Johannes 19:17-27

Drie kruiswoorde van Jesus



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Wanneer ‘n mens die vier evangelies se beskrywings van Jesus aan die kruis saamlees, sien ons dat Jesus sewe keer aan die kruis gepraat het.  Sewe kruiswoorde.  ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie’, ‘Ek verseker jou, vandag sal jy saam met my in die paradys wees’, ‘Daar is u seun, daar is u moeder’, ‘My God, my God, waarom het U my verlaat’, ‘Vader, in U hande gee ek my gees oor’, ‘Dit is volbring’, en ‘Ek het dors’.

Johannes, wanneer hy aan ons die kruisiging van Jesus beskryf, vertel vir ons van drie van die sewe kruiswoorde, en vanoggend wil ek by die eerste kruiswoord van hierdie drie stilstaan, die kruiswoord van Jesus wat ons in Johannes 19:26-27 vind: ‘Toe Jesus sy moeder sien, en die dissipel vir wie Hy baie lief was wat by haar staan, sê Hy vir haar:  “Daar is u seun.”  Daarna sê Hy vir die dissipel:  “Daar is jou moeder.”  Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Hoekom het Jesus nou juis hierdie woorde gesê?  Ons sien dat Hy met sy moeder praat, met Maria.  Maria, aan wie die engel verskyn het, en vir haar gesê het dat sy ‘n kindjie in die wêreld sou bring wat die mensdom van hulle sondes sou verlos.  Maria, sy moeder wat Hom met liefde grootgemaak het, en wat selfs met Hom moes vlug toe Herodes Hom wou doodmaak, Maria, wat Jesus gevolg, orals waar Hy gegaan het.  Sy was een van sy getrouste volgelinge.

Nou vertel Johannes ons dat Jesus, waar Hy aan die kruis hang, sy moeder opmerk waar sy naby die kruis staan saam met haar suster, Klopas se vrou en Maria Magdalena.  Ook sien Hy die dissipel vir wie Hy baie lief was, waarskynlik Johannes self, by sy moeder gestaan.

In die ou Joodse kultuur, was die oudste seun vir die versorging van sy ouers verantwoordelik.  Omdat geglo is dat veral die pa die lewe gee, was dit die oudste seun se ereplig om sy pa en ma te versorg wanneer hulle oud geword het, hy moes aan hulle barmhartigheid bewys.  Die bejaardes is nie na ouetehuise gestuur nie, die oudste seun het die ouers versorg.  Daar was nie ouetehuise, pensioenfondse, mediese fondse of aftree-annuïteite nie.  Ouers was volledig van hulle kinders afhanklik wanneer hulle ouer geword het.

Wat doen Jesus dus as Hy met sy moeder en die dissipel praat?  Hy maak voorsiening vir sy moeder!  Hy gee haar aan die dissipel vir wie Hy baie lief was, sodat hy na haar kon omsien.  Daarom lees ons dat Maria van daardie dag af in die dissipel se huis gewoon het.

En twee dinge is merkwaardig aan Jesus se woorde:

Die eerste is dat Jesus, te midde van sy eie lyding, steeds die mense rondom Hom raaksien en dat Hy medelye het met hulle nood.  Hy maak voorsiening vir sy moeder in haar fisiese nood, op ‘n oomblik wat sy fisiese nood veel erger is.  Ons kan dit ook anders sê: hierdie kruiswoord simboliseer ook God se barmhartigheid, sy medelye wat Hy het met die mens wat in nood verkeer.  Die hele Johannesevangelie verkondig God se liefde en barmhartigheid vir die mens wat in nood verkeer - die nood en ellende van sonde, van pyn, van armoede.  God het medelye - Hy staan nie teenoor ons lyding nie, maar tree juis ons lyding binne - Jesus, as mens, verduur die verskriklikste lyding ter wille van ons.

En met hierdie een kruiswoord word hierdie barmhartigheid van God saamgevat.  In sy lyding, baie swaarder as die van ons, sien God ons raak.  Reik Hy uit.  Bring Hy versorging.  Bring Hy hoop.  En dikwels doen Hy dit deur ander mense te gebruik.  Soos Hy nou hier doen: Kyk na my ma!

Die tweede saak wat hier opvallend is dat Jesus sy moeder nie aan ‘n broer nie, maar aan ‘n dissipel gee.  Ons weet dat Jesus broers gehad het, waarvan sommiges vyandig teenoor Hom gestaan het, en waarvan ten minste een, Jakobus, Jesus gevolg het en in Hom geglo het.  Volgens die ou Joodse gebruike was dit so dat as die oudste broer te sterwe kom, die volgende broer na die ouers moes omsien.  Maar Jesus gee sy moeder nie aan ‘n broer, of volgende broer nie, maar aan die dissipel vir wie Hy baie lief was.  Hoekom?

