Lukas 15:11-27

Daar is eintlik net een keuse in die lewe



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Om die lewe te leef, is nie maklik nie. Meer nog: om die lewe sinvol te leef, om gelukkig te wees, is nog moeiliker. Daarvan kan almal van ons getuig. En nog baie ander. Want hoeveel mense is nie bereid om prontuit te sê: eintlik is die lewe een stuk ellende, ‘n gemors. Hartseer is meer as lag, swaarkry is minder as rus, sinloosheid is meer as sin, ongeluk is meer as geluk.

Tog, broers en susters, sien ons dat mense nie maklik tou opgooi nie. Êrens, iewers, net dalk, is daar tog rus, vrede en geluk te vinde. Dit moet net gevind word. En daarom probeer ons, en bly ons probeer, om by daardie ‘êrens’, daardie ‘iets’, om by daardie ‘iewers’ uit te kom.

Ons droom. Ons werk. Ons skep vir onsself ideale. Ons stel vir onsself mikpunte. Ons beplan. Ons skeduleer. Ons meet. Ons bepaal ons vordering. Ja, ons bly probeer.

En soms gee ons nie om wat dit van ons vra om uit te kom waar ons wil nie. Ons ooreis onsself. Ons gooi ons beginsels oorboord. Ons misken mense. Gebruik hulle. Ons speel speletjies met die wêreld en met God se ander mense. Want die leer moet uit. Die boonste sportjie wag vir ons. Lê vir ons en loer. En daarom beur ons voort. Want ons glo: by daardie sportjie, op daardie punt, sal alles in plek val. Dan sal die vreugde, vrede en geluk kom. Dan sal sin soos ‘n kombers my toevou. En dan, uiteindelik, sal ek kan rus. Heimlik, sonder sorge, rustig en gelukkig.

Wat gebeur dikwels met ons, broers en susters, as ons uiteindelik daardie boonste sportjie, die realisering van ons drome, bereik? In plaas dat dit ons rustig laat slaap, hou dit ons wakker. Hoekom? Want ek het bereik wat ek wou, ek het gekom waar ek wou, ek het by daardie ‘iewers’ aangekom, maar in plaas daarvan dat ek myself op vaste rots bevind, sak die sand onder my voete in. En kan ek nie anders as om te sê: ek het gedink dit sou anders wees. Ek het gedink alles sal reg wees. Ek het gedink ek sal gelukkig wees. Maar ek ervaar niks daarvan nie. Inteendeel: toe ek my droom bereik het, het dit voor my gesig uitmekaargespat.

Wat doen ons dan, broers en susters? Sommiges blameer die wêreld. Soos die verlore seun heel waarskynlik gedoen het. Hy het na sy weerkaatsing in die modderige waterplas gestaar. Dit het nie vir hom na sy eie gesig gelyk nie. Die blink in sy oë was weg. Die selfvoldane glimlag het die wyk geneem. En hy was kwaad.

Nie omdat hy platsak was nie. Nie omdat hy sy ring, jas en skoene moes verpand nie. Nie omdat hy lang ure alleen in die strate op soek na kos en slaapplek moes ronddwaal nie. Nie omdat hy varke moes oppas nie.

Nee, hy was kwaad vir mense. Vir almal rondom hom. Almal was te blameer. Sy vriende moes hom nie in die steek gelaat het nie. Sy ouer broer moes gekom het om vir hom borg te staan. Sy werkgewer moes hom beter kos gegee het, en sy pa moes hom in die eerste plek nooit laat gaan het nie. Daarom het hy heel waarskynlik ‘n vark na elkeen van hulle vernoem.

Teleurstelling, broers en susters, mislukking, ideale wat aan skerwe lê, doen dit soms aan ons. Dit laat ons vinger na die wêreld en ander wys en verantwoordelikheid afskuif. Soms is die teiken van ons teleurstelling ons familie: as my ouers my net ernstiger opgeneem het, as my ouers my net meer ondersteun het, as hulle my net ‘n beter opvoeding gegee het. Soms is die stelsel in ons visier: in hierdie skool kan niemand goeie punte kry nie, as ek net ‘n gelyke kans gehad het, sou ek bo uitgekom het, as die wêreld net nie so vol korrupsie en selfsugtige mense was nie. En ja, soms kry die kerk ook die skuld: toe ek siek was, het die kerk my nie gereeld genoeg kom besoek nie, niemand het my kom besoek nie. Ek sou so graag God deel van my planne wou maak, maar daar sit te veel skynheiliges in die kerk elke Sondag. En ja, ek sou graag weer kerk toe wou gaan, maar dan moet dinge eers word soos ek dit wil hê.

