Openbaring 21:1-8

Sy tafel, ons ewige tuiste



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer 'n mens vir 'n lang ruk nie by die huis was nie, dalk weg was vir werk, dalk weg was met vakansie, is niks darem so lekker om by jou eie huis se voordeur in te stap nie. Want dit is mos maar so, broers en susters: daar is geen beter plek om jou voete in te stoot as onder jou eie tafel nie, geen koffie is so lekker as jou eie koffie in jou eie beker nie, en geen bed slaap so lekker as jou eie bed nie. Daarom ook die bekende spreekwoord: oos, wes, tuis bes.

Vir die gelowige, broers en susters, is daar egter ook 'n ander huis, 'n ander tuiste, waarheen ons op pad is, en ja, waarna ons soms miskien 'n bietjie meer moet verlang. Hierdie huis is ons eendag se plekkie by God, daar waarheen ons gaan nadat ons nie meer hier sal wees nie. Daar waar ons God se teenwoordigheid, self verheerlik, volledig sal ervaar.

Die Bybel, broers en susters, praat van hierdie ander tuiste van ons as die hemel. En wanneer Johannes vir ons hierdie eendag se tuiste vir ons beskryf, maak hy gebruik van 'n besondere beeld, die beeld van 'n bruid. Die pragtige stad, sê hy, is getooi soos 'n bruid vir haar bruidegom.

En wat is mooier as 'n bruid, broers en susters? Een van die voorregte van predikantwees is seker om by elke troue die bruid die mooiste van almal te kan sien. En, moet ek byvoeg, ek het nog nooit 'n lelike bruid gesien nie. Ja, miskien 'n bruidegom hier en daar wat kon doen met 'n verbetering of twee, maar nog nie 'n bruid nie. 'n Bruid, wat eintlik met al die prag en mooi wil sê: ek sal altyd by jou bly, daar is hoop vir more, iemand gee vir jou om. Dit, broers en susters, is die beeld van die ander tuiste waarheen ons eendag gaan. 'n Beeld wat ons eintlik daarna moet laat verlang.

Wat is egter die realiteit waarin ons leef? Die antwoord is eenvoudig maar hard: 'n baie groot gedeelte van die wêreld waarin ons vanoggend wakker geword het, nie lyk soos 'n bruid pragtig aangetrek vir haar bruidegom nie. Want 'n deel van die wêreld waarin ons vanoggend wakker geword het, skree van smart. Want nog 'n tiener het teen dagbreek sy lewe geneem. Sonder 'n briefie. Sonder verduideliking. Al wat oorbly is 'n verslae pa en ma. En eergister moes nog 'n jong vrou haar man by die graf groet omdat hy, as polisieman, net omdat hy ander wou beskerm, doodgeskiet is.

Net so, broers en susters, is 'n ander deel van die wêreld waarin ons vanoggend wakker geword het, nie soos 'n bruid wat wag op haar bruidegom nie, maar 'n wêreld vol ontnugtering. Want nog 'n leier is aangekla van oneerlikheid. Nog miljoene is genoem wat deur korrupsie verduister is, nog misdadigers het 'n ligte straf gekry vir gewelddadige oortredings, en nog iemand is omgery deur 'n dronk motorbestuurder.

En 'n ander deel van ons wêreld is vanoggend totaal verslae. Want nog 'n dogtertjie is daar haar vader gemolesteer, nog 'n moeder het haar en haar kinders vergas, en nog 'n bejaarde is vermoor.

Maak dit nie alles, broers en susters, dat ons soms baie sterk begin verlang na ons ewige tuiste nie? En wat meer is: Johannes sê selfs dat wanneer ons daar kom, al ons hartseer weggevat sal word. Selfs ons trane oor die wat ons moes agterlaat, sal weggevee word.

Dieselfde hande wat alles geskep het, sal daar ons wange aanraak. Dieselfde hande wat die berge gemaak het, wat magtige storms en orkane laat gebeur, sal ons gesig liefkoos. Ja, dieselfde hande wat pynlik ineengekrimp het toe Romeinse spykers daardeur geslaan is, sal ons gesig vashou en ons trane afvee. Vir altyd. Daar sal nooit weer die ontnugtering, die hartseer, die verslaenheid en smart wees wat ons in en by ons aardse huise beleef nie. Alles sal nuut wees. Soos ons dit graag sou wou hê.

