Deuteronomium 25:17-19

Die blinde kolle in ons lewens



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
‘n Mens kan nie motor bestuur sonder om jou kantspieëltjies en truspieëltjie te gebruik nie. Hierdie spieëltjies stel ons in staat om te sien wat agter ons in die verkeer aangaan, om te sien wanneer ‘n motor langs jou besig is om jou verby te steek, en of daar nie reeds iemand in die regterbaan is waarheen jy wil oorbeweeg nie.

Hierdie spieëls dek ons sogenaamde blinde kolle. Hulle maak ons beperkte visie groter as wat dit andersins sou wees. Hulle laat ons veiliger bestuur, hulle stel ons in staat om bedag te wees net op dit wat voor ons is nie, maar ook dit wat langs ons en wat agter ons gebeur. Hulle maak ons blinde kolle minder. Hulle maak ons minder kwesbaar. Omdat ons beter en meer kan sien, weet ons waarheen ons op pad is.

Wat ek tot dusver gesê het, broers en susters, geld egter nie net vir die motoris op die pad nie, dit geld ook vir ons elkeen wat op pad is deur hierdie lewe. En kom ek verduidelik:

Ons almal glo in die drie-enige God, ons dien Hom so goed as wat ons kan, ons bid daagliks, ons kom gereeld kerk toe, ons doen goed aan ander mense — maar tog voel ons alles is nie heeltemal reg nie. Iets kort. Iets ontbreek.

Dalk wonder ons of daar nie tog meer krag in geloof moet lê as wat ons ervaar nie. Ander beleef gebedsverhoring, hoekom nie ook ek nie? Hoekom is dit telkens so dat, net as ons dink ons kry kop bo water, die volgende terugslag ons tref. Hoekom, as die Here sê dat sy kinders ‘n oorvloedige lewe sal hê, volwasse sal word in die geloof, Hom met oorgawe sal aanbid en vereer en kragtige en geïnspireerde getuies vir Hom sal wees, hoekom gebeur dit dan nie met my nie?

Hoekom is ek nie so ‘n gelowige nie? Hoekom voel ek soos ‘n tweedeklas Christen? Ek wil graag lewe in oorvloed hê, ek wil die Here dien met alles wat ek het, dit is werklik waarna ek streef, maar dit gebeur nie. Inteendeel, ek voel moeg, voos en verslaan. Ek probeer darem nog, maar ek vorder nie eintlik nie.
Hoekom is dit so? Een rede (daar is heel waarskynlik baie ander) is omdat ons nie die blinde kolle in ons lewens raaksien nie. Blinde kolle, wat op die pad tot ‘n geweldige ongeluk kan lei, en wat ons lewens betref, ons hele lewe kan verongeluk.

Wat is hierdie blinde kolle waarvan ek praat? Kom ek gee ‘n paar voorbeelde (en natuurlik kan daar nog baie meer wees):

  • Daar is dalk verhoudinge in my lewe wat nie 100% is nie, maar ek het al so gewoond geraak daaraan, dat ek dit nie eers meer raaksien of besef nie, en daarom leef ek eenvoudig maar daarmee saam.
  • Daar lê dalk ‘n paar ou wrokke weggebêre in die onderste laai van my lewe, wrokke wat my lewe geweldig beïnvloed, so deel van my lewe geword het, dat ek dit nie eers meer besef nie.
  • Jare terug het iemand my dalk ‘n onreg aangedoen. Ek reken ek is oor dit, dat ek daarvan afskeid geneem het, maar sodra die onderwerp tog weer ‘n keer op die tafel kom, maak dit my kwaad. Ja, ek dink dit is nie meer daar nie, maar eintlik is dit.
  • Dalk het slegte of skadelike gewoontes so deel van my lewe geword, dat ek dit as normale gedrag begin aanvaar het. Omdat ek dit egter nie meer raaksien nie, besef ek nie hoe dit my lewe beïnvloed nie.
  • Of dit is dalk eenvoudig dat ons nie besef, insien en raaksien dat ons as gelowiges dalk ‘n gesplete persoonlikheid het nie: met die een hand reik ons na die dinge van die Gees, maar met die ander hand hou ons tog maar vas aan geld of eer of wêreldse erkenning of wat ook al. Ons dink dit is nie so nie, ons besef dit nie, ons sien hierdie blinde kol nie raak nie, en daarom besef ons nie watter geweldige rol dit in ons lewens speel nie.

