekommer oor wat in jou verlede gebeur het nie: Jesus Christus het dit aan die kruis weggeneem; jy hoef jou nie meer oor môre te bekommer nie, want God sal ook daar by jou wees soos Hy hier by die tafel by jou teenwoordig was; ja, eintlik hoef jy oor niks meer bekommerd te wees nie, want soos die Here jou hier volledig gevoed en versorg het, so sal Hy dit vir jou ook in die week wat kom, doen?

Behoort dit ons nie met blydskap te vervul nie, broers en susters? Behoort nie alleen dit wat u en ek simbolies vandag aan Sy tafel beleef het, ons blye mense te maak nie? Of, broers en susters, ervaar ons geen blydskap omdat ons dalk nog nie besef wat werklik met hierdie tafel gesimboliseer word nie.

Natuurlik, broers en susters, beteken 'n regte verstaan van die tafel van die Here nie dat ons nou ewe skielik geen ellende of teenspoed of hartseer sal ervaar nie. Die vreugdelied van die evangelie van Jesus Christus sê egter: ellende, tragedie, hartseer, of watter negatiewe saak wat julle in hierdie lewe ervaar, spreek nie die laaste woord nie. Want Jesus het die wêreld oorwin, en niemand kan ons uit Sy hand ruk nie. En daarom kan, en moet ons bly wees.

Mag die kerk daarom, broers en susters, nooit die indruk skep dat hulle met doodsheid en lang gesigte aanmekaar gesit is nie. Want die Bybel, en die tafel leer ons: die grondwet van die koninkryk van God is liefde en vreugde.
Amen