Genesis 13

God gee die heel beste



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Geloof, het Martin Luther gesê, beteken om ‘jouself op God te gooi’, of om aan God vas te hou. Dit, het hy gesê, beteken meer as om maar net te bely dat God die enigste God is, en dat die Bybel sy Woord is, om of saam met die kerk soos die kerk te bely. Nee. Om jouself op God te gooi, het hy gesê, is om God werklik met jou hele lewe te vertrou.

En as ons vanoggend in die Bybel ‘n voorbeeld van so iemand sou moes opnoem, sal ons seker dadelik sê: Abram, hy was iemand wat volledig op God vertrou het, hy is nou werklik iemand wat ‘homself op God gegooi’ het. Want kyk net wat maak hy: wanneer God sê trek, weg uit jou land, weg van jou mense en familie af — nogal na ‘n vreemde land — dan trek Abram. Dit is mos nou geloof, dit is mos nou om ‘jou op God te gooi’.

Maar was dit werklik wat Abram gedoen het, broers en susters? Nie werklik nie. Want kyk wat maak Abram: in die eerste plek neem hy sy neef Lot saam. (Genesis 12 sê dit drie keer.) Is dit sonder familie? Verder: toe Abram en Sarai in die beloofde land Kanaän aankom, stap hulle in ‘n groot hongersnood in. En wat maak Abram? Sonder om God te raadpleeg maak hy op eie oordeel staat en gaan na Egipte. Daar aangekom besluit hy weer sonder God. Hy jok oor sy verhouding met Sarai. So word hy oorlaai met geskenke. En as God hom uiteindelik uit Egipte weglei, vertrou hy weereens op sy eie oordeel: hy hou die omkoopgeskenke. Krisis op krisis, kan ‘n mens amper sê. En vra: miskien omdat Abram nie werklik op God vertrou het nie?

Wanneer ons by Genesis 13 kom, sien ons egter ‘n ander Abram. ‘n Nuwe krisis breek aan. Hy en Lot moes uitmekaar. Hulle besittings was te veel. Te veel water en weiveld was nodig. En wat maak Abram hierdie keer? Hy roep die Naam van God aan (vers 4), hy ‘gooi homself op God’.

Daarom raadpleeg hy vir God. En stel daarna voor dat hulle moet uitmekaar gaan. En hy gee Lot die keuse — 'n keuse om te kies na die noordekant of na die suidekant toe, die land wat die Here met 'n eed aan Abram gegee het. En Lot kies die beste — die mooi Jordaanstreek met baie water en goeie grond. En so word Abram gelos met die slegste, die leemgrond heuwels.

Die eenvoud van hierdie verhaaltjie, broers en susters, moet ons nie laat miskyk wat Abram hier werklik gedoen het nie. Hoe hy homself hier werklik ‘op die God gegooi het nie’. Want daar is ten minste drie dinge wat Abram hier moet loslaat om werklik te toon dat hy op God alleen vertrou.

In die eerste plek moes hy afstand doen van sy regte. Volgens die gebruik in daardie dae het Abram, as die familiehoof, die reg gehad om eerste te kies. Hy kon vir sy nefie bloot eenvoudig aansê waar hy met sy kleinvee moes heengaan. Dit was Abram se volle reg om aanspraak te maak op sy regte. Maar in plaas daarvan doen Abram gewilliglik van hierdie reg afstand.

Hy doen nie meer dinge op ‘sy manier’ nie. Hy maak soos God vra. En die gevolg? Kom ons hoor mooi — vrede? En hoef ons meer te sê?
In die tweede plek moes Abram afstand doen van sy begeerte om die beste vir homself te wil hê. Abram was ook in staat om te laat los om altyd net die beste te wil hê. En dit was beslis nie maklik nie!. Want selfs sonder Lot se vee sou die leemgrond heuwels naby Bet-El nie vir baie lank Abram se vee van kos voorsien nie. Maar ten spyte daarvan laat hy Lot toe om eerste te kies en die beste kry. Met die gevolg? Sy enigste sekerheid het nou by God gelê.

En wat gebeur met Lot? Lot het 'n duur prys vir sy keuse van die sogenaamde ‘beste’ betaal. Daar het iets met sy siel gebeur. Eers was hy gelukkig om in die valleie buite die stede Sodom en Gomorra te bly. Maar stadig het hy verlief geraak met die ander ‘beste’ wat Sodom gebied het, en trek hy in die stad in. En voor hy weet, was hy deel van alles wat deel van hierdie stad was.

Die derde saak wat Abram moes los, was die begeerte van ‘moet hê’. En hier is die sleutel om hierdie ‘moet hê’ te verstaan die woordjie rondkyk (vers 10). Lot kyk rond van waar hy staan en sien die mooi Jordaanstreek. En hy kies dit. Abram, aan die ander kant, het beslis nie gehou van wat hy sien nie. Wat hy sien wat hy kry, is alles behalwe goed.

Maar hy vertrou op God. En wat maak God? Hy sê vir Abram in vers 14: gaan kyk so bietjie rond, weg van hier waar jy staan, gaan kyk in die noorde, die suide, die ooste en die weste. En wat vind Abram? Mamre en Hebron wat alles behalwe sleg is. Die gevolg van Abram se afstand doen van ‘moet hê’ dus: ons sien maar net hier by ons, God sien baie verder, Hy sien dit wat nog beter is!

Ons is vanoggend hier, broers en susters, om nou aan die tafel van die Here te kom aansit. En ‘n sekere sin is om aan hierdie tafel te kom aansit niks anders as om jouself ‘op God te gooi nie’. Dit is om te sê: daar is geen ander redding nie, daar is geen ander verlossing uit my sondige bestaan en van my sondige menswees nie. Net hier, en net hier alleen, is my redding te vinde.

En hierdie sê van ons, broers en susters, word simbolies uitgedruk deurdat ons uit die bank opstaan en kom aansit. Ons het ‘n keuse om te bly sit waar ons sit. En natuurlik kan daar legitieme redes wees hoekom ons bly sit. Wat ons anders beslis moet respekteer. Maar as niks ons verhinder om te kom aansit nie, en ons bly sit, is eintlik om te sê ek het dit wat hier by die tafel aangebied word, nie nodig nie. Maar ons kom, ons staan op, ons kom ‘gooi ons op God’. Want ons weet: net hier, en op geen ander plek is ons toekoms verseker nie.

Mag ons elkeen vanoggend, met hierdie gesindheid opstaan en kom aansit. Maar dan ook met die wete: as ek dit doen, doen ek afstand van my sogenaamde regte. Die reg wat ek as kind van God het om sogenaamd op my eie te besluit hoe, wat en wanneer. Om dit anders te sê: as ek hier kom aansit, het ek net een reg: om God en my naaste lief te hê.

Maar dit is nie al waarvan ons bereid moet wees om afstand te doen nie. Nie alleen moet ons sogenaamde regte verdwyn nie, maar ook ons begeerte om te moet hê. ‘n begeerte van moet hê wat vervang moet word met ‘n dankbare, God sal my gee wat nodig is. En wat sal ons kry: net die beste. Die heel beste. Omdat God weet wat vir ons die heel beste is.

Kom ons kom vanoggend, broers en susters, kom ons staan uit op ons sitplekke en kom ons kom ‘gooi ons op God’ hier by sy tafel. En wanneer ons opstaan, kom ons neem ons reg op om God se wil te gaan doen. Kom ons sê vir God al wat ons meen ons moet hê, die ervaring is van sy teenwoordigheid in ons lewens. En wat ons sal kry, is net die heel beste. God sal ons meer gee as wat ons ooit kon dink of voor kon vra!
Amen