Jesaja 8:5-9:1

Hemelpastei en geloof



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Uit gesprekke met lidmate, informeel en veral tydens huisbesoek, is dit duidelik dat daar oor baie mense 'n wolk van moedeloosheid gesak het. Moedeloosheid wat eintlik maar die gevolg is van onsekerheid. Die meeste onder ons het ook nie eintlik baie hoop nie. Soos een persoon vir my gesê het: Die lewe vandag is soos 'n vliegtuig wat vlieg en vlieg en nie wil land nie omdat dit onseker is oor die landingstrook, maar net so bang die petrol raak op. Wat nou gemaak?

Jesaja 8, broers en susters, praat oor 'n tyd waarin mense presies dieselfde gevoel het. Dit was 'n tyd van geweldige politieke onsekerheid en internasionale spanning. Die twee koninkrykies van Israel en Juda was soos 'n smeersel in 'n toebroodjie vasgedruk tussen die magte van Assirië en Aram. Allerlei alliansies is gesluit: Israel met Aram en Juda met Assirië. Diplomatieke sendings het net so vinnig heen en weer beweeg as wat die troepe in die area saamgetrek het. Dit was 'n donker tyd in die geskiedenis van Israel en Juda, 'n tyd van groot onsekerheid.

En boonop kom Jesaja toe met 'n ontstellende boodskap in Juda aan (Jes 8:6-8): Omdat God se volk Siloag se kalm waters verwerp het (deur 'n alliansie aan te gaan met Assirië) en bang geword het vir Resin en Peka (die alliansie tussen Israel en Aram), sal die Here die magtige vloedwaters van die Eufraat oor hulle laat kom: die Assiriese koning met al sy mag, hy sal Juda binnedring, en die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat dit skouerhoogte bereik.

Met ander woorde, in hierdie onsekere, mistige tyd sonder uitsig sou Juda se bondgenoot, Juda se sogenaamde uitweg, self teen hom draai. Dit sou dus nie net mistige weer wees vir hulle nie, maar nag. Pikdonker nag.

Vir die mense in Juda het dit dus gevoel asof God self teen hulle gedraai het. Jesaja sê selfs in Jesaja 8:17 dat dit lyk asof God sy gesig vir die nageslag van Jakob verberg het. Die God wat eens op 'n tyd in 'n oop hemeldeur boaan 'n leer gestaan het en vir Jakob gesê het dat Hy oral saam met hom sal gaan en hom sal seën, daardie God het nou die leer opgetrek en die hemeldeur toegemaak. God het Hom nou verberg vir die nageslag van Jakob.

'n Tipiese reaksie van mense in sulke donker tye, broers en susters, is om rond te skarrel en te soek na al wat raad en uitsig is wat deur ander gegee kan word. Om na elke strooihalm te gryp wat beskikbaar is. So was dit ook met die mense van Juda. Party het geeste begin raadpleeg (Jes 8:19), ander het die sterre voorspel, begin lees, en nog ander het 'n groot konferensie belê met kundiges op verskillende gebiede om die saak te bespreek. Daar was groot paniek. Of hulle nou boontoe of ondertoe gekyk het, sê Jesaja in Jesaja 8:22, oral was daar net benoudheid en angs en duisternis. En Jesaja het selfs die dag sien kom dat die mense, die regeerders van die dag, God sal vervloek (Jes 8:21).

Dit is in die tyd dat Jesaja vir 'n klein groepie gelowige mense om hom sê: Ek vertrou op die Here wat Hom vir die nageslag van Jakob verberg, op Hom hoop ek. Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies dat God leef. Mense sê dat julle allerhande plannetjies moet maak, die sterre en geeste moet raadpleeg. Maar ons vra: Moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou 'n mense dooies se geeste raadpleeg as daar 'n lewende God is om na toe te gaan? Daarom, vir ons is dit alles eenvoudig: Terug na die wet en die getuienis van die Here!. Wie nie volgens Sy woord praat nie, is sonder 'n toekoms!

Kom ons vra, broers en susters: Is hierdie oplossing van Jesaja werklik 'n oplossing? Is dit nie maar net 'n `pasteitjie-in-die-lug' godsdiens nie (om die term te gebruik)? Want wat sal dit tog help om maar net boontoe te kyk en hoop — al lyk dit of God reeds die leer opgetrek het en klaar die hemeldeure vir sy volk gesluit het? Met ander woorde: is Jesaja nie maar net hier besig om vir sy mense om die bos te lei nie? Iets soos: Toemaar, alles sal regkom, die Here sal sorg. Terwyl hy weet die kanse is maar baie, baie skraal.

