Romeine 7:12-25

Om nuwe mense te word en nuwe mense te bly



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Twee seuns van 'n koning het op 'n keer vir hulle pa gaan vra: `Word 'n ware heer gebore of gemaak’? Sy antwoord was dat hulle self moes antwoord. Twee verskillende antwoorde is gekry: die een seun het gesê dat 'n ware heer gebore word, en die ander een dat 'n ware heer gemaak word. Omdat die koning nie oor die twee antwoorde kon besluit nie, het hy 'n uitdaging aan sy twee seuns gestel, naamlik dat hulle elkeen 'n week kans gehad het om vir hom 'n voorbeeld te bring wat elkeen se antwoord bewys.

Die twee seuns is toe in verskillende rigtings. Die seuns wat geglo het 'n ware heer word gemaak en nie gebore nie, het gou sy antwoord in 'n herberg gekry: toe hy 'n koppie tee bestel was hy verstom om te sien dat die kelner 'n kat was — 'n kat met 'n voorskoot aan wat pragtig op sy agterpote tee op 'n skinkbord bedien. Was dit darem nie 'n bewys nie. As 'n kat kan verander, dan kan 'n mens seker tog ook.

Die tweede seun was egter nie so gelukkig nie, en het gehoor van sy broer se vonds. Hy het begin twyfel aan sy eie oortuiging, maar toe, op die nippertjie, sy bewys gevind.

So het die twee elk met 'n houer die hofsaal ingestap. Terwyl die koning toekyk het die eerste seun sy kat te voorskyn gebring wat op 'n skinkbord vir die koning 'n koppie tee bedien het. Die koning was verstom. Almal het gejuig en hom gelukgewens. Maar toe maak die tweede seun sy houer oop, en 'n aantal muise kom tevoorskyn. En wat gebeur toe? Onmiddellik begin die kat die muise te jaag.

En so is die waarheid geopenbaar: al loop 'n kat op sy agterpote, al leer jy hom wat, al lyk hy hoe anders, bied hom net een ding aan wat hy nie kan weerstaan nie, en die waarheid skyn duidelik — al loop 'n kat op sy agterpote, hy bly maar 'n kat.

En dit is ook waar van mense, broers en susters, dit is ook waar van ons: ons kan ons klere verander, ons kan ons gewoontes verander, ons kan ons woordeskat, ons leesstof verander, selfs ons gesindheid. Maar volgens die Bybel is daar een ding wat ons nie kan verander nie: ons sondige toestand.

Nie dat almal hiermee sal saamstem nie, broers en susters. Ander sal sê, nee, die mens is nie so sleg nie. Verander die uiterlike en die innerlike sal ook verander. Gee aan iemand geleerdheid, opleiding, die regte gewoontes en die regte dissiplines, en so iemand sal verander.

En hoe probeer ons dit nie soms nie. Hoe hard probeer ons nie soms nie. Ons sê vir ons kinders: maak iets van jou lewe. Ons sê vir ons werknemers: tree reg op en jy sal beter voel. Ons sê vir die moedeloses: probeer, probeer net weer. En ons sê selfs vir die lidmate in die gemeente: kom kerk toe, en julle gesindheid sal verander.

Maar skil maar die lae af, broers en susters, neem die kostuums weg, haal die maskers van die gesigte af, en onder alles sien ons in die spieël ons elkeen se ware natuur — 'n selfsugtige, trotse, sondige hart. Bring net die muise tevoorskyn en kyk wat doen ons.

Niemand beskryf hierdie beter as Paulus nie. Want kyk wat bely hy: ek weet die goeie woon nie in my. Ek wil so dikwels die goeie, maar dan doen ek die kwade. Want so maklik sit my sondige aard en natuur my in outomaties, en dan gaan ek maar net. Nie dat ek so wil wees nie. Nee. Diep binne in my vind ek die vreugde van die wet van God, kan ek opreg sê dat dit die wet is wat ek eintlik wil doen. Maar my sondige natuur maak my 'n gevangene. Daarom: ek ellendige mens, wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

Wat sê Paulus hier, broers en susters? Dit maak nie saak wat ons doen, hoe hard ons probeer, hoeveel ons strewe, ons sondig steeds teen God. Trek vir my klere aan, leer my op my agterpote loop, vat my na die koning self, maar laat daar net 'n paar muise my pad kruis. En alles is verby. Die ware ek kom tevoorskyn.

Ek verloor my humeur. Ek oordeel. Ek vergeet vir wie ek eintlik behoort te lewe. Ek wil my sin hê. Ek jok. Ek begeer. Ek struikel. Ek wil verwoes, ek wil my self handhaaf. Ten koste van alles en almal.

Gelukkig gaan Paulus egter ook verder. Want dieselfde Paulus wat vra `wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos’, gee ook 'n antwoord op die vraag: `Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here (Rom 7:24-25).

Hoe doen God dit met ons deur die Here? Hieroor is God in sy Woord baie duidelik: om klere te verander, verander nie die mens nie. Uiterlike dissipline verander nie die innerlike mens nie. Nuwe gewoontes maak nie 'n nuwe siel nie. Nie dat God hiermee wil sê dat uiterlike verandering nie goed is nie, broers en susters. God sê hiermee net dat dit nie genoeg is nie. En al wat genoeg is, sê God, al wat werklik sal help, al wat alles kan verander, is as iemand weergebore word, 'n nuwe mens word.

