Markus 10:46-52

Teken(s) van hoop



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons sien elke dag rondom ons duisendvoudige gestaltes van nood, seerkry en swaarkry. Ons sien hoe die hele wêreld vasgevang is in die greep van ellende. Ons sien soveel mense met pyn en hartseer in hulle lewens: ‘n Bedelaar by die voordeur, ‘n man wat werk soek, ‘n sterwende geliefde, ‘n verwaarloosde kind, ‘n pasiënt wat op die uitslag van die dokter se toetse wag, ‘n alkoholis wat sy vrou en kinders vir ‘n bottel verruil het, nog ‘n huwelik wat dit toe nie gemaak het nie, ‘n kind wat hand uitruk en ‘n vreemde koers inslaan, ouers wat by die graf van ‘n kind moet staan, mense wat stoksielalleen voel, mense wat die druk van ons tyd net nie meer kan hanteer nie. En u sou beslis ‘n paar tot hierdie lysie kon toevoeg.

Duisende gestaltes van die nood ... en dan wonder ‘n mens: Waarom leef ek nog? Wat help dit tog ek glo? Waarom verander die Here nie die wêreld nie? Waarom straf God ons so? Is my, is ons, sonde dan so onvergeeflik en is my, is ons, skuld dan so groot?

Ons sal nooit, broers en susters, genoeg antwoorde op al ons vrae kry nie. Baie mense het al probeer antwoorde gee. Party sê: Dit is ‘n toets vir ons geloof. Ander weer sê: die dinge wat oor ons pad kom, wil ons sterk maak in die geloof. Oor een ding is die Bybel egter baie duidelik: ons mag nooit enige pyn of hartseer, nood of ellende sien as straf vir ons sonde nie. Want God het mos klaar gestraf. Dit is tog hoekom Christus moes sterf.

Lyding, hartseer en kommer in die wêreld is lankal daar, al van die sondeval se tyd af. En alle hartseer en siekte, dood en ellende is maar net tekens van die onvolmaaktheid van hierdie wêreld. Maar Goddank, broers en susters, die lewe is nie net vol van tekens van die sondeval en van die onvolmaaktheid nie. Want daar is ook tekens van hoop in hierdie wêreld van ons.

Ons leef nog, en ons glo nog, en ons oorleef nog die nood van hierdie wêreld omdat Jesus Christus op ‘n keer deel van ons aardse lewe was en omdat Hy, toe Hy saam met ons mens was, vir ons as mense tekens van hoop nagelaat het. Hy het die blinde Bartimeus weer laat sien. En nog baie ander wonders gedoen. En elkeen van daardie wonderwerke hou vir ons ‘n belofte van hoop in. Elkeen van daardie wonderwerke vertel vir ons iets van die koninkryk van God.

En let wel: dit vertel nie net vir ons dat die koninkryk weer gaan kom nie. Dit vertel ook vir ons iets van hoe dit sal wees – sonder siekte, sonder dood, sonder ellende, sonder seer, sonder swaarkry.

En juis daarom, broers en susters, is elke wonderwerk wat Jesus gedoen het, vir ons ‘n teken. ‘n Teken wat vir ons wys hoe lyk die koninkryk. Die koninkryk waar God in beheer is. Waar God heers: oor al ons ellende.

Verder moet ons raaksien, broers en susters, dat elke wonderwerk wat Jesus gedoen het, ook maar net voorlopige tekens was. Want diegene wat Hy genees het sou weer siek word, en die skares vir wie Hy kos gegee het sou weer honger word. Die wat Hy uit die dood opgewek het, sou tog uiteindelik weer sterf. Daarom: daardie wonder van Jesus, soos hier waar Hy die blinde Bartimeus genees, is beloftes, beloftes wat heenwys na die koninkryk.

Verder: die wonderverhale wil ons oë oopmaak vir die gebrokenheid, lyding, ellende en die pyn wat die sonde en sy gevolge inhou sodat ons ook daarteen sal begin protesteer. Sodat ons sal verlang na die koninkryk. Ja, sodat ons sal aanhou bid dat dit tog gou moet kom.

Hierdie wondervertelling wat ons gelees het, verkondig eintlik op ‘n aangrypende wyse aan ons dat God omgee en dat Hy help. Want hier sit hierdie blinde man langs die pad en hy roep: “Here, ontferm U tog oor my!” Dit is ‘n roep vol verwagting … vir die skare is hy maar net nog ‘n hulpelose langs die pad – maar Jesus hóór sy roepstem en Jesus help hom.

