Efesiërs 2:1-10, 4:25-32

Om te vergewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek begin vanoggend met Jesus se woorde in Markus 10 vanaf vers 42, vir my (om verskeie redes) van die mooiste verse in die Bybel (en ek vertaal dit vry): Julle weet dat dit by baie so is dat die mag wat hulle het, gebruik word om oor ander baas te speel.  So baie misbruik hulle mag ten koste van ander.  Maar by julle moet dit nie so wees nie.   Elkeen van julle wat groot wil wees, moet dien.  En elkeen van julle wat belangrik wil wees, moet almal se dienaar wees.

‘n Mens sou, broers en susters, baie voorbeelde in ons tyd kon opnoem wat tekenend is van hoe mense hulle mag oor ander misbruik.  Hoe mag gebruik word om mense te verneder, te na te kom, uit te buit.  So dikwels eien mense hulle bepaalde regte toe, en dit dan ten koste van ander.

Ook in ‘n mens se lewe voor God kan dit gebeur.  Veral as dit kom by die uitdeel van vergifnis.  Maak nie saak wat God van my vra nie, ek besluit, ek eis my die reg op, om die een langs my, die een wat saam met my voor God lewe, nie te vergewe nie.

God se mense, broers en susters, behoort egter die ander keuse te maak.  En kom ek noem u ‘n voorbeeld van so ‘n keuse, ‘n ware gebeurtenis.

Op 14 November 1940 het die Duitse bomwerpers die stad Coventry in Engeland gelyk gemaak met die aarde.  Dit word vertel dat die Duitse opperbevel daardie dag in Berlyn hulle verlustig het in die skade wat aangerig is.  Ook die St Michael katedraal het in die slag gebly.  Een maand later het die biskop van die katedraal in die middel van die puinhoop van sy kerk oor 'n sy Kersboodskap gebring.  En die inhoud van die boodskap was min of meer die volgende: Dit is vir ons baie moeilik, maar ons Christene sê ‘nee’ vir vergelding en ‘ja’ vir vergewing!

Hierdie boodskap het nie by almal ewe goed afgegaan nie - 'n mens se natuurlike reaksie is mos maar eintlik om vergelding soek as so 'n afskuwelike daad teen jou gepleeg word.  Maar die biskop het volgehou: ‘As die oorlog verby is’, het hy gesê, ‘sal ons saam met hulle wat nou ons vyande is, 'n meer mensliewende en 'n meer Christelike wêreld moet bou!’  En as gedenksteen van hierdie voorneme het hy twee gebrande dakbalke uit die puin van die kerk gevat en daarmee 'n kruis gebou, wat vandag nog te siene is.  Met die kruis wou hy sê: die evangelie van Jesus Christus eis hierdie gesindheid van ons, al wil ons, ons kan nie anders nie.

Maar daar gebeur ook iets nog meer merkwaardigs.  Van die lidmate van die gemeente neem van die spykers wat in die 13e en 14e eeu met die hand gemaak is en gebruik is om die dak van die katedraal te bou, en begin daarvan kruise te maak.  En hulle gebruik hierdie kruise as simbool van 'n wêreldwye versoeningsaksie wat vanuit Coventry geloods word na die oorlog.  ‘n Aksie wat uitloop in die nog steeds bekende ‘Gemeenskappe van die kruis van Spykers’.

En weet u waar ‘n mens vandag nog een van daardie spykerkruise kan besigtig?  In die Kaiser Wilhelm Gedachtniskirche in Berlyn, in dié stad van waaruit die aanval op Coventry beplan en geloods is.  Versoening, omdat daar vergewing was.  Omdat gedoen is wat God vra, en nie wat mense wil nie.

Paulus praat in Efesiërs van hierdie kruis van Jesus Christus op twee maniere.  Eerstens, in Efesiërs 2, verduidelik hy wat die gevolg van Jesus se kruisdood was: Ons was dood as gevolg van ons sondes.  Ons was verlore, sonder God.  Maar omdat God sy mense innig liefhet, het Hy ons saam met Christus lewend gemaak.  Hierdie redding is genade, ‘n gawe van God.  In Christus Jesus is ons nou nuut, en daarom moet ons nou ‘n lewe leef wat pas by God se mense.

En wat is hierdie nuwe lewe wat van ons gevra word op grond van God se liefde vir sy mense aan die kruis?  Dit spel Paulus vir ons in Efesiërs 4 uit: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Ek kan hierdie gedeelte, broers en susters, op geen ander manier lees as dat ‘n onlosmaaklike, 'n onontbeerlike deel van die nuwe lewe wat ons as Christene moet lei, is dat ons mekaar moet vergewe nie.  En nie alleen moet vergewe nie, maar ook moet vergewe soos God ons in Christus vergewe het.  Efesiërs 5:1 sê dit baie duidelik: Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik is.

