Johannes 8

Gooi jou klip as jy kan



Broers, susters en kinders, ek wens dat u almal die voorreg kon geniet om die Pikkiekamp verlede naweek by te woon. Behalwe dat ons lekker gespeel en geëet het, het ons ook geestelik saamgesels en geleer. Dit was vir my opvallend hoe opreg die kleintjies was in hulle geloof. Die meeste van hulle het die basiese beginsels van geloof verstaan. Ek is daarvan oortuig dat elkeen van die kleintjies wat daar was die Fariseërs sou kon antwoord as hulle vra wat is die grootste gebod. Hierdie kindertjies, u kinders, verstaan dat ons God moet liefhê en dat ons ons naaste netso lief moet hê. In hulle terme het hulle geleer dat ons vir Jesus moet liefhê en daarna moet ons ons maatjies net so lief hê. Ook het hulle die begrip verstaan dat ons almal aan die één liggaam van Jesus behoort, en daarom nie in kompetisie staan nie, maar moet saamwerk.

Die hartseer hiervan is dat ons as grootmense dit Sondag vir Sondag hoor in die erediens, maar of ons dit werklik glo, meer nog, of ons dit werklik lééf, is ‘n ope vraag. Wanneer dit kom by liefde uitdeel, is ‘n groot persentasie van ons, en ek wil myself daarby insluit, soos die huigelaars waarvan ons nou gaan saamlees. Kom ons gaan lees uit die Woord van God uit die Evangelie volgens Johannes 8: 1-11.

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs bring ‘n vrou na Jesus sodat hulle Hom in ‘n valstrik kan vang. Hulle agenda het glad nie gehandel oor die oortreding van die owerspelige vrou nie, anders sou hulle die man wat saam met haar betrap is, saamgebring het, dit is immers wat die wet van Moses vereis, maar hulle misbruik die vrou om ‘n hou na Jesus in te kry. Jesus word voor die toets gestel of Hy die wet van Moses gaan gehoorsaam en of Hy eerder die Romeinse Keiser gaan gehoorsaam wat beveel het dat geen Jood iemand anders mag doodmaak of laat doodmaak nie. Dit maak nie saak watter keuse Jesus gaan neem nie, die gevolge van sy keuse gaan negatief bly.

Indien Jesus, wat as ‘n leermeester, beskou word, nie die vrou met klippe laat doodgooi nie, oortree Hy die Wet van Moses. Die menigtes wat Hom volg sal dan alle respek en vertroue in Hom verloor. Aan die ander hand, indien Hy sou sê hulle moet haar doodgooi, sou hulle na die Keiser hardloop en Jesus aankla dat Hy beveel het dat iemand doodgemaak moet word. Jesus is in ‘n oënskynlike geen wen situasie, of is Hy?

By God is daar nie so iets soos verloor nie. Jesus doen ‘n merkwaardige ding. Hy plaas die bal terug in die Skrifgeleerdes se hande. Hulle wéét wat die regte ding is om te doen, hoekom doen hulle dit dan nie? Wat meer is, Jesus vul hierdie wet van Moses aan met ‘n ander wet wat sê dat jy nie moet oordeel nie, want die oordeel kom God alleen toe. Hy leer hulle: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi”. Die merkwaardige vind plaas dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes een vir een omdraai en huis toe gaan. Waar hulle Jesus ‘n bloedneus wou gee, lê hulle nou uitgeslaan op die planke, want nie een kan met ‘n skoon gewete, ‘n klip na die vrou gooi nie.

Selfs hulle wat so getrou die wet van God onderhou het, staan met ‘n vuil gewete voor God. Hulle het amper dag en nag in die Tempel deurgebring, was bykans dag en nag besig om uit God se Woord te lees en te leer, maar steeds moes hulle in skaamte omdraai en wegloop.

Broers, susters en kinders, vanoggend en op baie ander dae, is dit ons wat met klippe na God toe hardloop en toestemming vra om iemand daarmee te gooi. Ons wat net soos die Fariseërs en die Skrifgeleerdes moet erken dat ons nie ‘n skoon gewete het nie, ons wil onsself somtyds aanmatig om ander mense te gooi.

