Jona 1:1-10; 3:1-4:2

Selfondersoek en skuldbelydenis



Fokusteks: Jona 3:1-5, 10
Ander tekste: Psalm 62:5-12; 1 Korintiërs 7:29-31; Markus 1:14-20

Broers en susters:
Die verhaal van Jona is vol verrassings: Die eerste verrassing is dat hier van ’n Joodse profeet gevra word om buite die bekende bedieningsveld (=Israel) te gaan optree. Jona het genoeg argumente gehad om dit nie te doen nie, soos bv dat hy as ’n profeet uit Israel, nie gesag onder die Assiriërs sou gehad het nie; en dat die Assiriërs ook Israel se tradisionele vyande was:
Sy onwilligheid om God se opdrag uit te voer het egter te doen met sy ingeburgerde nasionalistiese lewenshouding.

Na `n reeks buitengewone gebeurtenisse het Jona egter tog God se opdrag uitgevoer:
En hierop volg ’n verdere verrassing, naamlik, die dramatiese bekering van Nineve op die LW.: eenmalige prediking van ’n hardkoppige en onwillige profeet.

Reg van die begin af toe Jona die eerste maal die opdrag gekry het, het hy vasgesteek. Hy probeer vlug om sy verantwoordelikheid te ontduik. Hy was selfs bereid om te sterf deur hom, die eerste maal, in die see te laat gooi.
Sy onwilligheid kom die tweede maal tot uitdrukking daarin dat hy na slegs een dag se reis die stad in, reeds sy preek hou, sy boodskap bring.
Dit geskied so in die gees van om dit tog net so gou as moontlik afgehandel en agter die rug te kry...

Jona se gesindheid en houding teenoor die heidene het eintlik niks verander nie: Al wat hy geleer het, is dat dit onmoontlik is om vir God te probeer ontvlug as jy ’n opdrag gekry het.
En so kom die stad, Nineve tot bekering, ondanks Jona.

Dis dan ook die grootste verrassing van die verhaal: Teen alle verwagting in kom Nineve tot bekering! en God wend sy oordeel van hulle af! Die oordeel slaan om in genade! En so word Jona, teen sy sin in, een van die mees suksesvolle sendelinge van die geskiedenis...

WAT LEER ONS UIT HIERDIE VERHAAL?

  1. Die verhaal is in die eerste plek bedoel om te sinspeel op Israel se versuim en onwilligheid om sy verantwoordelikheid ten opsigte van die ander nasies uit te voer.
    Dit word verpersoonlik in en weerspieël deur Jona wat probeer wegvlug voor die aangesig van die Here.

    Hierin lê dan ook uiteindelik Israel se eie ondergang, naamlik hulle fikseerdheid op eie belang;
    En die selfsugtigheid en eksklusiwiteit waarmee hulle God se genade en heil net vir hulleself toegeëien het.
  2. Vanuit die gesigspunt van die mens is die boodskap van hierdie verhaal dat gebed God kan beweeg om sy besluite te verander.
    As die mense van Nineve berou toon en hulle voor God verootmoedig in gebed, wend God sy oordeel van hulle af...

Daarmee wil die verhaal ook beklemtoon dat nie-Jode, soos die inwoners van Nineve, God se bedoelings – ook die van sy oordeel – soms beter verstaan as byvoorbeeld Israel.
Jona het God geken en goed geweet dat die bedoeling van God se oordeel is om genadig te wees mits daar ware berou getoon word.

Daarvoor is Jona bang. God moenie die heidene genadig wees nie! Hy moet hulle oordeel... Daarom vlug Jona liewer weg van God as om sy profeet te wees en sy opdrag uit te voer.
’n Wonderlike geleentheid om God se boodskapper te wees – maar Jona se menslike vooroordele maak hom onwillig en hardkoppig.

Hoe ironies! Jona vlug liewer met heidene weg van God af... as wat hy vir heidene wil preek namens God.
Hy preek onder protes en met ’n beswaarde hart. Selfs nadat Nineve tot bekering kom protesteer hy teen sy beterwete in.

So diepgewortel is sy vooroordeel dat selfs die wonder van Nineve se bekering aan hom niks doen nie (Vgl. H 4). Daarmee wil die verhaal natuurlik ook beklemtoon dat God sy doel bereik - selfs al moet Hy met ’n onwillige profeet werk.

TOEPASSING
Jona se boodskap kan vergelyk word met “die blye evangelie”; die verrassende nuus dat God (om Christus ontwil; op grond van Christus se offer) sy oordeel van ons afwend...
Dié nuus wat ons elke dag hoor, ook Sondag vir Sondag in die kerk hoor, is nou al (wat ons betref) stereotiep.

Dit bevestig dan ook óns vooroordele: dit onderskryf ons houdinge teenoor diegene buite die Christendom en verlam ons handelinge. Soos in die geval van Jona, wil predikante dikwels nie die vreugde en die genade wat die evangelieboodskap eintlik is, verwoord nie omdat ons deur ons eie vooroordele geïnhibeer word om dit te doen...

Ons persoonlike standpunte en vrees vir die konsekwensies wat dit vir onsself inhou, weerhou ons dikwels van dit wat ons moet verkondig.
Of dalk gun ons ook nie werklik die goeie nuus van die evangelie vir ander nie.

Dit kom alles neer op kleingeloof. Ons glo dikwels nie dat God sal doen wat Hy beloof het nie; of dat Hy die gang van sake kan omkeer nie.
Ons glo nie dat gebed sake kan verander nie: Ons volg ons sogenaamde gesonde verstand.

Ons sal egter verbaas wees as ons sien hoeveel mense luister—as ons maar net bereid is om die evangelie (goeie nuus) te bring; om te praat oor alles wat ons van God weet.
As God se woord ’n stad soos Nineve tot inkeer kon bring nadat hulle dit slegs een keer gehoor het, kan dit ook in enige ander situasie mense tot inkeer bring.

Daarby moet ons ernstig begin glo dat God die hele wêreld lief het, die hele skepping, ál die mense van die wêreld (Joh 3:16).
Dit is presies wat die evangelie vir ons wil sê en wat ons deur die verkondiging van die evangelie vir die wêreld moet sê.

God se genade en oordeel is vir alle mense. Dit is die primêre boodskap wat uitgedra moet word tot aan die uiterste van die aarde. Dit moet ook verkondig word aan diegene wat my persoonlik kwaad aangedoen het - hoe diep my haat en wraakgevoelens vir hulle mag wees.

SLOT
Om genade te verkry, moet jy jou skuld bely soos Nineve gedoen het. Wie dit besef en sy/haar skuld bely, is verseker van God se vergiffenis.
Dit is die enigste manier om die oordeel van God te ontkom. Want die oordeel van God staan ook seker en vas.
Amen