Romeine 5:6-10; 2 Samuel 4:4

Glo ons dat ons koningskinders is?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die prentjie wat Paulus van ons in Romeine 5:6-10 skilder is nie mooi nie. Ons is, volgens hom, sondaars, magteloos en vyande van God. Dus eintlik: totaal verlore.

Die wonderlike is egter, broers en susters, dat God belowe het om ons as sy volk aan te neem. En daarom het God nie eers na ons lewens gekyk en toe gesê: verdien dit eers, dan sal Ek vir jou sterf nie. Kom eers reg, word eers beter mense, dan sal Ek die saak weer oorweeg nie.

Net so, broers en susters, het Dawid nie na Mefiboset gekyk en vir hom gesê: leer eers loop, oorkom eers jou gebrek, dan sal ek tot jou redding kom, nie.

Nou kan u wonder, broers en susters, hoekom ek hier so ewe skielik Mefiboset sê naam noem. Want wat het hy te make met ons verhouding met God? Wanneer u sy verhaal hoor, sal u, glo ek, verstaan. En kom ek doen dit vinnig.

Mefiboset was die seun van Jonatan (Dawid se boesem¬vriend), die kleinseun van Saul, die eerste koning van Israel. Na die dood van Jonatan en Saul het Dawid koning geword. As nuwe koning moes Dawid homself vestig, sy gebied afbaken en veral al sy moontlike vyande uit die weg ruim. Wat sou beteken dat Dawid, soos dit die gebruik in daardie tyd was, so gou as moontlik al die familie van die vorige koning om die lewe moes bring.

Dawid was glad nie van plan om by hierdie stuk tradisie te hou nie, maar Saul se familie het dit nie geweet nie. Daarom het hulle, toe hulle hoor Dawid is koning, so vinnig as moontlik gevlug. Hulle was veral bekommerd oor die vyfjarige Mefiboset, want na die dood van sy pa en sy oupa was hy die volgende troonopvolger. Dus: as Dawid sou besluit om Saul se erfgename te vermoor, was Mefi¬boset eerste op die lys. Daarom het sy familie op die vlug geslaan, maar in die haas het Mefiboset uit die arms van sy oppasser gegly, het hy geval en is sy voete vir altyd beskadig. Die res van sy lewe sou hy 'n kreupele wees.

Intussen het Dawid se koninkryk voortgegaan, Israel het tien maal groter geword as voorheen, daar was vrede en almal was dankbaar. Mefiboset, egter, het dit nie so maklik gehad nie. In 'n veraf land het die jong prins gebly, nie in staat om na die koning te loop nie en in elke geval te bang om met die koning te praat. Hy kon homself nie help nie.

Dawid het egter, broers en susters, onthou van die belofte wat hy jare gelede aan Jonatan gemaak het. Dawid en Jonatan, weet ons, was boesemvriende. 'n Vriendskap wat finaal op die proef gestel is die dag toe Dawid te hore gekom het dat Saul hom om die lewe wou bring. Jonatan het toe 'n eed gesweer om Dawid se lewe te help red, en het vir sy vriend net een guns gevra in ruil daarvoor, 'n guns waarvan ons in 1 Samuel 20:15-16 lees: `Jy moet jou trou aan my familie nooit onttrek nie. Selfs wanneer die Here die vyande van Dawid een vir een van die aarde af wegvee, mag Jonatan nie deur die familie van Dawid uitgeroei word nie'. Jonatan se versoek was dus eenvoudig: ek spaar jou lewe, dan moet jy my nasate se lewe ook spaar. En Dawid het dit aan Jonatan belowe. En heel dikwels aan sy belofte aan Jonatan gedink.

Dit was dan ook in een van hierdie oomblikke van nadenke dat Dawid (soos 2 Sam 9:1 lui) eendag aan een van sy bediendes gevra het: ‘Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou so iemand graag onder my sorg wou neem ter wille van Jonatan ’.

