Johannes 13:1; 19:28-30

Dit is volbring! Is dit volbring?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Wanneer Johannes aan ons die kruisiging van Jesus vertel, laat hy Jesus net twee kruiswoorde uiter: ‘Ek is dors’ (Joh 19:28), en ‘Dit is volbring’ (Joh 19:30).

Wat baie interessant is, broers en susters, is dat die Griekse woord wat in vers 30 gebruik word (volbring), presies dieselfde woord is wat ook in Johannes 13:1 gebruik word: Hy het die wêreld tot die uiterste toe liefgehad.  Miskien onthou u hoe die 1953-vertaling hierdie vers vertaal (dit is ‘n meer letterlike vertaling): ‘Hy het hulle liefgehad tot die einde toe’.

Hieruit kan ons aflei dat die einde waarvan daar in Johannes 13:1 gepraat word, dit is wat in Johannes 19:30 beskryf word: dit is die einde, dit is volbring.  Met ander woorde, die uiterste van Jesus se liefde vir sy mense is ‘n kruis wat einde beteken: dit is volbring.  My liefde vir julle het nou vol geword.  Meer liefde kan Ek nie gee nie.  Dit is hoe my liefde vir julle lyk.  Al beteken dit einde.

Ook in ons lewens, broers en susters, is daar eindes, dinge wat soms tot ‘n einde kom.  En ook beginne.  Gebeure wat ons beleef wat ons soms selfs aan spesifieke datums kan koppel.  Gebeurtenisse wat soms vir ons so belangrik is, dat die datums waarop hierdie dinge plaasgevind het, in rooi ink in ons geheues geskrywe staan.  Soos die datum van my geboorte, toe ek die eerste keer skool toe gegaan het, toe ek gedoop is, belydenis van geloof afgelê het, die dag toe ek getrou het, of wat ook al.

Die presiese datum waarop Jesus gesê het ‘Dit is volbring’ kan ons natuurlik nie bepaal nie.  Maar ten spyte daarvan, broers en susters, meen ek dat geen ander datum so rooi soos hierdie dag op die wêreldgeskiedenis se kalender ingekleur is nie.  Ek wil dit sterker stel: in die geskiedenis van die wêreld was daar nog nooit een gewigtiger moment, oomblik, geen groter gebeure as die oomblik toe Jesus gesê het ‘Dit is volbring nie’.  In elk geval nie vir my nie.

Nie dat almal seker met ‘n mens hieroor sal saamstem nie.  Baie van ons ken miskien die bekende vertelling oor die wetenskaplike wat die atoombom vervaardig het wat op Japan gegooi is en so ‘n einde gebring het aan die Tweede Wêreldoorlog.  Na die bom ontplof het, het hy gesê: ‘Wat het die mensdom aangevang?  Al ons geleerdheid, al ons navorsing, al ons inspanning – kyk net die wonderlike resultaat: bloed, vergieting, dood, die hartseer van so baie mense.  Die mens kan nie laer as dit daal nie’.

Ek verskil hiervan, broers en susters.  Nog nooit is die sondige sy van die mens, dit waartoe die sondaarmens in staat is, so duidelik gedemonstreer as daar op Golgota nie.  Moord op God, noem ‘n baie bekende Nederlandse teoloog dit.  Of soos ‘n bekende Duitse paaslied (waarvoor Luther baie lief was), dit uitdruk: ‘Geen groter nood, want God is dood!’.

Ons kan egter ook vanuit ‘n ander hoek na hierdie moment in ons wêreld se geskiedenis kyk, broers en susters.  Nie deur vanuit die perspektief van die mens na hierdie gebeure te kyk nie, te fokus op dit wat die mens hier aan God gedoen het nie, maar deur te fokus op dit wat God in Christus op daardie moment vir ons gedoen het.  En wanneer ons so daarna kyk, is hierdie oomblik/moment nie meer die laagtepunt van die geskiedenis van die wêreld nie, maar word dit die hoogtepunt van alles wat nog ooit gebeur het.  En kom ek probeer verduidelik.

Ons moet onthou, broers en susters (en ek weet dat hierdie nie ‘n maklike saak is om te verstaan nie) dat Jesus nie maar net daar passief aan die kruis gehang het , sy kruisdood gelate aanvaar het asof dit maar net sy lot was, of dat dit maar net die resultaat was van wat mense aan Hom gedoen het nie.

Nee.  Hoor hoe mooi verduidelik Johannes 4:34 en 17:4 vir ons Jesus se dood (en let op hoe dieselfde woordjie ‘volbring’ in hierdie twee teksverse deur Johannes gebruik word).  ‘My voedsel is om die wil te doen van Hom wat my gestuur, en om sy werk te volbring’ (Joh 4:34).  En in Johannes 17:4 lees ons: ‘Ek het u op aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U my gegee het om te doen’.

Jesus se dood, broers en susters, was daarom nie maar net sy lot nie.  Dit was God se wil.  Of soos een teoloog (miskien bietjie kras maar tog raak gesê) dit uitdruk: Jesus se dood was sy werk.  ‘n Doelbewuste daad – ‘n daad vir ons.  Sodat ons vandag kan sê: Dit is (vir ons) volbring!  Geen belangriker gebeurtenis kan daar daarom nie vir ons wees nie!

Daarom, broers en susters, moet ons netnou juig terwyl by hierdie tafel kom aansit.  Moet dit in ons harte juig.  En behoort daar in ons harte ‘n onuitspreekbare blydskap te wees.  Want dit is volbring!  Ons verlossing is afgehandel.  Dit is beskikbaar.  Die lewe is by ons.  Nuwe lewe voor God en nuwe lewe tussen mense is moontlik.

Dit is volbring!  Uitroepteken.  Nie, broers en susters, ‘Is dit volbring? Nie.  Vraagteken.  Nee.  Dit is volbring!  So, broers en susters, word dan elke stukke liefdesdiens, elke stukkie vergifnis, elke sekonde wat ek aan ander afstaan, elke bietjie kras wat ek gebruik om God met oorgawe te dien, niks anders as die uitleef van hierdie uitroepteken nie.

Hoe leef ons, broers en susters?  Leef ons ‘n lewe wat sê ‘Dit is volbring’, of leef ons ‘n lewe wat sê ‘Maar is dit volbring?’

God vra van u en van my vanoggend eintlik net een ding.  Dat u en ek na die tafel sal kyk en sal sê:  ‘God, ek het dors!’.  Om dan te hoor: ‘Dit is volbring!’.  En dan te gaan lewe op so ‘n wyse dat die wêreld kan sien dit is inderdaad volbring.  Dat nuwe menswees moontlik is.  Dat die gee van onvoorwaardelike liefde moontlik is.  Dat vrede moontlik is.  Dat die vashou van ander moontlik is.  Dat opregte omgee vir ander en mekaar moontlik is.

Hoekom?  Die antwoord is eenvoudig: want dit is volbring.  Toon ons lewens dit?
Amen