Matteus 25:14-30

Oorleef ons net, of leef ons werklik?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die gelykenis wat ons vanoggend saamgelees is, is eintlik baie eenvoudig. 'n Man wat op reis gegaan het, het sy werkers bymekaar geroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een werker het hy vyf goue muntstukke gegee om na te kyk, vir die tweede twee en vir die derde een. En belangrik: die verdeling geskied op grond van elkeen se vermoë/bekwaamheid.

Dat die man baie ryk was, en dat hy aan sy werkers geweldige somme geld toevertrou het, moet ons in die gelykenis raaksien. Een goue muntstuk, 'n denarius in daardie tyd genoem, was gelyk aan die dagloon van 6000 werksdae, dit wil sê, een man sou ongeveer sestien en halwe jaar moes werk om een goue muntstuk te kon bekom. Of, vanuit 'n ander hoek: die totale jaarliks belasting van die gebiede Galilea en Perea aan die Romeinse Ryk was jaarliks ongeveer 200 goue muntstukke. Dus: groot somme geld is aan hulle toevertrou.

Die eerste werker, sien ons, het met die geld aan hom toevertrou gewoeker en met sy heer se terugkoms 100% wins gemaak. Wat nie eintlik baie bo-gemiddeld was nie, aangesien die wetboek van Hammurabi ('n wetrol uit daardie tyd wat ontdek is tydens opgrawings) 100% wins as normaal gesien het. En so ook doen die tweede werker: ook hy, met sy heer se terugkoms, kan 100% wins toon.

Die derde werker, sien ons egter, het sy goue muntstuk in die grond begrawe, en met sy heer se terugkoms kon hy dus geen wins toon nie. Sy verskoning was: hy het geweet sy heer is 'n harde man, en omdat hy bang was hy maak nie wins nie, het hy eerder veilig gespeel.

Dat hy die geld begrawe het, broers en susters, is nie so verkeerd as wat ons nog altyd gedink het nie. Inteendeel. Die begrawe van geld destyds in Palestina was 'n aanbeveling om dit teen diewe te beskerm. In die Mishna (die interpretasie van die wet, profete en geskrifte deur die vroeë rabbi’s wat so teen 200 n.C. sy eerste finale vorm gekry het) is die begrawe van geld as't ware verwag van die konsensieuse bewaarder.

So, wat beteken die gelykenis? Wat wil dit sê? Ek meen ten minste die volgende: daar is mense, sê die gelykenis, wat nie aandag gee aan die toekoms nie, omdat hulle die hede wil geniet. En daar is mense wat so toekomsgerig lewe, dat hulle die hede nie geniet nie. Daarteenoor, wil die gelykenis sê, moet ons die hede so vul, so in die hede lewe, dat dit waarde het vir die toekoms. Hede en toekoms is dus belangrik, val dus saam, met die eenvoudige implikasie dat wat ek in die hede doen, bepalend is vir my toekoms.

Die gebeure in die gelykenis vertel dat die eerste twee werkers gewoeker/geleef het in die hede, en kon so later saam met hulle heer in sy vreugde deel. Wat nou gedoen is, het dus gelei tot vreugde vorentoe. En die derde werker? Hy het die sekerheid van die toekoms in bewaring gehou en nie in die hede voluit geleef nie. En omdat hy nie nou, in die hede voluit wou leef en wou woeker met die geld nie, is hy aan die einde, later, in die toekoms, as onbetroubaar en lui bevind.

Ook ons, broers en susters, leef in baie opsigte tussen die hede en die toekoms. Goed, dit is ook so dat sommiges eintlik net in die verlede en hede lewe, en wel in die sin dat hulle toelaat dat wat in die verlede gebeur het 'n ongesonde en verkeerde invloed op hulle hede/hulle hier en nou uitoefen (so asof God byvoorbeeld nie werklik die sondes van gister en eergister afskryf nie). Dit laat ek egter vanaand daar. Vanaand wil ek hê moet u en ek meer spesifiek kyk na nou en netnou, nou en more, nou en oormore, nou en volgende jaar, nou en die toekoms.

Ons almal weet, broers en susters, dat God ons eendag weer sal kom haal. Dat Jesus Christus weer gaan kom. Of dat nou by ons dood is, of by die wederkoms, sal ons nie weet nie. Feit is egter, dit sal gebeur, en dit sal met ons almal gebeur. Ons sal die Here (weer) sien!
Hoe leef ons elke dag in terme van hierdie feitlikheid in die toekoms? Ek dink daar is min of meer twee moontlikhede wat ons hier kan noem, twee moontlikhede wat ook in die gelykenis na vore kom.

