1 Petrus 1:1-6

Ons is juigend anders



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Hoe sou u sê, lyk 'n Christen? As ons 'n groep mense sou neem, kom ons sê maar op 'n Saterdagoggend by 'n vlooimark, en daar word van ons gevra om hulle in twee kampe te verdeel, die gelowiges aan die een kant en die ongelowiges aan 'n ander kant — hoe sou ons dit doen? Wat sou ons maatstaf wees, wat sou die norm wees wat ons sal gebruik?

Party sal miskien sê: `Kom ons kyk na almal se kleredrag’. Dalk nie 'n slegte begin nie, want dit is soms moontlik om nogal 'n goeie raaiskoot te waag oor wie of wat mense is, en selfs wat hulle gemoedstoestand is, deur te kyk wat hulle aanhet. Swart pas byvoorbeeld by 'n begrafnis, en wit by 'n bruid.

En tog, broers en susters, kan hierdie maatstaf soms ook baie misleidend wees. Ek ken byvoorbeeld 'n paar Christene wat soms maar vaal daar uitsien, en soms weer vrolik en kleurvol aangetrek is. Net so is dit beslis nie so dat Christene, net omdat hulle Christene is, altyd vaal en verbeeldingloos moet lyk, getooi in monnike-mondering en nonnegewaad, terwyl die `ongelowiges’ 'n beeld van vrolike veelkleurigheid is nie. Klere bly in elk geval maar net klere. Dus: Christene se andersheid lê nie in hulle kleredrag nie. 'n Mens kan nie 'n Christen sommer net op sy baadjie — en rokkie — takseer nie.

Maar hoe dan? Miskien, sal ander sê, moet ons na die mense se gesigsuitdrukkings kyk. Ook hier, meen ek, broers en susters, sal 'n mens by geleentheid in die kol kon raai, juis omdat mense se gesigsuitdrukkings dikwels boekdele spreek van hulle gemoedstoestand. Maar ook hier moet ons versigtig wees, juis omdat mense meesterlike maskerdraers is. So kan iemand byvoorbeeld sê: `Ek is so bly om God se kind te wees’, maar die gesig is heeldag so suur soos die suurste suurlemoen, en alles is tog so verkeerd en swaar. En iemand anders kan die heeldag lag en vrolik wees, en tog nie werklik God ken nie. Dus: nie alleen op die baadjie nie, maar lyk my ook op die gelaat kan 'n mens nie 'n Christen takseer nie.

En terloops, ek dink dit geld ook vir dinge soos skoonheid, intelligensie, waar ons woon, watter motor ons ry, watter stokperdjies ons beoefen, selfs wat ons hoflikheid, motorbestuur -maniere en gemanierdheid in die algemeen betref. Want daarvoor is ons te gewoon, soms te veel soos ander mense, en te veel soms maar net soos die ongelowiges.

Maar tog, broers en susters, is ons anders as ander mense. Radikaal anders as die ongelowiges. En hiervan vertel 1 Petrus 1:1-2 ons:

In die eerste plek, sê Petrus, is ons anders omdat God ons gekies het om sy kinders te wees. Ons het nie onsself, of ander, gekies om Christene te wees nie. Goddank. Want as dit so was, sou nie een van ons dit gemaak het nie. Daarvoor is God se norme te hoog.

Maar soos God dit vooraf bestem het, sê Petrus, en deur die Gees wat dit werklikheid gemaak het, is ons op grond van die bloed van Christus, God se kinders. Met ander woorde, dit is God wat tussen die bokke en skape onderskei, en dan nie op grond van ons verdienste of voorkoms nie, maar op grond van sy genade.

Tweedens, sê Petrus, is ons anders omdat ons, juis op grond van God se genade in Christus, daar 'n hoop in ons leef. 'n Lewende hoop dat ons eendag volkome by God sal wees.

Maar daar is ook 'n derde verskil, sê Petrus, tussen ons en ander: ons wat op die oog af net soos ander mense is, wat lag of huil, wat soms in of uit die mode is, wat mooi of minder mooi is, vriendelik of minder vriendelik is, 'n bietjie heilig en dan weer miskien baie onheilig is, ons weet dat ons toekoms in God se hand is. Dat ons deur die krag van God veilig bewaar word, en sal word, soos ons in die verlede bewaar is.

Ja, dit maak ons anders, sê Petrus: is ons uitgekies, in ons leef die hoop, en ons weet, in God se hand is ons veilig. En juis daarom sê Petrus in vers 6: Wees bly, verheug julle hieroor.

En hoe doen ons dit, broers en susters. Deur vanoggend met vreugde wat hoog brand aan God se tafel te kom aansit. Want hierdie tafel sê juis: julle wat hier aansit behoort aan God, julle wat hier kom aansit het die hoop, lewende hoop om eendag volkome so by God aan sy tafel aan te sit, julle wat hier kom aansit kan weet: net soos Christus julle gered het van die dood, en julle daarom veilig is, sal God julle, en julle kinders, veilig bewaar in al die dae wat hierdie lewe nog uit sy hand gaan ontvang.

Wie hieroor nie bly is nie, wie hieroor nie wil juig nie, wie hieroor nie 'n lofgesange teenoor God wil uitbars nie, ken God nie, het nog nie die ware geheim van die sin van die lewe ontdek nie, en, helaas, hoort nie aan hierdie tafel nie.
Amen