Johannes 6:25-28, 41, 53-56, 60-69

Gevaarlike nagmaalsbrood



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Ná die wonder van die vermeerdering van die brood in Johannes 6:1-15, was daar mense wat deurnag na Jesus gesoek het. En toe hulle Hom uiteindelik opspoor, het hulle vir Jesus gesê: ``Rabbi, wanneer het U hierheen gekom?'. Bedoelende: Waar was U al die tyd? Ons soek U al van gisteraand af!

En Jesus antwoord hulle dan: `Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet het en versadig geword het' (Joh 6:26). Met ander woorde, wat Jesus eintlik vir hulle sê is: Julle soek My nie omdat julle in My glo nie, maar omdat julle mae vol is, en omdat julle mae weer vol wil word. Met ander woorde, julle soek na My om die verkeerde redes.

Ook ons, broers en susters, kan soms maklik om verkeerde, hoogs verdagte en selfs selfsugtige redes agter Jesus aanstap. Party mense stap agter Jesus aan net omdat hulle die duiwel en die hel vrees. Ander weer omdat hulle glo dat, indien hulle darem so 'n tydjie hier en daar aan God afstaan, God hulle darem iewers hier en daar sal beloon. Of: Ek stap agter Jesus aan want dan het ek darem die hoop dat as die moeilikheid/ellende my versmoor, God weer lig aan die einde van die tonnel sal gee. Of, soos ons verlede week gehoor het: Party stap agter Jesus aan om darem net seker te maak dat hulle eendag die hemel sal haal.

Wanneer 'n mens na Jesus se gesprek met die mense in Johannes 6 kyk, broers en susters, blyk dit egter dat, indien 'n mens eenmaal om verkeerde redes Jesus se volgeling geword het, dit vir so 'n persoon baie moeilik word om te verstaan waaroor die navolging van Jesus werklik gaan, juis omdat so iemand dikwels blind geword het vir die werklike geestelike waarde van die evangelie van Jesus Christus.

Dit sien ons byvoorbeeld baie duidelik by díe mense vir wie Jesus ná hulle onlangse ervaring met die vermeerdering van die brode en die eet daarvan sê: `Ek is die brood wat uit die hemel gekom het’ (Joh 6:41). Hierop antwoord hulle: `Is dit nie Jesus, die seun van Josef nie? Ons ken mos sy ma en sy pa. Hoe kan hy dan nou sê: Ek kom uit die hemel?’ (Joh 6:42).

En as Jesus dan vir hulle sê dat hulle nie net die brood moet eet wat Hy vermenigvuldig het nie, maar ook Homself, vra hulle ewe oorbluf: `Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?’ (Joh 6:52). Met ander woorde: Hulle kon die geestelike waarde, die werklike/ware waarde van die evangelie nie begryp nie.

Wanneer ons hierdie onbegrip van hierdie mense krities beoordeel, broers en susters, moet ons nooit vergeet dat dit net goed kan wees dat ons onsself ook so elke nou en dan self ernstig sal afvra: Maar verstaan ons regtig wat dit beteken om volgeling van Jesus te wees? En dan kan ons sommer ook, aangesien ons vir 'n slag by hierdie vraag uitgekom het, dadelik daarby die volgende vraag voeg: Waarom loop ék agter Jesus aan?

Jesus sê in Johannes 6 dat om Hom te volg, nie noodwendig beteken om 'n vol maag en veiligheid teen al die aanslae van die lewe te hê nie, maar eerder dat dit beteken om werklik te lewe. En om werklik te lewe, sê Jesus, vereis 'n baie baie noue/nabye verhouding met Hom, amper iets soos 'n eenwording met Jesus en die saak waarvoor Hy gestaan het. `Dit verseker Ek julle', sê Jesus in Johannes 6:53-56, `as julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Want wie my liggaam eet en my bloed drink bly in My, en Ek in hom.

En as ons nou mooi gaan dink, broers en susters, dan is dit mos presies wat ons doen wanneer ons Nagmaal gebruik, of hoe?

Hoe dikwels dink ons daaraan, broers en susters, dat, wanneer ons die Nagmaalsbrood eet en die wyn drink, dit van daardie brood en wyn is dat Jesus gesê het: Dit is my liggaam en my bloed? En dat die eet van die brood en die drink van die wyn 'n openbare teken/belydenis is van ons eenwording met Jesus en die saak waarvoor Hy kom sterf het? Dat ons daarmee bely dat ons aan onsself gesterf het en dat Christus in ons opgestaan het? Dink ons daaraan dat, wanneer ons Nagmaal gebruik, ons daarmee eintlik bely dat die eie ek en wat ek wil nie meer in my lewe leef en gebou word nie, maar dat ek nou leef om die beeld van Christus in my te bou, dat ek daarmee dus bely dat mense met wie ek in kontak kom, Christus in my optrede sal/moet kan sien?

