Eksodus 13:17-22

Die tafel is God se pad



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Om deur die woestyn te loop is nie speletjies nie. Dit weet ons almal. Dit is ‘n plek waar jy so gou moontlik van wil wegkom. Jy stap so reguit as moontlik, neem beslis die korste pad, en vat geen kanse nie. Want ‘n fout kan jou jou lewe kos.

In ons gedeelte vanoggend sien ons dat die volk Israel op die punt staan om deur die woestyn te trek. Die farao het hulle laat gaan, en die beloofde land Kanaän het gelê en wag. En een van drie roetes was vir hulle moontlik.

Die eerste roete, wat ook die korste was, was die sogenaamde seeweg. Dit was die pad wat algemeen gebruik was. Dit was beman deur Egiptiese soldate, daar was genoeg water, en dit het ‘n hele ent al langs die Middellandse See geloop. Hierdie pad was so kort dat die Egiptiese leër by geleentheid net elf dae geneem het om vanaf Egipte tot in Palestina te marsjeer. En omdat hierdie pad strategies belangrik was, het die farao dit streng bewaak met ‘n reeks forte en baie soldate.

Die tweede pad Kanaän toe was langer. Dit het deur die Sinaï-woestyn geloop oor Sur na Kades-Barnea toe. Ook hierdie pad was deur Egiptiese soldate beskerm.

Die derde pad was die langste. Dit het deur die golf van Zeus geloop deur die woestyn na Edom, ‘n pad wat veral gebruik was om metale wat by Timna ontgin is, na Egipte toe te bring.

Wanneer die volk nou trek, sal ‘n mens onmiddellik aanvaar dat hulle die kortste pad sou kies. Dit is tog net logies. Die mense was baie, en hulle wou beslis so gou as moontlik by Kanaän uitkom. Maar dan lees ons die vreemde woorde in vers 17: hulle vat nie die kortste pad nie. Inteendeel. Hulle vat in wese nie een van die drie bekende paaie deur die woestyn nie. Hoekom nie?

Die eerste rede is logies. Die farao het Israel laat gaan, maar wie wil nou op ‘n pad trek wat regdeur deur Egiptiese soldate bewaak word? Sê nou die farao verander van besluit? Dan maak hy oorlog teen ‘n volk wat weerloos deur die woestyn trek, en dan is die volk Israel maar net weer waar hulle was. Onder beheer van Egipte.

Die tweede rede, broers en susters, was egter die eintlike rede. Dit was God se rede. Wanneer die pad moeilik word, kon die volk begin kla en besluit om om te draai. Meer nog: op hierdie pad wou God sy volk ‘n paar dinge leer: dit wat sy voorsienigheid werklik is, wat sy almag beteken, dat hulle moet leer om werklik afhanklik van Hom alleen te wees, dat Hy sy beloftes gestand doen, dat sy weë altyd die beste is. En wat gebeur: 11 dae word 40 jaar. Dit neem die volk 40 jaar om te leer wie en wat God werklik is, en wat hy eintlik van hulle verwag. Hulle moes veral leer dat die bestemming eintlik nie so belangrik is nie, maar dat God altyd saam met sy mense op pad is.

In hierdie sin, broers en susters, is ons lewenstog ook ‘n tog deur die woestyn. Ons weet nie altyd presies waarheen nie. Soms vorder ons vinnig in die lewe, soms stadig. Soms is ons lewe vol koel oases met water en koeltebome, ander kere weer is die son warm, met geen lafenis in sig nie.

Meer nog: soms besluit ons om self koers te vat, en dan verdwaal ons in die lewe. En dikwels, wanneer dit gebeur, leer ons duur en harde lewenslesse. Net omdat ons nie God se pad wou vat nie. Of dalk geoordeel het dat God nie meer werklik vir ons sorg nie.

Die volk het dikwels gedurende hulle tog deur die woestyn so gedink. Dikwels het hulle opstandig geword. En dan het hulle in opstand teen God gekom. Maar telkens en telkens weer het God aan hulle getoon dat Hy die Een is wat sorg. Hy het die wolkkolom gegee vir koelte in die dag, en die vuurkolom vir lig in die nag. Hy het kos voorsien. Hy het hulle teen hulle vyande beskerm. En was Hy elke dag by hulle. Telkens weer het God aan hulle getoon dat Hy by hulle is. En terwyl hulle sy pad stap, Hy altyd by hulle sal wees.

In hierdie sin, broers en susters, is die tafel van die Here vir ons elkeen ‘n oase in die lewe. Wanneer ons voel of ons in die woestyn van die lewe verdwaal het, nooi God en sê: Kom sit aan by my tafel, en kom ervaar weer dat Ek julle altyd sal liefhê. Wanneer ons voel of ons so alleen is, sê God: kom sit aan en sien dat jy baie broers en susters in die geloof het wat jou sal ondersteun. Wanneer ons soms voel of ons nie aan God behoort nie, sê God: kom sit aan en sien dat Ek werklik my Seun ook vir jou gegee het. En wanneer ons soms voel of die Here vêr is, sê die Here: kom sit aan en sien dat ek so naby aan jou is dat Ek mens geword het, mens vir sondaarmense.

Dit is dan ook waarom ons sê dat die tafel van die Here onder andere vir ons gegee is om ons in die geloof te versterk. Die tafel is soos ‘n rusplek langs die pad waar God telkens aan ons herbevestig dat Hy by ons is, dat Hy ons liefhet, dat daar vir ons eendag baie meer weggelê is as wat ons nou sien, dat ons werklik aan Hom behoort, dat Hy altyd by ons sal wees.

Ja, die tafel van die Here wil ons leer dat ons saam met God deur ‘n see kan loop, dat ons saam met God deur die woestyn van die lewe kan loop, dat ons saam met God selfs op water kan loop.

En dat ons nie moet probeer om om die woestyne in my lewe te loop nie. Dit is nie nodig nie. Want soos God by hierdie tafel vanoggend teenwoordig is, so is Hy elke dag in ons lewens teenwoordig.

Kom ons kom sit daarom vanoggend met vreugde aan die tafel van die Here aan. Kom ons kom en word weer in ons geloof versterk. Kom ons kom en hoor weer: Jesus Christus het vir ons mens geword, gesterf, opgestaan en Hy leef. Daarom kan ons die volle lewe leef, want God is altyd by ons! Mag dit vanoggend ook u ervaring hier aan sy tafel wees!.
Amen