Jeremia 7:1-11

Dit is die tafel van die Here, dit is die tafel van die Here, dit is die tafel van die Here



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Toe Jeremia toentertyd hierdie preek vir sy gemeente lewer het, was hulle in 'n groot verknorsing. Josia, die man wat die wetboek onder die rommel in die tempel ontdek het, en daarvoor verantwoordelik was dat die volk weer gehoorsaam voor God begin leef het, wat 'n geweldige herlewing laat plaasvind het, was dood. In sy plek het Joahas koning geword, die keuse van die volk, maar Nego het hom met geweld afgesit en Jojakim koning gemaak. 'n Ongelowige man.

Maar ook op die landsgrense het dit gewoel. Die magtige Assiriese Ryk was besig om te taan, en die wat sy plek as maghebber wou oorneem, het in 'n lang ry gestaan: daar was Egipte aan die suidekant, Babilonië aan die oostekant en Medië aan die noordekant. En aan die westekant was die Middellandse see. Met ander woorde, soos 'n smeersel in 'n toebroodjie was Juda vasgedruk. Van iewers sou die probleme kom, hulle het net nie geweet van watter kant af nie.

In hierdie tyd dan, broers en susters, 'n tyd van interne onsekerheid en eksterne bedreiging, sien ons soek die volk na 'n bemoedigende woord. En daarom kom hulle tempel toe, kerk toe, daar waar die priesters en profete hulle moed kon inpraat. Wat vir hulle kon sê: moenie bekommerd wees nie. Of: dink maar aan die tyd van Jesaja, toe die Assiriërs rondom die tempel ingegrawe gelê het en toe Hiskia gesê het: die Here sal sy tempel nie prysgee nie! En die Here het nie. Waarom sou die Here dit dan nou doen? Josia het immers die land van afgodery gereinig, die tempel weer in ere herstel.

En daarom, broers en susters, omdat die volk dit by die tempel gehoor het, het hulle dié spreuk gemunt: Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel! Net soos die Babiloniërs mense (om hulle te vervloek) of plekke of dinge (om hulle heilig of onheilig te verklaar) besweer het, doen die volk dit nou: hulle besweer die tempel, en maak so seker — volgens hulle — dat God in sy tempel sal bly.

En die priesters bemoedig hulle, ondersteun hulle: solank julle net tempel toe kom, julle tiendes gee, sal die Here hier wees. Die saak is reg, alles is reg. En was die volk so bly om dit te hoor, dat hulle sommer begin sing het: ons is verlos (want dit is wat vers 10 wil sê).

Maar toe hulle al singende by die tempel uitkom, staan daar iemand voor hulle — Jeremia — wat sê: Julle vertrou op bedrieglike woorde! Die tempel van die Here bied geen beskerming nie. Julle laat julle om die bos lei deur bedrieglike woorde, deur woorde wat julle graag wil hoor. Die dominees van die tempel laat julle op valse woorde vertrou. En dan gee Jeremia hulle twee redes hoekom hy so sê:

In die eerste plek, sê hy, verdruk julle die weeskinders, weduwees, die armes en die vreemdelinge. Dié wat spesiaal deur die wet in beskerming geneem word. Verder loop julle agter vreemde gode aan. Met ander woorde: julle verbreek julle verhouding met julle naaste, en met God, en dan kom staan julle nog so werklikwaar hier en sê: Dit is die tempel van die Here!

Tweedens, sê Jeremia, maak julle van my tempel 'n rowerspelonk. Hoe maak rowers? Wat hulle steel gaar hulle by 'n bergplek op. En dan gaan hulle maar weer uit om te steel. Maar as dinge vir hulle te warm word, vlug hulle na hulle reserwes toe terug om daarvan te lewe. Julle maak net so, sê Jeremia vir die volk: Julle bring offers na die tempel en gee tiendes en meen dat julle 'n aardige reserwe by God opgebou moet hê. Julle dink dat julle offers 'n premie op 'n ongevalle polis by God is. En dan gaan julle die wêreld in en julle steel, moor en sweer vals. Alles wat die Tien Gebooie verbied. En sodra die wêreld vir julle te warm word — soos nou — dan wil julle hê dat God julle polis by Hom moet uitbetaal.

