Romeine 6:1-14

God vra nie beter mense nie, maar mense wat anders is



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die 4 de eeu n C het 'n jong bekeerling by geleentheid raad gaan vra by 'n kerkvader genaamd Makarius. Hy wou weet wat die apostel Paulus nou eintlik daarmee bedoel as hy in Romeine 6:4 en 8 sê dat ons saam met Christus gesterf het en saam met Hom in sy dood begrawe is. Die kerkvader het hom geantwoord: ‘Onthou jy nog daardie broer van jou wat twee weke gelede oorlede is?’ Gaan na sy graf toe en gaan sê vir hom al die lelike en slegte dinge wat jy al van hom gehoor het en wat jy van hom dink.

Die jong man het teëgestribbel, maar tog gegaan en alles wat hy sleg van sy broer geweet en gehoor het, daar by sy graf aan hom toegedig. Terug by die kerkvader het dié gevra: ‘En toe, wat sê jou broer?’ Niks, het die jongman geantwoord. Hoe kan hy ook iets sê, hy is dan dood!

Waarop die kerkvader geantwoord het: Goed. Gaan nou weer en gaan vertel vir hom al die mooi dinge wat jy van hom weet en van hom gehoor het. Die jong man het uit eerbied vir die kerkvader maar sy teësinnigheid onderdruk en gegaan, 'n lofrede vir sy broer gehou en is weer terug. Weer was die vraag ‘wat sê hy’, en weer was die antwoord ‘niks’, want hy is dan dood. Ses voet onder die grond begrawe.

Maar terwyl hy dit sê, het hy gesnap wat die kerkvader hom wou leer: of ons nou sleg gesê word deur mense, en of ons nou geprys word deur mense, dit raak ons eintlik nie. Want die ou mens in ons is dood. Ons het in Christus gesterf. Ons is dood en begrawe.

Baie mense, broers en susters, veral kerkmense, verkeer soms onder die misverstand dat die doel van die evangelie maar net is om van ons beter mense te maak, dat die evangelie 'n stel reëls, 'n stel waardes is waarna ons met alle mag moet streef en wat 'n mens wel met so 'n bietjie moeite kan bereik. Dan sal ons beter mense wees. En in hierdie proses van strewe na die eindpunt van hierdie stel waardes sien 'n mens dikwels dat mense soms baie moeite en opofferings maak. Hulle maak selfs soms geweldige aanpassings ten opsigte van hulle vorige lewe. Die feit is egter, broers en susters, dat al hierdie pogings gebore is uit die energie en krag van die ou mens — die mens wat ons van Adam geërf het — en daarom is al hierdie pogings doodgebore.

Die ou mens, broers en susters, kan baie gestaltes aanneem: dit word sigbaar in growwe goddeloosheid, dit bars los in afgryslike gewelddadigheid , maar kom ook voor in gepoleerde godsdienstigheid. Trouens, die ou mens is soms op sy tuiste juis onder die kerk se dak, in God se huis. Want hier kan ons die Bybel styf teen ons lyf hou, so styf, dat die Woord van God nêrens in ons lewens kan indring nie, dat die Woord nêrens aan ons lewens vatplek kan kry nie.

Die feit is, broers en susters: die evangelie dring nie aan op beter, ou mense nie, maar op dooie, nuwe mense, vra nie dat ons ons voor God moet verbeter nie; maar dat ons die ou mens sal afsterf en begrawe, en sal begin lewe.. Die evangelie sê: weg met die ou mens, weg in die graf saam met Christus. Trouens, en dit is so treffend van wat Paulus hier sê, die Woord/Paulus roep ons nie hier op om te sterf nie. Nee. Hy sê vir hulle wat glo is dit reeds 'n werklikheid. Ons is klaar saam met Jesus aan die kruis gespyker, ons het klaar saam met Hom gesterf, ons is klaar saam met Hom begrawe.

Saam met Hom, dit is die sleutel van die woorde wat Paulus hier gebruik. Wat sou dit beteken? Is dit 'n soort van simboliese eenheid? 'n Mistieke eenheid? Dit is moeilik om dit rasioneel, met die verstand te beskryf. Maar kom ons probeer tog: Om saam met Hom gekruisig te wees, saam met Hom te sterf, saam met Hom begrawe te wees, beteken dat Sy geskiedenis ons geskiedenis geword het, en ons geskiedenis sy geskiedenis. Ons het saam met Hom gesterwe, daarom sal on saam met Hom opstaan en lewe. Ons het as 't ware deur 'n tregter gegaan: deur die tregter van Sy dood en Sy opstanding tree ons na vore in 'n nuwe gewaad, as nuwe mense, beklee met Christus. Ons is nuut, en lewe nou nuut.