En spoedig is ek reg, en al die ander verkeerd. Is ek die slagoffer en die wêreld en al God se mense is die vyand.

‘n Ander manier om teleurstelling te oorkom, broers en susters, is natuurlik om aan te hou speletjies te speel, maar dan net met nog meer oorgawe. Alles sal regkom. Ek sal weer probeer. En ek sal vir niemand wys ek het misluk nie, ek sal vir niemand wys dat ek eintlik hulle nodig het nie. Ek sal self regkom, ek sal alleen regkom, en niemand sal my ware gesig vol pyn en seer raaksien nie. En so stoei ons dan voort. Krete om hulp leef in ons hart, maar dit gedemp agter maskers van bravade. Ons vrees steek ons weg agter ‘n ongeverfde glimlag. Na buite leef ons sogenaamd met oorgawe, maar binne is ons morsdood.

Beskryf dit nie, broers en susters, ons wêreld tog maar so goed nie? Vandat Adam en Eva klere van vyeblare gemaak het, is dit so. Ons steek ons weg vir ander, en bo alles, vir God ook. En met elke geslag verbeter ons. En met elke geslag leef ons verder van God, en is ons meer dood as wat ons lewe. Terwyl ons die pyn van dit alles ignoreer. En met die tyd vergeet ons ons ware self: dat ons God se mense is, en daarom, omdat ons aan God behoort, ons gelukkig kan wees.

Een moontlikheid van die verlore seun in die varkhok was om terug te gaan na die dorp en voor te gee dat alles reg was. Of hy kon vir sy hele leeftyd in die varkhok gebly het terwyl hy voorgegee het dat dit ‘n paleis was. Maar hy het nie.

Daar alleen, sonder niks en niemand, en sonder sy vader (dus sonder God), het hy besef dat hierdie die oomblik van waarheid was. Hy het weer in die water gekyk. Wat hy gesien het was nie mooi nie. En toe spreek hy sy eerste woorde van waarheid in ‘n lang tyd: hoe vêr het ek nie geval nie?

Hy het weer in die water na sy eie oë gekyk. Hy het aan sy vader gedink. ‘Hulle het altyd vir my gesê ek het my Pa se oë’. En dadelik het die pyn in sy vader se gesig, toe hy gesê het hy wil die huis verlaat, voor hom opgekom. En een traan na die ander het in die waterpoel begin plas.

En vir die eerste keer in ‘n lang tyd het hy aan die huis begin dink. Hy het gedink aan die gelag rondom die etenstafel, sy warm bed. So anders as hier. Ja, hulle het gesê ek lyk soos my Pa, maar nou sal hy my nie eers meer herken nie.

Toe staan hy op en begin loop. Die pad huis toe was verder as wat hy onthou het. Toe hy dit laas afgelê het, het ander hom bewonder vir sy styl en weelde. Nou het mense na hom gekyk oor sy reuk. Maar dit het hom nie gepla nie. Want hy het geglo hy was op pad na ‘n pa wat hom tog miskien sou terug aanvaar. Meer nog: hy was nou ‘n ander mens. Nooit weer sou hy aandring op dit wat hy glo hy verdien nie, nou sou hy gewillig wees om te vat wat hy aangebied word. ‘Gee my’ vervang deur ‘help my’, en ‘net ek’ is vervang deur ‘ons’.

Toe hy die laaste draai na die huis toe vat, het hy nog aan ‘n toesprakie geoefen. Maar hy het nooit kans gehad om dit te verwoord nie. Al wat hy gevind het was ‘n vader met oop arms. Woorde was onnodig. Want net met sy omdraai huis toe, net met sy terugdraai na sy vader toe, net met daardie daad van erkenning van afhanklikheid, is berou getoon. En vergifnis geskenk. En die seun was tuis.

