Jona 3 en 4

Die gawe van geduld



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die boek Jona is ‘n verhaal wat handel, aan die een kant, oor God se barmhartigheid, en, aan die ander kant, Jona se woede. In die Jona vertelling is God die geduldige God, en Jona die ongeduldige profeet.

En die strydpunt tussen die twee is God se beleid ten opsigte van Nineve: moet God ferm optree en die goddelose, ongelowige en gewelddadige Nineve straf (wat Jona wil hê), of moet God eers wag, die verdelging uitstel en die dorp nog ‘n kans gee (wat God wil hê)? Wat sal dit wees: ‘n beleid van genade, geduld en medelye, of ‘n beleid van ongeduld en verwoesting?

Hierdie konfrontasie tussen God en Jona, broers en susters, word vir ons mooi beskryf in Jona 3 en 4. In hierdie twee hoofstukke vind ons twee tonele: die eerste handel oor God se bemoeienis met die stad self, en die tweede handel oor God se konfrontasie met Jona. Kom ons kyk vinnig hierna.

Nineve was ‘n groot stad. Jona sê dit het hom drie dae geneem om deur dit te stap. Ons gedeelte van vanaand vertel ons net twee dinge van hierdie stad: die mense binne die stad het verkeerde dade gepleeg, asook geweld.

En ons sou ons seker maklik, vanuit ons eie ervaringe in die tyd waarin ons leef, maklik kon voorstel wat hierdie verkeerde dade en geweld was. Want nóg mense, nóg stede, verander nie eintlik nie.

Daarom, broers en susters, was Nineve seker ook maar ‘n mengsel van goeies en slegtes gewees. Dit was heel waarskynlik ook ‘n stad met skole, hospitale, teaters, musiek en die gevorderdste tegnologie.

In hierdie stad het heel waarskynlik gewone mense gewoon: welvarendes, eensames, bedrieërs, goeies en slegtes, getroudes, alleenlopers, prostitute, dagloners, handelaars en besigheidsmense , noem maar op. Heel waarskynlik was daar seker ook maar ‘n klomp immoraliteite, korrupte leiers en politici, en gewelddadigheid in die vorm roof, diefstal en moord.

So was Nineve maar net nog ‘n voorbeeld van geweld en verkeerde dade. Dit sê ons teks tog duidelik. En God kon dit nie langer duld nie. Die gedeelte sê nie wat God woedend gemaak het nie. Dalk was dit sommiges se onmenslikheid, of hulle wat hulle magsposisies misbruik het, dalk was dit al die boewery en diefstal, dalk was dit mense wat mekaar gehaat het of sommiges wat ander uitgebuit het. Ons weet nie, maar wat ons weet is dat dit alles God kwaad gemaak het.

En so het Jona ook gevoel, lees ons. Ook hy was kwaad oor al Nineve se verkeerde en gewelddadige dade. Daarom stuur God die profeet na die stad met ‘n boodskap dat Hy nou genoeg gehad het. En Jona, lei ons af, sien nogal uit na hierdie taak. God is reg. Hulle moet gestraf word. En met graagte sal hy dit hulle goed en deeglik gaan vertel.

Daarom vertel hy hulle goed en deeglik wat God gaan doen. God gaan die stad verwoes, al sy mense uitwis en tot op die grond afbrand. Binne veertig dae sal dit gebeur. Onbewoë, met oorgawe vertel Jona hulle hulle fortuin. Want hulle verdien dit mos.

En na nege en dertig dae het Jona opsy gestaan om te sien hoe God sy oordeel sal voltrek. Maar tot sy ontsteltenis breek die oordeelsdag aan, en niks gebeur nie. Die son kom op, almal gaan werk toe, die kinders gaan speel buite, en die vrouens doen wat hulle in daardie tyd normaalweg gedoen het. Net soos voorheen.

