2 Samuel 9:1-13

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat hy kom



Geliefdes van ons Here Jesus Christus, ons teksvers vir ons voorbereidingsdiens kom uit 1 Korintiërs 11 vers 26: “Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”

Broers en susters, dink so ’n bietjie na oor wanneer laas het julle by ’n groot ete aangesit. En dan bedoel ek nou ’n feesmaal wat bestaan uit gebraaide skaapboud en aartappels, lekker vars groentes en ’n goeie wyn om die ete te komplimenteer. Ja, ’n ete waar daar oorgenoeg van is om te eet. Ons hou gewoonlik sulke feesmale net by spesiale geleenthede. Was dit dalk vanmiddag saam met jou gesin, familie of vriende?

Wel, dan sal julle ook weet dat by so ’n feesmaal word ’n mens bewus van die gasvryheid en vriendelikheid van die gasheer en gasvrou. En as ons nou weet hoe ons eie feesmale met ons familie lyk, dan kan julle julleself indink dat ’n koning se etenstafel elke aand so gedek was. Maar nie enigiemand kon aan die tafel van ’n koning kom aansit om te kom eet nie. O nee, jy moes eers persoonlik deur die koning uitgenooi word, en dan kan jy jouself as baie gelukkig beskou. En, as so ’n uitnodiging dalk na jou gerig sou word, durf jy ook nie daarvoor nee sê nie. Dit sou as ’n belediging vir die koning se gasvryheid beskou gewees het.

Alles op die spyskaart aan die koning se tafel was in oorvloed. ’n Mens het beslis nie nodig gehad om honger van die koning se tafel af weg te gaan nie. Daarom was dit ook ’n besonderse eer en voorreg om deur die koning uitgenooi te word. Baie mense sou wat wou gee om net één maal in hulle lewe aan die koning se tafel te kon sit. Ja, en so ’n voorreg en eer het vir Mefiboset te beurt geval. Hy is deur koning Dawid uitgenooi om aan sy tafel te kom aansit. Nie net vir een keer nie, maar vir die res van sy lewe ... lewenslank!

Maar wie is hierdie Mefiboset dat só ’n eer hom te beurt geval het? Gewoonlik was dit net die koning se gesin en sy hofamptenare wat saam met hom geëet het. Wat het Mefiboset dan gedoen dat koning Dawid hom so hoog geag het dat hy vir die res van sy lewe aan die koningstafel mag kom aansit? Die antwoord is: Absoluut niks nie! Mefiboset het beslis nie verdien om aan die koningstafel te sit nie. Nou hoekom het koning Dawid dan aan hom hierdie besonderse eer en voorreg bewys?

Gemeente, kom ons kyk so bietjie na die verhaal van Mefiboset. Hy was die kleinseun van koning Saul. Ons weet almal dat Saul jaloers op Dawid was en dat hy hom gehaat het. Ja, Saul het menigmaal probeer om Dawid dood te maak. Nou hoe is dit moontlik dat Saul, Dawid se grootste vyand, se kleinseun aan sy tafel kom aansit het?

Wel, Mefiboset se pa was Jonatan, en Jonatan was Saul se seun. En ons weet mos dat Dawid en Jonatan boesemvriende was. Toe Mefiboset nog ’n klein seuntjie was, het Saul en Jonatan op dieselfde dag in ’n oorlog gesterf. Mefiboset se oppasser het geweet dat sy jong lewe nou in groot gevaar was, want Saul se vyande, wat nou by Dawid sou wou witvoetjie soek, sou probeer om die hele Saul-gesin uit te wis. Hulle sou dus nie skroom on hierdie babaseuntjie dood te maak nie. Sy het toe met die babatjie gevlug. Terwyl sy deur die nou straatjies gevlug het, het sy egter geval. In die proses is die baba se voetjies so erg beseer dat hy vir die res van sy lewe kreupel sou wees (vgl 2 Sam 4:4).

’n Ander faktor waarna ons moet kyk om te besef hoe ’n besonderse voorreg Mefiboset se aansit aan die koningstafel was, was die feit dat kreupeles nie naby koning Dawid toegelaat is nie. Hoekom nie? Omdat Dawid ’n besonderse afkeer in kreupeles en blindes gehad het, want toe hy en sy manskappe Jerusalem beleër het, nadat Saul en Jonatan dood is, is daar aan hom vanuit die stad geskreeu: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou” (2 Sam 5:6). Dawid het egter die stad verower en in 2 Samuel 5 vers 8 lees ons die volgende: “Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word ’n blinde en kreupele mag nie in die tempel inkom nie”.

Ja, ’n kreupele sou beslis nie aan die tafel van koning Dawid verwag gewees het nie. Tog, die Bybel meld herhaaldelik dat Mefiboset aan Dawid se tafel gesit het. Dit is nou werklik vir ons ondenkbaar waarom Dawid dan vir Mefiboset aan sy tafel toegelaat het.

