Romeine 12:1

Word weer vir ‘n slag deur God se ontferming oorrompel!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
As ons eerlik wil wees, hou ons nie baie van wind nie. Dit waai jou tuin vol blare. Dit maak alles buite onplesierig. In die nag hou dit ons wakker. Dit kan ook geweldige verwoesting saai. Dit ruk bome om, en verwoes eiendom. Wind wat regtig waai, maak ‘n mens weerloos. Jy kan niks daaraan doen nie. Daarom, wanneer die wind waai, maak ons die vensters toe, ons sluit ons deure, ons bly binne. Ons vermy die wind. Vir sover dit moontlik is.

Net so, broers en susters, laat die winde wat deur ons lewens waai, ons soms weerloos. Ons leef so dikwels met ‘n uitkyk van: jy moet sterk wees, jy moet weerstand bied, jy moet slim wees, jy moet reg wees. Ek wil nie oud word nie, ek wil nie hê my lelike kwaliteite moet blootgestel word nie, ek wil nie verloor nie, ongeluk mag my nie tref nie, ek wil nie siek word nie, my geliefdes mag nie iets oorkom nie.

Maar dan kom die lewenswinde en waai oor ons lewens. Winde wat jy nie hoef te soek nie. Op hulle tyd kry hulle jou. Hierdie soort wind pluk-pluk aan jou Sondagsklere, pluk aan die gesig wat jy vir die wêreld wys, wys hoe weerloos ons eintlik is. Dit wys aan die wêreld soms selfs wat ons foute is, hoe verskriklik feilbaar ons is. En ja, dit wys ook soms hoe goddeloos ons is, hoe ons sonder God probeer lewe.

En maak nie saak hoe ons teen hierdie winde beur nie, hulle waai jou uit, wegkruip help nie. En wanneer hierdie winde so oor jou waai, en jou soms onderstebo waai, besef jy dat jy mens is. Maar ook: deur die genade ontdek jy dat God God is. En dat wat God met jou in hierdie lewenswinde doen, baie belangriker is as wat die wind self met jou doen.

Jy ervaar: lewenswinde kan my hoe blootlê, ek kan hoe weerloos word, God vou my in sy liefde toe. In my feilbaarheid ontdek ek dat God groter en meer as my swakke menswees is, en in my goddeloosheid ontdek ek dat God werklik sondaars vryspreek. En in my weerloosheid hoor ek ‘n geluid in die wind wat fluister: dit is hoe Ek is, dit is my ontferming. Dit is hoe ek omgee. Dit is hoe lief ek jou het. Die lewenswind kan hoe waai, jy is nooit weerloos nie.

Dan, broers en susters, kan ‘n mens jou maar aan die lewenswinde wat soms oor jou waai, oorgee. Want dan weet jy twee dinge: dit sal jou nooit omwaai nie, want daarvoor is God se ontferming te groot, en dat selfs harde lewenswinde nuwe lewe kan bring.

Hoekom? Want iemand wat deur God se ontferming oorrompel is, kan nooit weer dieselfde wees nie. Ek wil dit nog sterker stel: iemand wat werklik die lewenswinde gevoel het, en in daardie wind God se ontferming werklik beleef het, begin ‘n pad stap waar so iemand homself of haarself werklik vir God gee. Presies wat Paulus in ons gedeelte sê: op grond van God se groot ontferming, gee julleself aan Hom as lewende en heilige offers. Kom ons hoor dit weer: op grond van God se groot ontferming, omdat God Hom oor jou ontferm het, omdat God vergewe het, omdat God jou liefhet, gaan nou en gee jouself.

Wanneer Paulus hierdie woorde skryf, broers en susters, weet hy presies wat God se ontferming aan ‘n mens doen. Hyself was Fariseër, Jood, het God se kinders vervolg. Maar toe gryp God se ontferming hom daar op die Damaskuspad, en hy was nooit weer dieselfde nie.

Hoekom? Want God se ontferming het die manier om jou in besit te neem. En kom ek verduidelik: in Esegiël 16 lees ons (en dit is natuurlik ‘n beeld) hoe Israel soos ‘n pasgebore baba weggegooi is en in die woestyn gelê en spartel het. Toe het die Here Hom oor hierdie kind ontferm, Hy het hom gebad, die bloed van hom afgewas en hom met olie ingesmeer, en toe gesê: Jy is myne! En ja, God het dit ook vir ons gesê – hoor wat sê Jesaja 43: God ontferm Hom oor ons, Hy spreek die goddeloses vry en sê vir hulle: of jy dit nou wil weet of nie, Jý is myne! Jý het myne geword. En as God dit sê, dan is dit so.

En as ‘n mens hierdie woorde eers gehoor het, broers en susters, moet jy daarmee rekening begin hou. Sodra ons oortuig daarvan is dat hierdie woorde waar is – en dit is tog! – moet ‘n mens iets daarmee begin maak. Want wat jy ook al met hierdie woorde maak, dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Jy kan weier om hierdie woorde ernstig op te neem, jy kan dit probeer ignoreer, jy kan dit in jou hart probeer doodskreeu, of vir jouself sê om liewers nie nou daaroor te dink nie. Maar moenie ‘n fout maak nie. God gaan nie ophou praat net omdat ons opgehou luister het nie. Hy gaan aanhou sê: jy, ja jy, Jy is Myne. Want jy behoort nie aan jouself nie, jy het jouself nie gemaak nie, jy besit niks wat jy nie weer kan verloor nie. Al wat jy werklik het is my ontferming. Daarom: gee jouself as ‘n lewende en heilige offer.

