Johannes 18:15-18; 25-27

Die vreugde en waarde van skuldig staan voor God



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons val een of ander tyd in die lewe. Nie val in die sin van struikel en val nie, maar val in die sin van val in die sonde. Daar waar ons iets verkeerd gedoen of gesê het, en ons dronkgeslaan, beseer en stukkend onder in die kloof van sonde lê, en nie kan glo dat ons so iets kon aanvang nie.

Waar ons onder in die kloof lê, heel waarskynlik ander in die steek gelaat of te na gekom het, maar ook 'n groot stuk stukkend en seer en jammerte in ons eie hart het juis omdat ons nie kan glo dat ons kon gedoen het wat ons gedoen het nie. Juis omdat ons dikwels, broers en susters, nie sonde doen omdat ons dit wou doen nie, maar waar die woorde van Paulus tog so waar in ons lewens geword het: Ek wil die goeie, maar voor ek sien, het ek die kwade of die slegte gedoen. En dan wonder of daar ooit weer 'n pad boontoe is uit die kloof waarin ons ons bevind.

Soos in die geval van Petrus vanoggend in die gedeeltes wat ons saamgelees het. Petrus bevind hom hier diep in die kloof van sonde, vertwyfeling en hartseer. En eintlik is dit ironies, want net so 'n uur of wat tevore was Petrus op die toppunt, alles behalwe diep in 'n kloof. Want toe die soldate Jesus wou arresteer, het hy ewe kordaat sy swaard uitgetrek en by implikasie gesê: `Staan so 'n bietjie een kant toe Jesus, hierdie een sal ek hanteer'. En met oorgawe Malgus se oor afgekap.

Ek vermoed, broers en susters, dat Petrus daar in die tuin 'n geveg te wagte was, maar ek vermoed ook dat Petrus daarom maar so 'n bietjie verslae was toe Jesus hom beveel het om sy swaard weg te bêre. En as Petrus weer sien, is Jesus saam met die soldate op pad die berg af en bly hy alleen agter met 'n besluit wat hy moet neem: moet hy Jesus volg, naby Hom bly, of moet hy liewers in die skadu's bly skuil tot alles oor is en hy dan rustig sy gang kan gaan?

Lukas 22:54 vertel ons dat Petrus nie een van die twee gedoen het nie. Hy het wel gevolg, maar darem op 'n goeie afstand. Nie te naby om gesien te word nie, maar darem ook nie ver dat iemand sou kon sê dat hy Jesus in die steek laat nie. Naby genoeg om Jesus te sien, maar nie te naby om saam met Hom gesien te word nie.

Met ander woorde, broers en susters: liefde vir Jesus het gemaak dat Petrus te skaam was om weg te hardloop, maar vrees het gemaak dat hy te bang was om te naby te gaan. Die ander dissipels het die regterkant van die pad gekies en gevlug. Jesus het die linkerkant van die pad gekies en sy Vader se wil gehoorsaam. Maar Petrus het die wit streep in die middel van die pad gekies. En dit was sy groot fout.

Hy sou beter af gewees het saam met die ander dissipels. Of beter af saam met Jesus. Maar in plaas daarvan is Petrus besig is sy hande warm te maak daar by, wil ek amper sê, die duiwel se vuurtjie. 'n Jong diensmeisie herken hom en sê: `Jy is tog nie een van hierdie man se dissipels nie?' Wat Petrus heftig ontken. Oomblikke later vra iemand dieselfde vraag aan hom. Hierdie keer begin Petrus vloek en sweer by die blote gedagte dat hy een van Jesus se volgelinge is.

En so, broers en susters, met elke ontkenning, beweeg Petrus al hoe nader na die rand van die afgrond, die rand van die kloof. Tot die grond onder hom meegee en hy val. Tot onder op die bodem van die kloof van sonde.

Ons was almal al daar, broers en susters. Dit, meen ek, is nie die vraag nie. Die vraag is egter wel: wat maak 'n mens as jy daar onder in die kloof van sonde lê? Jy kan daar bly lê. Baie doen dit. Baie bly maar leef in die skadu's. En so kom baie nooit daaruit nie.