'n Amptenaar met die naam Siba het van Mefiboset geweet en vir Dawid laat weet: Daar is nog die kreupel seun van Jonatan, wat in Lo-Dabar woon.

En hoe reageer Dawid, broers en susters? Hy sou kon sê: 'n kreupel kind sal nie in die paleis inpas nie. Net elite loop hier rond, hierdie kind kan nie eers loop nie. En van watter nut kan hy wees? Hy het geen rykdom, geen opvoeding of opleiding nie. En wat meer is, hy kom van 'n obskure plekkie met die naam Lo-Dabar, wat self ‘onvrugbare grond’ beteken.

Maar sulke woorde word nie deur Dawid geuiter nie. Sy eerste en enigste reaksie is: Waar is hy? Wat in wese self 'n merkwaardige opmerking is, juis omdat in daardie tyd iemand wat kreupel was nie as 'n gewone mens genoem is nie. Daar was altyd iets gesê soos: Mefiboset die kreupele, of, oorvertaal in ons tyd. Jan die probleemkind, Gert die alkoholis, of Sarie die dief.

Maar nie Dawid nie. Toe hy Mefiboset se naam noem, was dit vir hom Mefiboset, Jonatan se seun. En toe Mefiboset voor Dawid kom, vol vrees, en voor hom kniel sonder om te weet wat gaan gebeur, was Dawid se eerste woorde: Moenie bekommerd wees nie. En nog meer: hy het aan Mefiboset verskeie landerye gegee, en daarop aangedring dat die kreupele aan sy tafel eet. En so het die kreupelkind koningskind geword. Presies wat Mefiboset se naam beteken: hy wat skande uitroei.

Sien u, my broer en suster, u verhaal in dié van Mefiboset? Ek sien myne daarin. Ek sien ons verhaal daarin. Want ook ons is kinders van die Koning. En ook ons is permanent vermink, deur die sondeval, geskend deur ons sonde. Daarom dat Paulus ons vyande van God noem, sondaars.

Verder is ons ook magteloos om iets hieraan te doen soos Mefiboset nie iets aan sy situasie kon doen nie. Hy kon fisies nie na Dawid loop nie, so ook ons. Want ons kan niks, maar niks, van ons kant af doen om by God te kom nie. Al dink ons soms so. Maar ons kan nie. Eintlik is dit verby met ons.

Maar wat maak God. Gemotiveer, nie deur ons skoonheid nie en sogenaamde mooi lewens nie, maar deur sy belofte dat Hy ons God sal wees en ons sy kinders, roep Hy ons na Hom toe en nooi ons om altyd aan sy tafel van verlossing aan te sit. En al loop ons mank na sy tafel, met baie gebreke van al die ongehoorsaamheid, neem ons tog plek in langs die ander sondaars wat deur Jesus Christus geheilig is, en nou God se kinders genoem kan word.

Dit, broers en susters, is die boodskap van lydenstyd en van die tafel van die Here. God bewys sy liefde aan ons deur Jesus Christus vir ons te laat sterf toe ons nog sondaars was. En daarom verwelkom Hy ons aan sy tafel, as deel van sy kinders, sy familie, nie op grond van wat ons na sy tafel kan bring nie, maar op grond van sy liefde.

Wie hierdie liefde van God verstaan, broers en susters, sal nuwe mense wees. Sal anders leef. Sal byvoorbeeld, soos Dawid, omdat hy genade ontvang het, genade wil gee, Omdat hy lewe ontvang het, lewe wil gee.

Wie egter hierdie boodskap hoor, en selfs sê dat hulle dit glo, maar bly voortleef in die sonde en selfsug soos nog maar altyd, het dit of nog nie werklik gehoor nie, of nog nooit verstaan nie. En diesulkes, meen ek, is die ellendigste van almal rondom ons en tussen ons. Want wie wil werklik in die sonde krepeer en sterf, as hulle by die tafel van die Koning kan aansit? Dit is vir my amper ondenkbaar om selfs net hierdie vraag te vra.
Amen