Romeine 6:15-23

Onherstelbare foute



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die skryfpapier was eenvoudig en die handskrif bewerig. Die inhoud was kort: Ek stuur hiermee honderd rand vir al die skryfbehoeftes wat ek gedurende die tydperk 1970-1974 as werknemer by u firma gesteel het. My gewete kan nie tot rus kom nie. Dit was geteken: oudwerknemer. En die naskrif was: Ek wil reg wees om God te ontmoet.

Vir party sal ‘n briefie soos hierdie heel snaaks wees. Hoe kan iemand angs hê oor foute ongeveer dertig jaar gelede gemaak?. Maar vir ander, broers en susters, vir mense wat opreg streef om met ‘n skoon gewete voor God te lewe, sal hierdie briefie heel ernstig wees.

Om werklik met ‘n skoon gewete voor God te leef, broers en susters, is vir baie mense ‘n stryd. Hoekom sê ek so? Want kyk maar wat maak mense, en ook ons, met die mislukkings van ons verlede: ons dra hulle dikwels soos spoelklippies met ons in ons hande saam. Spoelklippies as aandenkings van ons mislukkings.

En wanneer ons hande te vol word en die spoelklippies te veel op die grond begin val, sit ons hulle in ons broeksakke. Maar spoedig is dié ook vol. Dan sit ons hulle in ‘n sak wat ons oor ons skouers dra – ‘n sak wat skuur en skaaf en krap en pla. En spoedig is die sak vol van ons mislukkings so swaar dat ons dit moet sleep. En nie baie later nie word die sak so swaar dat ons dit nie meer kan sleep nie. En kom ons tot stilstand.

Ons beweeg nie meer vorentoe nie. Daar is nie meer vordering nie. Nie vordering in ons verhouding met God nie, nie met ander mense nie, en ook nie met onsself nie. Want dit is eenvoudig so: vir baie is daar niks swaarder om saam te sleep as juis ons sakke vol mislukkings nie.

As ons alles kon oordoen, sou ons dit beslis oorgedoen het. Ons sou ‘n ander persoon gewees het. Ons sou dalk meer geduldig gewees het. Ons sou miskien klaargemaak het wat ons begin het. Ons sou dalk die ander wang gedraai het. Ons sou dalk stilgebly het. Ons sou eerliker gewees het. Ons sou die versoeking weerstaan het. Ons sou dalk ander vriende gekies het. Ja, ons sou liewers dit of liewers dat. Maar nie dieselfde as wat ons gedoen het nie.

Maar ons kan nie. Hoeveel kere hoor ons nie dat mense sê: ‘gedane sake het geen keer nie?’ En dan dink ons, en weet ons, die spreek woord is eenvoudig net te waar.

Dit is ook presies wat Paulus bedoel as hy hier in Romeine 6:23 skryf dat die loon wat die sonde gee die dood is. En ons moet mooi lees wat hier staan, broers en susters, om seker te maak wat die konsekwensies is van dit wat Paulus hier sê. Paulus sê nie ‘die loon van die sonde is ‘n slegte bui, of ‘die loon van die sonde is ‘n moeilike dag’, of ‘die loon van die sonde is neerslagtigheid en depressie’ nie. Nee. Lees dit maar weer: ‘ Die loon wat die sonde gee is die dood’.
Sonde is fataal. Dit is finaal. Dit is opstand teen God (en mense). En die vraag is: kan iets daaraan gedoen word?

Jou terapeut sê jy moet daaroor praat. Jy trek daarom die sak in sy of haar kantoor in, en gooi die spul spoelklippe op die kantoormat uit. Saam ontleed julle die klippe een vir een. En dit help. Dit voel goed om oor al die goed te praat. Maar as die uur verby is, pak jy alles terug in die sak en sleep die sak maar weer net kar toe.

Jou vriende sê jy moet tog nie so sleg oor alles voel nie. ‘Almal op hierdie aarde maak tog foute, en almal voel tog so nou en dan sleg’. Dit help dalk vir ‘n oomblik, maar niks na die oomblik nie.

Voel-goed-oor-die-lewe-byeenkomste sê jy moet die dinge ignoreer en gelukkig wees. Positiewe denke is die oplossing. En dit werk ook soms. Maar net tydelik. Want wanneer jy alleen is, en jou gesig in die spieël sien, dan weet jy ewe skielik weer presies wie en wat jy is. Dan besef jy al die klippe is maar nog net daar in die sak.

Werkheiliges sê jy moet die gewig van die sak afwerk. Ander weer sê jy moet ‘n kersie vir elke klip aansteek. Of doen ‘n gebed vir elke klein rotsie. Maar jy word beangs. Want sê nou jou tyd gaan opraak voor jy elke klip weggewerk het, of sê nou net jy het verkeerd getel en daarom was daar een of twee kersies te min? En jy word nog meer benoud.

En weer spring die vraag soos ‘n monster voor ons op: wat doen ‘n mens met jou mislukkings? Waar vind ons ‘n skoon gewete?

Ek wil hierdie vraag antwoord, broers en susters, deur ‘n eenvoudig vertelling. Op ‘n dag kom ‘n pa by die huis na werk. Toe hy die voordeur instap kom sy kind huilend na hom toe aangehardloop. Hy kon nie meer nie, hy kon nie langer wag nie, en dit borrel uit sy mond. ‘Pappa gaan vir my baie kwaad wees, want ek het op die muur met kryt geskryf’.

Die pa gaan sit,tel sy kind op sy skoot en vra: ‘was dit ‘n goeie ding om te doen?’ En die antwoord was eenvoudig: ‘nee’. Waarop die pa sê: ‘wat doen pappa wanneer jy op die muur skryf en teken?’ Die antwoord was hartseer: ‘Pappa wiks my’. Waarop die pa vra: ‘Wat dink jy dan moet Pappa hierdie keer doen?’ En dan die antwoord: ‘Pappa moet vir my lief wees’.

Is dit nie, broers en susters, wat ons almal wil hê, wat ons almal begeer nie?. Begeer ons nie almal ‘n vader wat, selfs al staan ons foute duidelik op die muur geskrywe vir almal om te sien, ons nog altyd sal liefhê nie? Wil ons nie almal ‘n vader hê wat vir ons omgee ten spyte van al mislukkings nie?

Ons het so Vader. Ons het ‘n Vader wat op sy beste is as ons op ons slegste is. Ons het ‘n Vader wie se genade op sy sterkste is as ons toewyding op sy swakste is.

En wat meer is: hierdie Vader wag vir u nou hier by sy tafel. Want al is die loon van die sonde die dood, is die genadegawe wat God gee die ewige lewe in Jesus Christus.

Wie dit werklik verstaan en glo, sal kom, met die sak, hierdie genadegawe ontvang, opstaan sonder die sak, en die krag wat ons gebruik het om die sak saam te sleep, aanwend om God en ons naaste lief te hê soos God ons liefhet.
Amen