Filippense 3:7-14

Die bagasie wat ons met ons saamdra



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons gaan deur die lewe met 'n pak bagasie op die rug of in die hand.

Hierdie bagasie kan positiewe/goeie of dan spreekwoordelik ligte bagasie wees. Soos byvoorbeeld herinneringe aan die verlede, herinneringe aan goeie dinge wat ons beleef het. Ons kan dalk graag en gereeld terugdink aan 'n bepaalde vakansie, 'n bepaalde geleentheid, of iets wat ons bereik het waaroor ons opreg trots kan wees. Of selfs, dalk het u 'n kind verloor, 'n eggenoot, 'n vriend. En selfs saam met hierdie hartseer en verlange wat 'n mens met jou saamdra, kan 'n mens baie goeie herinneringe hê aan wat 'n mens saam beleef het, herinneringe wat 'n mens bybly, en met vreugde laat terugdink aan die ou dae. Aan die goeie ou dae, soos baie onder ons wat 'n bietjie ouer geword het, dikwels sê.

Ongelukkig broers en susters, kan hierdie soort van bagasie egter ook negatiewe invloede op ons hê, in die opsig dat 'n mens so begin vaskleef en vasleef aan die goeie dinge in die verlede dat die hede vir 'n mens een stuk negatiewe ervaring word, en die toekoms aan die hopeloosheid oorgelaat word. Dan bind jy jouself so aan die verlede, dat jy eintlik nie meer met oorgawe kan lewe in die hede nie, wat nog te sê van die toekoms.

Tweedens, broers en susters, dra ons natuurlik ook ander soorte bagasie met ons saam. Negatiewe/swaar bagasie. Dinge wat ons byvoorbeeld in die verlede gedoen het waaroor ons baie spyt is. Dinge wat, indien ons die kans sou kry om dit oor te doen, beslis anders sou doen. Of bepaalde keuses wat ons gemaak het, waaroor ons vandag bitter spyt is. Of dalk nog meer negatief: Dinge wat ons aan ander gedoen het en ander dalk aan ons. Gebeure van so 'n aard en omvang wat maak dat ons dit vandag nog in ons harte ronddra met groot spyt oor wat ons aan ander gedoen het, dit in ons harte saamdra met 'n groot wrok omdat iemand my so te na kon kom.

Verder is dit ook so, broers en susters, dat soos ons almal ons verskillende stukkies bagasie met ons saamdra, ons dit nie almal op dieselfde manier dra of hanteer nie. Party van ons dra ons tasse met ons bagasie in altyd saam met ons. Ons weier om dit neer te sit. Soos word die lewe maklik een groot las en gesukkel omdat ons gebukkend deur die lewe gaan. Ander weer het die gewoonte om elke dag al die tasse oop te maak om, soos reeds gesê, te probeer leef van uit die verlede alleen, om die stukkies in die tas een vir een deur te gaan om so seker te maak dat die wrokke wat ons koester se vure hoog bly brand. En ander weer sluit al die tasse toe in 'n donker kamer en gooi die sleutel weg in 'n poging om hom/haarself van sy/haar verlede los te maak.

Dit gaan dus oor die vraag, broers en susters, oor hoe 'n mens jou verlede moet hanteer. 'n Vraag, broers en susters, wat dalk nie vir ons almal ewe belangrik is nie. Maar die feit van die saak is dat ons vanoggend aan die tafel van die Here gaan aansit. En wanneer 'n mens aan die tafel van die Here kom aansit, word 'n mens nie alleen in terme van jou hele menswees deur God gekonfronteer nie, maar veral met jou verlede.

Hoekom veral met jou verlede? Omdat hierdie tafel juis iets simboliseer van wat Christus met ons verlede gedoen het, en ook wil doen. Dat Hy ons by sy tafel nie alleen nuut wil maak nie, maar ook, dalk nog belangriker, dat 'n mens, indien jy die voorreg het om God te ontmoet soos dit vanoggend gaan gebeur, eintlik nie meer dieselfde kan wees, en dieselfde ou bagasie met jou kan ronddra, oopmaak of probeer wegbreek nie.

Paulus praat hiervan in ons teks van vanoggend. Alles, sê Paulus, wat vir my in die verlede van waarde was, die wrokke wat ek gekoester het, die eie-ek waaraan ek gebou het, al die negatiewe bagasie wat ek met my saamgedra het, het vir my, nadat ek met Christus gekonfronteer is, nutteloos en waardeloos geword. Ek het alles prysgegee, sê Paulus, wat in die pad kan staan om Jesus te kan ken. Al beteken dit selfs om deel te kry aan sy lyding. Want geen groter bate is daar in die lewe om deel te kan hê aan Jesus en sy opstanding nie.

