1 Korintiërs 11:23-29

Onthou ons nog hoekom ons Nagmaal gebruik?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die van u wat al 'n foto van die Taj Mahal gesien het, of selfs al die voorreg gehad het om dit te besoek, sal weet dat hierdie tempel in Indië beskou word as een van die mees asemrowende geboue in die wêreld. Om dit te besoek is blykbaar 'n fassinerende en ongelooflike ervaring.

Die geskiedenis van hierdie tempel is egter net so ongelooflik. En as ek die geskiedenis daarvan reg het, lui dit ongeveer soos volg: die Sjah Jahan se vrou, vir wie hy ontsettend lief was, het op 'n baie vroeë ouderdom 'n totaal onverwagte dood gesterf. In sy verdriet het hierdie man homself voorgeneem om haar te vereer deur vir haar 'n tempel te bou was as haar graf kon dien. Hulle het haar kis in die middel van 'n stuk grond neergesit en die bouwerk rondom die kis begin. Geen koste is ontsien om haar laaste rusplek die heel beste te maak nie.

Maar met die verloop van tyd is die sjah se verdriet mettertyd vervang deur sy passie vir hierdie ongelooflike bouprojek. Gou het hy nie meer getreur oor sy vrou nie, omdat die bouwerk sy tyd totaal in beslag geneem het. Toe hy eendag oor die bouterrein loop, het sy been teen 'n houtkis gestamp. Hy het die stof van sy been afgestof en 'n werker beveel om die kis weg te gooi. Op daardie oomblik het hy nie besef dat dit die kis was waarin hy later sy vrou finaal wou begrawe nie.

En so was die een ter ere van wie die tempel opgerig moes word, was vergete, maar die tempel is in elk geval voltooi. So 'n bietjie moeilik om te glo, sou ek sê, broers en susters: is dit moontlik dat iemand so 'n geweldige tempel kan bou, en vergeet waarom hy dit gedoen het? Kan iemand 'n huldeblyk beplan en van die held vergeet ter ere van wie die huldeblyk in die eerste plek beplan was?

Ons kan elkeen maar by onsself hierdie vrae beantwoord. Wat egter belangriker is, is dat ons veral in die kerk, en in besonder rondom die Nagmaal, ook hierdie vrae sal vra, en dit nie net sal vra nie, maar ook vir 'n slag eerlik sal beantwoord.

Want ook wat die Nagmaal betref, broers en susters, wil dit soms lyk of mense by die tafel kom aansit, maar lankal vergeet het waarom hulle by die tafel kom aansit, waarna hierdie tafel verwys, en wat die implikasie is van deelname aan hierdie tafel. Met ander woorde, dat mense aan die nagmaal kom deelneem, maar vergeet het waaroor hierdie tafel regtig gaan. Of, om dit anders te stel: dat party by die tafel kom aansit, maar begin vergeet het WIE dit is waaroor hierdie tafel werklik gaan.

In 1 Korintiërs 11 het die woord van God 'n bepaalde beskrywing vir 'n sodanige aansit/deelname aan die tafel van die Here, naamlik 'n ongepaste deelname aan die tafel van die Here.

En kom ons staan vanoggend vir 'n wyle stil by hierdie woordjie wat Paulus hier inspan. 'n Ongepaste deelname, sê Paulus hier, het ten minste met drie sake te make: dit wat voor die tafel gebeur, tydens die tafel, en ook dit wat na die tafel gebeur.

In die gemeente van Korinte was daar mense, kan ons aflei, wat hulle aan een, twee of al drie sake skuldig gemaak het. Wat betref dit wat voor die tafel moet gebeur, was daar mense (lei ons af uit vers 28) wat hulleself nie grondig ondersoek het wat betref hulle verhouding met die Here nie. Ander weer, lei ons af uit verse 23 tot 26, besef nie wanneer hulle van die brood eet en van die wyn drink, dat hulle in wese met die liggaam van Christus besig is nie, die liggaam van Christus as daardie liggaam, daardie mens, wat vir die mens se sonde aan die kruishout gehang het nie. Wat betref dit wat na die tafel gebeur, lei ons af uit verskeie verse dat daar partyskappe in die gemeente was, verdeeldheid, en selfs sake soos armoede wat, indien dit aangespreek was, nie hulle lewenswyse sou wees nie.

