Lukas 5:1-11; Johannes 21:1-11

Wat gemaak wanneer ons God teleurstel?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit is algemeen bekend dat by die see van Tiberias vis alleen in die nag gevang kan word, juis omdat die vis in die nag na die koel vlakwater kom om kos te soek, en dan bedags, wanneer dit warm word, terugkeer diepsee toe.

Juis daarom was vissers maar te dankbaar wanneer dit in die oggend lig geword het, want dit het beteken 'n nag se harde werk is amper verby, nog net die nette skoonmaak, en, indien daar 'n vangs was, geld vir die verkoop daarvan.

Maar nie Petrus op hierdie oggend nie. Dit was amper lig buite, maar sy hart was in donkerte gehul. Die wind was koud, maar hy het dit nie gevoel nie. Sy vriende het heerlik geslaap, maar hy het nie omgegee nie. En bo alles, die nette aan sy voete was leeg — want daardie nag was die see maar suinig — maar dit het hom nie eers gepla nie.

Want op hierdie oomblik was sy gedagtes ver van die see van Tiberias. Sy gedagtes was in Jerusalem, waar hy in sy gedagtes 'n benoude nag herleef het. Weer het hy die voetstappe van die Romeinse wag gehoor, weer onthou hy hoe hy Malgus se oor afgekap het, weer hoor hy hoe Jesus hom teregwys, en weer onthou hy hoe die soldate vir Jesus weggevat het.

Maar wat hy veral onthou is hoe hy gespog het: Here, al sal almal hier U in die steek laat, ek sal dit nooit doen nie. Nooit nie. Maar wat het gebeur? Hoe goed onthou hy dit nie. Uit pure instink om te oorleef het hy sy rug op sy dierbaarste vriend gedraai, en weggehardloop.

Later, onthou hy trots, het sy getrouheid aan Jesus egter weer oorwin. Hoe goed het dit nie gevoel om uit sy skuilplek te kom en weer na Jesus te gaan soek nie? Hy het Jesus immers teleurgestel. Hy wou gaan regmaak waar hy verbrou het.

Wat gevolg het was egter rampspoed op rampspoed. Hoe goed onthou hy dit nie? Op 'n afstand (vertel Lukas 22:54 ons) het hy gaan staan daar waar Jesus verhoor is. Hy wou daar wees, maar wou darem nie herken word nie. Die probleem was net, onthou hy nou nog so goed, hulle het hom erken. Drie keer by die by die uur het hulle gesê hy is een van Jesus se volgelinge. Drie keer het hy dit ontken.

En toe die ergste: soos Jesus beloof het, het die haan drie keer gekraai. En toe dit gebeur, het Jesus omgedraai (vertel Lukas 22:61 ons), en Petrus stip in die oë gekyk. En daardie kyk en oë sou Petrus nooit vergeet nie. Dit was asof 'n mes regdeur sy hart gesny en deurboor het. En al was dit maar vir 'n vlietende oomblik, het dit gevoel soos die ewigheid.

Daarom kan hy dit nie vergeet nie. Daarom voel hy op hierdie oggend so bedremmeld. Al het Jesus intussen opgestaan. Al is die dood intussen oorwin. Nee, dit het nie saak gemaak nie. Al wat saak gemaak het op hierdie oggend was daardie oomblik toe Jesus se oë oor sy mislukking so in hom ingeskroei het.

Dit was dus nie die lang nag se werk, broers en susters, wat Petrus hierdie oggend so 'n bedremmelde figuur gemaak het nie. Dit was immers nie die eerste lang nag wat hy op die see deurgebring het nie; hy was immers 'n visserman. Ook nie die feit dat hulle daardie nag niks gevang het nie. Dit het ook al baie keer gebeur. Inteendeel. Daar was ook 'n ander keer dat dit gebeur het. 'n Geleentheid waarvan Lukas 5 ons vertel.

Een oggend, so ongeveer drie jaar gelede het hulle ook niks gevang nie. Hulle het die hele nag gewerk, maar kon niks daarvoor wys nie — net seer hande en seer rûe. Daardie oggend was daar egter iets anders as maar net die verkoop van vis op die oewer aan die gang. 'n Man met die naam van Jesus, komende van Nasaret, was besig om die mense wat vis wou kom koop, te leer.

Die mense het so om Hom saamgedrom dat Jesus skaars plek gehad het om te staan. Toe het Hy Petrus gevra of hy sy skuit as platform kon gebruik. Dit was vir Petrus 'n ervaring om na die man te kon luister. Hy het geweet waarvan hy praat.

Maar, Hy het beslis nie geweet waarvan Hy praat toe Hy, nadat Hy die mense toegespreek het, vir Petrus beveel het om weer te gaan visvang nie. Petrus was vol verskonings. Die laaste ding waarvoor hy lus was, was om weer in te vaar met die wete dat jy in die dag feitlik geen kans het om iets te vang nie. Wat meer is: die nette was al droog, en die skuit was reeds skoongemaak.

Daarom was hy vol verskonings. Meneer, het hy gesê, ons het so pas die hele nag geswoeg sonder om iets te vang. Ons het geroei, die nette op die water gewerp, gewag dat hulle afsak, weer en weer opgetrek om maar net met leë hande te kon terugkeer. Vir twaalf ure aanmekaar.