Kom ons dink 'n bietjie prakties oor die beeld wat Jesus hier gebruik. Wat 'n mens eet en drink word immers verteer en tot in die uithoeke van die liggaam versprei om deel te word van jou hele sisteem. Net so broers en susters, sê Jesus, moet dit wees wanneer ons sy liggaam geëet en sy bloed gedrink het: Christus, en die gesindheid wat in Hom was, moet óók my hele sisteem so deurtrek. So deurtrek dat
my oë die nuuskierige Saggeus in die boom moet raaksien en my voete saam met hom na sy huis toe loop;
my hande begin brood uitdeel aan die hongeriges;
ek vergifnis begin gee aan die wat dit as 't ware by my afsmeek;
my hart die kant van die owerspelige vrou kies;
ek dwars begin draai teen eiegeregtigheid en eiebelang.

Of, kom ons sê dit baie eenvoudig: Wanneer ons Jesus se liggaam eet en sy bloed drink, moet 1 Korintiërs 13, die loflied oor die liefde, my curriculum vitae, my CV, my getuigskrif word.

Onder die mense wat na Jesus kom soek het, broers en susters, sien ons was daar tog 'n paar wat gesnap het wat Jesus aan die sê was, want van hulle het gemor en gekla: `Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee ?’ (Joh 6:60)

Skrik dit julle af, het Jesus gevra. En toe sommer ook dadelik aan hulle die geheim verklap van hoe 'n ware verhouding met Hom moontlik is: ‘Dit is die Gees wat iemand lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie’ (Joh 6:63). Dit is die Gees van God, wat elkeen van julle ontvang het toe julle tot geloof in My gekom het, wat julle lei, leer, en wil bring om werklik in jouself te sterf en in Christus nuut op te staan sodat hulle wat sê hulle glo, die naam kind van God waardig kan wees.

Baie mense, broers en susters, kan al hierdie dinge met die mond bely sonder om dit werklik te glo. Daarom moet ons Johannes 6 verder lees: `Maar', het Jesus gesê, `daar is party van julle wat nie in My glo nie' (Joh 6:66). Want om hierdie dinge te weet, om hierdie dinge met die mond te bely, is een ding, om dit werklik te glo is egter iets totaal anders. Want wie dit werklik glo, in sy/haar lewe sal dit sigbaar wees. Geen wonder nie, vertel Johannes 6:66 ons, dat baie van Jesus se dissipels hierna omgedraai het en nie meer saam met Hom wou gaan nie.

Die vraag aan ons as kerklidmate, broers en susters, is dus dít: as ons werklik só met Christus verenig moet wees, as ons werklik deur die werk van die Gees ‘n Christen moet word in al ons optredes en denke, sal ons miskien ook maar nie kans sien nie — en omdraai?

Daarom is die vraag van Jesus in Johannes 6:67 aan sy dissipels: `Wil julle nie ook weggaan nie?' nog steeds relevant vir vandag. Op hierdie vraag het Petrus min of meer só geantwoord: Here, miskien is dit die regte ding om om te draai, maar, Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat die ewige lewe gee. En ons glo vas en ons wéét dat U die Heilige van God is (Joh 6:68).

En dit som presies die dilemma van die Christelike geloof op: As 'n mens gaan sit en die koste bereken van wat navolging van Jesus beteken is die versoeking groot om liewer maar betyds om te draai voordat ek met die nagmaalsbroodjie in my mond en die nagmaalwyn op my lippe sit en weet dat ek nie bereid is om te doen wat Jesus van my vra nie.

Maar, aan die ander kant, wil ons net soos Petrus sê: Here, as ons dan gaan, nie wie toe sal ons dan gaan? Ons weet net by U is daar verlossing, hoop en lewe.

Hierdie keuse, broers en susters, 'n keuse wat ons telkens weer en weer moet maak, is nie alleen een van die moeilikstes nie, maar ook van die belangrikstes. Dit is egter ook 'n keuse met geweldige implikasies. Hoekom?

Want nagmaalsbrood is gevaarlike brood. As ek dit opneem om te eet, moet my lewe 'n lewe word waar ek myself verloën, my kruis opneem en Jesus volg. Anders verloën ek God en bring ek 'n oordeel oor myself.

Maar dit is ongelukkig egter soos die evangelie werk: Wie bereid is om sy lewe af te lê, sal dit behou, maar wie sy lewe wil behou, sal dit verloor.
Amen