Josua 5:2-12

Ons kom met leë hande



Geliefdes van ons Here Jesus, die prediking handel vandag oor ons voorbereiding tot die nagmaal. En vir dié doel word hierdie prediking gehou rondom die vraag wat in een van die ou Halleluja-liedere gesing is: “Moet ek gaan met leë hande? Moet ek só my Heer ontmoet?”

Broers en susters, met die woorde van hierdie ou lied wil ek hê dat ons vanoggend ook vir onsself moet afvra hoe moet ’n mens jouself vir die nagmaal voorberei. Ons kry gereeld die heerlike geleentheid om die Here Jesus, as Gasheer, by die nagmaalstafel met die brood en beker as tekens, te ontmoet. Daarom is dit goed as ons onsself afvra hoe gaan ons, as sondaarmense, die Here ontmoet, daar by die nagmaalstafel?

En met hierdie woorde: “Moet ek gaan met leë hande? Moet ek só my Heer ontmoet?”, staan ons almal eintlik vanoggend soos die Israeliete op die vlaktes van Jerigo. Kom ons verbeel onsself dat ons in hulle skoene staan, weliswaar net in ’n moderne idioom. Agter die Israeliete lê die geslaagde uittog uit die slawerny in Egipte ... agter óns lê bande van die dood wat ons so omsingel het. Ja, die Here Jesus het ons vrygekoop van die mag van Satan en die sonde. Voor die Israeliete lê die beloofde land wat in besit geneem moet word ... voor óns lê die nuwe lewe in Christus, die beloofde ewige lewe.

Die vermoeide pelgrimstog van meer as veertig jaar in die woestyn is agter die rug, dit is verby. Die ondraaglike slawerny wat ons in Egipte beleef het is verby ... ja, die bande wat Satan oor ons lewens gehad het, is iets van die verlede, dit is ook verby! Voor ons lê die beloofde land. Ja, die vervulling van God se verbondsbeloftes wat Hy met ons voorvaders gemaak het, is nou in sig. Ai, is dit nie wonderlik nie? Die Here Jesus het juis belowe dat Hy vir ons vooruitgaan na sy hemelse Vader toe, sodat Hy vir ons almal ’n woonplek daar kan gaan gereed maak (vgl Joh 14:2). Dink net daaraan: Binnekort sal die Here Jesus weer kom, en dan sal Hy ons self in die heilige Godstad binnelei. Ja, ons staar met verlange na die toekoms ... na die uiteindelike rus wat die Here ons belowe het, daar by sy hemeltroon, soos die psalmdigter sê: “.. en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae”(Ps 23:6).

Maar, gemeente, terwyl ons so verlangend staar na die beloofde land, draai ons gedagtes weer terug na die afgelope paar jaar. Ja, ons dink nog terug aan die pas afgelope wonderwerk by die Jordaanrivier: net soos destyds by die Rietsee, het ons gister ook droogvoets deur die Jordaanrivier getrek. Nadat die voete van die priesters, wat die verbondsark gedra het, die water geraak het, het die rivier, soos destyds, ook oopgegaan en kon ons almal daar deurtrek. Ai, dit is darem wonderlik om te besef dat die God wat ons aanbid, tot so iets in staat is! Toe ons deur die Jordaanrivier getrek het, het ons twaalf klippe opmekaar gestapel, een vir elke stam, sodat ons en ons kinders altyd daaraan herinner kan word dat God die lewende God is. Maar ook die ander volke en nasies wat hier woon en dit sien, sal weet dat ons God die enigste lewende God is, en dat ons Hom alleen sal aanbid.

Net soos destyds, is daar vir ons vandag ook so ’n baken: Die kruis van die Here Jesus op Golgota! En dit was nie net vir destyds gewees nie, o nee, dit is steeds vir ons en ons kinders ’n baken van ons geloof in Hom, as die enigste Verlosser.