Die eerste moontlikheid is dat mense so bang is vir die wederkoms van Christus, dat hulle hierdie dag so vrees, dat dit hulle verlam en dat die lewe hier en nou net uit die bewaring daarvan bestaan. Daarmee saam gaan ook gewoonlik die gedagte van die oortollige goeie werke. Ek moet nou so goed lewe dat God eendag nie 'n ander keuse sal hê as om my te aanvaar nie. Daarom: alles wat ek vandag doen moet ek vir myself doen en so sorg dat God eendag, op grond van my goeie werke, my sal wil ken.

Daar is egter ook 'n tweede moontlikheid om jouself te rig op Christus se wederkoms, broers en susters, en dit is om daarna met blydskap en verlange uit te sien. Hierdie blydskap en verlange kan nie op 'n ander plek begin as in die geloof nie. En dan in besonder in geloof op God se beloftes. Waar mense, wanneer God belowe dat iemand wat glo, nooit sal sterwe nie, dit werklik glo. Met die gevolg dat die mens wat so glo raaksien dat hy/sy reeds deur God aangeneem is, reeds die lewe het (dit dus nie eendag eers daar sal ontvang nie), en daarom nou voluit kan en moet begin lewe.

Of, anders en baie korter gesê: hulle wat die wederkoms vrees, probeer oorleef, maar hulle wat daarna uitsien, wat uitsien om eendag die vreugde saam met hulle Heer te deel, hulle begin te leef (presies soos dit in die gelykenis gebeur).

Wie van u, broers en susters, sal 'n motor by 'n motorhawe gaan koop, dit swaar afbetaal, en dit na 'n paar jaar aan die motorhawe gaan teruggee omdat u dit nie een enkele dag gebruik het nie? Dit klink absurd. Maar net so, broers en susters, moet 'n paar van ons die Bybel wat ons met ons doop of aflê van openbare geloofsbelewenis ontvang het, aan die skenkers daarvan teruggee. Of dalk aan die winkel waar ons dit gekoop het omdat ons dit nie gebruik het nie.

Net so, broers en susters, waarsku die gelykenis ons dat die gevaar groot is dat 'n mens eendag, wanneer die Here weer kom, dalk jou lewe aan die Here moet teruggee met die gedagte: dit is ongeleef. Met die gedagte: ek het dit nie gebruik nie.

Die vraag vanaand aan ons is dus broers en susters, hier waar ons so pas aan die tafel van die Here aangesit het: lewe ons of oorlewe ons? Lewe ons of bestaan ons net? Wat het God vandag aan hierdie tafel vir ons uitgedeel? Sy liggaam en sy bloed. Of anders gesê: die lewe. Die ware lewe. En ware lewe in dié sin: ek hoef nie meer te spook en te spartel om self in die hemel te kom nie. Ek hoef nie te leef met 'n vrees vir daardie dag nie. Inteendeel. Ek kan leef met 'n verlange daarna, met blye uitsien na daardie dag.

So 'n gesindheid, broers en susters, maak my los van my lewe en van myself. Dit laat my werklik begin lewe, en dan nie net vir myself nie, maar ook vir ander. Dit laat my die lewe verdiep en vermeerder. Verdiep vir myself, en vermeerder vir ander. Want dit bly nou maar eenmaal een implikasie van die evangelie: ek kan so lewe dat ander ook kan begin lewe. Die evangelie en Christus kom so in my lewe, dat ander ook so begin lewe.

Of, broers en susters, gaan ons die lewe gebruik as basis op grond waarvan ons kan kla en mor? En ander ook kan laat kla en mor. So gou en so maklik word ons 'n koor van swaarmoediges en negatiwiteit. En dit maak ons, en die rondom ons, lam. Kom ons wees maar eerlik.

Ons sal hieroor egter eendag verantwoording moet doen. Dit moet ons ook weer vir 'n slag hoor. Die keuse is egter ons s'n. Of ons sal hoor: goeie en getroue slaaf! Jy het geleef en laat leef. Of ons sal hoor: jy is ‘n slegte en lui slaaf!

Hoe lewe u en ek, broers en susters? Ja, in ons omstandighede? Watter invloed het dit op die mense rondom ons? Gee ons vir mekaar die lewe, of maak ons mekaar dood? Sal ons eendag by die groot maaltyd tereggewys/weggewys word, of sal ons saam in ons Heer se vreugde deel?

Jesus het nie tussen ons kom leef om maar net in stand te hou nie, nee, Hy het gekom om ons lot te verander, ons die lewe te gee. Daardie lewe het ons vandag simbolies weer ontvang. As dit nie lei tot voluit lewe nie, het ons eintlik ‘n oordeel oor onsself geëet en gedrink!
Amen