Geliefdes van ons Here Jesus, Dawid het egter sy noue band met sy boesemvriend Jonatan onthou. Dit was beslis nie oor Mefiboset self nie. Dawid het blykbaar nie eers van Mefiboset se bestaan geweet nie. Mefiboset het geskuil by Makir, ’n getroue volgeling van Saul.Net so was Siba ook baie nou verbonde aan die Saul-gesin, en hy so beslis geweet het of daar wel iemand van die Saul-gesin oor is. Dawid stel vir Siba gerus dat hy hom nie verder op die Saulgesin wou wreek nie, maar dat hy eerder ’n guns aan Saul se familie wil bewys ter wille van sy vriendskap met Jonatan. Dit is toe die eerste keer wat Dawid van Mefiboset se bestaan uitvind. Sonder enige omhaal van woorde het Dawid vir Mefiboset laat haal. ’n Mens sal jou goed kan indink hoe benoud en bang Mefiboset moes gewees het toe hy hoor dat koning Dawid hom laat roep het.

Dawid se gerusstelling aan Mefiboset verdryf egter alle vrese weg, en hy word mettertyd een van Dawid se grootste en getrouste volgelinge. Mefiboset het geweet dat Dawid meer as genoeg rede gehad het om hom dood te maak. As daar een of ander faksie teen Dawid se koningskap was en hom sou wou onttroon, sou die logiese leier Mefiboset gewees het. Immers, hy is die laaste van die koningshuis van Saul wat nog lewe. Mefiboset het koningsbloed in hom, maar Dawid nie. Nee, Dawid se pa was ’n gewone boer en sy oupa was ook ’n boer. Mefiboset sou met reg kon aanspraak maak op sy koninklike reg en troon. Daarom was sy vrese so groot toe Dawid hom laat roep het. Deur egter vir hom lewenslange sit reg aan die koningstafel te gee, het vir Mefiboset baie beteken. Ja, vir hom het dit beteken dat hy, ten spyte van die feit dat hy Saul se kleinseun is en dat hy boonop kreupel is, vir Dawid aanvaarbaar is, net soos hy is.

Broers en susters, hierdie verhaal van vergifnis en aanvaarding bo die normale, is eintlik vir ons ook ’n gerusstelling. Ons is ook maar niks anders as kreupeles soos Mefiboset nie. Die hemelse Koning nooi ons ook om volgende Sondag by sy tafel te kom aansit. En hierdie Koning is nie ’n aardse koning soos Dawid wat net oor ’n klein stukkie aarde soos Israel heerskappy gevoer het nie. Nee, die Here God is die Koning van die heelal; Hy is Koning bo alle konings! En Hy nooi ons om te kom aansit by sy tafel ... ook nie net volgende Sondag nie, maar altyd ... vir lewenslank.

Weet julle wat is die wonderlike van hierdie verhaal vir ons vandag? Die tafel van die Here Jesus is ook ’n tafel van vergifnis en aanvaarding. Ons is ook kreupeles ... ja, geestelik kreupel. Net soos Mefiboset ook nie fisies reguit kon loop nie, net so kan ons ook nie geestelik reguit loop soos wat ons veronderstel is om te loop nie. Ja, net soos Mefiboset voel ons ook soos “dooie honde” wat dit nie verdien om so begenadig te word nie. Ons behoort ook nie aan hierdie Koning se tafel volgende Sondag te kom sit nie. Tog, die Here nooi ons uit om sy liefde en genade te ervaar. Hoekom? Ja, hoekom sal Hy sulke “gebreklikes” aan sy tafel wil hê?

Besef een ding baie goed: Hy doen dit nie ter wille van onsself of omdat ons so goed is nie. Nee, inteendeel, die Here God dink aan sy belofte wat Hy met sy geliefde Seun, Jesus Christus, gedoen het. Daardie belofte waarvan ons so duidelik lees in Johannes 1 vers 12: “Maar aan almal wat Hom [Jesus] aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word”.

Daarom kon ons ook volgende Sondag na hierdie tafel toe kom met opreg dankbare harte. Ja, dankbaar omdat hierdie tafel van die Here Jesus ’n tafel van aanvaarding is. Ja, ons word deur God aanvaar net soos ons is ... ten spyte daarvan dat ons geestelik kreupel is. En die nagmaalstafel is ook ’n tafel van gerusstelling. Hoewel ons sekerlik die dood verdien, stel God ons gerus dat Hy ons, namens sy geliefde Seun, aanneem. Maar die nagmaalstafel is ook ’n tafel van herinnering. En elke keer as ons aan daardie tafel gaan aansit, dan moet ons daaraan dink dat die Here Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het, sodat ons kan lewe. Deur ons band aan die Here Jesus, word ons nou nie net die ewige lewe gegee nie, maar word ons ook ’n ewige plek aan die tafel van die Here God geskenk.

Gemeente, aan koning Dawid se tafel was daar meer as genoeg kos, maar by volgende week se nagmaalstafel sal daar net ’n klein stukkie brood en ’n slukkie wyn wees. As ons net daarvan moes lewe, sou ons beslis gesterf het van hongerte. Tog, daardie stukkie brood en slukkie wyn is nie bedoel om ons fisies te voed nie, maar dit is eerder bedoel om ons geestelik te voed. Om die waarheid te sê, as ons nie daardie voedsel, die stukkie brood en slukkie wyn gereeld gebruik nie, sal ons beslis “honger” sterf – honger na aardse verlossers en oplossings! Kom dan, en kom beleef volgende Sondag hoe die Here Jesus se woorde: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh 6:35) in jou lewe kan waar word. Ja, kom, sodat julle ook kan ervaar dat julle aan die tafel van Jesus Christus vergifnis ontvang, en deur Hom self gevoed word met die voedsel van die lewe ... die ewige lewe.
Amen