Omdat die volgelinge van Jesus ‘n nuwe gemeenskap, ‘n andersoortige gemeenskap is, die huisgesin van God.   Onthou u Jesus se woorde, toe Hy gesê het:  Wie is my moeder en wie is my broers?  Hulle wat in my glo en doen wat Ek sê, is my moeder en my broers.  Jesus se dissipels en volgelinge het ‘n nuwe huisgesin gevorm, hulle was mekaar se broers en susters in die geloof.  Daarom kon een van die dissipels na Jesus se moeder omsien.  Want almal was almal se broers of susters.

In Christus word ons mekaar se familie.  Mekaar se broers en susters.  Iets wat seker die duidelikste sigbaar word wanneer ons saam aan die tafel van die Here aansit.  Hier ontvang ons saam al die gawes van Christus, as broers en susters, en behoort ons, soos broers en susters in dieselfde huis behoort te maak, hierdie gawes met mekaar te gaan deel en aan mekaar uit te deel.

Vanoggend, voor ons almal saam op hierdie Goeie Vrydag aan die tafel van die Here gaan aansit, wil ek graag hieroor iets meer sê.  Soms hoor ‘n mens dat mense sê: Ek is baie lief vir God, maar ek hou nie juis van mense nie.  Daar is seker ander godsdienste, broers en susters, waarin ‘n mens die soort van gespletenheid kan verdedig, maar in die Christelike geloof is dit nie moontlik nie.  Die kern van Christenwees lê daarin dat ons diens aan God en ons diens aan die een langs my onlosmaaklik verbind is.  Jesus het tog immers gesê dat liefde, in al sy gestaltes, die opsomming van die wet is.  En Luther het dit by geleentheid so mooi gesê: liefde vir die naaste is die sekerste bewys van geloof in God.

Wat sien ons hier voor ons afspeel wanneer Jesus aan die kruis, in die diepte van sy lyding, sorg dat sy moeder versorg is?  God se oneindige liefde vir mense.  Sy sensitiwiteit vir die mens en die mens se lyding en swaarkry.  In sy nood sien Hy Homself nie raak nie, maar ander.

Daarom wil ek vanoggend waag om te sê (en dit is nie my eie insig nie, ek lees dit raak by die bekende dogmatikus Schillebeeckx): die ware kerk van Christus is die kerk waarin God se menslike gesig gesien kan word.  En ten slotte wil ek sê wat ek oordeel dit prakties beteken.

Die kerk, ons, wys God se menslike gesig wanneer ons naby ander mense leef, wanneer ons die begeerte het om te hoor waar hulle in die lewe is en wat hulle staanplek en seer en ervaringe in en van die lewe is.  Waar ek probeer om die een langs my se pyn te verstaan.  Waar ek besef dat die goed wat my lewe swaar en bitter maak, nie noodwendig dieselfde dinge is wat die een langs my van die lewe ervaar nie.

Ook beteken dit dat ek op die regte manier in mense sal glo en mense sal vertrou.  Om te sien dat iemand jou vertrou en dink dat jy iets werd is, is soos om ‘n skat te ontvang.

Maar dit, broers en susters, kan ‘n mens alleen doen wanneer ‘n mens naby aan die Here leef.  So naby dat ek ervaar wat dit beteken dat God my liefhet nie, liefhet tot in my sokkies, daar waar ek elke dag is, in elke omstandigheid.  Dat ek ervaar dat God luister en omgee.

Alleen dan, broers en susters, sal ons weet wat dit beteken om God lief te en my naaste soos ek myself liefhet.

Dit is immers die toets vir ons Christenskap, soos Luther gesê het.  Meer nog: hierin lê die vryheid wat God ons gegee het.  Vrygemaak van die sonde, vrygemaak van ons skuldlas, kan ons nou gaan leef soos Jesus ons geleer het.

Op hierdie goeie Vrydag het ons weer van God se liefde gehoor.  Ons gaan dit nou aan sy tafel smaak.  Dit is so gepas.  Maar dit wat God vir ons gee, moet ons iets mee gaan maak.  Ander speel ons maar net geloof.

Daar is jou seun, daar is jou moeder.  Neem hulle in jou huis in, neem hulle in jou hart in.  En toon vir die wêreld dat Christus nie verniet gesterf het nie.
Amen