Filippense 4:2-9

Ons is nuut en anders



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons teksvers van vanoggend, Filippense 4:8, stel ‘n baie, baie moeilike saak aan die orde.  Want kyk wat word hier van ons gevra: ons moet ons gedagtes rig, dink aan, besig wees met (dus doen) alles wat reg is, alles wat edel is, alles wat rein is, alles wat mooi is.

‘n Baie moeilike opdrag, sou ek reken.  Want wat hier van ons gevra word, is so anders as wat ons is, wat ons doen, waaraan ons dink, en waarmee ons onsself soms besig hou.  Want waarmee is ons dikwels besig?  Met wat reg is, of verkeerd is?  Met wat mooi is, of met wat lelik is?  Wat rein is, of wat nie rein is nie?  Dit is amper asof hierdie teksvers ons konfronteer met alles wat ons is, met ons hele sondige menswees, met dit wat ek in die spieël sien, met dit wat ek van myself weet.  Met dit wat ek is.

Maar ook met dit wat ek in Christus behoort te wees.  Wat ek in Christus kan wees.  Wat ek op grond van Christus se liefde kan wees.  In kort: hoe anders ek dikwels behoort te wees.

Kan ons anders wees, broers en susters?  Hoef ons anders te wees as wat ons is?  Moet ons lewens verander?  Is dit werklik nodig?  En as ons sou aanvaar ons moet miskien anders wees, anders lewe, is dit moontlik?  Is wat in hierdie vers van ons gevra word, moontlik?

Ek wil hierdie vrae antwoord, broers en susters, deur nie te begin by ons nie, maar by God.  Want ek glo, as ons vanuit hierdie hoek na hierdie teksvers kyk, so ‘n effens ander perspektief vir ons oopgaan.

Ons God, die drie-enige God wat ons aanbid, die God wat vir ons sorg en vir ons alles in die lewe is en behoort te wees, is so totaal anders as ons.  So totaal anders, dat dit dikwels vir ons te moeilik is om dit enigsins te begryp.

Sy skepsels (en kom ons sê maar, ook sy mense, ook sy kinders) beledig mekaar, maak rusie, baklei, vermoor mekaar selfs, en maak selfs oorlog om te wen.  Ons soek dikwels na vrede, maar die wyse waarop ons hierdie vrede tot stand wil bring, skree soms ten hemele.  Ons bou oorlogswapens en oorlogsmasjiene, ons skrik mekaar af, ons probeer om onsself in ‘n posisie van mag te plaas sodat alles en almal rondom ons beheer word.

En God?  Wat maak God waar daar onvrede is?  Hy laat sy Seun sterf.  Hy gaan Hy op sy knieë met ‘n handdoek om sy lyf en was mense se vuil voete.  ‘n Bietjie anders as ons, sou ek reken!

Mense maak planne om reuse militêre veldtogte te voer.  Hoe groter ons wapens en magte, hoe kragvoller, hoe beter.  So sal ons wen.  So sal ons beheer kry.

En God, wat doen God om beheer te kry?  God laat ‘n seuntjie ‘n reus met ‘n slingervel neervel.  God laat soldate sewe keer om ‘n stad loop en die mure val.  So ‘n rapsie anders as ons, sou ek sê!

God, broers en susters, werk dood eenvoudig net anders as ons!  As Hy ‘n volk vir Hom kies, kies Hy nie die magtige Assirië of Egipte nie, maar Israel — die kleinste, swakste, en minderwaardigste volkie van daardie tyd.

As God ‘n leier vir hierdie volk kies, doen Hy ook so ongelooflik anders:  Hy kies nie iemand wat lank en groot en fris is met status nie.  Nee, Hy kies ‘n weeskind, ‘n skaam man, iemand wat nie kan praat nie.  Hy kies vir Moses.

Dieselfde doen God wanneer Hy ‘n koning kies.  Hy kies die kleinste en die jongste.  Hy kies Dawid.

