1 Petrus 1:3-9

Ons lewende hoop



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dietrich Bonhoeffer, die bekende Duitse predikant/teoloog wat in tye van die Tweede Wêreldoorlog sy stem sterk laat hoor het teen sy eie regering en Hitler se optrede (en later as gevolg van sy kritieke/profetiese stem gehang is) vertel die verhaal van ‘n paar Joodse vroue se dag tot dag lewe, van die ongelooflike moeilike omstandighede waarin hulle moes oorleef, maar ook van hulle hoop.

Die vroue (gevangenes in die konsentrasiekampe) moes bedags paaie bou in Duitsland. Skoene het hulle nie gehad nie, hulle grawe was hulle hande en hulle kruiwaens was die voue in hulle rokke. Dit was harde werk. Maar elke dag het ‘n hoogtepunt gehad. Op pad terug konsentrasiekamp toe moes hulle by ‘n huisie verby met ‘n balkon. Op die balkon was ‘n blombak. En in die blombak was daar die pragtigste rooi en geel blomme: die enigste bietjie kleur in ‘n andersins vaal en grys omgewing. Die sien van hierdie blomme was die hoogtepunt van hulle dag — om tog betyds by hierdie blomme verby te loop voor die son sak en die blomme toegaan. Dit het hulle aan die lewe gehou. Dit was die sin en somtotaal van hulle bestaan. Dit was, in kort, hulle hoop, hulle enigste hoop.

Hoop, broers en susters, het iemand eendag gesê, het net een kilojoule energie nodig om te oorleef. Dit kan ‘n blommetjie wees, die glimlag van ‘n kind, ‘n bietjie goeie nuus, ‘n onverwagse uitkoms uit ‘n skynbare doodloopstraat, die opmerking van ‘n vriend, ‘n drukkie aan die hand, noem maar op.

En dit is goed, broers en susters, dat ons dit so sien. Daardie spreekwoordelike silwer randjie van die wolk, die hoor van die voëls, die goeie nuus, die lag van my kind, al daardie dingetjies wat blydskap oor ‘n mens laat kom en die hoop laat opflikker dat hierdie lewe tog die moeite werd is. Ook vir ons wat Christene is. Maar tog, broers en susters, lê die ware basis vir ons as Christene se hoop op ‘n ander vlak. Dit lê op ‘n ander plek, dit lê in iets anders. Dit lê, altans, dit behoort te lê in iets wat nie deur ons omstandighede bepaal word nie.

En hierdie iets, broers en susters, hierdie iets wat eintlik te grondslag van ons hoop lê is niks anders as die kruisdood en opstanding van ons Here nie. Ware hoop lê nie in blomme wat oop en toegaan nie, maar in die graf van Jesus Christus wat onherroeplik oopgegaan het, en nooit weer sal toegaan nie.

Wie weet en waarlik glo dat Jesus se graf opgegaan het, oorleef. Al het alle aardse moontlikhede vir jou toegegaan. Ja, al sterf jy selfs. Kyk hoe mooi stel 1 Petrus 1:3-4 dit vir ons: ‘Aan God, die Vader van onse Here Jesus Christus, kom al die lof toe. In sy groot ontferming het hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word’.

Aan hierdie waarheid, broers en susters, het gelowiges deur die eeue heen vasgehou. Dit het hulle in staat gestel om aan te hou selfs wanneer alles gelyk het hopeloos en verby te wees, om uit te styg bo hulle omstandighede. Soos byvoorbeeld die lidmate in die gemeentes aan wie die Petrusbrief geskryf is. Mense wat vervolg is as gevolg van hulle geloof. So vervolg is dat hulle hulleself as vreemdelinge in hierdie wêreld ervaar het.

Hierdie mense het besef: omstandighede verander, omstandighede is wispelturig, dit bied geen ware sekuriteit vir jou bestaan nie. Gesondheid wyk voor siekte, rykdom word soms vervang deur armoede, voorspoed word teëspoed, geleenthede word dikwels verleenthede. Omstandighede verander, meer nog, soms is die mens niks anders as uitgelewer aan omstandighede nie.

Hoe, broers en susters, gaan u en my lewe een jaar van nou af daar uitsien? Wie van ons wil waag om dit te antwoord? Om ‘n antwoord te waag, reken ek, sou dwaas en dom wees. Niemand van ons weet nie. Meer nog: hoe gaan ons lewens een dag van nou af lyk? Niemand van ons weet nie. Wat ons wel weet is dat daardie dinge wat ons so dikwels gereken het ewigheidswaarde het, wegkrummel voor die erosie van tyd, wegkrummel voor dinge wat baie skielik en baie vinnig op jou pad kan kom.

Daarteenoor, broers en susters, het Jesus aan daardie vloekhout gehang. Sy graf het oopgegaan. Duisend maal miljoen jaar van nou af sal dit nog so wees. Dit al altyd so wees. Wanneer ons aardse bestaan al vergete is, wanneer mense ons nie eers meer sal onthou nie, wanneer ons lewensblommetjie lankal reeds toegegaan het, sal die graf van Jesus steeds oop wees, sal Jesus steeds aan die regterhand van God regeer, en sal God se liefde vir ons steeds onverganklik wees.

Die nagmaalstafel, broers en susters, wil iets van hierdie ewige liefde, ewige oop graf, van Jesus Christus sê. Hierdie tafel wil onder andere ook sê: soos jy, my kind, die brood in jou hande neem en dit sien en eet en proe, die beker neem, dit sien en daaruit drink en die wyn proe, so seker kan jy weet: vir ewig sal my graf oop wees. Ek lewe, my kind, daarom sal jy ook lewe. In kort: die tafel simboliseer in wese dit wat ons enigste hoop in hierdie lewe en behoort te wees. Die dood en opstanding van ons Here. Is dit?

Ons kan, sê 1 Petrus, onsself toets aan hierdie vraag. Onsself toets aan dit wat werklik ons hoop in hierdie lewe is. Wat, broers en susters, maak ons werklik bly in hierdie lewe? Wat is dit wat in ons harte die grootse vreugde en blydskap laat opvlam? Gebeure, besittings, prestasie?

Of die dood en opstanding van die Here. In 1 Petrus 1:9 lees ons dat die gelowiges uitroep: Ja, hierdie dood en opstanding van ons Here, ja dit, en niks anders, vervul ons met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap. In ons omstandighede, elke oomblik van ons lewe!

Is dit so, broers en susters, met u en met my? Vervul die geleentheid om nou aan God se tafel te kom aansit, en so weer deel te kry aan sy dood en opstanding ook vir ons met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap? Omdat hierdie tafel ons enigste en ware hoop tot uitdrukking bring? Ek hoop so.

Daarom: kom ons kom vanoggend na die tafel van die Here, kom ons kom en kom sit hier aan, terwyl daar ‘n onuitspreekbare blydskap in ons harte brand. ‘n Blydskap omdat ons kan hoop, omdat ons weet: die Here leef, en daarom leef ons ook!

Mag u vanoggend aan sy tafel hierdie blydskap ervaar. En mag ons hier weggaan as mense vol hoop, omdat ons weet en glo: God leef!
Amen