2 Korintiërs 5:11-21

Versoening in praktyk



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die vroeë oggendure van 7 Mei 1945, so vertel die historici ons, het die Tweede Wêreldoorlog in ‘n dorpie met die naam Reims formeel tot ‘n einde gekom. In hierdie dorpie het die vegtende partye, teen die agtergrond van stukkende geboue, duisende vars grafte en hospitale vol verminktes verskillende vredesverdrae gesluit. En deur die strate, in die stegies, oor die vlaktes en valleie heen het dit weergalm: Uiteindelik, die oorlog is verby!

Vir baie mense was dit egter nie die einde nie. Talle vegtende faksies en groepe het voortgegaan met oorlog en stryd. Die groot aankondiging waarop almal gewag het, het hulle nie geraak nie: óf hulle het dit nie gehoor nie, óf hulle wou dit nie hoor nie, óf hulle wou dit nie glo nie. In die stede en dorpies het sjampanjeproppe geskiet, maar in die bosse het hierdie groepe mekaar geskiet. Daar was dus vrede, maar ook nie. Versoening tussen groepe, maar ook nie. Tragies, sou ons sê.

God, broers en susters, het, soos in Reims ‘n vredesverdrag gesluit is, ook ‘n vredesverdrag gesluit. Met die hele wêreld. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en Hy reken ons ons oortredinge nie meer toe nie (2 Kor 5:18-19). Hy het alles in werking gestel om die verdrag ‘n werklikheid te maak; Hy het geen steen onaangeroer gelaat nie, veral nie dié een voor Jesus se graf, die graf van sy Seun nie. Hy het selfs die vredesverdrag nie met ink onderteken nie, maar met die bloed van sy Seun. En as ons dit nou nog nie glo nie, kyk maar net na die tafel vanoggend voor u. Dit is die teken, dit is die bewys, dat God hierdie vredesverdrag met ons gesluit het.

Wat is die inhoud van hierdie vredesverdrag wat God met ons gesluit het, broers en susters? Die boodskap wat die eerste volgelinge van Jesus, die apostels, en alle Christene van daardie dag af verkondig het en nog steeds verkondig: Die vrede het gekom. Vrede tussen God en die mens is ‘n feit. Dit is afgehandelde geskiedenis. Soos Kolossense 2:14 dit sê: ’Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem’.

Maar tog, broers en susters, as ‘n mens vir ‘n keer krities na die wêreld, na alles en almal rondom ons kyk, wil ‘n mens amper sê: die wêreld, ons, wil dit nie glo nie! Dit lyk asof mense, ja, gelowige mense, kerkmense, net in teorie (in hulle koppe) van hierdie versoening kennis geneem het. Want so baie wat hierdie boodskap van versoening al gehoor het, en oor en oor gehoor het, bly in die bosse rondsluip, en bly oorlog voer teen God en ons naaste.

Dit wil amper lyk of mense hulle ore toestop vir hierdie versoeningsaanbod, vredesaanbod van God. Want so baie wat hierdie boodskap al oor en oor gehoor het, bly maar eenvoudig voortwoeker in ‘n ou lewenstyl van onvrede en vergelding, van haat en onversoenlikheid. En skiet daarom almal wat binne trefafstand kom. Soos Van Ruler gesê het: so baie mense, so baie gelowiges, het professionele oorlogmakers geword. Teoretiese gelowiges. Praktiese ongelowiges.

Baie mense wat so lewe, broers en susters, is nie inherent boos nie. So baie wat werklik glo wil werklik leef soos God vra. Maar hulle doen dit nie. Miskien is dit omdat hulle nie hard genoeg probeer nie. Maar miskien is dit ook omdat hulle so goed is in die kuns van kamoeflering. Waar hulle juis die kerk en die kerkmure gebruik om hulle van die ware evangelie weg te keer. Niks of niemand kan hulle van ‘n verkeerde lewenswyse oortuig nie, want kyk, hulle kom mos in die kerk, hulle sit mos aan die tafel van die Here aan.

Dit is vir hierdie mense, broers en susters, en ook vir ons — wanneer ons so lewe — dat Paulus in 2 Korintiërs 5:20 sê: ‘Aanvaar die versoening wat God bewerk het!’ Aanvaar dit, of verwerp dit. Verwerp dit, en jy kan maar gaan leef soos jy wil. Maar as jy dit aanvaar, gaan lewe dit.

Hoekom, broers en susters, is hierdie so belangrik? Hoekom kan die kerk vanaf sy kansels hierdie boodskap so reguit en duidelik verkondig? Omdat versoening tussen God en die mens deurslaggewende implikasies het vir versoening tussen ons en ons medemens. Trouens, in die Bybelse sin van die woord kan jy op geen manier die versoening van God en die versoening tussen mense skei nie. Wie met God versoen is, word versoen met sy medemens. Wie bely dat Hy met God versoen is, maar onversoenlik teenoor sy medemens is, ís nie met God versoen nie. Die een hoort by die ander, hulle is soos vinkel en koljander. 1 Johannes 4:20-21 stel dit so: ‘As iemand sê ‘Ek het God lief’, en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet sy broer ook liefhê’,

Prakties beteken dit, broers en susters, waar ons nou hierna saam met almal in die gemeente aan die tafel van die Here gaan aansit, baie een voudig en baie duidelik die volgende: wie hier prakties kom aansit, hier saam met ander die versoening van God kom smaak en opnuut daaraan deel kry, kan tog nie hier van die versoening hoor, dit smaak en proe, en dan gaan opstaan en dan, by wyse van spreke, oorlog gaan maak nie. So iemand, leer die Woord ons, is ‘n teoretiese gelowige, maar ook ‘n praktiese ongelowige. So iemand, en dit is ‘n harde woord, ken God nie, is nie ‘n kind van God nie.

Vir God egter, broers en susters, maak gister nie saak nie. Daarom roep Hy ons almal weer op: Kom, kom sit aan, kom aanvaar die versoening. En gaan leef dit dan in die praktyk. Alleen so, broers en susters, sal ons in hierdie gemeente vir mekaar kan omgee. Alleen so sal ons uitvoering gee aan God se gebod.
Amen

Gebed
Here, ons moet u om vergifnis bid.
Ons is nie u vrede in hierdie wêreld nie,
ons is nie u heil en u hulp
vir die verdwaasde en gebroke mense nie,
want ons is self verdwaas, kleingeestig, onversoenlik.
Ons saboteer so dikwels u oogmerke
en verwar die wêreld.
U kan ons tot eenheid lei,
U wil ons saam aan hierdie tafel tot eenheid lei:
laat ons almal
wat in kampe verdeel is,
ten minste die gekheid daarvan insien
en daaroor seer voel:
laat ons die toestand nie maar net aanvaar
soos ons dit aantref nie:
laat ons vanuit u toekoms dink en handel,
uit die krag van u belofte
dat U alles — hoe, weet ons nie —
nuut sal maak.
Amen