Psalm 139:1-18, 23-24

Wat God se vergifnis ook beteken



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Dit is soms verbasend hoe ons so maklik, as dit kom by die geloof, sekere woorde oor ons tong laat vloei, maar wanneer ons presies moet gaan sê wat hierdie woorde beteken, ons soms sukkel om presies te sê wat ons met hierdie woorde bedoel. Dink maar aan woorde soos bekering, regverdiging, om 'n nuwe mens te wees, om beelddraer van God te wees, om lief te hê, om maar net 'n paar te noem.

So is dit ook die woord/begrip vergifnis. In ons spreektaal, broers en susters, wil ek beweer, beteken vergifnis (om te vergewe) baie keer vir ons iets soos om te verskoon. Dit wil sê: om iemand te vergewe is eintlik maar net om iemand te verskoon.

Hierdie verstaan van vergewing/vergifnis, kom byvoorbeeld dikwels na vore in die volgende uitspraak wat mense soms maak: ‘om alles te verstaan, is om alles te vergewe’. Kom ons neem byvoorbeeld die voorbeeld van iemand wat 'n moord pleeg. Om iemand te vermoor, sê baie, is nie normaal nie. Daarom moet ons gaan soek na die oorsaak/oorsprong/rede van so 'n persoon se optrede. Dan kan hierdie onverstaanbare optrede dalk vir ons verstaanbaar word. In die soeke na die wortel van hierdie kwaad kom ons byvoorbeeld agter dat die persoon wat die moord gepleeg het in 'n omgewing grootgeword het waar baie mense rondom hom gedood is, en dus grootgeword het onder die indruk dat die lewe goedkoop is. Of dalk is hy in sy opvoedingsjare erg geestelik/fisies deur sy ouers gemolesteer dat hy so sielkundige probleme ontwikkel het en dus nie vir sy daad verantwoordelik gehou kan word nie (nog baie ander voorbeelde).

Met ander woorde, omdat ons nou verstaan wat die agtergrond van alles is, dat die moordenaar nie eintlik in staat was om tussen goed en kwaad te onderskei nie, dat die fout nie by hom lê nie, maar byvoorbeeld sy omstandighede/ouers, daarom kan hy maar vergewe word. Vergewe word nie alleen omdat ons alles nou verstaan nie, maar eintlik vergewe omdat daar nie eintlik iets is wat vergewe moet word nie. Eintlik was sy optrede onafwendbaar, as gevolg van sy agtergrond/opvoeding moes dit een of ander tyd gebeur, en daarom moet/kan die samelewing hom maar vergewe/verskoon.

Die Christelike geloof, broers en susters, dink en praat egter totaal anders oor die saak wat ons vergifnis noem. Soos ons dalk soms kan probeer om alles te verstaan wat ander doen, is dit in die geval van God totaal anders. God, broers en susters, sê Psalm 139 vir ons, verstaan nie net altyd alles nie, Hy weet alles. En nie net gedeeltelik nie, maar altyd alles wat ons doen.

Kyk hoe stel Psalm 139 dit: ‘Here, U sien dwarsdeur my, U ken my’ (vers 1). ‘U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom’ (vers 2). ‘Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug’ vra die Psalmskrywer. En dan antwoord hy: nie die hemel, die doderyk, die ooste, die weste of die duisternis is ver of donker genoeg om onsself vir God weg te steek nie. Dus: God weet alles, weet dat ons sondig van aard en natuur is, weet wat ons doen en dink.

Die Psalmskrywer maak nou egter nie hieruit die gevolgtrekking: daarom Here, omdat U alles weet, alles verstaan, moet/kan u maar vergewe nie. Omdat U alles verstaan/weet, daarom weet ek sal U my nie verwyt omdat ek nie eintlik is soos ek behoort te wees nie. Want U weet mos dat ek maar eintlik net 'n sondige mens is, en niks anders nie.

