Johannes 6:41-59

Ek is die brood wat lewe gee



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Anders as Matteus, Markus en Lukas, gebruik Johannes, wanneer hy na Jesus Christus verwys, beelde om te beskryf wie Jesus is.  Volgens Johannes is Jesus Christus onder andere:

  • Die Woord van God wat mens geword het;
  • die goeie Herder wat sy kudde lei en versorg;
  • die Lig vir die wêreld wat die duister verdryf;
  • die ware Wingerdstok aan wie ons as lote vas is sodat ons die regte vrugte van die geloof kan dra;
  • die Weg;
  • die Ingang, die Hek of die Deur;
  •  die Waarheid; en
  • in die gedeelte wat ons vandag gelees het, die Brood wat lewe gee.

Jesus se verwysing na Homself as die Brood wat lewe gee, moet ons verstaan teen die agtergrond van dit wat aan die begin van hoofstuk 6 gebeur waar Jesus ‘n skare mense met die paar vissies en broodjies voed.  Daar voed Hy die skare na hulle liggaam.  En toe Hy daarmee klaar is, begin Hy met hulle te praat oor geestelike voedsel.  Hoe jou gees, jou menswees, jou soeke na verlossing uit jy sonde, jou soeke na vrede en rustigheid se honger ook gestil kan word.  En, sê Jesus vir die mense daar, dit kan Hy ook doen.  Hy kan ook die mens se geestelike honger stil, omdat Hy die Brood is wat lewe, ewige lewe, kan gee.  Ek kan, sê Jesus dus, julle liggaamlik en geestelike voed, versadig.

Wanneer Jesus hier na Homself as die Brood van die lewe verwys, broers en susters, moet ons verstaan teen watter agtergrond Hy dit doen.  In die tyd van Jesus was brood die stapelvoedsel vir die meeste mense.  Die meeste van die mense, veral die in Galilea, was kleinboere wat maar met ‘n gesukkel (agv droogtes, roofdiere, swaar belastings) uit hulle klein lappies grond ‘n bestaan gemaak het.  Selfs die vakmanne, soos skrynwerkers en bouers, het ‘n baie eenvoudige lewenswyse gehad en het dikwels in armoede geleef.  En dieselfde het oor maar gegeld vir die vissers.  Vir baie van hulle, soos dit ook maar in ons land is – en in baie plekke in Afrika en die wêreld – was ‘n stukkie brood ‘n dag dit waarvan hulle dikwels moes leef.  En baie het selfs minder gehad.  Soos dit ook maar in ons tyd is.

Die mense met wie Jesus hier praat was dus mense vir wie brood lewe beteken het.  Ons sou selfs kon sê dat vir hulle brood ‘n simbool van lewe was.  Juis omdat dit dikwels die enigste stukkie kos was wat hulle vir ‘n dag gehad het.  Brood het tussen hulle en hongersnood gestaan.  Brood het hulle aan die lewe gehou.

Vir ons wat baie meer as dit het, broers en susters, wat heel waarskynlik nie op brood vir oorlewing aangewese is nie, het brood hierdie betekenis lankal reeds verloor.  Vir ons is brood nie meer iets wat jou aan die lewe hou nie.  Daarom verstaan ons miskien hierdie beeld van Jesus as die Brood van die lewe nie so intens nie.

Dit is egter die agtergrond waarteen ons die woorde van Jesus moet verstaan wanneer Hy vir hierdie mense sê: Ek is die brood wat lewe gee.  Wie my liggaam eet sal nooit weer honger kry nie, en wie my liggaam eet het die ewige lewe.  Ek gee ware lewe, nuwe lewe.  Soos gewone aardse brood julle liggame aan die lewe hou en julle daarsonder nie aan die lewe kan bly nie en sal sterf, so gee my liggaam aan julle die ewige lewe, die ware lewe, waarsonder julle eintlik dood sal wees, geestelik dood sal wees, al leef julle liggame nog.

Dan is daar is natuurlik ook ‘n tweede saak wat ons in gedagte moet hou as ons hierdie beeld wil verstaan: dit veronderstel natuurlik die kruisiging van ons Here Jesus Christus, waar Hy sy liggaam en bloed vir ons geoffer het.  Jesus is die brood wat die lewe gee, omdat Hy vir ons sy liggaam aan die kruis gegee het.  Daarom ook, en veral, is Hy die brood wat lewe gee.

Jesus gaan in die gedeelte egter nog verder.  Hy is nie alleen die ware Brood nie, maar, sê vers 56, wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek bly in Hom.  Daarmee wou Jesus sê dat wie die liggaam van die Here Jesus eet nie alleen die ware lewe ontvang nie, maar ook een met Hom word.  Met ander woorde, dat Hy deur sy Gees in ons kom bly en dat ons in Hom (deur die geloof) kan bly.

Wat beteken dit om een met Christus te wees?  Dit beteken dat God deur sy Gees in my bly, sy Gees wat my lei, rig en leer, vertroos en versterk.  En wanneer ons nou Nagmaal gebruik, is die eet van die brood daarvan ‘n sigbare bewys en teken.

Wanneer ons nou Nagmaal gaan gebruik, laat ons twee dinge in gedagte hou:

Eerstens: Jesus is die brood wat lewe gee.  Wie dit glo, kan by hierdie nagmaal geestelik gevoed en verkwik word; kan by hierdie nagmaal verseker weet dat ons deel het aan die ewige lewe; kan by hierdie nagmaal weet dat ons nou reeds deel het aan ‘n heerlike lewe waar ons in verhouding met God leef omdat Jesus vir al ons sonde aan die kruis gesterf het; ‘n nuwe lewe tot eer en verheerliking van God!

Tweedens: Laat ons ook in gedagte hou dat wanneer ons die brood eet en die wyn drink ons op ‘n besonderse wyse deel kry aan die liggaam en bloed van ons Here Jesus; dat ons daarom op ‘n besonderse wyse met Hom een is; dat ons elke dag in verbondenheid met Christus kan en moet leef!

As ons hierdie twee dinge in gedagte hou, word hierdie nagmaal ‘n feesmaal, ‘n geleentheid waar ons jubel oor ons Here en waar ons diep dankbaar is dat ons deel het aan die lewe, omdat ons met Christus een is!  Omdat ons weet dat ons sonder die Brood wat lewe gee, sterf.  Sterf aan ware menswees, sterf aan dit waarvoor God ons geskape het.
Amen