Ander weer meen dat dit wat hulle gedoen of wat gebeur het, nie so ernstig is nie. `Wel, ons almal maak darem so nou en dan 'n foutjie', is wat ons gewoonlik dan vir onsself sê. Ander weer ontken doodeenvoudig dat hulle 'n sonde begaan het. Ek geval, jy speel seker! Sien jy aan my enige kneusplekke of snye? Ek is so gesond soos altyd! Ek en Jesus? Nee man, ons is boesemvriende!

En ander weer, broers en susters, verdraai weer wat hulle gedoen het. Dit is nie my skuld nie. Dit is sy of haar of die omstandighede se skuld. Dit is die gemeenskap se verantwoordelikheid. So, moenie 'n vinger na my wys nie.

As ons val, broers en susters, kan ons maak of dit niks was nie. Ons kan dit ontken. Ons kan dit verdraai. Of ons kan dit wat ons gedoen het, vierkantig in die oë kyk.

En eintlik, broers en susters, is dit die enigste opsie. Hoekom? Juis omdat ons, al maak ons wat met ons sonde, ons dit nie vir God kan wegsteek nie. Nie eers Petrus kon nie. Want, vertel Lukas ons in sy weergawe van hierdie gebeure, toe die haan kraai, is Petrus nie alleen herinner aan sy vroeëre belofte aan Jesus nie, maar het Jesus omgedraai en hom vierkantig in die oë gekyk.

Ons kan niks vir God wegsteek nie, broers en susters. Daarom is die belydenis van sonde nie om vir God te vertel wat ons gedoen het nie. Hy weet dit reeds. Nee, belydenis van sonde is om eenvoudig met God saam te stem dat ons verkeerd gedoen het. En het Petrus dit gedoen?

Inderdaad. Want Lukas vertel ons pragtig: toe die haan kraai en Jesus na Petrus omdraai en hom vierkantig in die oë kyk, het Petrus buitekant toe gegaan en bitterlik gehuil. Elke traan was 'n stuk belydenis, elke snik 'n erkenning dat hy verkeerd was.

Daar word 'n verhaal vertel van 'n keer toe koning Frederik die Grote op 'n keer die gevangenis besoek het. Terwyl hy met die gevangenes gepraat het, het elkeen aan hom vertel hoe onskuldig hulle is, dat hulle maar net 'n slagoffer van omstandighede of die stelsel was. Een man het egter in 'n hoek gesit en niks gesê nie. En toe die koning hom vra: `En jy meneer, op wie pak jy jou skuld?', het die man geantwoord: op niemand nie, ek is skuldig, ek verdien dit om hier opgesluit te sit. Waarop die koning gesê het: `Laat hierdie man onmiddellik gaan, voordat hy al hierdie onskuldige mense verlei'.

Dit is maar 'n wêreldse verhaaltjie hierdie, broers en susters. Maar dit bevat 'n geweldige groot waarheid as dit kom by ons verhouding met God. Alleen as jy jou skuld voor die ewige Koning bely, kan jy vrygemaak word uit die tronk van sonde. Of anders gesê: al dink ons soms so, ons doen onsself geen guns deur ons sonde toe te smeer nie.

Om sonde toe te smeer is soos wanneer jou kind by jou kom met 'n doring in die vinger. Jy maak jou kind sit, droog die trane af, en gaan haal dan die naald, salf en pleister. En wat vra jou kind? Los asseblief die naald, ek sal net die salf en pleister vat. Plak alles net toe, dan sal ek beter voel.

Ons maak soms presies dieselfde, broers en susters. Ons kom met ons sonde na Jesus toe, maar al wat ons wil hê is bedekking. Ons wil die behandeling, die seer van die grou van die naald, oorslaan. Maar om na ons hemelse Vader te gaan, broers en susters, is nie soos om na Kersvader te gaan nie.