Ek kan bykans nie glo dat enige een van ons vanoggend nog instaat is om hier te sit nie, dat ons nog nooit doodgegooi is met klippe nie, is net genade van God. Dit moet spreekwoordelik klippe reën soos wat ons mekaar daarmee bestook.

En ek praat nie hier van kerklos en kerklose mense nie, ek praat van mense wat gereeld in die kerkbanke sit, wat week vir week God se Woord hoor. Mense wat in die Kerkbanke sit en die eerste klip wat hy na die erediens sien optel om iemand daarmee te gooi. Dat ons die vermetelheid het om mekaar sleg te sê en te beskinder, dit terwyl God se Woord van genade nog in ons ore moet suis? Hoe kan God se genade so groot wees dat Hy ons nog nooit met ‘n groot rots van die aardbol af platgevee het nie? Dit moet voorwaar ‘n God van liefde wees!!!

Dit is skokkend om te moet hoor hoe kerkraadslede mekaar met klippe bestook. Hoe jeugwerkers kyk of hulle nie dalk die grootste klip kan gooi nie. Hoe lidmate van hierdie gemeente die een klip na die ander optel en gooi. Dit hou aan, en aan, en aan…

Is dit moontlik dat ons gemeente so bevoorreg is om soveel mense te hê wat met ‘n skoon gewete ‘n klip kan gooi? Moontlik, maar ek twyfel. Ek glo die eintlike rede is dat ons nie God se liefde korrek verstaan nie. God praat nie vanoggend met ons omdat Hy kwaad is nie. Hy doen dit juis in liefde, en Hy wil by ons pleit om ons klippe neer te gooi, en eerder ons arms gebruik om mekaar te omhels. Hy het ons eerste lief, daarom moet ons ook liefde wees!

Toe die mense vir Jesus in ‘n blik wou druk, het Hy uit minagting vir hulle, op die grond gaan sit en in die sand gekrap. Dit is ‘n teken dat Hy hulle optrede as skandelik sien. God praat vanoggend met ons, want Hy wil nie sy kop vir ons in skaamte laat sak nie. Hy werk nou op hierdie oomblik in elkeen van ons se harte en verstande, om tot die besef te kom dat ons klipgooiery verfoeilik is.

Ons wil vanaand en volgende week deel in God se genade, aan die Nagmaaltafel. Ons wil opnuut die tekens sien van Jesus Christus se liggaam wat vir ons sonde gebreek is. Ons wil graag van die Nagmaaltafel opstaan en vir die wêreld sê, “Ek is genees van my sonde”. Maar kan ons die brood neem terwyl ons ‘n klip in die ander hand het? Of kan ons die beker vashou, terwyl daar ‘n klip in my vuis is? Dit is of die een, of die ander, ons kan nie albei doen nie.

Gemeente, wie is ons om van mekaar sleg en lelik te praat? Kan ons nie maar liewer ‘n besluit neem vanoggend dat ons almal deel is van die een liggaam van Christus en dat ons nie die ander ledemate kan slegsê en vervloek nie? Die hand kan tog nie vir die voet sê ek het jou nie nodig nie? Of die oor vir die oog ek is belangriker as jy nie? By God is ons almal ewe belangrik en het ons almal dieselfde genade ontvang. Wie is ek om my medemens sleg te sê en te beskinder? Wie is ek om eerste die klip die gooi?

Gaan huistoe gemeente en neem hierdie klippie wat u vanoggend ontvang het saam. Plaas dit op ‘n plek waar u dit heeldag en selfs heelweek kan sien, want hierdie klip moet u daaraan herinner dat ons met oop hande na die Nagmaalstafel moet kom. Bring hierdie klippie saam en kom gooi dit hier voor die kerk op die trappe voordat u inkom, as teken dat u wil ophou om klippe na mense te gooi. Ek pleit by u gemeente, dat ons dit almal sal doen sodat ons vir mekaar sal wys dat ons voortaan in liefde sal saamwerk en saamleef. Moet dit nie net afmaak as iets belaglik nie. Kom ons doén vir ‘n slag dit wat ons glo en verkondig.
Amen