Maar dit kan nie. Want God se tempel is geen rowerspelonk of geen versekeringsmaatskappy nie. Julle kan God nie besit of manipuleer nie. Julle kan God ook nie kry sonder om die Tien Gebooie saam met Hom te kry nie. En hier lê juis julle probleem: julle is bly oor die tempel, maar nie ook bly oor God nie. Julle wil God hê, maar nie sy wet ook nie. Julle wil God as iets handigs hê. As iets wat by julle moet aanpas, maar by Hom wil julle nie aanpas nie.

Wanneer ons van die tafel van die Here af opstaan, broers en susters, is daar vir ons geen groter gevaar as juis hierdie gevaar nie. So maklik kan ons vanaand saam met die volk sing: ek is verlos, God het dit vir my vandag weer aan sy tafel bevestig. Maar dan stap ons hier uit en oortree feitlik al wat 'n gebod is: oortree ons teenoor ons naaste en God.

Dit is so maklik, broers en susters, om 'n mens se godsdiens in kompartemente in te deel. So maklik, dat ons dit soms nie eers agterkom nie. Ons gaan byvoorbeeld in massas kerk toe, ook in hierdie gemeente. Maar ons probeer om God en sy wet tussen die buiteblaaie van die kanselbybel vas te knyp. Ons probeer om God agter die deure van die kerk op 'n Sondag toe te sluit.

Daar buite sal ons gaan leef. Daar sal ons ons dinge reël. Hierbinne egter, kan God dit maar reël. Hy is immers hier in beheer. Laat Hom dit daarom maar hier doen. Net nie daarbuite nie.

Ek kan, broers en susters, baie voorbeelde opnoem van hoe baie van ons hier in die gemeente so graag op 'n Sondag in die kerk sit, maar die res van die week nie te veel van God en sy werk wil weet nie. Selfs nie eers op 'n Sondag buite die tye van die erediens nie. Want ek was mos in die kerk! Wat meer is, ek het selfs na die Nagmaal toe gekom!

Ons kan nie, broers en susters, by God reserwes opbou nie, ons kan God nie in kompartemente afsluit nie. Ons kan nie sê: dit is die tafel van die Here, dit is die tafel van die Here, dit is die tafel van die Here, en dan gaan sit ek byvoorbeeld by die huis met my eie huisgenote om die huistafel in onvrede nie. Ek kan ook nie aan die nagmaaltafel sê: dit is my medegelowiges, dit is my medegelowiges, dit is my medegelowiges, en ek staan van die tafel af op en ek kom hulle te na, of, wat meer gereeld gebeur: buite die deure van die kerk ignoreer ek hulle eenvoudig, wil ek met hulle niks te make hê nie. Sommige van ons onlangse groephuisbesoekgeleenthede is ongelukkig hiervan 'n sprekende voorbeeld.

Ek sluit af: so maklik sing ons somtyds broers en susters, dit is die Here, dit is die God van my vaders, dit is die huis van die Here, dit is die tafel van die Here. Buite hierdie ruimte, daarbuite, dit behoort ook aan God. Ons kan God nie in kompartemente indeel nie. Die huis en tafel van die Here is nie 'n versekeringspolis nie.

Ware godsdiens is waar 'n mens God oral, altyd, en teenoor almal, dien. Ons hele lewe moet inskakel by die plan van God. Dan eers kan ons sê: dit is die tafel van die Here, dit is die tafel van die Here, dit is die tafel van die Here. Want as ons dit nie doen nie, as ons nie die tafel van die Here gaan waar maak met ons lewens nie, dan sê ons eintlik: dit is my tafel, dit is my tafel, dit is my tafel. En dan bedrieg ons onsself ten diepste. Want hierdie tafel is die Here se tafel. Wie dit werklik glo, sal vir die Here gaan lewe, orals en altyd.
Amen