Hoekom? Want twee verstommende dinge het in daardie veertig dae gebeur: een met God en een met die stad. Die stad het verander, en God se hart het verander. Jona se boodskap het nie op dowe ore geval nie. Almal, groot en klien, selfs die koning, het berou getoon oor hulle sondes. Diewe het opgehou steel, bedrieërs het opgehou bedrieg, die in magsposisies het begin dien, en almal het mekaar menswaardig begin behandel. Haat, nyd en afguns het verdwyn. Die koning het selfs ‘n wet afgekondig waarin alle geweld en verkeerde dade duidelik verbied is.
 
Dit was alles dalk nie vir ewig nie, en seker ook nog nie die volmaakte stad nie. Dit was dalk nie ‘n totale verandering nie. Maar op verskeie plekke het harte verander. Voor God het die stad onderneem om hulle probleme op te los en alle verkeerdhede en geweld teen te staan en te laat vaar.

Dit alles, het God van plan laat verander. Op ‘n dag in die verlede het Jona gesê: Nineve se uurglas het leeggeloop, sy laaste dag het aangebreek. Maar die volgende dag het God gesê: laat Nineve leef, gee die stad ‘n kans. Laat die vrouens nog kinders hê, laat jongmense nog droom oor ‘n mooi toekoms, en laat die mans nog eerbaar en hard werk om te kan versorg.

Kan God, broers en susters, só van plan verander? God is mos onveranderlik, sê ons dikwels. Die antwoord is ja, broers en susters. God verander soms van plan. Want wat nooit verander nie, is God se liefdevolle hart. Diep binne God se deernisvolle hart bly God ewig onveranderlik.

En die doel van hierdie hart van God is om verlorenes te soek, die wat ly te genees, vyande te versoen en vrede te skep. En as dit nodig is om van plan te verander om dit te bereik, dan doen God dit. God sit nie in die hemel met ‘n hart van klip nie. ‘Daar is nie ‘n einde aan sy ontferming nie’, sê Klaagliedere 3:22, ‘Hy verstoot die mens nie vir altyd nie’. Geduldig wag God dat die mens hom sal bekeer, met ‘n onveranderlike hart vol liefde, terwyl God as ‘t ware planne maak om mense tot bekering te bring.

Hierdie twee veranderinge, broers en susters, die stad en God se plan met die stad, beteken dat God aan die mensdom, en natuurlik ons, nog tyd gun om ons ten volle tot Hom te keer. Die mens kry kans om nog asem te haal. Die geskiedenis gaan voort. Die lewe gaan voort, al mors ons die lewe soms goed op. God is geduldig, ook met ons. En daarvoor moet ons baie, baie dankbaar wees.

Maar, sien ons, nie Jona nie. Hy was nie dankbaar dat God die stad se vergelding uitgestel het nie. Inteendeel. Hy was baie kwaad. Hy was briesend. Kwaad vir God. En wel om twee redes. Eerstens was hy kwaad omdat, het hy gevoel, van hom ‘n groot gek voor die hele stad gemaak. Was dit nou ‘n manier om ‘n profeet te behandel?

Vir nege en dertig dae, soos God beveel het, het hy verkondig dat die stad op 21 Junie, 891 vC sou val, by wyse van spreke. En wat gebeur toe die dag aanbreek? Niks, net mooi niks nie! En Jona het veronreg gevoel. God, het hy gereken, het van hom ‘n gek gemaak.

Die tweede rede hoekom Jona kwaad was, broers en susters, het te make met Jona se verstaan van God se regverdigheid. Jona wou ‘n wêreld hê waarin slegte mense hulle verdiende loon kry en die wat goed doen beloon word. Beantwoord geweld met geweld. Roei die slegtes uit. Gee hulle wat hulle verdien.

En toe God dit nie doen, het Jona gevoel: hoe kan ek ‘n God vertrou wat sy verpligtinge nie nakom nie? Watter God is God wat vergiffenis en liefde bo dit stel wat goed en reg is? Hoekom laat God dit reën oor goeies en slegtes?

En daarom trek Jona homself terug. Dalk, het hy gevoel, bedink God homself tog ‘n bietjie later en gee die stad wat hulle verdien. En daarom gaan sit hy een kant om te kyk wat gebeur.