En deur hierdie wonderwerk te doen, belowe Jesus aan ons: vir die wat glo, wag daar baie méér as net dit. Nou is dit maar enkele wonders wat vooruitwys na die voleinding, maar dán sal alle siekte, lyding en die dood finaal verdwyn. Jesus genees nie nou alle siektes nie. Hy wek nie nou alle dooies op nie, maar daar sal ‘n tyd kom dat dit wel sal gebeur.

Maar nou? Wat ons nou kan doen, is om moed te hou en aan te hou glo! Want deur die geloof kry ons deel aan hierdie volmaakte koninkryk wat aan die kom is. In tye van droogte, swaarkry, nood, ellende, is geloof die handeling waardeur ons kan vasgryp aan die hand van God.

Want in die geloof maak hierdie wondervertelling by ons ‘n hoop en ‘n verwagting wakker. Daarom kan ons met hoop ook ons swaarkry verdra, want ons wéét: Jesus Christus het Hom ook oor ons ontferm. Ons kan op sy sorg en op sy liefde reken.

Hierdie blinde man kon weer sien. Hy het opgestaan en agter Jesus aangeloop. Hy glo nou!

Ons moet ook glo. Ons moet in die geloof aan Christus vashou, want Hy het vir ons plek voorberei in die koninkryk van God. En in die geloof sal ons deel hê aan daardie koninkryk.

So, ons moenie moedeloos raak as dit moeilik met ons gaan nie. Ons moet nie toelaat dat al die hartseer en al die swaarkry ons blind maak nie. Ons mag nie ophou hoop nie.

Want Jesus het met sy koms die koninkryk van God laat aanbreek. En ons het deel aan daardie koninkryk.

Toe Hy hier op aarde was, het Hy dit vir ons belowe. Hy het wonders gedoen en mense se ellende verander en daarmee het Hy gesê: Eendag sal dit vir altyd so wees! Hou goeie moed!
Daar is baie mense wat swaarkry. Wat groot hartseer in hulle ronddra. Wat die letsels van die sonde, en wat die seerkry van hierdie onvolmaakte bedeling al intens ervaar het. Maar ons moet ons nie blind staar teen die ellende nie. Onthou dat Hy dinge kom verander het. Onthou dat Hy vir ons kom hoop gee het. Onthou die tekens! Die blinde Bartimeus kon weer sien. En weet dat die koninkryk waarheen ons op pad is, beter is as die beste waarvan ons ooit sou kon droom!

Meer nog: ook vanoggend laat God weer ‘n wonder gebeur. Voor ons eie oë. ‘n Wonder waarvan nie maar net gehoor of iewers van gelees is nie, maar self deel van is. Wat is hierdie wonder? Die tafel. Sy tafel.

Want wat sê God vir ons alles met hierdie tafel? Dat die wonder gebeur dat wanneer ons in geloof van hierdie brood eet en van hierdie wyn drink, ons weer eens nuut gemaak word. Weer eens deel kry aan die koninkryk.

Maar ook: dat ons hier by ‘n feesmaal kan aansit. ‘n Feesmaal wat iets wil sê van die ewige feesmaal by God. Dat soos ons nou hier kom aansit, ons almal eendag saam daar by God sal aansit, en so gevoed sal word dat ons nooit weer honger en dors sal wees nie.

Ja, broers en susters. In ons wêreld is hierdie tafel vandag ‘n teken. ‘n Teken van iets wat nog gaan kom. ‘n teken van iets wat ons almal wat glo, eendag deel van gaan hê.

Dit is ‘n teken van hoop! Dit is ‘n teken wat sê ons is nie alleen nie. God is by ons. Dit is ‘n teken wat sê dat ander ook saam met ons hierdie lewe lewe. Dat ons mekaar het. Mekaar kan opsoek. En saam, soos ons nou saam aan hierdie tafel gaan aansit, hierdie lewe kan lewe, mekaar kan ondersteun, met mekaar kan deel, en mekaar kan liefhê.

Kom ons sit vanoggend hier aan, en ons sê vir God, terwyl ons elkeen so stil by onsself sit en bid, dankie dat God ons sigbaar toon dat Hy by ons is. Kom ons sê vir God dankie vir mekaar. En kom ons staan hier op en word self tekens van hoop, tekens dat die koninkryk werklik tot by ons gekom het!
Amen