Die kind gaan sit op ou Kersvader se skoot. Hy knyp haar wangetjie en vra: `En was jy 'n soet kind? Waarop die kind antwoord: `Ja'. En dan vertel sy hom wat sy vir Kersfees wil hê en spring van sy skoot af. Dit is 'n speletjie. Eintlik is dit kinderagtig. En niemand van ons wat weet waaroor dit gaan neem eintlik Kersvader se vraag of beloftes ernstig op nie. Dit werk dalk in 'n afdelingswinkel, maar dit sal nie by God werk nie.

Want hoe kan God genees wat ons ontken, broers en susters? Hoe kan God aanraak wat ons bedek? Hoe kan ons met Hom gemeenskap hê terwyl ons dinge geheim hou? Hoe kan God ons skuld vergewe as ons nie ons skuld wil erken nie?

Dalk lê die antwoord hoekom party van ons soms so maak juis in hierdie woordjie skuld. Is dit nie wat ons elke dag vermy nie? Is dit nie wat ons eintlik verafsku nie? Maar is skuld so sleg, broers en susters? Want wat impliseer skuld anders as dat ons die verskil ken tussen reg en verkeerd, dat ons strewe om beter te wees as wat ons is, dat ons weet dat almal in ons lewens hoogtepunte en laagtepunte het?

Want dit is wat skuld voor God werklik is: 'n gesonde berou omdat ons vir God een ding gesê en belowe het, maar 'n ander ding gaan staan en doen het. Daarom is skuld eintlik niks anders as die senuwee eindpunt van ons elkeen se hart nie. Dit waarsku ons, dit ruk ons terug wanneer ons te naby aan die vuur of die afgrond van die kloof kom. Hoor hoe pragtig stel 2 Korintiërs 7:10 dit: `Skuld/droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie'. Om skuld te ervaar, is dus geen tragedie nie, om dit nie te ervaar nie, is egter wel 'n tragedie.

Want as Petrus nie daar in die binnehof langs die vuur sy skuld voor God besef het nie, of dit eenvoudig ontken het, sou hy nooit die genade van die kruis kon gaan verkondig het nie. As Petrus nie daar uit sy kloof van sonde gekom het nie, sou hy nooit Jesus met ander gedeel het nie.

Ek sluit af met twee opmerkings: as 'n mens mooi daaroor gaan dink, was daar eintlik twee vure in Petrus se lewe. Die eerste was die vuur waarby hy gestaan het en Jesus verloën het. Die tweede was die vuur van ontdekking, toe Jesus se oë soos vuur op hom gebrand het en hy besef het hy was verkeerd. Die eerste vuur is deur mense aangepak, maar die tweede vuur deur God self. Langs die eerste vuur het Petrus Jesus verloën, maar in die teenwoordigheid van die tweede vuur het hy Jesus bely.

Wat het Petrus van die eerste vuur na die tweede geneem? Hoe het hy gekom van die vuur van verloëning tot die vuur van ontdekking? Tussen hierdie twee vure lê twee gebeurtenisse: Petrus se trane en Jesus se kruis. En albei is noodsaaklik.

As Petrus trane gestort het en nooit die kruis gesien het nie, sou hy slegs wanhoop geken het. As hy die kruis gesien het, maar geen traan gestort het nie, sou hy net hovaardigheid geken het. Maar omdat hy albei gesien het, het hy verlossing geken.

Presies dieselfde geld vir volgende Sondag wanneer u en ek aan die Here se tafel kom aansit. As ons net trane ken, maar nie opstaan en by sy tafel kom aansit nie, sal ook ons net wanhoop ken. Ook: as ons by die tafel kom aansit, en meen daar is geen trane in ons lewe nodig nie, omdat ons so sonder sonde is, sal ons hier opstaan, selfvoldaan en onaangeraak.

Maar as ons na die tafel kom met 'n traan van skuld in die oog, is die gevolg die vreugdevolle ervaring van verlossing en vrymaking.

Mag ons almal volgende Sondag so vrygemaak by die Here se tafel opstaan, dat ons heeltemal vry sal wees, so vry dat ons in staat sal wees om God en mekaar te dien.
Amen