Romeine 5:1-11

Almal is sondaars, en net sondaars welkom



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die meeste Nuwe-Testamentici is dit eens dat daar ten minste drie groepe mense in die gemeente Rome was aan wie Paulus hierdie brief geskryf het. Drie groepe mense, elk met hulle eie oortuigings en gebruike, wat ons beslis in gedagte moet hou wanneer 'n mens iets van hierdie brief wil verstaan. Vanaand wil ek daarom kortliks met ‘n beskrywing van hierdie drie groepe begin.

Eerstens was die bekende Sadduseërs, ook genoem Judaïste, deel van die gemeente in Rome. Hulle het geglo dat die Joodse godsdiens rondom die tempel moes sentreer. God was 'n afwesige God wat slegs teenwoordig gemaak kon word deur te offer. Wanneer daar geoffer is, moes die offerdiere wat gebruik was, absoluut volmaak wees, en wel om twee redes: 1) omdat God volmaak is kan net volmaakte diere geoffer word, anders pas die offer nie by God nie; en 2) omdat die dier vir die sondaar geoffer is, vir 'n onvolmaakte, moes dit volmaak wees, sodat die volmaakte die onvolmaakte (die mens) se plek voor God kon inneem en voor God sterf.

Omdat die offer net by die tempel kon plaasvind, het hierdie mens dan ook jaarliks na Jerusalem opgetrek om daar te gaan offer. God was dus vir hulle nie eintlik daar in die gemeente in Rome teenwoordig nie.

Die tweede groep in die gemeente ken u ook, naamlik die Fariseërs. Hulle verskil met die Sadduseërs was juis dié se verstaan van die tempel. Vir die Fariseërs was God nie net in die tempel teenwoordig nie, maar ook waar elke opregte Fariseër was. Hoe het hulle dit verstaan?

In die plek van die offer in die tempel, het die Fariseërs die etenstafel/gemeenskaplike maaltyd (iets soos ons gemeenskaplike aansit aan die tafel pas) gestel. Wat nie in die tempel geoffer mag word nie, is nie op die etenstafel toegelaat nie, wie nie in die tempel mog kom nie, was ook nie welkom aan die tafel nie.

En daarmee saam moes die, wat wel aan die tafel kon kom aansit, seker maak dat hulle al die reinheidswette stiptelik en getrou nagekom het, en die wat die kos voorberei het, moes seker maak dat daar byvoorbeeld tiendes op die kos betaal is en dat die regte potte en so meer gebruik is om die kos gaar te maak.

So, is geglo, is 'n rein en volmaakte situasie geskep, rein mense en rein voedsel, 'n situasie waar die rein en volmaakte God teenwoordig kon wees. Logies was almal wat onrein was (bv melaatses, dié met liggaamlike gebreke en ander liggaamlike afwykings soos epilepsie, buite-egtelike kinders) nie aan die tafel welkom nie.

Wat ons dan ook by die derde groep mense in die gemeente bring. Die onreines en die sondaars: die melaatses, die met liggaamlike gebreke, die met ander liggaamlike afwykings (bv epilepsie, onegte kinders) of byvoorbeeld die met die verkeerde stamboek (nie-Israeliete, proseliete wat nie besny is nie, heidene). Van hierdie mense is doodeenvoudig gesê dat hulle van die duiwel is. Hulle was God se vyande. Hoekom?

Want in daardie tyd is geglo dat as iemand byvoorbeeld 'n siekte of gebrek gehad het, dat so 'n persoon iewers gesondig het en dat God hom/haar daarvoor gestraf het, daarom die siekte of gebrek.

Hierdie mense was dan ook, as gevolg van hulle gebreke en ander tekortkominge, nie in die tempel toegelaat nie. Interessant ook is dat daar in die tempel nie vir hulle ooit 'n offer gebring is nie, omdat geglo is dat hulle permanent onrein was, vir altyd onheilig, onvolmaak en sondig (want een maal lam/blind, altyd lam/blind). Dus sou 'n volmaakte dier gemors word op iets onvolmaak wat nooit kan verander nie. En natuurlik, aan tafel saam met die Fariseërs sou hulle ook nooit welkom wees nie.

En nou sien ons, broers en susters, kom Paulus in Romeine 5:1-11, teen die agtergrond van hierdie situasie in die gemeente en gemeenskap, met die volgende argument: julle Sadduseërs en Fariseërs, wat so pragtig lewe en sogenaamd soveel beter as ander is, sal julle bereid wees om julle lewens te gee byvoorbeeld van een van julle belangrike/volmaakte/rein vriende te gee? Sal een van julle bereid wees om byvoorbeeld vir sy kind of vrou te sterf? Miskien.

Maar sal een van julle bereid wees om vir een van hierdie sondaars, vyande van God, onregverdiges, onheiliges, ellendiges en onreines te sterf? Nee, julle sal nie.

