Psalm 139:1-18, 23-24

Vrees, verwondering en vrymoedigheid



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Psalm 139 is ‘n Psalm vol emosie, ‘n Psalm wat iets sê oor opregte menslike ervarings. Drie verskillende emosies, glo ek, kan onder andere in hierdie pragtige Psalm aangetoon word: vrees, verwondering, en vrymoedigheid. So verstaan, broers en susters, is hierdie Psalm daarom eintlik ook nie net elkeen van ons vanoggend hier, in ‘n sekere sin, se lewensverhaal nie, maar beskryf dit ook wat met ons elkeen behoort te gebeur wanneer ons aan die tafel van die Here kom aansit, wanneer ons bewustelik in die teenwoordigheid van God kom.

Kom ek verduidelik, en kom ons begin by die Psalm. Wanneer Dawid aan die Here dink, vervul dit hom in die eerste plek met vrees. Want Dawid besef: daar is niks wat hy vir God kan wegsteek nie. God weet, sê hy, wat hy doen, wat hy nog gaan dink, wanneer en waarheen hy reis, ja, God weet selfs watter woorde uit sy mond gaan kom.

Wat meer is, sê Dawid, dit help ook nie eers om vir God te wil vlug, om vir Hom te probeer wegkruip, om te probeer om uit sy blik te ontsnap nie, want God is oral. Daar is nie een plek, sê Dawid (bely eintlik/erken), waar God nie is nie. So, vir God kan jy nie wegkruip nie. God weet alles van ons af, altyd, oral. En dit, broers en susters, vul hom met vrees. Dit maak hom bang.

Dawid bly egter nie vassteek by hierdie skokkende besef nie. Uitgaande van die besef dat God altyd by Hom is, begin Dawid oor God te dink. En tot watter wonderlike besef kom hy? Dat God, omdat Hy altyd by Dawid is, nog altyd vir hom op wonderbaarlike wyses gesorg het. Van nog voor hy gebore is, en daarna in elkeen van sy lewensdae.

En dit vul hom met verwondering (v 14). Ja, God kyk regdeur hom, en daarom kan hy vir God niks wegsteek nie. Niks nie. En dit vul hom met vrees. Maar omdat God by hom is, elke dag, weet God ook wat hy nodig het. Wat meer is, hy sien hoe God altyd voorsien het, in alles. En dit vul hom met verwondering.

En dit lei tot ‘n derde emosie by Dawid, naamlik vrymoedigheid (vers 23-24): vrymoedigheid om God te vra om hom verder te deurgrond, hom verder te ontbloot, sy hele lewe nog meer oop te vlek, sodat hy presies kan weet hoe hy voor God moet lewe.

Is dit ook waar van ons elkeen se lewe, broers en susters? Lewe ons ook so opreg voor God? Of dink ons dat ons, met ons elkeen se lewe, voor God kan wegkruip? Miskien tog — al is dit net soms. En kom ek sê iets meer hieroor.

Verskillende mense (of dan groepe mense) weet verskillende goed van ‘n mens af. Wanneer jy in die straat stap, tussen massas mense, kan jy eintlik wegkruip. As niemand op straat jou erken nie, weet jy: niemand hier weet eintlik iets van jou af nie. Jy is eintlik maar net nog ‘n gesig op die hoek van ‘n besige straat. Kom jy egter Sondag kerk toe, ken meer mense jou, en weet hulle so ietsie meer van jou af. Hier ken hulle ten minste my naam, weet wie ek is, weet wat ek doen, en weet wie my familie is.

In die gemeente het ek vriende. En hulle weet meer van my af. Omdat hulle vriende is, weet hulle heel waarskynlik van my suksesse, ken hulle my persoonlikheid, weet hulle hoe ek oor sekere sake voel. Dinge wat ek egter nie wil hê hulle van my moet weet nie, kan ek egter nog soms met sukses vir hulle wegsteek.

Maar gaan ek huis toe, word ander se kennis van my meer. My gesin ken my beter as alle ander mense. Die kring is meer intiem, tyd wat saam gespandeer word, is meer. Daarom, kennis van wie en wat ek is, is daarom ook meer.

En dan, broers en susters, dan is daar nog altyd God met wie rekening gehou moet word. Kom sit ek aan die Nagmaalstafel, kom sit ek by wyse van spreke reg voor God, dan besef ek: maar hier word alle kennis van my ontbloot. Hier weet God alles van my af. Hier aan tafel besef ek: dit is eintlik verskriklik om so voor God te verskyn. Want Hy weet alles van my af.

En wat gebeur dan soms? In plaas daarvan dat dit miskien ook vir ‘n slag vrees by ons laat opkom, reken ons dat ons ons lewens vir God kan bedek, dat ons vir God sekere dinge in ons lewens kan wegsteek. En hoe ironies is dit nie, broers en susters! Want die hele boodskap van hierdie tafel sê: ons hoef nie ons lewens, ons doen en late, vir God te probeer wegsteek nie. God weet alles van my af, in elk geval. Nee. Ons kan maar net bely.

Want wat gee God as ons met so ‘n gesindheid kom aansit? Nie oordeel nie, maar vergifnis. Ontvangde vergifnis wat behoort te lei, soos in die Psalm, tot oorstelpte verwondering. Verwondering oor ‘n God wat vryspreek en nie veroordeel nie, wat ontvang en nie wegstuur nie, wat versorg en nie verwerp nie.

En wie dit raaksien, wie so anders oor God begin dink, sal nie anders kan, om soos Dawid in die Psalm, die laaste tree te stap en te vra: Here, maar wat nog? Sê vir my wat daar nog is wat skeiding maak, ek wil dit uit die weg ruim, deurgrond my, ondersoek my, en wil opreg voor U lewe, want ja Here, U is my lewe!

Mag dit, my broer en suster, vanoggend u elkeen se ervaring aan God se tafel wees. Mag ons elkeen beweeg van vrees tot verwondering tot vrymoedigheid. En met ‘n blye hart hier opstaan en gaan lewe soos God aan ons getoon het ons moet.

Mag ons elkeen, broers en susters, wanneer ons vanoggend kom aansit, sien hoe ons lewensverhaal voor ons afspeel. Mag God ons wys hoe ons lewens regtig lyk. En mag ons in die tekens van die brood en wyn sien dat God ons nuut wil maak. En mag ons opstaan en nuut gaan lewe.

Terwyl ons onthou: aan sy tafel hoef ons nie vir God iets te probeer wegsteek nie, want God weet in elk geval alles van ons af. En hoe skrikwekkend is dit nie om so in God se teenwoordigheid te kom nie! Skrikwekkend, as ons sou reken ons kan God se blik ontsnap. Skrikwekkend as ons reken ons het sy vergifnis nog nie nodig nie. Skrikwekkend omdat ons lewens na die tafel eintlik net uit vrees sal bestaan.
Amen