Party van u, broers en susters, sal dadelik hierop wil reageer deur te sê: Wag so 'n bietjie. Dit klink alles so goed en waar, maar ek sien dit dan nie in my eie lewe nie! Ek het al so dikwels die ou mens probeer begrawe, maar hy staan elke keer maar weer op. Ek het hom in ‘n graf gesit, en toegegooi, maar telkens beur hy weer boontoe. Hy wil net nie dood bly nie. Of selfs: die ou mens in my is so sterk dat ek maar bes gegee het. Hy moet maar lewe. Laat hy maar sy gang gaan. Ek kan hom tog nie in die graf hou nie. Wat meer is, het sommiges wel in die gemeente in Rome gesê, laat hom maar begaan, want hoe meer ek sondig hoe meer genade is daar vir my (Rom 5:20)!

Paulus, sien ons, is geskok oor so 'n argument. In verse 1 en 2 spreek hy in wese sy afsku oor so 'n argument uit: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem, dat ons God meer en meer kans gee om ons te vergewe? Dat die genade meer en meer in ons lewens kan word? Beslis nie, sê hy, want hoe is dit moontlik dat iemand wat dood is vir die sonde, nog daarin kan voortlewe? Ook die Heidelbergse Kategismus reageer in dieselfde trant: Op die vraag, maar maak hierdie leer van die verlossing (dat God vergewe en altyd sal vergewe waar daar opregte berou en belydenis is) nie mense maar net onverskillig en roekeloos nie?, kom die antwoord: Nee. Want dit is onmoontlik dat mense wat deur die ware geloof in Christus ingeplant is, nie die vrugte van 'n gehoorsame lewe sal voortbring nie.

Of kom ons sê dit anders: Kan 'n moeder haar kind verwerp en vertrap? Dit klink onmoontlik, maar dit gebeur tog. Maar dan is daardie moeder nie meer die naam moeder werd nie. Kan 'n kind sy vader vervloek en verwerp? Dit klink onmoontlik, maar dit gebeur tog. Maar dan is kind nie meer die naam kind werd nie. Of: Kan God sy Seun na die wêreld stuur en ons sterf saam met Hom en staan saam met Hom op, en dan voortleef of dit alles net eenvoudig nie gebeur het nie? Dit klink onmoontlik, maar dit gebeur. Maar dan, broers en susters, is ons die naam kind van God nie meer werd nie.

Miskien, broers en susters, moet ons ook vir 'n slag by 'n graf gaan staan. Of hoef egter nie te gaan na die graf van 'n broer of 'n suster of 'n familielid nie. Ons kan maar net weer by Jesus se graf gaan staan. En as ons mooi kyk, sal ons sien dit is leeg. Jesus leef. En baie ander saam met hom.

En miskien moet ons onsself maar weer aan Hom oorgee. Miskien moet ons dit doen deur die volgende gebed te bid:

Here
begrawe my in die graf waarin ek reeds begrawe is;
laat my opstaan uit die graf waaruit ek reeds opgestaan het.
Verhoed, Here, dat ek die onmoontlike moontlik maak,
dat ek leef asof die evangelie nie waar is nie,
asof u nie geleef het, gesterf het en opgestaan het nie.
O Here, asseblief, verlos my van myself!

Dan, broers en susters, kan ons volgende week na sy tafel kom, 'n tafel wat niks anders is as 'n simbool van sy graf nie. Kan ons kom, by sy graf kom staan, daarvan deel word deur die gebruik van die brood en wyn, en opstaan en gaan lewe soos Hy van ons verwag.

Nie as ou mense wat so 'n bietjie verander het nie, wat so 'n bietjie gepoleer is nie, maar as dooie mense wat nuut en anders geword het. So nuut en anders, dat wat hier aan sy tafel bely word, in die wêreld geleef word! Waar die moontlike moontlik gemaak word, en nie die onmoont¬like moontlik nie. Wie dit doen, eet en drink 'n oordeel oor hom of haarself!

Mag dit nie so in ons lewens wees nie!
Amen