Matteus 11:25-30

Ware rus en rustigheid



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Baie mense onderstreep in hulle Bybels Matteus 11:28: ‘Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee’. Dat hierdie versie vir baie gelowiges belangrik is, is nie vreemd nie, want Jesus praat hier van dinge wat ons dikwels aan ons eie lyf ervaar: om hard te werk, uitgeput te wees, oorlaai te wees, en om te kan rus.

Die vraag wat egter hier belangrik is, broers en susters, is wat Jesus hier met ‘rus’ bedoel. Party mense meen dat Jesus hier na liggaamlike rus verwys, dit wil sê, rus vir ons dikwels uitgeputte en oorlaaide liggaam (juis omdat Jesus ook geweet het wat dit beteken om moeg te wees). Ander weer meen dat Jesus hier van sterwensrus (die dood. Die ewige rus) praat. En ander weer reken dat Jesus hier na gemoedsrus verwys (rus van die dinge wat ons soms so tot onrus stem; die dinge wat die gemoed van ons binneste soms so onstuimig maak).

Ek meen egter, broers en susters, dat die rus waarna Jesus hier verwys na iets anders verwys as liggaamlike, sterwensrus of blote gemoedsrus. Hoekom? Omdat Jesus hierdie uitspraak teen 'n baie spesifieke agtergrond maak. En kom ek verduidelik:

Die Fariseërs en die skrifgeleerdes in Jesus se tyd het die mense geleer dat jy alleen in die hemel kan kom as jy aan sekere vereistes voldoen. Die mens moes sekere prestasies kon lewer. Die saligheid is voorgehou as iets soos 'n meriete toekenning, iets wat jy kan verkry deur middel van 'n selfhelp-skema, 'n doen-dit-self-projek. Met ander woorde, elkeen kon sy eie heil uitwerk deur die weg van inspanning en eie pogings.

Die verlossing het vir hulle gewerk in terme van iets soos 'n boekhoustelsel. Elke mens het 'n rekening by God, met 'n debiet- en 'n kredietkant. Aan die een kant word jou sondes aangeteken, en aan die ander kant jou goeie dade. En eendag, het hulle gereken, sal die boeke oopgemaak word. En as jou sondes deur een enkele goeie daad oortref word, dan is jy reg, maar indien anders om, dan is jy weg. En, het hulle gesê, omdat die mens werklik nooit weet of hy/sy werklik by God in die skuld is of nie, moet die mens homself maar inspan om goed te wees en goed te doen.

Of heel anders gesê: die Fariseërs en die skrifgeleerdes het die mense geleer om elkeen 'n rugsak met hulle saam deur die lewe te neem, en, by wyse van spreke, hierdie rugsak met soveel as moontlik verdienstelikhede te vul, verdienstelikhede wat eendag, by die hemelpoorte, die deurslag sal gee. Ja, daar sal ons lewens oopgevlek word, daar sal dan regdeur ons gekyk word, en as die goeie dade nie meer is as die slegtes nie, jammer!

Die Fariseërs en die skrifgeleerdes was in hierdie beskouing aan die een kant reg, broers en susters, en dit moet ons nie miskyk nie. God sal eendag ons lewens oopvlek en regdeur ons kyk. Die Bybel leer ons tog van God se oordeel. Maar waar hulle nie reg was nie, was dat hulle die mense geleer het dat eendag, as jy by die hemelpoort kom, jy jou rugsak sal kan afhaal en al jou goeie werke sal kan uitstal. Dat jy al jou verdienstelikhede langs jou tasse sal kan neersit en vir die Here sal kan sê: ‘Kyk Here, kyk al my goeie werke!’ (soos bv die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het).

Maar nou kom Jesus, broers en susters, en sê Hy in Matteus 23:4 dat die mense so ‘swaar en ondraaglike laste op hulleself gelê het’. So sê Hy, het die mense hulleself oorlaai. Soos pakdiere. En hier, diep binne in die hart — en toets uself gerus maar weer vanaand — het hulle geweldige onsekerheid bly beleef. Want die kwelvraag was (en is!) nog steeds, soos Miga 6:6 dit pragtig uitdruk: ‘Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?’ Sal ek dit maak? Sal God my en my lewe goed genoeg bevind?

Dit is vir hierdie mense, broers en susters, wat ek meen Jesus hierdie woorde in Matteus 11:28 gespreek het: ‘Kom na My toe ... Ek sal julle rus gee’. Hou op om jouself te bekommer oor jou redding! Moet nie laat dit jou vermoei nie! Wees liewers bly, wees bly want Christus het opgestaan. Hy het die vloek van jou sonde gedra, Hy het jou sondes op Hom geneem, Hy het jou straf reeds gedra. Dit het jy tog vanoggend en vanaand aan die tafel beleef en gesien! Wees bly, want die kontrolepunt lê reeds agter jou. In Christus, op Golgota, is jy reeds daar verby. Jy is daar verby, in ‘n sekere sin, toe jy vanaand van hierdie tafel af opgestaan het.

Daar, by Golgota, het God se soeklig reeds oor jou lewe gegaan. Daar is jou tasse oopgemaak en jou lewe oopgevlek. En toe jy daar voor God gestaan het, en die skaal baie duidelik in God se guns geswaai het en nie in jou guns nie, daar het God sy Seun vir jou laat boet. So, gaan maar deur, jy is reeds vrygespreek. Staan maar op van die tafel en weet: alles is reg.

Vergeet dus maar van jou selfhelp-skemas, van al jou doen-dit-self-pogings. Rus van die las wat die toekomstige oordeel van God oor jou bring. Moet jou nie meer daaroor bekommer nie. Span jou liewers in om die wonderlike evangelie te hoor, die evangelie wat verkondig dat ons oor ons redding nie bekommerd hoef te wees nie, dit nie 'n swaar juk en las hoef te wees nie. Want God het voorsien.

Met ander woorde, broers en susters, wat Jesus hier sê is dit: ons hoef nie in onsekerheid te leef onder die las van wette en voorskrifte nie — Hy het reeds ons sondeskuld en las gedra. En omdat Hy dit alles reeds gedra het, is sy las lig en sy juk sag.

Nie, broers en susters, dat ons eendag nie geoordeel sal word nie. Dit moet ons dalk vir 'n slag maar weer hoor. En, om met u baie eerlik te wees, ek weet persoonlik nie met watter vraag ek eendag God tegemoet sal gaan nie, maar een ding weet ek: ons kan die Here met rustigheid tegemoet gaan, juis omdat Hy ons reeds tegemoet gekom het in Jesus Christus. En dit is my troos, en dit bring rus vir my in die gemoed.

Daarom, broers en susters: Kom na My toe, sê Jesus, en jy sal rus vind. Rus, omdat jy jou nie meer hoef te bekommer, dood te bekommer, oor wat eendag voor God sal gebeur nie. Jy kan met vrymoedigheid na God gaan, en jy kan elke dag, tussen al die ander bekommernisse en jou oorlaaide lewe, met een groot sekerheid gaan leef: in alles behoort ek aan God.

Rus u ook só in God? Of het u onrus omdat u nog nooit werklik die evangelie van liefde verstaan het nie. En as u bevry is van die las om jouself te help, wat maak u met u bevryde lewe? Gebruik u dit om God, heel rustig te dien, of soek u en ek elke dag baie angstig na rustigheid en sekuriteit omdat ons die evangelie, hierdie evangelie, nie wil aanvaar nie?
Amen