Efesiërs 4:17-22

God verander ons



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Verlede week het ons in die prediking iets probeer sê oor wat God se ontferming aan God se mense doen, of altans, behoort te doen. Dat iemand wat werklik ervaar het wat dit beteken wanneer God Hom oor ons ontferm, nooit weer dieselfde kan wees nie. Verse 20 en 21 van ons gelese gedeelte vanoggend sê in wese presies dieselfde: ons het God in Jesus Christus leer ken, in Christus wat hom tot die dood toe oor ons ontferm het.

Nou is dit so, broers en susters, dat baie van God se mense dit werklik glo. Ons glo in God se ontferming. Die hele storie van weerstand bied teen die wêreld en God wat ons verander ken die meeste van ons al van kleins af. Maar soms word daar tog so min daarvan in ons lewens sigbaar. Want om in verandering te glo is een ding, maar om te glo dat ek kan verander soos God wil, is ‘n ander ding.

Ek sien dit eenvoudig in myself. Vra my of ek dink mense kan verander, sal ek dadelik sê ja. Want dit is tog God wat dit doen. God verander mense. Maar vra jy my of ek dink dat ek kan verander, is die antwoord meer versigtig. Want ek is tog gebore en so laat staan, so ‘n paar dinge sal die maklik verander nie. Dit is mos my aard om te wees soos ek is. En ons almal het mos maar ons sondetjies, ons foutjies en die ou krakies in ons mondering. En is ons mos eintlik maar sondaars. So, verander, ja, miskien, maar darem seker ook nie heeltemal soos God dit wil hê nie.

Die vraag bly egter, broers en susters, of ons, as mense van God, so kan redeneer. As God vir ons sê dat Hy wil hê dat ons onsself as heilige en lewende offers aan Hom moet gee – dit wil sê, die volledige ons, dit wat ek is – kan ons besluit dat daar sekere aspekte van ons lewe en menswees is wat ons vir onsself wil hou? Ek dink nie so nie.

Miskien, broers en susters, is die probleem nie die feit dat ons nie wil hê dat God ons moet verander nie, maar omdat ons nie regtig weet hoe God dit wil doen nie. En hier kan die Dordtse Leerreëls, een van die belydenisskrifte van ons kerk, ons help. Want hoor wat sê Dordt in hierdie verband: God verander ons deurdat die Heilige Gees ons wil gesond maak en dit buig na God se wil. Dit doen God deur van genademiddele gebruik te maak.

Genademiddele. So ‘n outydse woord, sal ’n mens wil sê. Maar dit is ‘n baie interessante woord. Want dit is woord wat wil sê dat God nie direk met sy krag soos ‘n weerligstraal in ons werk nie. Wie van ons sou kon bestaan as God dit sou doen? Daarom werk God met genademiddele, dit wil sê, deur gewone aardse dinge. Dinge soos ‘n Boek, water, wyn, brood, saamwees, sing, praat en werk. Dinge so doodgewoon, dat ons partykeer dit juis miskyk dat God juis so met ons werk. En kom ek sê ‘n bietjie meer hieroor.

Vat nou maar die Boek, die Bybel. Dit is vir party van ons ‘n ongemaklike, dik boek. Vol stories, gebede, spreuke en wette. Groot stukke daarvan verstaan ons nie altyd te maklik nie, en van die goed wat ons verstaan, sluk ons soms maar swaar aan.

Of wat van water? Is dit werklik moontlik dat ‘n paar druppels op iemand se kop so iemand kan verander? Dit is dan maar net water. Hoeveel geloof het iemand nie nodig om dit glo dit kan ‘n mens verander nie!

Om nie eers te praat van ‘n eenvoudige stukkie brood en ‘n slukkie soetwyn nie. Eintlik so ‘n armoedige ete, en dan noem party dit werklikwaar ‘n feesviering!

Of wat van ons saamwees? Hier sit iemand half aan die slaap, daar is ‘n ander een besig om vir ander te loer, en hier probeer ‘n ma haar kind stil kry. En voor staan daar iemand wat praat en praat en praat. En almal luister nie eers nie. Kan ons werklik, broers en susters, God hierin werksaam sien?

