Hebreërs 4:14-16; Markus 14:53-65; 15:1-5

Ons het ‘n groot Hoëpriester



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Wanneer ons vandag as gelowiges Nagmaal gebruik, gebeur daar ‘n paar belangrike dinge:

  • Eerstens help die Here ons om deur sy Woord, sy Gees en deur die Nagmaal Jesus se offer aan die kruis in herinnering te roep.
  • Tweedens kry ons deur die werking van die Gees, en deur die geloof, deel aan die offer van Christus - deel aan sy liggaam en bloed wat ter wille van ons sondes geoffer is.
  • Derdens word ons as gelowiges só, deur die werking van die Gees en die sakrament, verseker dat ons deur Jesus se offer verlos is van ons sonde, en dat ons met vrymoedigheid tot God mag nader, omdat ons verhouding met die Here herstel is.

Uit hierdie drie opmerkings, broers en susters, kom ons agter dat onder andere die gedagte van die offer by die nagmaal baie sentraal staan.  Dit gaan by die nagmaal om die offer wat Jesus aan die kruis gebring het.  Dit gaan daarom dat Hy, soos ons in Hebreërs 4 gelees het, die groot Hoëpriester is wat Homself geoffer het en dat ons, deur die geloof, deel kry aan sy offer.

Vanoggend wil ek graag aan hierdie twee sake aandag gee, te wete die offer van Jesus, en dat Hy ons Hoëpriester is.

Ons het in Markus gelees dat Jesus gevang is en weggelei is na die paleis van die hoëpriester van die Jode.  Die hoëpriester was die leier van die priesters wat in die tempel in Jerusalem diens gedoen het.  In die tyd van die Nuwe Testament was die hoëpriester die godsdienstige leier van Israel, en ‘n baie belangrike persoon.  Die gewone priesters se taak was om die offers wat die mense na die tempel gebring het, op die altare te offer.  Die bedoeling van die offer was dat die persoon wat die offer gebring het, deur bemiddeling van die priester, met God versoen word.  Die belangrikste taak van die hoëpriester weer was om eenmaal per jaar, op die groot versoendag, die offer te bring wat die volk Israel met God sou versoen.

Nou lees ons in Markus dat Jesus na die hoëpriester gelei word om verhoor te word.  Die skrifgeleerdes, familiehoofde, priesterhoofde, dit wil sê die hele Joodse Raad, was alreeds by die hoëpriester se paleis teenwoordig.  Daaruit word dit duidelik dat die inhegtenisneming van die Jesus fyn beplan is - dit het plaasgevind terwyl al die mense van Jerusalem besig was om in hulle huise die paasmaal te eet.  Daar sou min mense op straat wees wat kon sien dat Jesus gevang word en verhoor word.  Jesus se verhoor (en teregstelling) is fyn beplan, om te verhoed dat daar oproerigheid onder die mense van Jerusalem sou ontstaan.  Baie mense het immers van Jesus geglo dat Hy die Messias is, hulle het Hom orals gevolg en so het Hy ‘n bedreiging geword vir die hoëpriester en die ander Joodse leiers.

Dit verhoor van Jesus was in terme van die Joodse wet onwettig, omdat ‘n verhoor wat op die doodstraf kon uitloop, in die dag en in die openbaar gehou moes word.  Tydens die verhoor het verskillende getuies teen Jesus getuig - getuienis wat mekaar weerspreek het.  Die hele tyd het Jesus geen woord geuiter nie.  Die gevolg was dat die hoëpriester nie genoeg getuienis kon vind om Jesus ter dood te laat veroordeel nie.

Ons lees dan dat die hoëpriester self Jesus begin ondervra.  Hy vra vir Jesus: Is u die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?  Jesus kon maar net geswyg het.  Dan sou die hoëpriester waarskynlik nie genoeg rede gehad het om Jesus ter dood te veroordeel nie.  Maar Jesus antwoord: Ek is, en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.

Hieroor was die hoëpriester uiters verontwaardig, want vir hulle was dit godslastering dat Jesus Homself aanmatig as die Seun van God, as die Messias, as die Verlosser!  In terme van die Joodse wet was godslastering met die dood gestraf, en daarom het die hoëpriester Jesus ter dood veroordeel.

Wat belangrik is om in hierdie gedeelte raak te sien, is dat Jesus Homself doelbewus voor die hoëpriester en die Joodse Raad as Seun van God bekendstel.  Dit beteken dat Jesus Homself offer - Hy kon maar net stilgebly het, en dan sou die hoëpriester waarskynlik nie genoeg gronde gehad het om Hom ter dood te veroordeel nie.  Maar Jesus openbaar Homself as die Verlosser, as die Messias - wetend dat die Joodse Raad en die hoëpriester Hom daarvoor sou laat doodmaak.