Ek glo nie, broers en susters, dat dit is wat Jesaja hier doen nie. Want as Jesaja vir hulle sê `Terug na die wet en die getuienis van die Here!', sê hy nie vir hulle om maar net weer hulle Bybels te gaan lees, weer gereeld kerk toe te kom, om maar net weer hulle doopbelofte te gaan nakom nie. Nee. Wat Jesaja vir hulle sê is om vir hulle 'n ander staanplek te kry. Hulle moenie in die mistige, donker kol bly staan en van daar af hulle plannetjies beraam, hulle geeste raadpleeg en hulle konferensies reël nie. Nee. Hulle moet by die wet en getuienis, aan God se kant gaan staan.

Wanneer 'n mens die eerste sewe hoofstukke van Jesaja lees, broers en susters, kom 'n mens baie gou agter waarom God sy leer vir hierdie volk opgetrek het en die hemel-deure vir hulle gesluit het. Die mense wat eens op 'n tyd langs God gestaan het, het al hoe verder en verder van God af begin staan. Want toe hulle ryk begin word het, het geld die hoogste doel in hulle lewens begin word. En om nog ryker te word, het hulle arm mense begin verdruk en uitbuit.

Juis daarom sê Jesaja byvoorbeeld in Jesaja 1:21 en 3:13: Die Here staan klaar om sy volk te oordeel, die Here het klaar begin met 'n hofsaak teen die leiers van die volk, want wat julle van die hulpeloses geroof het, lê opgestapel in julle huise. Jou vorste is almal versot op korrupsie en is agter omkoopgeskenke aan. Hulle laat nie reg geskied aan die weeskinders en die weduwees nie.

Dít, broers en susters, was die rede waarom God die leer opgetrek het en sy hemeldeur vir hulle toegesluit het. Sy gemeente het vreeslik kerk gehou en gebid en gesing en offers gebring en vergader en tiendes gegee, maar terselfdertyd vêr te kort geskied in die mees basiese wat Hy van hulle gevra het: Om so te lewe dat reg en geregtigheid onder hulle in stand gehou word. Dat mense vir mekaar omgee. Omdat God dit so wil. Dat sy gebod in alles voorop moet staan.

Daarom vermaan Jesaja hulle namens God: Ek verafsku al julle offers, Ek haat dit, dit is vir my 'n las, Ek is moeg daarvoor. Selfs al bid julle hoe baie, Ek sal nie hoor nie. Leer eerder weer om goed te doen, gaan die verdrukkers teë, want Ek verafsku mense wat maak asof Ek saak maak, maar in dieselfde asem sê dat ander langs hulle nie saak maak nie.

God se gemeente, dus, broers en susters, het deur hulle optrede self eenkant, weg van God gaan staan al het hulle al die voorgeskrewe offers gebring en wonderlike liedere gesing. God se gemeente het self besluit om die mis en die donker alleen aan te durf. Dit is nie God wat die hemelleer opgetrek het en die hemel se deur toegemaak het nie, dit is die mense wat self die leer teruggestoot het en die hemeldeure toegemaak het deur te maak asof hulle nie meer oop is nie.

Want jy kan vroom wees, kerk toe gaan, bid, Bybel lees, versorg wees in jou eie geloofsbelewing, God in jou lewe teenwoordig ervaar, en dan gaan optree asof jou man of vrou, jou kinders en jou mede-gemeentelede nie saak maak nie. Godsdiens gaan nie maar net oor ek, oor God, oor ek en God nie. Nee. Dit gaan ook oor ek en die ander. Ek en hulle wat elke dag saam met my leef. Want God is ook hulle God.

En as Jesaja dan vir die volk sê: `Terug na die wet en getuienis', as Jesaja sy mense oproep om God weer te soek en Hom met hulle hele hart te dien, is dit asof hy 'n visioen sien, 'n visioen van hoe dit sal wees as die mense weer langs God staan: In die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie, die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het 'n lig geskyn (Jes 8:23; 9:1).

Met ander woorde: Jesaja sien die hemeldeure weer oopgaan, hy sien die leer weer afsak na die aarde toe. Die mis verdwyn, en die donkerte neem die wyk. En dit, broers en susters, is nie maar net 'n `pasteitjie-in-die-hemel' godsdiens nie. Want die leer se onderpunt staan tussen ons, God is by ons, want Hy wil by ons wees. Wat meer is, in ons eie lewens wys ons dan dat God by ons is. Dit kan nie misgekyk word nie. En glo gerus maar. Dit verstom hulle wat dit sien.

