Markus 14:3-9; Matteus 26:14-16

300 of 30 silwermuntstukke?



Gebed
Here, hier waar ons nou as gemeente saam met u Woord besig is,
en saam by U tafel gaan aansit vra ons U dat U uit genade ons die volgende sal skenk:
Lig waar ons net donker sien,
moed waar ons vrees,
hoop waar ons wanhoop
vrede waar ons gemoedere storm,
vreugde waar ons hartseer is,
krag waar ons swak is,
wysheid waar ons verward is,
sagtheid waar ons bitter is, en
liefde waar ons haat.
Ja Here, uit genade vra ons:
vergifnis vir ons sonde,
Uself in die plek van onsself.
Want dan alleen kan ons lewe!
Amen

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ons gedeelte vanoggend lees ons van ‘n hele aantal merkwaardighede, van dinge wat werklik buitengewoon was. Ons lees van uiterstes, van dinge wat ‘n mens eintlik verstom.

Om mee te begin: die ete wat hier beskryf word, is eintlik ‘n ete wat nie maar net nog plaasgevind het nie. Want hier is Jesus en sy mense saam in die huis van ‘n melaatse — en nog meer, saam aan tafel. In die oë van ander was hulle almal onrein, en het geen skaamte gehad nie. En wat meer is, ‘n vrou is deel van die geleentheid. Dit alles was ongewoon, eintlik onaanvaarbaar.

Maar vir Jesus is dit doodgewoon. Want by Hom was almal welkom. Veral die wat in die oë van ander sogenaamde sondaars was.

Verder sien ons dat by hierdie ongewone ete, iets gebeur wat nog meer ongewoon was. ‘n Vrou, een van die teenwoordiges, salf Jesus se kop met ‘n duur albaste fles nardusolie. En let op: nie maar net die olie was duur nie, maar ook die fles self. En kom ek verduidelik.

‘n Albaste fles was ongeveer 5 tot 9 duim lank (dus nie baie groot nie) en was gemaak uit ‘n kalsietsteen, ‘n grondstof wat baie skaars was. Hierdie grondstof het veral in Indië en die Verre Ooste voorgekom, moes dus ingevoer word en is baie swaar belas. Dit was daarom baie skaars en duur en is gewoonlik gebruik om waardevolle en kosbare stowwe, soos parfuum, te berg

Die nardusolie in hierdie fles was egter net so duur en skaars. Nardusolie was gemaak van die nardusplant, ook van Indië. Dit was ‘n aromatiese olie wat van die plant se wortels gemaak is, en was onverdun. Verskeie bome se wortels was daarom nodig om net ‘n paar druppels van hierdie olie te maak.

‘n Albaste fles het ‘n redelike lang nek gehad met ‘n proppie bo-op. Omdat die olie so duur was, is dit daarom gewoonlik net drupsgewys aangewend. Amper soos ‘n baie duur parfuum.

Wat was dit werd? Ten minste 300 silwerstukke, lees ons hier. Wat was die waarde van ongeveer 300 silwerstukke? ‘n Dagloner het gewoonlik een silwermuntstuk per dag verdien. Vir twee honderd van hierdie muntstukke kon daar vir duisend mense kos gekoop word. Hierdie olie het dus meer as ‘n volle jaar se verdienste gekos, as ‘n dagloner elke dag werk kon kry, wat nooit gebeur het nie.

Meer nog: as ons in ag neem dat hierdie fles olie in die besit van ‘n vrou was, was dit eintlik nog meer werd. In die tyd van Jesus het ‘n vrou nie gewerk nie, en eintlik geen inkomste verdien nie. Sy moes dus vir baie lank geraap en geskraap het om hierdie fles nardusolie te kon bekom. Sy het seker haar hele lewe lank gespaar om dit te kon koop.

En wat maak sy daarmee? Sy salf Jesus daarmee op ‘n wyse wat in baie opsigte ook as ongewoon beskou moet word. Eerstens haal sy nie die proppie af om die olie drupsgewys en spaarsamig aan te wend nie. Nee. Sy breek die fles se nek af en gooi alles op Jesus uit. Met ander woorde: dit was klaar met die duur olie, en met die duur fles.

Maar nog meer. Sy salf Jesus vir sy begrafnis, maar nie sy voete soos dit normaal was om iemand te salf net voor hy/sy begrawe is nie. Nee. Sy salf sy kop. Wie was op hulle koppe gesalf? Net konings en hoëpriesters. Wat het haar handeling dus beteken?

Jesus word gesalf vir sy begrafnis, maar nie as een wat gaan sterf nie, maar as een wat gaan heers. Wat oor die graf gaan heers. Hy is koning, en sal aan die regterhand van sy Vader regeer na sy dood. Hy gaan deur sy dood hoëpriester word, maar nie die hoëpriester wat vir die volk se sondes met ‘n offer intree nie. Nee. Hierdie hoëpriester gaan self die offer word.

Hy gaan alles gee vir God se mense. Hy gaan sy lewe gee, dus alles wat Hy besit. En daarom, vertel Markus ons, gee sy Hom alles wat sy het. Daarom breek sy die fles se nek en gooi die volle inhoud van die fles oor Jesus uit. Niks minder sou genoeg wees nie. Hy gaan vir haar (en baie ander) alles gee wat Hy het, en daarom gee sy vir Hom alles wat sy het.

En dan die kontras in Matteus 26. Die vrou gee alles wat sy het, 300 silwermuntstukke se waarde. En Judas? Hy aanvaar skaamteloos net 30. Dit nadat hy saam met die ander dissipels (volgens Matteus se weergawe van hierdie gebeure) so verontwaardig was dat die fles en inhoud nie verkoop was om die armes mee te help nie.

Die vrou weet Jesus gaan alles gee, daarom gee sy alles. Judas weet dit ook, en hy gee nie, hy gryp. Die vrou gee 300 silwerstukke, alles wat sy het, omdat Jesus alles gaan gee, Judas gaan ook alles ontvang, maar gryp na nog meer. ‘n skamele 30 silwermuntstukke. Watter kontras?

Ons gaan nou by die tafel aansit. Hier gaan God vir ons alles gee. Sy Seun, die ewige lewe. ‘n Gawe wat nie met al die geld in die wêreld gekoop kan word nie.

En wat gaan u en ek teruggee wanneer ons van hierdie tafel opstaan? 300 of 30 silwermuntstukke? Gaan ons alles wat ons het en is, vir die Here gee, of gaan ons hier ontvang, eintlik gryp, deur te ontvang en dit wat ons ontvang het, goedkoop gaan maak deur nie alles te gee nie, maar net dit wat ons wil?

Wat, broers en susters, is Jesus Christus vir u en my werd? 300 silwermuntstukke wat ons gee (dus alles wat ons het), of 30 wat ons ontvang? Gaan ons met ons lewens toon hoeveel hierdie tafel werd is, of gaan ons dit goedkoop maak deur ‘n lewe wat hierdie tafel nie waardig is nie? Of anders gesê: Gaan ons vereer, of gaan ons verraai?

Mag ons almal vanoggend spreekwoordelik 300 silwermuntstukke na hierdie tafel bring. Alles wat ons het. Mag ons ons hele lewe bring, en na hierdie tafel voortgaan om ons hele lewe aan God te wy.

Want dit is immers wat hierdie tafel werd is!
Amen