Dan, sien ons, lê God by Jona ‘n besoekie af. ‘Het jy rede om kwaad te wees Jona’, vra God. Maar Jona antwoord nie. En toe besluit God om vir Jona ‘n les te leer. Daar waar Jona in die son en weer sit laat God ‘n boom opkom wat hom teen die elemente kan beskerm en waarteen hy kan lê om te rus. En is Jona nie bly nie.

Maar die volgende oggend laat God ‘n wurm die boom opvreet. En nou is Jona weer smoorkwaad. Want die son kom hom nou weer goed by. En weer besoek God hom. ‘Het jy rede om so kwaad oor die boom te wees, Jona’ vra Hy.

En dan antwoord Jona. Ja, Here. Want die son brand my dood. Ek is besig om te sterf. Dit is mos genoeg rede om sommer baie vies te wees.

Waarop God antwoord: ‘Jy is bekommerd oor ‘n boom waarvoor jy nie gewerk het nie, wat jy nie versorg nie’. En jy sê vir My ek mag nie bekommerd wees oor ‘n stad waarvoor Ek al so lank gewerk het en vir soveel jare al versorg nie? ‘n Stad vol mense, Jona, nie bome nie’.

Wat, broers en susters, was die verskil tussen God en Jona se benaderings? Jona het net die boosheid en sondes gesien. God het die mense raakgesien. Jona het net hulle raakgesien wat hulle mag misbruik om ander te na te kom. God het hulle gesien wat aan die ontvangkant hiervan was. Jona het net die boosheid raakgesien en was verontwaardig. God het die soekendes onder hulle raakgesien, en was barmhartig. Jona se geduld het opgehou. God s’n nie.

En kom ons sê maar, broers en susters, Goddank, dat dit vandag nog so is. Mense wat verontwaardig is oor alles wat verkeerd is, beskou dikwels almal wat hulle teëkom as óf vriende óf vyande, as goeies óf slegtes, en wil dikwels hê dat die slegtes hulle loon dadelik moet ontvang. God, daarenteen, weet dat alle mense sondaarmense is, dat daar goed en sleg in alle mense is, en daarom is Hy bereid om met ons geduldig te wees.

En hoekom? Omdat God wil hê dat nie een verlore sal gaan nie (2 Pet 3:9).

Die Jonas van die wêreld sê: maar hulle is boos, so boos. God sê: ja, maar hulle is my skepsele, en Nineve is ‘n bewys dat mense kan verander. Laat ons daarom geduldig wees, broers en susters, veral met mekaar.

Ek sluit af: ons ontvang baie gawes uit God se hand — liefde, vergifnis, gesondheid, materiële dinge, om nie eers te praat van die gawes van geloof en hoop nie. Maar ons ontvang uit God se hand ook die gawe van geduld. Dit is onder andere waaroor die verhaal van Jona handel.

God weet ons het baie tekortkominge. Hy weet ons trek soms skeef in die juk. Hy weet ons maak baie foute, soms berekend en soms nie. Maar tog stap God met ons die pad. Tog bly Hy met ons geduldig. Tog bly Hy ons vashou. Want Hy sien nie net ons tekortkominge raak nie. Eerder dat ons sy mense is, sy skepsele.

Daarom moet ons ook geduld met mekaar hê. En aan mekaar verkondig, soos Jona, dat God dit anders wil hê. Maar, anders as Jona, bly wees wanneer mense hulle na God keer. En besef: God wil ons juis gebruik om dit te laat gebeur.

Laat ons daarom stadig wees om te oordeel. Die oordeel kom God toe. Die vertelling oor Nineve leer ons: dinge kan verander. Dit leer ons: God kan ons gebruik om dit te laat verander.

Laat ons daarom geduldig wees met ander en met ons omstandighede. God se plan met sy mense kan nie gestuit word nie. Nineve is hiervan vir ons ‘n goeie voorbeeld.
Amen