Dit is nie maklik nie, sê Paulus. Ook gebeur dit nie sommer oornag nie. Want, sê Paulus, ek verbeel my nie dat ek dit klaar volledig reggekry het of die eindpunt bereik het nie. Nee. Dit is soms 'n baie moeilike pad. Maar een ding doen ek, sê Paulus. Ek maak my los van wat agter my is en strek my uit na wat voor is. Ek leef na Christus toe, na die toekoms toe saam met Christus, en kleef nie vas aan die negatiewe in my verlede nie.

Nou kan u sê, broers en susters, dat ek hierdie saak so 'n bietjie te eenvoudig skets. So asof dit sommer maar net so 'n maklike sakie is wat 'n mens vroegoggend kan afhandel. Dit is nie wat ek wil sê nie. Maar kom ons stel dit eenvoudig en tog ook baie duidelik.

Al wat Jesus met ons negatiewe verledes te doen wil hê, en in die besonder aan sy tafel, is om dit uit te vee. Jesus stel baie belang in ons verledes. Anders sou Hy nie aan die kruis kom sterf het nie. Maar Jesus, indien ons Hom vandag sou kon vra, se uitspraak oor hierdie saak, glo ek, sou baie duidelik wees: Soos Ek een maal aan die kruis kom hang het, so handel ek met die verledes van alle mense, wat opreg in geloof en afhanklikheid met hulle hele lewe voor My kom staan, ook net een maal. Wat verby is, is verby. Dit is vergewe en vergeet. Aanvaar dit net. Moet nie langer die tasse saamdra, deurentyd uitpak of in die donker kamer probeer wegsluit nie. Gooi dit weg. Maak reg wat jyself kan regmaak, vra/gee vergifnis waar jy moet, en al ontvang jy dit nie, aanvaar My vergifnis daarvoor en strek jou uit na wat voor is. En Ek sal aan jou genoeg geleenthede en vermoëns gee om weer werklik te begin lewe.

Hoekom, broers en susters, werk hierdie saak nie so maklik in ons lewens nie? Kom ek sê vir u hoekom ek meen dit nie so maklik werk nie. En ek wil dit met 'n eenvoudige verhaaltjie illustreer. 'n Man stap langs die pad, in die warm son, opdraande vir opdraande, met 'n swaar sak koring op die rug. 'n Ander man met 'n wa kom verby en bied hom 'n geleentheid aan na die markplein toe. Hulle raak aan die gesels. En later kom die man wat die wa bestuur agter die man sit langs hom, op die wa, met nog steeds die sak koring op die rug. En toe hy vir sy passasier sê om dit neer te sit, kry hy die antwoord. `Nee meneer, ek kan dit nie doen nie. Ek belas jou reeds met myself, hoe kan ek jou ook nog belas met my sak koring?'

As ons wil glimlag, broers en susters, oor die logika van hierdie man se argument, laat ons gerus ook maar oor onsself glimlag. Want deur die geloof het ons lankal reeds op God se wa geklim, maar sit so baie van ons nog met ons bagasie op die skoot. So asof God net vir ons wou oplaai, en nie alles wat ons met ons saamgedra het, en nog steeds saamdra, toe Hy ons genooi het om op sy wa te klim nie.

Wie nie bereid is, broers en susters, om die bagasie neer te sit nie, sê dus eintlik 'n paar ingrypende dinge oor God. Ons sê daarmee:
God is onmagtig om my dit alles te vergewe;
Jesus se dood het nie eintlik veel betekenis vir my lewe nie;
my lewe kan nie eintlik verander nie;
daar is geen toekoms vir my in hierdie lewe nie; en
eintlik weet ek beter. Daarom sal ek met my bagasie maak soos ek wil.

Broers en susters, wanneer ons vanoggend na die tafel van die Here kom, kom ons nie sonder die bagasie in ons lewens nie. God wil ook nie hê ons moet anders na sy tafel kom nie, want as u mooi kyk sal u sien daar staan 'n paar bordjies op hierdie tafel wat sê: `Slegs sondaars is welkom'. Maar God wil ook hê ons moet, wanneer ons hier opstaan, ons bagasie sal los by sy tafel. Dat ons onsself sal losmaak van die negatiewe dinge wat agter ons lê en ons sal uitstrek na wat voor is. Hy sal dit verwyder. Op sy manier, op sy tyd. Wees net geduldig.

As ons dit nie doen nie, broers en susters, verloën ons juis dit wat hierdie tafel simboliseer: die vergifnis van sonde die nuutmaak van mense. Maar ook, as ons dit doen, kan ons die tafel verloën as ons nie ook self gaan vergewe waar ons kan nie.

Want wie sy bagasie neergesit het, kan nou sy/haar kragte wy aan meer positiewe sake. Soos om te sterf om Jesus te ken, deel te hê aan sy opstanding, in sy lyding te deel. En in die toekoms in te leef.

Want dit is waar ons God ontmoet, broers en susters. Nou en in die toekoms. God het reeds ons verledes besoek. Wie Hom daar soek, sal Hom daarom nie vind nie. Net hom/haarself met bagasie waarin God lankal nie meer belangstel nie.
Amen