Nee, broers en susters. Die Psalmskrywer kom tot 'n totaal ander gevolgtrekking. Dit is verskriklik, sê hy, eenvoudig amper vernietigend, om te weet dat God altyd regdeur ons sien. God spaar ons nie. Want sy goddelike blik vang ons altyd uit, is altyd by ons, en so gaan ons ten gronde. So word ons skuldig verklaar. So staan ons voor die alomteenwoordige verterende blik van God. En so word ons sonde blootgestel vir wat dit is. Sonde. Ongehoorsaamheid voor God.

Maar tog, broers en susters, word ons deur God vergewe. Al weet Hy van alles, al verstaan Hy alles. Maar dan, broers en susters, en dit moet ons mooi hoor, word ons nie vergewe omdat God alles verstaan, alles weet nie, nee, ons word ten spyte daarvan vergewe. Kom ons sê dit anders: die feit dat ons deur God vergewe word/kan word, berus nie op die feit dat God besef ons is sondig en daarom weet dat ons nie eintlik anders kan leef nie, op die feit dat God verstaan ons is van stof, ons is mens, en daarom sondig ons.

Nee. God se vergifnis berus op 'n wonder van die Goddelike hart, dit berus daarop dat iets in God plaasvind. Dat iets in God se hart gebeur. Iets so merkwaardig dat, terwyl God alles sien, van alles weet, weet ons vir ons sonde geen verskoning het nie, weet ons verdien geen vergifnis nie, ons dit, alles ten spyt, vergewe. Dit alles, net omdat daar vir ons iets in God se hart gebeur. Wat, broers en susters, is hierdie iets? Wat kan dit beteken? Kom ek probeer verduidelik.

Dalk ken u die bekende verhaal van Faust, met die titel Die reisiger sonder bagasie, 'n verhaal wat ons hier kan help (alhoewel dit geheel en al onchristelik is). 'n Jong soldaat het in die oorlog 'n kopskoot gekry wat hom sy hele geheue totaal ontneem het. Na die oorlog het hy na sy familie begin soek, sonder sukses. Later is die pers en die radio ingeroep om te help — enige familie wat hulle seun na die oorlog vermis, moes kom kyk of dit nie dalk hierdie jong man is nie. Baie het gekom, sonder sukses, tot een familie een dag met blydskap uitgeroep het: ‘Daar is hy mos, ons seun en ons broer!’

Maar al het hulle hom herken, het hy hulle nie herken nie, want sy geheue het hom bly in die steek laat. Hulle begin toe om te probeer dat hy sy geheue kan herwin deur aan hom sterk en positiewe dinge van sy kinderjare te vertel. Maar sonder enige sukses. Hy kon niks onthou nie. Hy bly onaangeraak. Toe kom sy broer en vertel hom dat hy een keer, in 'n oomblik van woede, tydens 'n geworstel, 'n kindermaat van die trap gestoot het wie toe sy nek en ledemate gebreek het. En dat hy self ook van die trap geval het en sodoende 'n aantal letsels op sy rug opgedoen het. Letsels wat hy geweet het, wel aan sy liggaam was.

En toe kon hy hom nie meer onttrek aan die sekerheid wie hy was nie. Tot op daardie oomblik was hy iemand wat net in die teenswoordige tyd gelewe het, met 'n toekoms om op te bou. Maar nou was hy iemand met 'n verlede. Iemand wat iewers vandaan kom, en wat sekere dinge gedoen het wat verkeerd was.

Om te weet wie ek is, broers en susters, is om te weet dat ek 'n verlede het. En om 'n verlede te hê, is om skuld te hê. Om skuld te hê, beteken op sy beurt weer dat ons bepaalde bagasie met ons saamdra, dat ons verbind is aan bepaalde dinge wat in ons verlede gebeur het. En in hierdie situasie is ons almal, broers en susters, of ons dit nou wil erken of nie. Ons weet dit soms nie eers meer nie. Ons dink dit dikwels nie. Net totdat ons, byvoorbeeld, vir 'n pos aansoek doen — want dan soek my potensiële werkgewer my CV, my verlede, en word van my verwag om dit op die tafel oop te gooi. En dan besef ons weer: ja, ook ek het my verlede.