Ek het al baie gewonder, broers en susters, of Jesus, toe Hy hierdie gelykenis vertel het, toe Hy by die punt gekom het waar die vader sy arms wyd oopgesper om sy seun te omhels, self sy arms — om beeldend te verduidelik — oopgesper het. Wyd oopgemaak het.

En wat die mense wat daar gesit het, gedink het. Dalk het een gesê: ‘ Ek kan nooit weer huis toe gaan nie. Nie na my lewe nie’. Dalk het die huisvrou afgekyk na die grond, en die sakeman sy kop geskud, asof hulle wou sê: ‘ Ek kan nie voor begin nie, alles is verby’.

Wat sou Jesus geantwoord het as hulle hierdie gedagtes in woorde hardop laat hoor het? Hy sou geantwoord het presies soos Hy in die gelykenis wou sê: julle is reg. Julle kan nie weer van voor af begin nie. Met sommige gedane sake is alles verby.

Maar een ding kan julle doen. Een ding kan ons almal doen. Ons kan teruggaan na God toe. By God waar lewe is. Nie dat alles nou reg sal wees nie. Alles was vir die verlore seun nou by die huis beslis nie reg nie. Maar hy was tuis. Hy was by die vader. Daar waar hy nou versorg sou word.

Ware lewe, broers en susters, en dit is wat Jesus in hierdie gelykenis wil sê, is nie om ideale en drome na te jaag nie. Dit is om by God te wees. Dit is om in afhanklikheid voor God te lewe. Dit is om in sy huis, in sy teenwoordigheid, drome te droom en ideale te koester. Ons eie drome en ideale, maar veral sy drome en ideale. En kom ek verduidelik ten slotte wat ek hiermee bedoel:

Soos die verlore seun sy pa se oë gehad het, het ons elkeen ook God se oë. Ons is immers na sy beeld gemaak. Daarom het ons ook sy hande en arms. Goed, vyeblare as klere was die begin van die wegsteek van hierdie beeld van God in ons. Maar Jesus se oop arms, en in besonder daardie wyd oopgesperde oop arms aan die kruis, het ons nuut gemaak. Sodat ons, soos Kolossense 3:10 dit stel, in staat is om die vyeblare uit te trek, en te begin groei na die beeld van God.

Ware menswees, egte menswees, is om die wese van jou bestaan in God te ontdek. Om by God te wees, en in sy teenwoordigheid — as sy werktuig — te help bou aan Sy droom en ideaal vir hierdie wêreld. Waar ander God se oë in ons oë sien, sy hande in ons aanraking voel, in ons omhelsing voel hoe sy genade ons omvou.

Veral in die kerk. Want in die kerk sit, en aan die kerk behoort, is God se mense. En as God se mens is ons almal stukkende, gebroke mense. Mense wat heling nodig het, mense wat sin soek, mense wat nie alleen wil wees nie. Mense wie se drome en ideale dikwels aan skerwe lê.

Sin is daarom nie te vind in weer probeer nie. Sin is te vind in die daad om huis toe te gaan. Om ons afhanklikheid te erken. Om te erken net God is goed. Om te erken: net by God is daar sin.

En dan kan ons maar weer probeer. En in ons weer probeer sal ons iets vreemds ervaar. Naamlik, dat sin nie gevind sal word in die bereiking van ideale nie, maar in die soeke daarna. In die poging om dit te bereik. Hoekom? Want wie vanuit God se huis, wie saam met God die lewe takel, sal nie sin hoef te soek in alles nie, maar sal sin ontvang. Vrede en rustigheid ontvang.

Want dan, as ons so saam met God, so in afhanklikheid van God, lewe, bly sy arms nie oop nie, dit gaan toe. Dit vou ons toe in sy beskerming en genade. Dit laat ons regop staan. Dit laat ons oë blink. Dit sit die wip in ons stap.

Lewe ons so? Ervaar ons dit? Of smag ons daarna? Die tuinhekkie is oop. God se arms is oop. En al wat God vra is die keuse om in sy huis te bly.
Amen