In ander woorde: om te vergewe soos Jesus vergewe het, is om bereid te wees om opofferings te maak soos Jesus sy lewe geoffer het.  As ‘n mens in haat wil bly lewe, sal jy nooit by vergifnis uitkom nie; as jy nie bereid is om 'n stuk van jouself te gee nie, sal jy nooit by vergifnis uitkom nie.  Want dit is wat vergifnis van jou vra – jy moet bereid wees om 'n deel van jouself op te offer: 'n deel van jou trots, ‘n deel van die sogenaamde mag wat jy dink jy oor ander het, 'n deel van jou soeke na regverdigheid, na wraak, na vergelding.  Jy moet bereid wees, jy moet nie kan wag om op te offer om te vergewe nie, want dit is hoe Jesus Christus, deur sy lewe op te offer, vergewe het.

Wat eenvoudig beteken dat wanneer ek by die punt in my lewe voor God kom (nie voor ander mense nie, maar voor God), en ek voel vergifnis nie moontlik is nie, ek gerus maar weer na Golgota kan gaan om te sien wat dit gekos het om ons te vergewe.  En gerus maar so ‘n rukkie by daardie kruis kan vertoef om maar weer te leer hoe ons behoort te vergewe.  Dat ons dan van nuuts af, omdat ons God se mense is – en nie om enige ander rede nie - bereid sal wees om die sogenaamde onverskoonbare dinge in ander te vergeef, omdat Christus die onvergeeflike in jou vergeef het.  Dan, wanneer ons so lewe, leer 1 Johannes 4 ons, maak ons die liefde van ons God in hierdie wêreld sigbaar.

Om so te vergewe, broers en susters, is soos om ‘n gevangene te bevry.  En dan agter te kom die gevangene was jy self!

Dit is so maklik, broers en susters, om met dit alles wat ek vanoggend tot dusver gesê het, saam te stem.  Dat vergifnis is reg en noodsaaklik is, ‘n eis van God is.  Dit is maklik om dit alles wat Paulus sê na te sê as ek iemand se vergifnis soek.  Maar net totdat ek iemand anders moet vergewe!

Kry ons dit reg, broers en susters, om ander net so onvoorwaardelik te vergewe soos ons maar te goed weet ons ook soms onvoorwaardelike vergifnis wil ontvang?  Meer nog: kry ons dit selfs reg om te vergewe nog voordat die een wat die kwaad aan jou gedoen het kom jammer sê het?  Kry ons dit reg om die onverskoonbare in ander te vergeef, omdat ons weet dat Christus die onvergeeflike in my vergeef het, kry ons dit reg om die beeld van God so helder in ons te laat vertoon?

As ons sê ons kan nie, moet ons maar weer die Woord hoor: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle in Christus vergewe het.  Wanner ons so leef, sê die Woord in Efesiërs, toon ons dat Jesus se lyding en sterwe werklik deel van ons lewens geword het.

Miskien het die mense van Coventry iets hiervan reggekry.  Hulle het intussen 'n nuwe katedraal gebou, maar vandag nog word daar elke Vrydagmiddag in die ruïnes van die ou kerk, in die ope lug, 'n gebedsdiens gehou.  Elke Vrydag word in die murasie van hulle eens trotse katedraal, die volgende gebed gebid:

Here God: Almal het gesondig en is ver van God af (Rom 3:23). Daarom bid ons:

VADER VERGEEF – die haat wat volke uitmekaar dryf
VADER VERGEEF – die gierigheid wat ons verlei om mense uit te buit en die aarde te verwoes
VADER VERGEEF – die jaloesie op die voorspoed en geluk van ander
VADER VERGEEF – ons onverskilligheid teenoor God se ander mense
VADER VERGEEF – die begeerte wat ons verlei om met mag ons medemens te misbruik
VADER VERGEEF – die hoogmoed wat ons verlei om op onsself te vertrou en nie op God nie
VADER VERGEEF –ons kan nie daarsonder nie.

Volgende Sondag vier ons Nagmaal.  En in Matteus 5:23 het Jesus die volgende opmerking gemaak: As jy jou gawe na die altaar bring en dit jou byval dat jou broer iets teen jou het (en lees mooi: nie eers as jy iets teen iemand het nie, maar selfs as jy weet iemand het iets teen jou), los jou gawe by die altaar en gaan maak eers vrede.

Mense van God, broers en susters, lewe so.  Om vergifnis te weerhou, is om die wonderlike voorreg wat ons as God se mense het met mag te weerhou.  Omdat ek wil.  Maak nie saak wat God wil nie.  Al sê ek ook ek is God se mens.

In Markus het Jesus gesê: by julle mag dit nie so wees nie.  Al wat mag, is om in gehoorsaamheid, dankbaarheid en vreugde voor die almagtige God te buig.  En dan weer by sy tafel te kom hoor dat Hy ons weer onvoorwaardelik vir ons menswees, ons sonde, en daar waar ons nagelaat het, vergewe!
Amen