Een ding moet ons egter hier goed verstaan, broers en susters: Dit is nie die geval dat God weer na ons toe moet kom nie. Hy het gekom en tussen ons sy tent kom opslaan — om die woorde van Johannes te gebruik wanneer hy oor die geboorte van Christus praat. God het tussen ons kom woon. Hy het nie maar net 'n leer laat sak nie. Hy het afgeklim en tussen ons kom bly. Dit is daarom nie God wat na ons toe moet terugkom nie. Dit is ons wat weer na God toe moet teruggaan. Die vraag is dus nie of God aan ons kant is nie, maar of ons aan God se kant is.

Daarom, broers en susters, moet ons as gelowiges en kerkmense ons ook maar afvra, al is dit hoe moeilik en al meen ons dat dit nou nie vir ons eintlik so nodig is nie: Sing en bid ons nie dalk Sondae baie vroom, maar in die week tree ons so op dat niemand ons as God se kinders herken nie? Ja, ook ons as kerkmense sal weer by God moet gaan staan en regmaak waar ons vandag, gister en eergister verkeerd gedoen het. Dan skuif die hemeldeure oop, dan staan God hier reg langs my. Dan verlig sy teenwoordigheid my lewe. Want dan staan ek by God.

Dat dit donker om ons is, broers en susters, is waar. Maar, sê Jesaja, daar is hoop. Maar dan vra dit van ons ware godsdiens. Ware godsdiens, broers en susters, is nie maar net om te glo met die hoop om eendag by God in die hemel te wees nie. Ware godsdiens, met ander woorde, verdoof 'n mens nie vir die werklikheid waarin jy leef met 'n belofte van 'n plek eendag in die hemel nie. En net so is ware godsdiens nie maar net om so 'n paar dingetjies van my kant af te doen en dan te glo dat wanneer die teenspoed soos 'n donker kombers oor my val, God dit sal kom aftrek nie. Nee.

Ware godsdiens is harde werk. Ontsettende harde werk. Ware godsdiens doen in plaas van voorgee. Ware godsdiens soek nie lipgetuies van 'n wonderlike hemelpastei wat eendag wag nie, dit soek daadgetuies wat die werke van die lig, die werke van die koninkryk doen. Dit vra van ons om soos ware Godskinders te lewe: in ons omgang met ons vriende, gemeentelede, ons mans en ons vrouens, ons kinders, ons maats, ons onderwysers, ons werkgewers en werknemers. Want om kerk toe te gaan die Bybel te lees, te bid, en voorbeeldig te lewe is nog geen godsdiens nie. Dit is slegs maar die gevolg wat sal kom as ek werklik in God glo.

Broers en susters, ek sluit af: Daar is so baie dinge waaroor ons onseker is. Dit is waar. En dit is verstaanbaar dat ons soms met groot twyfel in die hart sal leef. Partykeer nie sal weet hoe ons moet maak nie. Maar: ons is tog nie onseker oor die liefde van God vir ons nie. Ons is tog nie onseker oor God nie. Ook nie oor wat God van ons vra nie.

Ons is verder lidmate van 'n gemeente met die ongelooflikste potensiaal en moontlikhede. Met die wonderlikste mense. 'n Gemeente waarvan dit 'n ongelooflike voorreg is om van predikant te wees.

Maar: Hoekom dra ons die wêreld se onsekerheid oor op ons geloof? Daar is so baie dinge in ons wêreld vandag waaraan ons baie min kan doen. Maar, aan 'n mens se lewe voor God kan jy tog iets doen.

Daarom: kom ons doen wat God van ons vra. Kom ons raadpleeg God. Kom ons gaan staan weer by God. Kom ons sê soos Jesaja: Terug na die wet en die getuienis van die Here! Kom ons gaan slaan ons tent langs God se tent op. Kom ons leef weer werklik in die geloof. Kom ons kry byvoorbeeld ons kerkraad weer vol. Kom ons los al die verskonings, ja selfs geldige verskonings, wanneer God ons roep om in die gemeente te dien. Want ware godsdiens vra harde werk. Kom ons dra mekaar. Kom ons dra sorg dat ons lipgetuienis daadgetuienis word. Kom ons laat die mis verdwyn. Kom ons laat die lig weer skyn. Ons kan. Want God is tussen ons. By ons.
Amen