So word Jesus by wyse van spreke die Hoëpriester wat homself offer.  Hy is nie net die Hoëpriester nie, maar tegelykertyd die offerhande!

Dit was in daardie tyd so dat die hoëpriester en die Joodse Raad nie alleen die doodstraf kon oplê nie.  Israel was op daardie stadium onder die mag van die Romeinse keiser, en die Romeine moes self iemand ter dood veroordeel.  Daarom het ons gelees dat hulle Jesus na die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, gestuur het.

Daar aangekom, het die Joodse Raad Jesus van baie dinge beskuldig.  Hulle beskuldigings slaan nou egter ‘n ander rigting in, naamlik dat Jesus ‘n rebel en opstandeling sou wees wat die mense teen die keiser aangehits het.  Jesus het Homself uitgegee as die koning van die Jode,  en dit is niks anders as politieke opstand nie.  Die klag by die Romeine was nou nie meer godslastering nie, maar politieke opstand.  Jesus reageer ook nie op hierdie aanklag nie.  En Pilatus bevind Jesus onskuldig.

Maar daarmee was die Joodse leiers nie tevrede nie, en het aangedring daarop dat Pilatus Jesus veroordeel.  Ten einde raad vra Pilatus vir Jesus: Is jy die Koning van die Jode?  Jesus kon weereens geswyg het.  So kon Hy Homself waarskynlik gered het.  Maar Hy doen dit nie.  Hy antwoord Pilatus: Dit is soos u sê.  Daarmee gee Jesus Hom in die hand van Pilatus, sodat Pilatus Hom op grond van politieke redes oorgee om gekruisig te word.

En so word Jesus weer die groot Hoëpriester wat Homself offer.  Hy is tegelykertyd Hoëpriester en offerhande.

Dit is om hierdie rede, broers en susters, dat die Hebreërbrief deurlopend van Jesus as die groot Hoëpriester praat.  Hebreërs beskryf Jesus as die Hoëpriester teenoor die Jode se hoëpriester.  Op ‘n baie ironiese wyse: die veroordeelde, Jesus, word Hoëpriester in die plek van die hoëpriester wat Jesus veroordeel.

Wanneer Jesus onskuldig ter dood veroordeel word en gekruisig word, bring Hy die offer wat al ons sonde wegneem.  Hy versoen ons met God.   Hy word die Hoëpriester wat in die plek van die aardse priester kom staan.  Hy bring die eenmalige offer, sy eie liggaam en bloed, terwyl die hoëpriester van die Ou Testament jaarliks die groot versoenoffer moes bring.

Watter troos is dit nie, broers en susters, dat ons ‘n groot Hoëpriester het nie?  Ons het Iemand wat vir ons as sondaars gesterf het, die offer gebring het wat ons met God versoen.  Nou kan ons in die regte verhouding met God leef, ten spyte van ons eie swakheid en ongeloof en sonde en tekortkominge.

Meer nog: Hebreërs 4 sê ook dat ons Hoëpriester met ons swakheid en sonde medelye het, omdat Hyself (as mens) aan dieselfde versoekinge onderwerp was as ons.  Die verskil is net - Hy het nie gesondig nie.  En sy medelye met ons as sondaars is so groot dat Hy Homself gewilliglik as offer gee.

Watter troos is dit nie vir my, arme ellendige sondaar mens nie!  Ek het ‘n groot Hoëpriester!  Ek het iemand wat vir my Sy lewe afgelê het en Homself geoffer het!  Ek het iemand wat selfs met my swakheid en my sonde medelye het.  Dit is God se onbegryplike genade vir my!

Hiervan wil die Nagmaal ons verseker.  Die nagmaal bied aan ons soveel geloofsekerheid - Jesus het ons verlos!  Hy het sy liggaam en bloed vir ons geoffer!   Hy is ons groot Hoëpriester!

Daarom kan ons ook die uitnodiging van Hebreërs 4 met blydskap aanvaar: Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het, laat ons met vrymoedigheid na die genadetroon gaan, sodat ons genade en barmhartigheid kan ontvang.

Wat ‘n wonderlike voorreg, broers en susters. Ons kan met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan, ons kan met vrymoedigheid aan hierdie tafel kom aansit.  Want in Jesus Christus het ons ‘n groot Hoëpriester wat ons met God versoen het.
Amen