Deuteronomium 25:17-19 wys ons egter baie duidelik, broers en susters, hoe kwesbaar hierdie blinde kolle ons in die lewe maak. Ons almal ken hierdie verhaal wat handel oor Israel se geveg teen die Amalekiete goed. Dit was die keer toe Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het. Wat egter minder bekend van hierdie verhaal is, is die strategie wat die Amalekiete in daardie oorlog gevolg het.

Amalek se aanval was gerig op Israel se blinde kol — die wat ver agter aangekom het omdat hulle moeg en siek en oud was. Sy teiken wat die agterhoede — om die wat uitgesak het, te oorrompel. Dit was die gevegstaktiek gewees: fokus op die wat nie meer die krag of motivering het nie, op die wat moeg geword het; die wat op ‘n dwaalspoor geraak het; op die wat belang verloor het, op die wat een kant en alleen is, op die wat voel hulle kan nie meer byhou nie.

Die brullende leeu wat almal wil verslind, die duiwel, broers en susters, het sedert daardie geveg met Jesus in die woestyn sy strategie baie min gewysig. Hy gaan maar nog steeds vir ons blinde kolle, vir daardie dinge wat ek dink nie meer deel van my lewe is nie, daardie dinge wat ek glo ek nie eers meer kan sien nie, maar wat tog ‘n geweldige rol in my lewe speel. Ja, ons konsentreer om dit wat ons voor ons sien, waarvan ons bewus is, maar die ou duiwel teiken ons op daardie dinge wat ons reken onbelangrik is of daardie dinge wat ons maar net tydelik afgeskryf het. Ja, ons is letterlik soos mense wat sonder truspieëltjies bestuur — en elke keer verbaas is daaroor dat ons neerlaag op neerlaag ly. Omdat ons die gevaar sien kom het nie.

En juis daarom, broers en susters, sukkel ons soms so in die geloof. Wonder ons soms of ons ooit die lewe werklik in oorvloed sal hê, wonder ons of ons opregte geloofstoewyding ooit ware vrugte sal lewer, of ons ooit rustig voor God sal wees.

Kan dit vir ons anders wees? Ja, honderd keer ja!. Hoe? Eerstens dat ons weer sal hoor en besef dat God op Goeie Vrydag, daar aan die kruis op Golgota ‘n beslissende oorwinning behaal het. Daar is ons verlos van die sonde, daar is ons tot God se mense verklaar, daar het vrede tussen God en mens gekom.

Maar dan ook tweedens: dan moet ons, soos Deuteronomium 25:19 dit stel, doelbewus die lig van God se Gees op ons blinde kolle laat val, en met toewyding poog om hierdie blinde kolle uit ons lewens uit te wis. Ons moet sorg dat ons ons truspieëltjies gebruik, sodat ons ons vyande kan raaksien.

Waar begin ‘n mens om dit te doen? Deur eerlik voor God met jouself te wees. Dat ek die Gees van die lewende God sal vra om vir my die blinde kolle in my lewe uit te wys sodat ek hulle sal herken, en hulle uit my lewe uit te wis. Dat ek al die ou wrokke en bagasie werklik sal begrawe, sal erken dat ek soms tog dalk God en die wêreld wil hê, dat ek soms tog geneig is om nie werklik eerlik met myself oor myself te wees nie.

En dat ek dan die Gees van die lewende God sal vra om vir my die krag te gee om daarmee te breek, sodat ek, deur die krag en genade van God ‘n ander mens, ‘n nuwe mens sal word wat die wat my te na kom, vergewe; wat die wat anders as ek is, verdra; wat inskiklik is teenoor alle mense; wat vir die wat my vervolg, bid; wat altyd bly is in die Here; wat oor niks besorg is nie; wat in alle omstandighede dankbaar is, en so ‘n mens word wat die oorvloedige lewe wat Christus vir ons gee kan geniet.

Ek sluit af: ‘n oorwinnende lewe, ‘n sinvolle lewe, ‘n oorvloedige lewe, ‘n rustige lewe is moontlik in Jesus Christus. Maar dan moet ons leer om ons truspieëltjie en kantspieëltjies te gebruik wanneer ons op pad is deur hierdie lewe, sodat ons nie blinde kolle sal hê nie. Want dit wat ‘n mens nie sien of van weet nie, doen jy gewoonweg niks aan nie. Terwyl hierdie blinde kolle jou kan beroof van alles wat oorvloedig in hierdie lewe is.

Wis hierdie dinge uit, sê ons gelese gedeelte. Vul dit wat weggeneem word met die deugde wat pas by God se mense. Doen dit met toewyding. En ervaar dan die lewe as oorvloed!
Amen