Lukas 23:33-43

Die vryheid om te kan kies



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Kain en Abel was twee broers, gebore uit presies dieselfde ma met presies dieselfde pa, Adam. Abel kies vir God, en Kain kies moord. Die een kies met ander woorde die lewe, en die ander een kies die dood. Wat meer is, God laat dit toe. Hy laat Kain toe om so te kies.

Dieselfde kan gesê word van Abraham en Lot. Albei was in wese swerwers in Kanaän. Abraham kies vir God, en Lot kies Sodom. En God laat dit toe.
‘n Verdere voorbeeld: Dawid en Saul was albei konings van Israel. Dawid kies vir God, Saul kies vir mag. En God laat dit hom toe.

‘n Laaste voorbeeld: Petrus en Judas het albei die Here verloën. Petrus gaan soek genade, Judas soek die dood, kies selfs vir die dood deur selfmoord te pleeg. En God laat dit hom toe.

Wat, broers en susters, wil ek met hierdie paar voorbeelde sê? Reg deur die geskiedenis van ons ou wêreldjie, en feitlik op elke bladsy van die Bybel staan een waarheid soos ‘n paal bo water: God laat ons toe om self te kies. En niemand, broers en susters, het dit duideliker gesê as Jesus Christus self nie. Want, om die woorde van Christus self te gebruik, ons kan kies tussen:
die nou poort of die wye poort;
die smal pad of die breë pad;
om op rots te bou of om op sand te bou;
vir God te dien of Mammon te dien;
ja, onder die bokke of onder die skape getel te word.

Baie duidelik, broers en susters, is die woorde van Jesus hier. Ons is altyd vry om een van twee keuses te maak. God gee ons daardie vryheid. Ons kan vir God kies, of teen Hom. Twee keuses, elkeen met ‘n duidelike gevolg, ‘n gevolg wat Matteus 25:46 sonder enige kans vir misverstand uitdruk: En hierdie mense (hulle wat God verwerp het, teen God se wil gekies het) sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe. Eintlik verskriklik as ‘n mens so daaraan dink. God gee ons selfs, as ons dit in hierdie konteks verstaan, keuses wat ons ewigheid betref. En die keuses wat ons maak, het ewige gevolge.

Laat dit ‘n mens nie dadelik dink, broers en susters, aan daardie drie kruise daar op Golgota waarvan ons so pas gelees het nie? Een kruis in die middel met een kruis aan elke kant. Een kruis aan elke kant wat juis hierdie gawe van God, die gawe om te kan kies, simboliseer.

Die twee misdadigers aan daardie twee kruise het soveel in gemeen gehad. Hulle was skuldig bevind deur dieselfde stelsel, veroordeel tot dieselfde dood. Omring deur dieselfde skare, al twee ewe naby aan Jesus. Hulle praat, soos ons in Matteus 27:44 kan lees, aanvanklik ook met dieselfde sarkasme oor en met Jesus. Op dieselfde manier het die rowers, sê Matteus 27:44, wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Maar dan sien ons, het een van die twee rowers verander. Want toe die een Jesus laster, het die ander een geantwoord: Is jy nie bang vir God nie. Ons al drie het dieselfde straf gekry, maar in sy geval is Hy onskuldig. Daarom Jesus, dink aan my wanneer U in die koninkryk kom. Met Jesus se antwoord dan: Jy sal vandag saam met My in die paradys wees.

Is dit nie bewonderenswaardig nie, sê ons altyd. Maar sê ons ooit iets oor die ander rower wie se hart hard gebly het? En, wil ‘n mens amper vra, as die herder dan nege en negentig skape los om die verlore een te gaan soek, en die huisvrou vee en vee tot sy die verlore muntstuk kry, hoekom dan nie ‘n woord van Jesus om ook hierdie harde hart te oorreed nie.

Omdat, broers en susters, daar ook in die evangelies die verhaal van die verlore seun vertel word. En waar die herder die skaap gaan soek omdat hy uit onskuld verlore geraak het, en die vrou bly soek na die muntstuk omdat dit uit onverantwoordelikheid soek geraak het, doen die vader van die verlore seun niks. Hy gaan soek hom nie. Hoekom? Want die seun het eie vrye wil weggegaan. Sy vader het hom die keuse gegee. Soos Jesus daar aan die kruis elke rower ‘n keuse gegee het.

Natuurlik, broers en susters, is daar tye wat God, by wyse van bepaalde gebeure in ons lewe, donderweer stuur om ons wakker te skud. Ander kere weer stuur God ontelbare seëninge om ons te lok. Maar daar is ook tye wanneer God niks behalwe stilte stuur nie. En dit is juis dan wanneer Hy ons met die vryheid vereer om te kies of is die smal weg of die breë weg as ons pad wil hê.