Hulle was dus in wese, broers en susters, soos mense wat 'n tempel gebou het sonder om later te onthou waarom hulle die tempel begin bou het, soos mense wat tot eer van iemand 'n feesgeleentheid gereël het, maar so fees gevier het dat hulle vergeet het waarom hulle nou eintlik, en tot eer van wie hulle nou eintlik die fees vier.

Is dit nie soms ook waar, broers en susters, van die wyse waarop ons deelneem aan die tafel van die Here nie. As daar byvoorbeeld partyskappe of verdeeldheid is wat deel van u en my lewe is, as daar miskien haat en nyd in ons harte lewe teenoor ander oor dinge wat in die verlede gebeur het, het ons dit probeer regstel voor ons vandag na Sy tafel gekom het. Of miskien skerper gevra: hoeveel keer het u en ek dalk nie al aan Sy tafel kom aansit terwyl hierdie sake al vir maande of jare aan ons gevreet het nie?

Of, broers en susters, as dit kom by ons deelname aan die tafel self: hier bely ons dat Jesus Christus die enigste Verlosser is, net Hy is God, net Hy is die Een wat ons met ons lewens kan vertrou, net Hy is die Een wat hoop kan bring. Maar intussen dien ons allerhande afgode (hoe bedek dit ook al mag wees), intussen leef ons soms in totale ongeloof wanneer ons byvoorbeeld uitsprake maak oor ons toekoms en die toekoms van ons kinders, of miskien: soms wil ons self beheer van ons lewens neem omdat ons óf God nie 'n kans wil gee nie, óf ongeduldig raak oor die wyse waarop Hy ons lewens wil rig.

Dieselfde geld miskien ook vir baie van ons se lewens na die tafel: getuig ons lewens byvoorbeeld, om hier maar net een voorbeeld te noem, nie soms van 'n swaarmoedigheid, uitsigloosheid, ondankbaarheid en negatiwiteit, nie, terwyl ons lewens na die tafel eintlik van blymoedigheid en dank¬baarheid moet getuig nie?

Met ander woorde, broers en susters, het ons nie maar ook, wat die Nagmaal betref, 'n tempel gebou maar teen die einde vergeet hoekom ons dit eintlik gedoen het nie, 'n fees gereël en uitbundig fees gevier sonder om te besef waaroor of ter ere van wie die fees nou eintlik is nie?

Ek wil my vanoggend verstout om te sê dat wanneer hierdie drie sake, dit wat voor, tydens en na die tafel gebeur, nie in ons lewens sigbaar neerslag vind soos die Woord van ons vereis nie, ons van die Nagmaal 'n feesgeleentheid gemaak het sonder om te onthou waaroor die fees gaan.

Daarom die afsluitende vraag: wanneer laas, my liewe broer en suster, het u die Een gesien waaroor vanoggend se fees eintlik gaan? Wanneer laas het u met Hom gepraat? Wanneer laas het u ervaar dat Hy in u lewe teenwoordig is, en dat Hy, en net Hy, die Een is wat in beheer van u lewe is? En nog meer: wanneer laas het u die Een waaroor hierdie fees werklik gaan, die Een wat die oorsaak van hierdie tafel is, die Een wat die rede agter hierdie pragtige gedekte tafel is, toegelaat om voor en na die tafel so te lei dat U en my lewe daarvan getuig, in al sy fasette, dat ons nie Vaderloos is nie, maar 'n Vader in die hemel het wat ons voed, geestelik so wel as wat die stoflike betref.

Mag U vanoggend so hier kom aansit, en mag God U hier so seën, dat U weer Hom sal ontmoet, weer sal beleef en besef waaroor dit hier werklik gaan, en mag U en ek hier uitstap en werklik gaan lewe, 'n waaragtige lewe gaan lewe, 'n nuwe lewe gaan lewe, 'n lewe wat iets sê van die feit dat ons die Een ken, die Een wat ons almal deur Sy dood hier so saam gebring het, die Een wat ons ook na die tafel in eensgesindheid saambind.

Want as dit nie die gevolg is van ons deelname aan sy tafel vanoggend hier nie, is ons nie net soos die gemeente in Korinte aan dieselfde sake skuldig nie, maar neem ons deel aan 'n feesmaaltyd sonder om te besef waarom en hoekom ons dit doen!
Amen