Daarom eerlik die vraag: laat dit ons nie verlang na ons ewige huis, ons ewige tuiskoms nie? Natuurlik, broers en susters, of ten minste, ek hoop dit laat ons verlang om so nuut, sonder hartseer, by God te wees. Inteendeel. Ons gaan binnekort daar wees. Ons is nou nader daaraan as toe ons vanoggend in die kerk kom sit het. Ons kom dit nie altyd agter nie, maar elke oomblik van lewe bring ons nader aan hierdie nuwe, ewige lewe. Met elke asemteug word 'n bladsy van ons lewens omgeblaai. Elke dag is nog 'n mylpaal wat bereik is. Ons is nou nader aan daardie huis as ooit tevore.

Beteken dit alles egter, broers en susters, dat ons net vir hierdie huis moet wag, dat ons maar net daarna kan verlang, dat ons dit net eendag sal beleef? Die antwoord op hierdie vraag is nee. Want die feit dat ons vanoggend aan die tafel van die Here, aan die maaltyd van die Here, as feesmaaltyd, gaan aansit, bring daardie ewige tuiste tot hier by ons. En wil ons leer en troos dat ook hierdie lewe maar 'n tuiste mag wees. En kom ek verduidelik:

Eendag by God sal ons volledig in sy teenwoordigheid wees, maar by sy tafel is God ook teenwoordig, deur sy Gees teenwoordig. Ook hier kan ons dus reeds iets beleef van die eendag vorentoe.

Daar sal God ons trane afdroog, daar sal hy ons smart wegneem, al die hartseer, al die bekommernis. By die tafel doen God dit egter ook. Want deur sy teenwoordig¬heid by wyse van die brood en wyn wil Hy ons nou ook troos, ons trane afvee, ons bekommernis weggeneem.

Want deur die tekens van brood en wyn wil Hy vir ons sê: Ek is in beheer, Ek het alles oorwin. Selfs die dood. Niks kan julle van my liefde skei nie. Nie dood nie, maar ook nie smart nie, nie bekommernis nie, nie gebrokenheid nie, nie verslaenheid nie. Niks nie. En wat meer is: Ek is by julle tot die voleinding van hierdie wêreld.

Voor ons weet, broers en susters, sal ons vasgestelde aankomstyd, die afspraak wat God met ons gemaak het, die einde van ons lewe aanbreek. Voor ons weet, sal ons hierdie stad wat Johannes by wyse van hierdie beelde hier in Openbaring 21 beskryf, binnestap. Miskien sal bekende gesigte daar op ons wag. Sal ons hoor dat hulle wat ons liefgehad, ons naam roep. Maar beslis sal daardie hande wat op 'n keer vir ons deurboor is, oopgaan en om ons vou. Ons in sy huis verwelkom.

Daardie selfde hande, broers en susters, gaan ook vanoggend vir u en vir my oop. As u mooi kyk, sal u reeds die Gasheer aan die kop van sy tafel sien sit. Waar Hy na u roep. Waar Hy uitroep: kom almal wat honger en dors het, kom en word so versadig dat die hartseer, smart en bekommernis van hierdie wêreld vir julle draaglik word. Kom smaak iets van die ewige huis aan die tafel in hierdie huis. Kom ervaar hier iets van my teenwoordigheid in my ewige huis aan hierdie tafel in hierdie huis.

En staan dan hier op, gaan lewe soos nuwe mense. Want kyk, ek maak alles nuut. Eendag dag, maar ook hier. Vir die hier, vir die nou, het Ek hierdie tafel gegee. Kom daarom, kom en begin weer lewe.

Mag u, broers en susters, met hierdie versugting, hierdie begeerte, hierdie behoefte in u hart vanoggend uit die banke opstaan, en na sy tafel kom. Mag u aansit aan hierdie tafel u die nuutgewende krag gee om more voluit te gaan lewe. En mag u ervaring aan hierdie tafel u net meer en meer laat verlang na die ewige tafel in die ewige huis. Want maak nie saak hoe heerlik dit is om jou eie voordeur oop te stoot nie. Dit is nie ons ware tuiste nie. Ons ware tuiste is by God. Mag ons in die geloof so volhard dat Hy ons eendag by sy voordeur sal ontvang.
Amen