Maar om nou weer terug te keer na waar ons op die Jerigovlakte staan: Tipies mens, toe ons so ongeveer twee kilometer noordoos van Jerigo kom, het ons begin wonder oor hoe ons hierdie beloofde land in besit gaan neem. Van die verkenners, wat Josua uitgestuur het, het teruggekom en vertel dat hierdie stad Jerigo se mure ontsaglik hoog en sterk is. Ons het verneem dat van die inwoners so sterk is, en boonop is die land so vrugbaar, dat een enkele druiwetros tussen twee sterk manne gedra moet word. Tog, die Here God sê ons moet uittrek en hierdie stad beleër ... ja, uiteindelik sal ons weer elkeen ’n huis hê om in te woon, ’n stukke grond waarop ons kan werk ... dit alles na die jare se geswoeg in die woestyn. Al wat ons moet doen, is om onsself te bewapen, die stad Jerigo in te neem en dit te verower. Ons weet ook dat, al is die stad Jerigo se mure so dik en sterk, die inwoners baie bang vir ons is.

Maar wat word toe gedoen? Anders as wat die meeste Israeliete gereken het, roep Josua al die mans nader. Net daar reël hy dat al die mans wat nie in die woestyn besny is nie, onmiddellik besny moes word. Toe die Israeliete by Josua wou weet oor hoekom hierdie stap geneem moes word, het hy gesê dat dit ’n bevestiging van God se verbond met hulle was. Hier by Gilgal sou die veertig jaar wat die volk in die woestyn rondgeswerf het, afgesluit word, en dan sou daar ’n nuwe tydperk aanbreek. Daarom beveel God ook vir Josua om al die mans in ’n massa seremonie te besny. Die ongehoorsame mans, wat reeds in Egipte besny was, het in die woestyntog uitgesterf, en daarom moet al die kinders wat in die woestyn gebore is, en nie besny was nie, nou besny word. Die besnydenis was die sigbare teken aan die liggaam om te bewys dat die volk aan God behoort, en dat Hy hulle God sal wees. Hierdie verbond tussen God en die volk moes eers weer herbevestig word, alvorens die Israeliete die stad Jerigo kon aanval. En, die ergste van alles is dat Josua boonop sê dat, sodra die besnydenis afgehandel is en die mans weer na die operasie herstel het, moet die pasga eers gevier word, sommer hier in die vlakte.

Wat is Josua se probleem? Wel, vir ons lyk dit asof hy eerder die verlede herdenk, want hy wil met die pasga die uittog uit Egipte vier. En dit is mos onnodig, dan nie? Immers, hier staan ons voor die beloofde land, die toekoms is net hier voor ons! Het hy dan vergeet van God se beloftes?

Die voorbereidings wat Josua reël voordat hulle die stad Jerigo aanval en beleër, is totaal anders as wat die Israeliete verwag het. Is dit nie eerder nodig om die wapens na te gaan nie, moet ons nie eerder al die aanvalstegnieke bespreek en inoefen nie, moet die manne nie eerder bemoedig en paraat gekry word nie? Nee, sê Josua, die Here het opdrag gegee dat al die mans, groot en klein, eers besny moet word. Wat Josua blykbaar nie besef nie, is dat dit vir die mans ongeveer ’n week sal neem om van hierdie pynlike operasie te herstel, en dan wil hy boonop die pasga ook daarna vier. Dit is mos nou ’n vermorsing van kosbare tyd ...

Broers en susters, na die besnydenis het Josua die plek se naam na Gilgal verander, dit beteken “iets is weggevat”. Na al die omswerwinge van veertig jaar in die woestyn, het die Here hier iets van hulle weggevat. Wat is dit wat die Here van hulle, van ons, af weggevat het? Die Here het besluit om die volk te vergewe vir hulle ongehoorsaamheid toe hulle Hom nie geglo het dat Hy hulle in die beloofde land sou kon inneem nie (vgl Num 14). Vir ’n hele geslag lank het God hulle laat rondswerf in die woestyn en verbied om die beloofde land binne te gaan, sodat die ongehoorsame volk daar in die woestyn kon uitsterf. Nou vat God hierdie sonde en verbod by Gilgal weg. Ja, die Here wil weer eens vir die Israeliete hier by Gilgal van hulleself, van die “eie-ek” bevry.

