Psalm 16

By God is lewe



Geliefdes van die Here Jesus Christus,
'n Mens kan eintlik alles waaroor ons elke dag praat, dink en doen in twee groot kategorieë indeel, naamlik lewe en dood, nie waar nie? Vergelyk maar net die inhoud van gesprekke en verhoudings van ons dag. (noem voorbeelde wat getuig van lewenslus, hoop, optimisme teenoor sinloosheid, wanhoop en pessimisme). Hoe mense hierop reageer, is egter baie verskillend:

Alternatiewe inleiding:
[daar is deur die eeue heen verskillend gedink en gepraat oor die lewe en oor die dood, oor die werklikhede waarmee die mens te doene het, en waarin die mens leef.]

In die verlede; soos vandag ook nog, is daar mense wat van mening is: “eet en drink en geniet die hede, want more sterf ons”. Andere trek hulleself weer terug en voer 'n totaal afgesonderde bestaan, om juis so voorbereiding te tref vir die dag wat die dood oor hulle kom.

Teenoor hierdie twee uiterstes staan die belydenis van die Psalmdigter, wat ook ons teksvers is: “ek behoort aan die Here, daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U. Here, U is my lewe - U sorg vir my. U gee my nie oor aan die dood nie. U leer my hoe om te lewe”.

Hoor en sien u die verskil raak? Die roekelose, en van-God-afvallige-mens se lewe word totaal bedreig deur die allesoorheersende beklemming en bedreiging van die dood, terwyl die-aan-God-toegewyde mens se hele lewe, onwankelbaar staan en verlig word deur die gedagte en belydenis van lewe.

Die Psalmdigter het as gelowige, bewus geword van die vanselfsprekende dinge in die lewe en hy het hom weggedraai van die sensasiewekkende, die plesierwekkende en aandagtrekkende dinge, en bewus geword van God en Sy gawes in sy eie lewe. hy het diep onder die indruk gekom van die feit dat kos, klere, familie, gesondheid en selfs die belydenis wat hy uitspreek, alles van God af kom.

Hy het diep onder die indruk gekom van die feit dat die God van sy gebede, ook die God van nabyheid in en oor sy eie lewe is. Daarom die pragtige belydenis: “ek behoort aan U - U sorg vir my - daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U.” Dit het vir hom soveel in sy lewe beteken, dat hy sê: “selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer”.

Ons weet nie in watter krisis die Psalmdigter verkeer het nie maar ons kan aanvaar dat as hy heel aan die begin van sy gedig om beskerming bid, dat hy wel die Here se hulp dringend nodig gehad het.

Maar die positiewe van die gedig lê juis daarin, dat hy heel aan die begin om beskerming en skuiling bid en dan volg daarop; midde in die krisis wat hy beleef, die een belydenis na die ander, slegs aan die einde maak hy melding van die dood.

Voorop in sy lewe staan gebed en belydenis, sodat wanneer hy deur die gedagte en die werklikheid van die dood gekonfronteer word, dit nie vir hom donker en uitsigloos word nie. Dan gebeur eerder die menslik-onmoontlike, naamlik, dat hy in blydskap en dankbaarheid uitroep: “ek het die Here altyd by my, daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat U troue dienaar nie in die graf kom nie”.

Omdat hy oortuig is van 'n lewende verhouding met sy Here, word hy nie bang vir die dreigende dood tydens sy lewe nie.

Geliefdes, hierdie dreigende dood met sy onversadigbaarheid, kom soos in die geval van die Psalmdigter, ook vandag nog gereeld na u en my in verskillende verskyningsvorme. Alle teëspoed, siekte, ongelukke, gevaar, angs en vyandskap alles wat moontlik jou en my verhouding met die God van hemel en aarde kan belemmer, en wat maak dat ons in radeloosheid, moedeloosheid en selfs in twyfel verval, of selfs in volhardende opstand kom!

Dit is die werklikheid van die dreigende dood waarmee ons elke dag te doene het en wat met die beeld van “U laat U troue dienaar nie in die graf kom nie, U gee hom nie oor aan die dood nie”, uitgedruk word.

As die Psalmdigter dan sê dat die Here hom nie in die graf laat kom nie, dan sê hy daarmee dat God se beskerming en aanwesigheid in sy lewe, hom sal help om staande te bly teen die aanslag van die bose met sy verleidinge en valse trooswoorde.

Midde in die krisis wat hy beleef, voel hy hom veilig, omdat hy aan die Here behoort wat beskikker en beskermer is oor sy lewe. omdat hy in 'n lewende en volgehoue verhouding met die Here leef, is sy blydskap en vreugde ook volkome, ten spyte van die dreigende dood, omdat hy aan die Here behoort wat nie wegskram vir die dood nie, maar wat Sy almag en trou juis oor en deur die dood heen betoon.

Dieselfde God van die Psalmdigter het vir u en my eeue later so baie meer kom doen, nie waar nie? Hy't vir ons in en deur Jesus Christus die weg kom leer sodat ons in 'n lewende verhouding met Hom kan leef en voortleef tot in alle ewigheid, selfs en veral deur die dood heen!

Jesus Christus het vir ons die volmaakte gebed geleer, en belowe: “alles wat julle die Vader in My naam vra sal Hy vir julle gee. Hy sal die Heilige Gees gee vir die wat hom vra”

Die Here God het deur sy Seun Jesus Christus die mag van die ewige dood oorwin, en gesê: “daar is geen veroordeling meer vir die wat in Jesus Christus glo nie” (Romeine 8:1).

Die Here God het belowe om elke-aan-God-toegewyde-mens nooit as weeskind agter te laat nie, maar om steeds God-met-ons te wees en te bly deur sy Heilige Gees en woordverkondiging. Gemeenskap met God, beteken dus vir u en my, dat die lewe vir my Christus is, en die sterwe, wins (Filippense 1:21).

Dit is tegelykertyd ook die boodskap van Psalm 16. Al beleef ons die werklikheid met sy swoeg en sweet en sy aftakeling, omvou die Here hom telkens in sy trou en almag oor die aan God toegewyde mens soveel so, dat ons saam met die Psalmdigter kan uitroep: “Here, U is my lewe, U sorg vir my, ek het die Here altyd by my en daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig”.

Vir die ongelowige is die werklikheid van elke dag iets wat hom/haar gou-gou reddeloos en bang laat voel. Die krisisse en beproewinge in die ongelowige se lewe word baie gou iets waarin hulle vasgevang raak, en totaal ontmoedig word deur die beklemmende gevoel van die naderende dood.

U beleef tans die werklikheid. 'n Werklikheid wat nie vir die gelowige minder trane en seer inhou nie, net soos die Here in Getsemane ook nie minder smart en bloedsweet deurgemaak het nie maar wanneer u midde in u tyd van beproewing, met die gebed en belydenis op u lippe leef: “neem my in beskerming o God; ek soek skuiling by U. Here, U is my lewe, u sorg vir my”,

Dan sal u saam met die Psalmdigter ervaar hoedat 'n krisis en 'n beproewing, onder leiding van die Here, in 'n geleentheid tot belydenis en dank kan verander.

Laat dan die woorde van gesang 192 vers 4 vir ons aanspoor om midde in ons nood en beproewing, soos die Psalmdigter, ons belydenis en ons oë te vestig op Hom wat Immanuel is en vir ewig sal bly:

“Heer, my Rots, bo almal groot
staan U vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan,
maar U bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my
veilig, ewig in U bly!”

Mag die vader van alle barmhartigheid en liefde dit gee, dat u juis in hierdie dag en die dae wat volg, vanuit hierdie sekerheid, getroos sal leef en sterf.
Amen