Dieselfde doen God wanneer Hy die mense kies wat sy volk moet lei en rig, die sogenaamde rigters waarvan ons die Rigtersboek lees: hy kies Ehud (iemand wat links was); Hy kies Debora (‘n vrou); Hy kies Barak (hy was doodbang); Hy kies Gideon (wat geen geloof gehad het nie).

God, broers en susters, werk doodeenvoudig net anders as ons!  As ons kan kies, kies ons die mooiste, die sterkste, die slimste, die rykste, die beste.  Dit is ook dikwels waarna ons streef: om die mooiste, die sterkste, die beste, die slimste te probeer wees.

As God egter kies, kies Hy anders.  Hy kies mense wat bewus is van hulle swakhede, maar net so bewus is van God se grootheid en almag.

Want hierdie mense, broers en susters, mense wat weet hoe klein hulle is — en hoe groot God is, mense wat weet hoe anders hulle is as wat God is, is mense (omdat hulle nuut geword het in en deur Jesus Christus) wat soek na die leef van die liefde.  Hulle is mense wat ook bereid is om op die knieë te gaan met die handdoek om die lyf.

Hulle is verder mense wat glo.  Want hulle is mense wat besef wat God alles op grond van sy genade gee, dat hulle niks verdien nie, en daarom kan hulle nie anders as om totaal afhanklik voor God te lewe nie.

Hulle is mense wat hoop.  Hoop en smag na die sien van God se genade, hoop en smag na vrede, na alles wat reg is, na alles wat mooi is, na alles wat rein is.

Hulle is mense wat hoop op God.  Hoop en smag na die ervaar van God se teenwoordigheid in hulle lewens.  Smag om te sien hoe God hulle lewens beheer en stuur.  Smag om te sien hoe God in hulle en met hulle lewens besig is.

En omdat hulle dit raaksien, dit ervaar, is hulle mense wat bly is.  Bly is omdat God by hulle is.  Is hulle mense wat vrede beleef.  Omdat God hulle vrede is.

En is hulle mense wat doen wat reg is, wat mooi is, wat rein is, wat edel is.  Want hulle is nuut,  omdat God hulle nuut gemaak het.  Hulle is anders, omdat hulle God anders is.

Volgende Sondag, broers en susters, het ons die ongelooflike voorreg om hierdie andersheid van God te beleef.  Waar ‘n heilige God sondaars nooi om saam met Hom aan sy tafel aan te sit.  En by sy tafel dit aan te bied wat vrede bring tussen Hom en sy mense: sy offer, sy Seun, sy liefde, Sy vergifnis.  Sy vrede.  Sy blydskap.

En wat vra Hy van ons?  Dat ons, wanneer ons sy liefdegawe(s) hier ontvang, sal besef dat ons nuut is.  Dat ons ook anders is.  So anders, dat ons ook kan dink en doen wat goed, reg, edel en mooi is.

Dat ons kan liefhê, kan glo, kan hoop.  Kan hoop op ‘n ander wêreld, ‘n mooi wêreld.  Dat ons met ons liefde deel kan wees van hierdie wêreld.  Dat ons kan glo God wil — en sal — vir ons die beste gee.  Sy blydskap.  Sy vrede.

Soek ons na dit in ons lewens, broers en susters?  Smag ons daarna?  Soek ons daarna met gebed en smeking?  En wanneer God dit gee, leef ons anders, anders as die wêreld, omdat ons lewens een stuk danksegging vir en voor God geword het?

Ja, ons God is anders as ons.  Maar ook ons kan anders wees.  Omdat ons nuut is.  Omdat ons God ons nuut gemaak het.  Hoe lyk ons lewens voor God, broers en susters?  Hoe ernstig is ons met ons lewens voor God?  Hoeveel erns maak ons met dit alles wat God vir ons elke dag gee?  En wat gaan ons maak met dit alles wat God vir ons gee?

Kom ons gebruik hierdie week om ernstig oor hierdie vrae te dink.
Amen