Daarom moet ons eers die sonde en ongehoorsaamheid afsterf ... ja, ons moet eers ontslae raak van al die verkeerde gesindhede wat maak dat ons nie ons godsdienstige pligte nakom nie. Ons moet eers besef dat ons die stryd teen die vyand (die sonde) nie alleen, op eie kragte, kan aanpak nie. Eers as ons weet dat ons afhanklik moet wees van God vir ons krag en wysheid, eers as ons besef dat ons gesindheid teenoor God ook reg moet wees, eers as ons glo dat ons net aan die beloftes van God hoef vas te hou, dan ... ja, dan eers kan ons die stryd teen ons vyand aanpak.

Maar voor ons hierdie stryd kan aanpak moet ons eers die pasga (die nagmaal) gebruik. Hoekom? Wel, sodat ons daar by die nagmaal verseker kan word dat al God se beloftes wel waar word vir diegene wat dit glo. En wat wil die Here hê moet ons alles saambring na die nagmaal toe? Niks nie! Jy kom met leë hande, want jy het niks om God aan te bied of om op te roem nie! En gelukkig is dit ook nie nodig nie! Dit is regtig so: Ons kan werklik die Here net met leë hande by die nagmaal ontmoet, want dáár gee Hy vir ons, uit genade, wat ons nodig het vir die felle stryd teen die sonde wat voorlê. Al hoef ons dan nou nie iets saam te vat na die nagmaal toe nie, is daar wel iets wat die Here van ons vra: Die Here vra van ons geloof in dit wat Hy belowe, en die erkenning dat ons van Hom afhanklik is, dat ons Hom gehoorsaam sal wil wees en Hom alleen sal wil dien.

Gemeente, die voorbereidingsdiens tot nagmaal is ook uniek, met iets anders in as wat ons werklik dink of verwag. ’n Mens reken en voel dikwels dat jy jouself van die nagmaal moet weerhou, omdat jy nie reg is nie, of omdat jy oor een of ander ding skuldig voel, of omdat jy werklik nie vir die Here iets in ruil kan aanbied nie. Die gesindheid waartoe die voorbereidingsdiens ons oproep, is om na te dink oor ons sondes en ons dan voor God te verootmoedig in skuldbesef. Jy moet besef dat God die sonde haat, en dat sy woede daaroor self vir sy volk vir veertig jaar in die woestyn laat rondswerf het. Tog, net soos destyds by Gilgal, het God ook vir ons bevry van hierdie sondemag. Hy het dit gedoen deur sy Seun, Jesus Christus, aan die kruis te laat sterf, sodat elkeen wat in Hom glo, die beloofde land, die ewige lewe, kan ingaan.

Daarom verwag God ook van ons om eers die nagmaal te gebruik, alvorens ons die ewige lewe kan ingaan. Hoekom? Omdat ons by die Nagmaaltafel weer eens herinner word aan die Here Jesus se kruisdood, en dat onsself nie die stryd teen Satan en sy leërmagte kan wen nie. Maar dit is ook nie nodig nie, want die Here Jesus het klaar die mag van Satan, namens ons, verbreek. Dit is wat ons moet glo, dit is wat van ons verwag word. Ons kom met leë hande na die Nagmaaltafel, maar word weggestuur met die herinnering van die Here Jesus se bloed (die slukkie wyn) wat vir ons gestort is, en sy liggaam (die stukkie brood) wat vir ons gebreek is. Hierdie tekens maak van my ’n kragtige soldaat om vir die Here Jesus in hierdie toekoms te baklei. Dit maak van my ’n bevryde sondaar wat, met die krag en liefde van God, die oorwinning sal behaal. En dan kan ek ook eendag, soos Dawid bely het, by die feesmaal aansit terwyl my teëstanders moet toekyk (Ps 23:5), en sal die Here Jesus sélf vir my van die vrugte van die boom van die lewe, wat in die paradys van God staan, gee om van te eet (Open 2:7).
Amen