Hoe gebeur dit met 'n mens? Kom ek probeer dit vanoggend eenvoudig verduidelik: Toe God ons die eerste keer geskep het, toe ons gebore is, het God ons splinternuut gemaak. Met nuwe hande, nuwe voete, 'n nuwe mond, nuwe oë. Niks hiervan het voorheen aan iemand anders behoort nie. Alles oorspronklike materiaal.

Maar as gevolg van die sondeval het ons al hierdie dinge vir die verkeerde doel gebruik. Ons het dit wat God ons met ons eerste geboorte gegee het, besoedel. Ons het ons oë gebruik om na onreinheid te kyk en te soek, ons hande om pyn en verwoesting te veroorsaak, ons voete om die verkeerde pad te loop, ons gedagtes om die verkeerde dinge te bedink.

Maar dan kom God, en Hy maak ons nuut. Durf ek sê, myns insiens God se grootste wonderwerk. Wanneer God mense nuut maak. Ons nuut maak deur ons te herskep. Deur ons nuwe oë te gee sodat ons deur die geloof kan sien. Ons nuwe voete te gee wat die regte pad wil bewandel. Ons nuwe hande te gee waarmee ons saggies kan aanraak en kan vertroos, ons 'n nuwe gemoed gee wat die gemoed van Jesus is, sagmoedig, belangstellend, nie selfgerig of eiesinnig nie.

Die eerste geboorte was vir die aardse lewe, die tweede is vir die ewige lewe. Met ons eerste geboorte het ons 'n fisieke hart gekry, met die tweede 'n geestelike hart. Die eerste geboorte het ons in staat gestel om 'n aardse lewe te voer, die tweede geboorte stel ons in staat on die ewige lewe te hê.

En wat meer is: met ons eerste geboorte het ons nie juis 'n aandeel gehad in ons eie geboorte nie. Ons was passief, ons is nie gebore as gevolg van iets wat ons gedoen het nie. Iemand anders het die pyn gevoel, iemand anders het in nood verkeer.

Met ons tweede geboorte word ons egter nie deur 'n mens se pyn in die ware lewe gebring nie, maar deur God se pyn. Deur God se pyn, die verlies aan sy Seun, kry ons die tweede lewe. Nie deur ons worsteling nie, maar deur Syne. Ook nie deur ons bloed nie, maar ook deur Syne. En al wat ons moet maak is om te glo, om die geloof wat God as gawe aan ons gee, te aanvaar en te begin gebruik.

So eenvoudig, broers en susters, is die boodskap van die Bybel: God, die een wat liefhet, God, die een wat gee, God, die een wat red. En die mens die een wat glo. En vir hulle wat glo, het Hy 'n nuwe geboorte belowe.

Hoe tragies is dit nie, broers en susters, dat ten spyte van die eenvoud van hierdie boodskap van die Bybel, daar steeds diegene is wat dit nie wil glo nie. Wat God nie wil vertrou nie, wat nie bereid is om God op sy belofte te neem nie. En hoekom? Dalk omdat hulle hulleself nie kan voorstel hoe God hulle op die naam kan ken nie, laat staan nog hulle sondes vergewe. Want dit is byna te goed om waar te wees. Maar vir die wat dit aanvaar, gee God dit. God maak hulle nuut. En vir hulle word dit maklik en al hoe makliker om die muise mis te kyk of te ignoreer.

Beteken dit egter dat ons, nadat ons deur God nuut gemaak is, nooit weer agter die muise sal aanhardloop nie? Dat ons aaklige ou natuur nooit weer sal kop uitsteek nie? Dat ons nou alle versoekings sal kan weerstaan?

Die antwoorde hierop is eenvoudig. Kyk maar na 'n pasgebore baba. Kan sy loop? Kan hy homself voed? Kan sy sing en lees en praat? Nee, nog nie, maar eendag sal hy/sy dit kan doen. Want dit neem tyd om te groei.

En wat meer is, broers en susters: skaam die ouers hulle vir hulle baba in die kraamsaal? Is die ma verleë omdat die kind nie kan loop, skryf en spel nie? Is die pa kwaad omdat die kind nie 'n bal kan skop en die gras kan gaan sny nie? Natuurlik nie. Inteendeel. Die ouers is nie skaam nie, hulle is trots. Want hulle weet dat groei mettertyd sal kom.

God weet dit ook, broers en susters. God weet ons moet nog baie leer. God weet ons moet oefen om as nuwe mense te lewe. God weet ons sal nog baie foute maak. En kom ons hoor maar weer: God is dikwels geduldiger met ons as wat ons met onsself is.

Want wat doen ons soms aan onsself: as ons val, meen ons ons is nie weergebore nie. As ons struikel, meen ons ons is nie waarlik bekeer nie. En as ons ou begeertes ondervind, sê ons vir onsself dat ons mos dan nie nuut kan wees nie.

As ons hieroor angstig is, broers en susters, is ons die eerstes wat volgende week by die tafel van die Here moet kom aansit. Want by die tafel word dit nie alleen sigbaar aan ons uitgebeeld hoe vêr God gegaan het om ons nuwe mense te maak nie, maar ook hoe ons, as nuwe mense, terwyl ons nog moet groei en daarom dikwels struikel, soms te maklik agter die muise aanhardloop, daarvoor vergewe kan word.

Want alleen deur Jesus se liggaam en bloed word ons nuwe mense, en alleen deur sy liggaam en bloed kan ons nuwe mense bly.
Amen