Ons noem dit genademiddele. Middele waardeur God ons wil verander. Maar kan dit werklik? Sulke eenvoudige dinge. En dan antwoord ons: ag nee wat, te alledaags, te doodgewoon. As God my werklik wil verander, sal dit op ‘n ander manier moet gebeur.

Dit gaan nie, broers en susters. Wanneer God Hom na ons toe afbuig, na ons as doodgewone mense met nukke en grille in ons doodgewone wêreld, dan maak God van hierdie doodgewone middele gebruik. En deur die werking van die Gees word hierdie Boek vir ons regtig die Bybel, in die doopwater sien ons God se genade, in die eenvoudige stukkie brood en slukkie wyn sien ons ons verlossing, en in ons saamwees sien ons die kerk van ons Here. So, deur die Gees, en deur die gewone dinge – hierdie genademiddele – verander God ons, laat God ons dinge doen, anders na dinge kyk, dinge wat nie lyk of dit die wêreld verander nie, maar tog stadig maar seker besig is om ons te verander.

Of dalk nie. Want ‘n mens, broers en susters, kan die werk van die Heilige Gees in ‘n mens se lewe weerstaan. Ons kan, sê Efesiërs 4:30, die Heilige Gees selfs bedroef. Party oordeel dat die wese van die sonde juis hierin geleë is: om te wil stilstaan wanneer God jou wil beweeg, om viervoet vas te steek wanneer God jou verder wil vat. Jy wil nie, want dit is darem te alledaags hoe God dit wil doen.

Sonde, broers en susters, het die manier om ‘n mens geen smaak vir God se genademiddele te gee nie. Dit maak dat ons ons neuse daar voor optrek. Ons vind dit te gewoon. Te menslik. En heimlik dink ons soms dat ons probleme darem te diep lê om deur sulke doodgewone dinge opgelos te word.

Tot ‘n mens se denke op ‘n dag, deur die werking van God se Gees, so verander dat jy God se ontferming in hierdie sogenaamde gewone dinge raaksien. Ook en veral omdat ek met hierdie gewone dinge besig is en daarmee besig geraak het.

Want wanneer ‘n mens met hierdie Boek besig raak, leer hierdie Boek ons om later van onsself te dink as God se eiendom; wanneer ‘n mens telkens die doop weer en weer beleef, glo ek later werklik dat God ook daar vir my gesê het ‘Jy is Myne’; elke keer wat God my by sy tafel ontvang as sondaar, weet ek dat ek aan Hom behoort, dat ek sy eiendom is; elke keer wat ek hierdie doodgewone stukkie brood neem en die slukkie wyn proe, besef ek dat die verlossing altyd daar was, is, en altyd daar sal wees..

En deur hierdie gewoontes, doodgewone dinge wat ons doen, fokus God deur sy Gees my gedagtes op dit wat God elke dag deur soveel dinge sê, en verander God ons gedagtes so, dat ek later met oorgawe kan sê:
Ek weet ek behoort nie aan myself nie, maar aan God.
Ek leef nie meer vir myself nie, maar vir God.
Die lewe maak net sin as ek leef soos God wil hê ek moet leef.

En so, broers en susters, langsamerhand, deur God se genademiddele, deur ons besig wees daarmee, deurdat ons telkens weer en weer sy ontferming in die sogenaamde gewone dinge raaksien, omdat ons daarmee besig is, begin God ons denke te vernuwe. Begin ons raak te sien hoe wonderlik God met ons deur die gewone dinge werk, begin ons te weet, te besef: hierdie stukkie brood is meer as dit, hierdie slukkie wyn is meer as dit. Dit is die lewe!

God, broers en susters, werk nie met ons anders nie, of dan, op ‘n ander maniere nie. Hierdie tafel is een van sy genademiddele. So doodgewoon. So alledaags. Maar deur die werking van die Gees word ons denke soos vernuwe dat hierdie tafel vir ons alles behalwe alledaags is. Kom daarom vanoggend maar weer, kom sit maar weer aan, en kom ervaar God teenwoordig in die gewone dinge. Gewone dinge waarmee God gewone mense bring om te kan sê:
Ek weet ek behoort nie aan myself nie, maar aan God.
Ek leef nie meer vir myself nie, maar vir God.
Die lewe maak net sin as ek leef soos God wil hê ek moet leef.

En voor jy agterkom, het God deur die gewone jou lewe alles behalwe gewoon gemaak!
Amen