Johannes 6:9-15, 26-36

Ek is die Brood van die lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar word vertel van die man wat op ‘n sakereis gegaan het, en na sy besoek per boot moes terugkeer (‘n reis wat ‘n paar dae sou duur). Omdat sy onkostes egter meer was as wat hy gereken het, het hy nie genoeg geld gehad om die etes wat op die boot genuttig kon word, te betaal nie. Maar hy maak toe ‘n plan: hy koop ‘n paar brode, botter en konfyt. En wanneer die ander passasiers na die eetsaal gaan, gaan hy rustig kamer toe om ‘n paar snytjies brood te eet.

Toe die boot by sy bestemming arriveer, loop ‘n ou vriend die man raak, en merk verbaas op dat hy hom dan nooit in die eetsaal gesien het nie. Hy verduidelik toe maar sy saak, waarop sy vriend verbaas sê: ‘Mag ek jou reiskaartjie sien?’ Hy oorhandig toe sy kaartjie, waarop sy vriend die fynskrif op die kaartjie met kwalik onderdrukte pret hardop lees: Geldig vir een reis. Alle maaltye ingesluit.

In ons gedeelte vanoggend, broers en susters, gebeur feitlik presies dieselfde: ‘n groot skare honger mense wat Jesus gesien het, gehoor het, sy wonderwerke beleef het, en tog nie toegelaat het dat Hy hulle voed nie.

Laat ek dit kwalifiseer: Hy hét hulle gevoed en hulle hét brood gekry om te eet, én vis. Trouens, was in oorvloed oor nadat almal versadig was. En was hulle nie beïndruk met hierdie Man en hierdie wonderwerk nie! So beïndruk dat hulle Hom met alle mag koning wou maak. Self wanneer Jesus Hom aan die skare onttrek, laat hulle Hom nie met rus nie. Hulle soek Hom oral, laat hulle selfs nie deur die see van Tiberias verhinder om Hom te vind nie, en vaar op die skuitjies om tog net weer naby Hom te kom.

En eintlik, broers en susters, kan ons hulle nie kwalik neem nie. Want hier het hulle iemand ontdek wat nie net praat nie, maar doen; wat nie net leë beloftes maak nie, maar handel. Iemand met 'n aanvoeling vir die gewone man en vrou op straat, met die nodige kundigheid om brood vir die hongeriges te kán voorsien. En so iemand is mos goed om te ken, dit is iemand in wie se goeie boekies jy tog net moet bly.

Maar Jesus, broers en susters, laat Hom dit nie welgeval nie. Hy gaan bergop, alleen; klim in ‘n skuit en vaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Want, vertel Johannes ons, Hy het geweet: dié mense soek Hom slegs ter wille van die brood wat hulle gratis ontvang het, ter wille van die gawes, en nie ter wille van Homself nie. Hulle vra Hom om brood, maar hulle soek die een wat die brood gee, nie werklik nie.

Daarom sê Jesus hard en duidelik: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Wat nodig is, is 'n ander soort brood, naamlik dié wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Wie slegs aardse brood eet, word weer honger, maar hy wat die Lewensbrood eet, wat in die geloof verbind word aan die Een wat die brood van die lewe is, word vir ewig versadig.

Kan dit wees dat 'n mens só naby aan Jesus soos die skare kan kom, broers en susters, en tog nog met hongerpyne kan weggaan? Blykbaar wel. Kan dit wees dat 'n mens 'n lidmaat van 'n kerk is, deelneem aan dit wat jou gemeente bied, selfs gereeld by sy tafel kom aansit, maar bly vergaan van die honger? Beslis.

Kan jy elke dag soos lsrael manna optel, en nie begryp dat dit van God af kom nie? Ja, ‘n mens kan. Is dit moontlik om jou voete onder dieselfde nagmaalstafel as Jesus in te steek, en jy snap nie dat jou spyskaart en sy spyskaart hemelsbreed van mekaar verskil nie? Ja, dit is moontlik!

Hoekom sê ons so? Is ons nie maar dikwels besig, broers en susters, om ons honger op soveel verkeerde maniere te probeer stil nie? Waar sal ek my sin vind? Hoe sal ek my honger stil? In my finansiële vermoë, in dit wat die lewe bied, in voorspoed en sukses, in my gelukkige en goed geordende lewenspatroon.

Maar wat gebeur? Na ons álles probeer het, ons met álles volgestop het wat op die skinkbord van die wêreld na ons toe uitgehou word, ontdek ons steeds hierdie knaende hongerpyne in ons, hierdie onrustigheid — totdat ons rus vind in God (Augustinus). Ons bestaan is één skreeuende honger na God. Daar is geen einde aan ons ewige honger en kommer nie (Van Ruler). Totdat ons die brood eet wat lewe gee.

Die goeie nuus is: Hier by sy tafel is Jesus vanoggend die gasheer wat ons uitnooi en sê: Ek is die brood wat lewe gee. En hoor mooi wat Jesus sê: dit is nie my leringe wat lewe gee nie, nie my voorbeeld nie, selfs nie eers die gawes wat Ek gee nie. Nee. Die brood wat lewe gee is Ek. As jy My het, as jy werklik glo, as jy werklik soek om my eerste te vind, as jy werklik smag na my vrede, as jy werklik na My soek voor jy na enige iets anders soek, dan sal jy die lewe kry. Die ware lewe, en dan die brood wat jy elke dag nodig het.

Jou kaartjie is betaal deurdat Jesus jou skuldbewys aan die kruis vir goed weggeneem het. En in die fynskrif staan dit:

Die maaltyd is ingesluit. Ek smeek u vanoggend, broers en susters, moet tog nie vanoggend hier kom aansit, en tog honger van Jesus af weggaan nie. Want dit is ongelukkig moontlik.
Amen