Johannes 21:1-14

Om waarlik te glo



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit bly vir my persoonlik een van die grootste raaisels dat ons as kinders van God so maklik een ding glo, bereid is om wat ons glo kragtig met die mond te bely, maar dan so gaan leef dat dit wat ons glo en bely deur ons daaglikse lewenshandel eintlik totaal tot niet gemaak word.

Kom ek noem u vanoggend een voorbeeld hiervan, 'n voorbeeld wat ek kies in die lig van die feit dat ons aanstons by die tafel van die Here gaan aansit: die Bybel leer ons dat die mens alleen gered kan word, alleen met God versoen kan word, alleen God se kind kan word (hoe ons dit ook al wil beskryf) deur te glo. Deur te glo dat wat aan die kruis gebeur het, dit wat vanoggend hier met die tafel uitgebeeld word, die enigste weg tot saligheid is.

Dit bely ons nie alleen gereeld met oorgawe nie, maar ons voeg daarby net so maklik toe dat, aangesien alleen die geloof as genadegawe kan red, die mens daarom nie eers moet probeer om deur eie prestasie — wat onder andere insluit die doen van goeie werke, die lewe van 'n gehoorsame lewe, deur kerk toe te kom die Bybel te lees — in die hemel te kom nie — om dit so effens plat te stel.

En tog, broers en susters, sien 'n mens keer op keer dat by baie gelowiges daar tog, al is dit hoe effens of meer openlik, die gesindheid teenwoordig is dat 'n mens tog so hier en daar jou kant moet bring, anders sal jy nie eendag God sien nie. En met eie kant bring bedoel ek hier dat daar tog gelowiges is wat soms meen dat as 'n mens byvoorbeeld nie in die kerk kom nie, nie jou Bybel lees nie, nie gereeld bid nie, jy nie eendag gered sal word nie.

Let wel: ek sê nie dat hierdie dinge nie nodig is nie — natuurlik is dit. Wat ek wel sê is dat sommiges tog meen dat die doen van hierdie dinge God se guns kan koop, dat 'n mens tog miskien so 'n bydraetjie moet lewer as dit kom by jou saligheid. So, al is my geloof miskien so 'n bietjie te swak, ek het darem ook die werke. En dit, meen sommiges, sal God darem nie miskyk nie.

Daar kan natuurlik baie redes wees hoekom gelowiges soms so oordeel of optree. Een daarvan is beslis 'n bepaalde wêreldmentaliteit wat ons soms te onbewustelik en te maklik oorheers: omdat ek maar te goed weet dat in hierdie lewe niks verniet is nie, dat ek in die lewe soms geweldig baie moet insit om maar 'n ietsie daaruit te kry, omdat dit maar eenvoudig is soos die lewe werk, is dit vir sommiges baie moeilik om te aanvaar dat dit in die geloof presies nie so werk nie. En presies net anders om: kindskap is verniet, geloof is die voorwaarde, geloof wat ook 'n genadegawe is.

Die verhaaltjie wat homself in Johannes 21 afspeel, broers en susters, lewer ernstige kritiek op 'n geloofshouding wat aan die een kan maar te dankbaar God se genade-aanbod van die geloof en redding aanvaar, maar aan die ander kant meen dat ek, al is dit net om doodseker te maak wat betref my verlossing, tog ook maar so 'n ou deeltjie moet bydra.

Vir Petrus en die ander dissipels in Johannes 21 is Pase verby. Volgens hulle is Jesus weg, en is hulle terug in die werklikheid van die lewe. Maar dan, ten midde van hulle moegheid van 'n hele nag se onsuksesvolle visvangpoging, ten midde 'n hele nag se nuttelose arbeid, tree God in hulle lewens in.

Gaan vang weer vis, sê Jesus vir hulle. En teen alle visvangreëls in vaar hulle maar weer uit. Hiermee bedoel ek dat dit algemene kennis was dat 'n mens in die see van Tiberias net vis in die nag kon vang, en nie in die dag nie, aangesien die visse in die dag die oewers verlaat het diep water toe, en vissers met nette nie so diep kon vang nie.

En dan verassing op verassing. Eers word soveel vis gevang dat dit net nie eers ingetrek kon word nie, en toe die dissipels op die strand kom, was die kos reeds gereed. Die maaltyd was reeds daar. Oorgenoeg. Brood en vis. En al wat die dissipels moes doen was om te kom aansit.

En alles verniet te kry. Wat hulle eet het hulle nie gesaai, geoes en gemaal nie, wat hulle eet het hulle nie met inspanning gevang nie. Nee, wat hulle eet is verniet. Hulle kry net. Hulle moet dit net neem. Hulle moet net kom aansit. Dan kry hulle deel daarvan.

So is dit ook met die tafel van die Here, broers en susters. Ook ons moet maar net kom aansit. En neem en eet en drink. So kry ons deel daarvan. Ons het nie die brood gebak nie, ons het nie die druiwe gepars nie. Ons het nie eers die tafel voorberei nie. Ons kry dit alles verniet, en natuurlik veral dit wat die tafel simboliseer.

Dus: as ons met 'n ander gesindheid kom aansit as om maar net weer en weer in die geloof Jesus Christus se kruisdood as die enigste weg tot verlossing te kom bely, as 'n vrye genadegawe, as redding en verlossing waartoe ek nie 'n bydrae kan lewer nie, moet ons nie kom aansit nie.

Maar ook: u en ek moet nie kom aansit as ons nie bereid is om altyd, voor die tafel en na die tafel, in opdrag van ons Heer — wanneer Hy ook al vra — die skuit uit te stoot en vis te gaan vang nie.

Want dit is eintlik waaroor die seën van hierdie tafel gaan: dat ons, omdat ons weer sigbaar kon sien ons behoort aan God, omdat ons weer die voorreg kon hê om God teenwoordig in ons lewens te ervaar, omdat ons weer met blydskap kon hoor ons sondes is vergewe, nie anders sal kan as om uit te gaan en ook ander te voed nie. Te voed met liefde, bystand, ondersteuning, vergewing, geduld, meelewing, vriendelikheid, noem maar op.

Johannes 21:14 sê: `Dit was al die derde keer dat Jesus ... verskyn het’. Paasfees, broers en susters, vind nie maar net een keer 'n jaar plaas nie. Nee, elke keer wanneer God vir u in my, in ons broodloosheid, visloosheid, moedeloosheid, hooploosheid en bekommernis, as Gasheer ons plekkie aan sy tafel aanwys, vind ons weer sy seën.

Hoor ons weer: so, en so alleen, word jy en is jy my kind, so alleen seën Ek. Kom sit aan, glo en bely, en jy sal lewe. En, indien jy dit werklik glo, sal jy ook 'n seën wees vir baie ander. Want jy sal nie anders kan as om te gaan uitdeel wat jy ontvang het nie.

En so word God se arbeid ons arbeid, sy seën ons opdrag. Maar nooit kan ons arbeid God se arbeid aan die kruis vervang nie, en ons arbeid sy seën uitlok nie.
Amen