Maar kom ons gaan aan met die verhaal van Faust. Die jong man wou nie aanvaar dat sy verlede so kon lyk nie. Daarom ontken hy nie alleen dat hy sy familie herken nie, maar gaan hy saam met 'n ander familie — wat om een of ander rede 'n manlike erfgenaam soek — 'n familie wie hy weet nie syne is nie.

Want saam met hulle, het hy gevoel, kan hy nuut begin, kan hy iemand sonder 'n verlede wees, met net die toekoms voor hom. Ja, 'n reisiger sonder bagasie.

Dit is merkwaardig, broers en susters, hoe hierdie onchristelike verhaal by die Nuwe-Testamentiese verstaan van Goddelike vergifnis aansluit. Om deur God vergewe te word, sê die Nuwe Testament, beteken om 'n nuwe toekoms te kry. Vergifnis beteken nie dat ek maar net my bagasie neersit en dit agterlaat nie, maar dat Iemand dit by my wegneem, dit optel en dit vir my dra. Want voor God is ek nie meer identies met my verlede nie.

Want as God van my praat, sê Hy nie: Dit is die man/vrou wat dit en dat gedoen het nie. Nee, Hy sê: dit is die mens met wie Ek, ten spyte van alles, dit of dat beoog. Want die skuldbrief — soos Kolossense 2:14 dit stel — is aan die kruis vasgenael. 'n Ander Een het die las van my afgeneem. Nou word my lewe nie meer bepaal deur dit wat ek agter my het nie, maar deur dit wat ek voor my het, dit wat voor my lê.

Dit, broers en susters, is die wonder van die Goddelike hart, dit is die iets wat in God se hart gebeur, wanneer Hy regdeur ons kyk en al ons sondes raaksien. Hy vergewe nie maar net omdat Hy alles verstaan nie. Nee. Hy vergewe my omdat Hy die las van my lewe aan die kruis op Homself geneem het. Omdat Hy weet wat dit beteken om hierdie las elke dag met jou saam te dra.

Dus, broers en susters: Wanneer God ons vergewe, is dit nie maar net 'n geval van ‘jou sondes is vergewe en nou kan jy weer gaan lewe nie’. Nee. Wanneer God vergewe sê Hy: omdat Ek self jou verlede vir jou gedra het, kry jy nou 'n nuwe toekoms.

Of, kom ons sê dit nog anders: wanneer God ons vergewe, vergewe Hy ons nie ter wille van ons verlede nie, maar ter wille van ons toekoms. Vergifnis beteken daarom nie net ‘jou verlede is nou weg nie’. Nee. Beteken ook, of eerder: nou kan jy, sonder dat jy nodig het om al die swaar bagasie te dra, 'n nuwe lewe gaan lei.

Daarom: vergifnis, glo dit as u wil, het nie eintlik iets te make met ons verlede nie. Dit het eerder alles te make met ons toekoms. Met dit waarvoor God ons wil gebruik. Want God vergewe ons nie net om iets aan ons verlede te doen nie, maar veral om iets met ons in die toekoms te doen.

Daarom ook, broers en susters, is die lewe na die tafel miskien meer belangrik as die lewe voor die tafel. Ons lê soms miskien te veel klem op die selfondersoek voor die tafel as die dankbare lewe na die tafel.

Daarom, broers en susters, terwyl ons onsself hierdie week voorberei om aan die tafel van die Here volgende week te kom aansit, moet die woorde op ons lippe dalk vir 'n slag nie wees: ‘dankie Here dat U my sondes vergewe’ nie, maar eerder: ‘Here, wys my hoekom U my vergewe, wys my hoe U wil hê ek 'n nuwe mens moet word, wys my waar U my wil gebruik, wys my waar U my nodig het’.

Want vergifnis het ook en veral iets te make met ons toekoms, en nie alleen iets met ons verlede nie. God vergewe nie omdat Hy sogenaamd alles verstaan nie, Hy vergewe omdat Hy 'n plan met ons het.
Amen