En wat ‘n eer is dit nie, broers en susters? Kom ons dink ‘n bietjie hieroor na. Op so baie van die gebiede in ons lewe het ons geen keuses nie. Niemand van ons het ons geslag, hoe ons lyk, ons geboorteplek, ons broers en susters of ouers gekies nie. Daardie keuses het ons eenvoudig nie.

En so dikwels sien ons, veral by ons jonger mense (maar ook by ons), dat mense kwaad word omdat hulle sogenaamd nie genoeg keuses het nie. Dit is onregverdig, hoor ons dikwels, dat ek in armoede gebore is, of sleg sing, of nie so slim soos ander, of soveel geleenthede soos ander het nie. Ek wil meer keuses kan maak. Ek wil kan kies.

Al hierdie klagtes, broers en susters, word tot swye gebring daardie oomblik toe Adam deur God die keuse gegee is om te kon kies. God het Adam gemaak. Daarmee het God vir Adam gesê: jy behoort aan My, Ek is jou God, jou Vader. Ek gee vir jou alles wat jy nodig het. Jy kan gebruik van alles wat jy wil. Jy kan kies. Jy kan selfs kies of jy van daardie boom in die middel van die tuin wil eet. Dit is jou keuse. Maar onthou, daardie keuse bepaal jou ewigheid.

Dit is met ons, broers en susters, presies dieselfde. Ons het nie vir God gekies nie. Hy het ons gekies. Hy het ons die geloof gegee. Hy het ons gegryp, ons syne gemaak, ons so met sy Gees deurdrenk dat ons nie anders kon as om, op een of ander stadium van ons lewens, uit te roep ‘My Here en my God’, nie.

Goddank vir hierdie genade. Hierdie genade wat vanoggend weer met die tafel wat ons hier voor ons sien, uitgebeeld word. Want dit is hoe God ons gekies, gegryp het, deur Jesus Christus alleen. Dat ons nou kan sê: ons het ‘n Vader wat vir ons sorg, ons het ‘n Vader wat vir ons lief is.

Maar ook: ons het nou ‘n Vader wat ons vereer met die vryheid om te kan kies. Soos die een rower gekies het om te bid, en God hom so liefgehad het dat Hy hom gered het. Maar ook: toe die ander rower gekies het om met Jesus te bly spot, het God hom so liefgehad, dat God hom toegelaat het om daardie keuse te maak.

Ons kan kies, broers en susters. Daardie vryheid gee God ons. Wanneer God se woord ons aanspreek, oor wat ook al, kan ons kies. So lief het God ons. Daardie vryheid gee God ons. Wanneer sy Gees ons aanspreek, rig of wil lei, kan ons kies. Daardie vryheid gee God. Ons kan kies of ons van die boom wil eet of nie. Dit is ons keuse.

Net soos, broers en susters, dit ons keuse is wat ons gaan maak wanneer ons vanoggend van hierdie tafel opstaan. Ons kan kom, God se genade smaak, weer kom ervaar dat God ons gekies het, opstaan, en gaan kies hoe ons wil lewe.
Die vraag is egter net: kan ons, as ons weer hier ervaar het hoe goed God vir ons is, as ons weer hier ervaar het dat God ons gekies het, al verdien ons dit nie, as ons weer hier ervaar het dat God ons vergewe vir al die verkeerde keuses wat ons so dikwels in die lewe gemaak het, maar net kan gaan kies soos ons wil?

Wie so dink, verstaan nog nie wat dit beteken dat God hom of haar gekies het in Christus nie. Wie so dink, het nog nooit verstaan hoe lief God ons werklik het nie, wie so dink, het nog nooit die prys gaan bereken wat dit God gekos het om ons syne te kon maak nie.

Anders gesê: as ons verstaan wat hierdie tafel vir ons uitbeeld, sal ons nie kan opstaan en gaan kies net soos ons wil nie. Dan sal ons kies soos ons weet God wil hê ons moet kies. Sal ons nie anders kan as om te kies soos ons weet God wil hê ons moet nie.

Terwyl ons maar altyd baie goed onthou: twee misdadigers, elkeen aan ‘n kruis. Die een kies God, die ander een die dood. En God laat dit toe.

Hy doen dieselfde vir jou en vir my. Hier is My genade, kom gerus na die tafel. Net sondaars is welkom. En as jy opstaan, vereer Ek jou met die vryheid om te gaan kies. Soms sal Ek, as jy aanmekaar verkeerd kies, jou met ‘n slag soos donderweer tref dat jy kan besef jy moet anders kies. Ander kere weer sal Ek jou so seën dat jy nie anders sal kan as om reg te kies nie. Maar ander kere sal Ek swyg. Ek sal net stilte stuur. Dat jy kan kies, My kind.

Maar onthou net: keuses kan, en het dikwels, ewigheidswaarde. Dit kan lei, as dankbaarheid op genade, tot die dood of die lewe. Dit, My kind, is jou keuse!
Amen