Maar kom ek verkondig Jesus Christus aan julle, sê Paulus, wat wel bereid was om dit te doen. Wat wel bereid was om vir ellendiges en sondaars te sterf, dit wat julle nooit bereid sal wees om te doen nie.

Maar nog meer, sê Paulus, ek verkondig Christus wat ook vir julle gesterf het, julle met julle offers by die tempel en julle met julle wette oor reinheid, julle wat dink dat julle met julle offers en maaltye God kan afbring na die aarde toe. En dat God julle vir al julle toewyding sal beloon.

Ook vir julle (en nou moet u oplet broers en susters, beskryf Paulus die Fariseërs en Sadduseërs presies met dieselfde woorde as wat hulle die onreines, melaatses en onvolmaaktes beskryf) — ja ook vir julle, julle wat God se vyande was en is (vers 10), julle wat sondaars is of was (vers 8), julle wat onregverdig is of was (vers 7), ja, ook vir julle wat goddeloses is of was (vers 6), het Hy kom sterf.

Dit wat julle nooit bereid was om vir hierdie ellendiges, sogenaamde sondaars, te doen nie. Julle wou nie eers met hulle meng nie. Inteendeel. Julle het van hulle vereis om buite die stadspoorte hulle dae te verwyl. Maar eintlik, sê Paulus, is julle Sadduseërs en Fariseërs presies dieselfde as hulle. Want wat julle hulle noem, God se vyande, sondaars, onregverdig en goddeloses, dit noem God julle ook. Julle is net sulke groot sondaars, net so ver van God of as hulle. Daarom het ook julle vir Christus nodig.

Wat kan ons hiervan toepas op die tafel van die Here, broers en susters, waarby ons so pas aangesit het? In die eerste plek, meen ek, wil Paulus hier vir ons sê dat alle mense gelyk is voor God, juis omdat ons almal sondaars is. Bloot die feit van die sonde, dit wat ons is, dit wat ons doen en dit wat ons so dikwels nalaat, weens die feit dat ons ook maar soms God se vyande is, sondaars, en soms ook maar onregverdig en goddeloos, is ons almal gelyk voor God. Almal het gesondig, almal is vêr van God af, almal is strafwaardig voor God. Almal van ons is sondaarmense wat Christus nodig het.

Daarom, broers en susters, en dit is my tweede opmerking, kan ons nie eintlik anders as om van God se genadeaanbod gebruik te maak nie. Of anders gesê: eintlik kon ons daarom nie anders as om vanoggend en vanaand aan sy tafel te kom aansit het nie. Geen sonde mag ons weghou van sy tafel nie. Want die tafel sê juis: alleen sondaars welkom. Want julle is vrygespreek omdat julle glo, sê Paulus in Romeine 5:1.

Ja, wanneer ons in sonde volhard, nie daaroor ware berou het nie, nie daarmee wil stop nie, dan staan die saak anders. Dit weet ons. Dan het ons oor onsself ‘n oordeel geëet en gedrink, want dan het ons in wese ‘n 'n bespotting gemaak van Jesus se liggaam en bloed wat vir ons aan die kruis gegee is..

Dan het ons Hom eintlik weer opnuut gekruisig, want dan het ons met ons aansit aan die tafel gesê: maak nie saak wie of wat Jesus Christus is nie, hoeveel Hy gely het en wat Hy gedoen het nie, maak nie saak wat Hy van my vra nie: ek weet beter, en ek sal maak soos ek wil. Ek sal besluit wanneer ek die genade nodig het en wanneer nie. En dit kan tog nie.

My derde en laaste opmerking: die tafel van die Here, soos Romeine 5:1 dit stel, is 'n simbool, 'n teken van die vrede wat daar tussen ons en God is. Al is ons sondaars, al is ons anders as God, al is ons onregverdiges, deur die bloed en liggaam van Jesus is daar versoening tussen ons en God, en daarom ook vrede tussen ons en God. En soos ons die een brood, die brood van vrede vanoggend en vanaand gebreek het, en saam daarvan geëet, almal daarvan geëet, behoort daar ook nou, veral na die tafel, tussen ons, wat saam van die een brood geëet, ook vrede te wees.

Mag ons altyd onthou dat ons voor God almal gelyk is. Mag ons altyd onthou dat ons nie sonder God se genade kan lewe nie. En mag ons altyd onthou dat vrede tussen God en mens, deur Jesus Christus, ‘n opdrag is om vrede met mekaar te soek.

Dat ons hierdie dinge glo, het ons vanoggend en vanaand met ‘n daad sigbaar gemaak deur te kom aansit by die tafel. Mag God ons die krag gee dat ons dade na die tafel dieselfde sê.
Amen