Psalm 43

Vreugde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Seker een van die aangrypendste beskrywings van iemand se bekering, naamlik die van die briljante filosoof en wiskundige Pascal, was vir ons so amper-amper verlore indien sy dogter, na sy dood, nie opgemerk het dat een van sy broeke se some dikker was as die ander nie, en toe sy daarin loer, op ‘n stukkie papier afgekom het waarop hy sy eie bekering beskryf het nie. Ek wil net enkele grepe uit hierdie briefie vanoggend aan u voorhou.

Jaar van genade, 1654.
Maandag, 23 November, omtrent half elf die aand tot net na middernag.
Vuur, die God van Abraham, Isak en Jakob se vuur het oor my gekom.
Nie die woorde van filosowe en wetenskaplikes nie, maar die woorde van God.
My God my God, waarom het ek u verlaat?
Mag ek nie vir ewig van Hom geskei wees nie.
Maar dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is.
Ek het my van Hom geskei, ek het van Hom af weggevlug, ek het my van Hom losgepraat, ek het Hom weer gekruisig.
Maar Hy is vir my gekruisig. Hy het my kom soek.
Daarom het ek nou ewige vreugde.
Ewige vreugde.
Ewige vreugde vir een dag van moeite op aarde.

Sonder twyfel, broers en susters, het ons hier te make met ’n man wat ook die donker kant van die lewe geken het, wat weet wat dit is om onder die las van sonde en skuld te lewe, wat weet wat dit is om deur jou eie toedoen die las van godverlatenheid te beleef. Maar een woordjie bars as’ t ware deur die nate van sy belydenis: Vreugde, vreugde, vreugde, trane van vreugde omdat God dit vir hom alles verander het.

Toe ek hierdie belydenis gelees het, broers en susters, het dit my laat dink aan die trane en na die hunkering van vreugde van iemand anders, naamlik die skrywer van Psalm 43. Ook hierdie skrywer het die donker kant van die lewe geken, trouens, hy bevind homself in alles behalwe positiewe en vrolike omstandighede wanneer hy hierdie Psalm skryf. Hy was in ballingskap, fisies geskei van die tempel, van God se teenwoordigheid. Hy word omring deur ‘n heidense volk (hy noem hulle ‘n godlose bende , valse en misdadige mense) wat hom moontlik voor die hof gejaag het. Hy is geklee in rouklere, en gaan gebukkend onder die smaad van sy vyand. Ook hy ken godverlatenheid: ‘Net U is my skuiling, my God; waarom verstoot U my dan?’

Maar dan bars daar ‘n woord, ‘n belydenis oor sy lippe ‘n woord, bars daar iets regdeur die nate van sy godverlatenheid in vers 4: vreugde. bring my na ‘n heilige berg, na u woning, dat ek by U kan ingaan, en met vreugde oor U kan jubel en juig!

Die vreugde waarvan hy getuig, broers en susters, is nie maar net ‘n vreugde oor God nie, dit is ook ‘n vreugde in God en met God. Dit is vreugde wat, ten midde van enige omstandighede, hoe negatief ook al, deurbars in die lewe van die kinders van God omdat hulle weet: alles kan hoe swart wees, hoe donker, hoe negatief, die Here bly my God. En niks kan dit verander nie.

Of kom ons sê dit anders: die Psalm wil sê dat ware vreugde, blywende blydskap, is alleen in die Here te vinde. Wat nie wil sê dat vreugde nie ook op ander plekke in die lewe gevind kan word nie. Natuurlik kan ‘n mens vreugde vind in jou gesondheid, jou vriendekring, prestasies, kinders, kleinkinders, verhoudinge en wat ook al. Maar, en dit is die eintlike vraag wat hier gevra word, is dit, kan dit blywend wees?

Ons almal ken die antwoord op hierdie vraag: nee. Dit is nie blywend nie. Want alle verhoudinge is broos, prestasies hou by ‘n punt op, die ouderdom tree in en die gesondheid raak minder. Noem maar op.

Blydskap wat bly, kom egter van die Here af. Wanneer ‘n mens in die lewe heeltemal alleen staan, as almal jou ver¬saak het, as jy almal rondom jou teleurgestel het, as jy stoksielalleen staan, kan die vreugde wat God gee, nie van jou af weggeneem word nie.

Meer nog: as jy verleë en verslae voor God staan, met sondebelydenis rou in die keel, met die wete dat jy teenoor God oortree het, met die wete dat jy eintlik gestraf behoort te word, word die vreugde wat God gee, nie eers van jou af weggeneem nie. Inteendeel. Wanneer ‘n mens so voor God gaan staan, met jou swakke menswees, met al jou tekorte en met al die dinge waar jy nagelaat het, bars die vreugde eintlik net opnuut deur in ‘n mens se lewe. Want weer en weer kan jy hoor: my kind, jy gaan vry weg. Jy is nuut. Gaan lewe goed en doen goed.

Wie nog nooit hierdie vreugde ervaar het nie, broers en susters, het nog nooit werklik voor God met sy/haar sonde gaan staan nie. Het nog nooit diep binne-in homself of haarself gekyk om te sien wie hy/sy werklik is nie. Het nog nooit besef dat almal maar iewers te kort skiet nie. Wanneer dit egter gebeur, soos met hierdie Psalmskrywer gebeur het toe hy homself aan die teenwoordigheid van God, God self, gemeet het, om maar net te hoor alles is goed, dan, broers en susters, dan bars ware vreugde in ‘n mens se lewe deur.

Die vreugde om God by jouself te ervaar, om te kan hoor God het jou lief desondanks alles, desondanks jou hele lewe, die vreugde wat in ‘n mens se lewe deurbars wanneer jy hoor God aanvaar jou omdat jy bereid is om te bely, broers en susters, is meer as maar net oppervlakkige pret. Want ware trane van vreugde volg dikwels kort op die hakke van trane van hartseer, trane van vreugde omdat ons weet en ervaar God is ons God en wil ons God wees, volg dikwels op die ervaring dat God verstoot het.

Ook, broers en susters, is hierdie vreugde nie goedkoop nie. Dit is vreugde wat alleen vir ons kom deur verbryseling heen. Dit is vreugde wat alleen gekom het deur bloed heen. Die Psalm sê dit pragtig: alleen by die altaar van God het hy vreugde gevind?

Waar is ons altaar? Natuurlik nêrens anders as die tafel waarby ons vanoggend gaan aansit nie. Waar ons, broers en susters, wanneer ons kom aansit, waarlik vreugde behoort te ervaar. Want wat wil hierdie tafel ook sê?

Dat wat ons nie met geld kan koop nie, wat ek nie met eie pogings kan regkry nie, wat op geen manier vir die mens moontlik is nie, het God moontlik gemaak: dat ons met Hom versoen kan wees. Dat ons nie sonder God deur die lewe hoef te gaan nie. Dat nie eers ons sonde ons van Hom kan skei nie.

Maak dit ons bly, vul dit ons harte met vreugde wanneer ons dit hoor? Loop ons harte oor van vreugde wanneer ons die brood neem en die beker optel? Weet ons wanneer ons hier sit dat hierdie een soort vreugde werklik nooit van ons af weggeneem kan word nie?

As dit so is, broers en susters, as Jesus hier by die tafel en daarbuite in die lewe werklik die bron van ons ware vreugde is, sal ons ook ‘n bron vir hulle sonder vreugde wees.
Amen