En nou wil Jesus werklik hê hulle moet weer probeer. En nie eers hier naby nie, daar doer in die diepsee, in die diepwater. Vir Petrus was die besluit baie moeilik. Hy het gesien hoe sy vriende hulle koppe geskud het. Jesus was wel duidelik 'n leermeester, maar hy was immers 'n meester in die visvangkuns. Wat meer is, die mense op die strand het hulle dopgehou, en sy verstand het net een ding gesê: dit was tyd om op te hou. Dit sou nie die moeite werd wees nie.

Maar tog het Petrus besluit om weer in te vaar. Al het dit nie sin gemaak nie. En hoe is sy besluit nie geseën nie? Nie omdat hulle toe baie vis gevang het nie. Nee. Omdat Petrus op daardie skuit God ontmoet het.

En daarna was Petrus se lewe nooit weer dieselfde nie. Hy het sy rug op die see gedraai om Jesus te volg. Hy het sy skuit agtergelaat om nooit weer terug te keer nie. Maar nou was hy, op hierdie môre — so terwyl al hierdie gedagtes deur sy kop flits — terug. Die sirkel was voltooi. Waar hy begin het, het hy geëindig. Op dieselfde boot. Op dieselfde see.

Met net een verskil. Tussen die eerste keer en nou het hy God teleurgestel. Tussen die eerste keer en nou het hy van God af weggehardloop. Tussen die eerste keer en nou het hy homself skuldig gemaak aan dit wat hy gesweer het hy nooit sou doen nie. Om sy beste vriend in die steek te laat en te verloën.

Maar dan, broers en susters, lees ons in Johannes 21:5, word Petrus se gedagtes onderbreek deur 'n stem van die strand af. ‘Enige vis gevang’, roep iemand, seker een van die inwoners van die dorpie. `Nee’, skreeu Johannes en Petrus terug. `Probeer dan aan die ander kant’, skreeu die stem terug.

En Johannes kyk na Petrus. Dit kan seker nie skade doen nie. En hulle doen dit maar. Petrus draai die tou styf om sy gewrig en wag. Maar hy hoef nie te wag nie. Want dit is net vis waar jy kyk wat in die boot instroom. En terwyl Petrus poog om alles onder beheer te kry, steek Johannes egter vas.

Want het dit nie al voorheen gebeur nie? Die lang nag. Die leë net. Die opdrag om weer te probeer. Vis wat in die skuit stroom. En hy draai om en kyk weer na die strand. En wanneer hy na Petrus terugdraai kom die woorde outomaties uit sy mond: `Dit is Hy. Dit is Jesus. Petrus, sowaar, dit is die Here’.

Aan Petrus is daar geen keer nie. Bewend strompel hy uit die water uit en gaan staan reg voor die vriend wat hy verraai het. En wat gebeur? God bied dié vriend wat hom verraai het, ontbyt aan. En so vind Petrus weer eens genade in Galilea, by dieselfde see, amper op dieselfde plek. Al het hy God intussen teleurgestel.

Wat het hier gebeur, broers en susters? Petrus het God in die steek gelaat, maar God het hom nie vergeet nie. Al het Jesus, en Petrus, presies geweet waar Petrus was, en wat hy gedoen het, toe hy die vorige keer by 'n vuur gestaan het.

Wat maak 'n mens, broers en susters, wanneer 'n mens besef dat jy God teleurgestel het? Wat maak 'n mens wanneer jy besef dat jy God met wat jy gister of eergister gedoen het, eenvoudig net moes teleurgestel het?

Ons moet maak soos Petrus gemaak het. Ons moet voor God gaan staan. Waar net jy/ek en God is. Waar jy en God presies weet wat jy gedoen het. Iets (wat dit ook al mag wees) waarop jy beslis nie trots is nie.

Ja, broers en susters, dit is wat ons moet doen. Ons moet daar voor God gaan staan waar Hy ons kan sien. Waar ons wil hê hy ons moet sien. Te berouvol om te praat, maar te hoopvol om te loop.

En wat sal ons ervaar? Ons sal beleef dat Hy weer teruggekom het. Dat Hy ons kom soek het. En ons kom uitnooi het om weer te probeer.

Nie dat dit maklik sal wees nie, broers en susters. Want dit is maar eenvoudig net so: die moeilikste reis om te onderneem is die een terug na die plek waar jy misluk het. Ons almal weet het. Ons almal het dit beslis ook al ervaar.

Maar daar is 'n verskil. Want hierdie keer nooi God ons om weer te probeer. Maar hierdie keer net — saam met Hom. En wie bereid is om God op die pad saam te neem, wie bereid is om saam met God te wandel, wie bereid is om God op sy woord te neem — soos Petrus die keer toe hy maar weer ingevaar het — sal geseën word.

Nog meer: ons sal telkens weer deur God opgesoek word. Want so seer as wat dit ons maak om God teleur te stel, so seer maak dit God om teleurgestel te word. Maar ook: so graag as wat ons voor God om vergifnis wil pleit, net so graag wil God aan ons weer en weer sy vergifnis, genade en hand aanbied. Ons moet net sy vergifnis en genade aanvaar, en sy hand vat.

Want dit is al wat 'n mens kan doen wanneer jy God teleur stel.
Amen