Mense wat God se ontferming verstaan, broers en susters, en daarom besef dat God ons heeltemal vir Homself wil hê, probeer dikwels – sonder dat hulle dit soms besef – met God so soort van ‘n onderhandelingstransaksie aan te gaan. Hulle verstaan dat God Hom werklik oor hulle ontferm het, dat God vir hulle werklik baie gegee het, en, soos dit ordentlike mense betaam, darem iets aan Hom moet teruggee. So uur of wat op ‘n Sondag, tien minute per dag. Ek moet darem tyd aan die Here afstaan.

Maar dan sê die Here: Nee, jý behoort aan my!

‘Wat’, sê ons dan, ‘wil U meer tyd hê?’ ‘Goed Here, ek sal dit baie moeilik in my besige program inpas, maar ek sal vroeër opstaan en ‘n halfuur stiltetyd hou. Ek sal Sondag twee eredienste bywoon. Ek sal selfs my offergawe verhoog. Here, ek sal kyk wat ek kan doen’.

Maar dan sê die Here weer: Nee, jý behoort aan my!

‘Is U Here, nog nie tevrede nie? Ek sal dan nog meer doen. Ek sal kyk waar ek dit kan inpas. Maar ek sal regtig probeer’.

En dan sê die Here weer: Jy hoor My nog nie goed nie. Jý behoort aan my!

Watter fout maak God se kinders wat so leef, broers en susters? Hulle verstaan nie dat om aan God te behoort, nie in die eerste plek beteken dat jy iets doen nie. Dit beteken om jouself aan God te gee. Jy. Jou doodgewone lewe. Jou lewe vol probleme en sukkel om te oorleef, jou lewe van ploeter tussen liefde en haat, liefde en selfsug, van nie weet watter kant toe met keuses nie, dit wat jy is.

Paulus praat hier immers van ‘n lewende offer. Wat beteken dat jou gaan slaap en jou opstaan, jou werk toe gaan en jou huis toe kom, jou inspan en ontspan, alles aan God behoort. Die geld waarmee jy vir jou kind ‘n bederf-sjokolade koop is nie minder die Here se geld as die geld wat jy Sondag in die sakkie by die deur gooi nie, die tyd wat jy saam met iemand sommer net op die stoep sit en niks sê nie, is nie minder God se tyd as die tyd wat jy in die erediens sit nie.

En as Paulus hier praat van ‘n heilige offer, praat Hy nie van een of ander supergodsdienstigheid nie, maar van die feit dat jy aan God behoort. Vir Hom lewe. Want offer beteken dat God van jou vra om jouself in eenvoudige weerloosheid aan Hom en sy ontferming oor te gee. In kort: aanvaar net eenvoudig dat Ek vir jou goed wil wees, en vir jou wil gee wat jy nodig het. Oorgawe aan God beteken dus eintlik maar om tot rus te kom in God se ontferming. Om te hoor en te weet: Jý is Myne! Daarom sal Ek vir jou sorg!

Volgende Sondag, broers en susters, gaan ons by God se tafel aansit. Sy tafel wat eintlik niks anders sê as hoe groot sy ontferming vir ons is nie. Wat God vra is dat ons soos offers na sy tafel sal kom, en onsself hier weer aan Hom sal gee. Nie ons tyd nie, nie ons geld nie, nie ons gawes nie, onsself.

En wanneer ons weer sy ontferming hier ervaar het, wanneer ons weer hier deur sy ontferming oorrompel is, hier sal weggaan en met alles wat ons is sal gaan leef soos mense wat weet wat sy ontferming beteken.
Wat eenvoudig beteken dat ons dan tog nie soos mense kan gaan leef in wie se lewe daar geen ontferming vir ander sigbaar is nie. Dit help tog nie ons sê ons glo en aanvaar God se ontferming, maar in ons lewens teenoor onsself en ander lyk dit of ons geen snars daarvan verstaan nie. Ons kan tog nie sing, soos vanoggend, van God se genade groot, maar selfs geen genade vir ander het, of net vir die wat ons reken dit verdien nie.

Ons het dit nie verdien nie. Maar God het gesê: Jý is Myne. Volgende Sondag gaan Hy dit weer sê. As ons iets daarvan verstaan, as ons werklik al sy ontferming in die lewenswind gevoel het, kan ons lewens nooit weer dieselfde wees nie. Want dan behoort ons aan Hom, en nie aan onsself nie. En om aan God te behoort beteken tog niks anders as om ‘n nuwe mens te wees nie. Nuut in God, nuut vir God, en daarom nuut vir ander. Dansend in die lewenswind, omdat God in daardie wind is, al is hy hoe sterk.

Mag God elke dag hierdie gesindheid in ons vind! Want, sê Paulus, dit is eintlik die wesenlike van ons godsdiens. Dit is hoe God se mense behoort te lyk en te leef. Sien God dit elke dag, en elke oomblik van elke dag, in ons lewens raak?
Amen